Fort van die kappiedraers. Sarah du Pisanie

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Fort van die kappiedraers - Sarah du Pisanie страница 2

Fort van die kappiedraers - Sarah du Pisanie

Скачать книгу

manne! Hulle is al so moeg. Dis Januarie en kokend warm. Hulle kom nou net van ’n moordende tog uit die suide. Hierdie land is so groot en yl bevolk. Die blote gedagte aan die vroue en kinders wat dalk nog in die veld rondswerf te midde van ’n duisternis gevare, laat die kommersweet klam op sy voorkop uitslaan.

      Hy trek ’n papier met ’n aantal name voor hom nader en kyk dan na die naam van kaptein Franke. Hy en sy manne beman die Omaruru-fort en hulle was ook in die suide om daar te help. Hulle behoort darem ook nou binnekort terug te wees by hul eie fort, dan is dit een plek minder waaroor hy hom moet kwel.

      Sy groot kopseer op hierdie oomblik is die kleiner forte, waar daar net vier en vyf manne gestasioneer is.

      Majoor Leutwein wens hy kan net slaap. Hy is so moeg! Om hierdie groot land met so min mense te probeer be­skerm voel al meer na ’n onbegonne taak.

      Sistematies sorteer hy egter die manne op die lys en doen indelings by die verskillende forte. Dit is ’n goeie twee uur later voordat Hein Schultz weer aan sy deur klop.

      “Majoor!”

      “Ja, Hein, kom maar binne. Ek gaan net gou al die verslae deur sodat ek ’n bietjie meer op die hoogte van sake kan kom.”

      “Ek het nie veel manne gekry nie, majoor.”

      “Hoeveel?”

      “Twintig.”

      “Dis baie min, Hein.”

      “Ek weet, majoor. Ons sal maar vyf patrollies moet maak, met vier man elk.”

      “Ja! Waar is hulle?”

      “Ek het hulle al hier voor laat aantree, majoor.”

      Majoor Leutwein staan op en sug swaar soos ’n ou man. Dit is gevaarlik om die manne in sulke klein groepies uit te stuur. Maar wat anders? Sy manne moet hier bly om die gevegseenheid te vorm wat sal aanval sodra daar van die bendes opgespoor is.

      Die twintig manne kom vinnig op aandag toe hulle die majoor sien.

      “Manne, ek wil hê julle moet gaan regmaak vir ’n patrollie van minstens agt dae. Kom meld julle dan oor twee uur by my aan vir verdere opdragte.”

      Die manne staan doodstil en wag op die bevel om te kan verdaag.

      “Julle kan maar gaan.”

      Majoor Leutwein kyk hulle agterna. Die moegheid en dalk die feit dat hy begin oud word, maak hom week en opstandig. Hoekom moet daar tog altyd sulke onsinnige bloedvergieting plaasvind?

      “Môre! Môre! Dit lyk vandag soos ’n slagveld hier op Okahandja.” ’n Groot, fris man kom vinnig nader en groet van ver af. “Hoe gaan dit, majoor?”

      Vir die eerste keer vandag glimlag majoor Leutwein. “Sleg, Jaap, man! Hoe gaan dit met jou?”

      “Altyd goed, majoortjie! Altyd goed!”

      Majoor Leutwein wag vir hom op die stoep en nooi joviaal. “Kom in, Jaap! Kom ons gaan drink ’n bier. Ek is nou so moeg vir probleme!”

      “Vir bier sê ek nooit nee nie. Om die waarheid te sê, dit is hoekom ek altyd hier kom groet. Ek weet hier is altyd koue bier.”

      “Dit is ’n skande, Jaap. Ek nooi jou sommer vir tee.”

      “Tee! Ag nee, majoor, dan drink ek liewer water.”

      Die majoor lag vir Jaap se bulderende verontwaardiging.

      Jaap Venter pas by hierdie land van hom. Hy is groot en wild en ongetem. Maar daar is ook ’n diepgewortelde eerlikheid en goedheid diep onder in sy menswees, iets wat hom ’n eenheid laat vorm met die vlaktes en berge en die blou lug daarbo.

      Jaap groet een van die soldate aan die ander kant van die fort luidrugtig en majoor Leutwein lag innerlik.

      Hierdie groot Jaap Venter kan tog met die beste wil in die wêreld nie sag praat nie. ’n Komiese toneeltjie van ’n ruk gelede speel hom so helder weer in die majoor se geheue af, dat hy breed staan en glimlag.

      Jaap was eendag by toe een van die manskappe begrawe is wat noodlottig in ’n ongeluk beseer is. Tussendeur die plegtige en emosiebelaaide begrafnisseremonie het Jaap die persoon langs hom op ’n harde fluistertoon uitgevra na die ongeluk.

      Hulle het vir die kaptein beduie om Jaap stil te maak en dié het ook ewe saggies by Jaap se oor gefluister dat hy sagter moet praat.

      Majoor Leutwein lag sommer kliphard as hy aan Jaap se harde, verleë fluisterstem dink toe hy vir die kaptein sê: “Kapteintjie, ek kán nie sag praat nie!”

      “En as jy nou so met jouself loop en lag, majoor? Was die suideson te veel vir jou?”

      “Nee, ek loop sommer aan een van jou skandes en dink en nou lag ek daaroor.”

      “Ek sal maar liewer nie vra watter een nie. Ek trap tog altyd in al die slaggate.”

      Hulle gaan sit in die ontspanningsvertrek waar ’n biervaatjie op ’n ruwe houttoonbank die vertrek gesellig laat vertoon.

      Een van die soldate bring vir hulle twee bekers skuimende bier.

      Jaap Venter blaas die wit skuimkop af en drink omtrent die helfte met die eerste teug uit.

      “Lekker! Dit is darem een ding wat julle Duitsers goed kan doen. Julle kan bier maak!”

      “En drink!”

      Jaap lag bulderend, sodat die majoor saam glimlag vir sy eie grappie.

      “Is jy op pad huis toe, Jaap?”

      “Ja, ek is op pad terug. Ek het met vier waens gekom. Die mense daar in die noorde sukkel, man. Hulle sal darem nou maar die spoorlyn moet bou tot bo in die noorde. Niemand wil transport ry soontoe nie.”

      “Ja, dis maar ’n yslike probleem. Die ouens is nou bang om so diep in te gaan hier in die noorde. Ek wil juis by jou hoor, Jaap. Hoe lyk dinge vir jou?”

      “Toe ek afgekom het, was alles rustig. Ek hoor nou maar eers van alles wat daar aangaan. Hulle het darem alles baie stil georganiseer.”

      “Is daar iemand op jou plaas?”

      “Ja, ou Jakob is daar. My pa het hom destyds saamgebring uit die Karoo uit. Toe was hy sommer nog ’n kind. Toe ek na my eie plaas toe trek, het ek hom saamgevat. Hy is so betroubaar.”

      “Is jy nie bang om jou plaas so onbeskermd te laat lê nie?”

      “Daar is nog nie te veel wat juis beskerming nodig het nie. Ek is nog besig om my huis te bou. Dis maar net my beeste en die krale en so aan.”

      “Maar jy weet tog hoe verdwyn die beeste net tussen hemel en aarde!”

      Jaap Venter skud eintlik van sy growwe bulderlag. “Hulle sal dit nie sommer weer waag om my beeste te kom vat nie. Hulle het al geprobeer en ek het dit net eenvoudig gaan terughaal en sommer ’n goeie klomp van hulle s’n gevat vir skadevergoeding. Ek het hulle laat weet dat ek volgende

Скачать книгу