Sarah du Pisanie Omnibus 7. Sarah du Pisanie

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Sarah du Pisanie Omnibus 7 - Sarah du Pisanie страница 20

Sarah du Pisanie Omnibus 7 - Sarah du Pisanie

Скачать книгу

neem die blik by haar en loer gemaak nuuskierig binne-in.

      ’n Groot pienk koek glimlag met sy kersie-oë vir haar.

      “Ag, Martha, hoe pragtig! Het jy dit self gebak?”

      “Ja, juffrou.”

      Alet sit die blik neer en soen haar liggies op die wang.

      “Baie, baie dankie, maar dit is so ’n groot koek, ek sal dit nooit alleen opgeëet kry nie. Ek gaan nou vir ons lekker tee maak en dan kan julle my help eet.”

      Die kleintjies kom sit soet op die vloer by Martha se stoel.

      “Hoe gaan dit verder met julle, Martha? Julle lyk almal so goed en gesond.”

      “Juffrou, ons het nuwe klere . . .” Klein Martie draai pronkerig rond in haar nuwe bont rokkie.

      “Maar dit is pragtig, Martie!” Nou eers merk Alet dat elkeen van die sewe kinders iets nuuts aanhet, al is dit net nuwe strikke in die hare. Weer eens bewonder sy die skynbaar ongeletterde Martha se insig.

      Martha, wat nie veel boekgeleerdheid het nie, maak haar kinders met soveel begrip groot dat enige sielkundige verstom sal wees. Hierdie eenvoudige gebaar om aan elkeen iets nuuts te gee, ongeag die gehalte of geldwaarde daarvan – net sodat die kind weet hy of sy is nie vergeet nie – is nie iets wat geleerdheid ’n mens kan gee nie. Dis ’n stukkie insig uit die hart.

      “En jy, Martha . . . wat het jy vir jouself gekoop?” Alet beskou haar belangstellend. Martha vang die liefde en opregte belangstelling wat die jong meisie na haar uitstraal soos ’n wintersonnetjie se strale op. Dit gloei deur haar en laat haar ontdooi soos nog nooit tevore nie.

      “My beurt kom een van die dae, juffrou . . . die kinders het so baie nodig gehad. Maar juffrou weet mos seker dat meneer Erlank vir my ’n werkie by die ontspanningsklub gekry het. Ek gaan werk net soggens . . . ek gaan net kyk dat die skoonmakers netjies werk en dat alles reg is . . . etenstyd is ek weer by die huis. En die ekstra geld is baie welkom.”

      “Nee, ek het nie geweet nie, Martha, maar dit is wonderlike nuus.”

      Martha glimlag breed. “Ja, juffrou, dit is baie welkom. Saam met die pensioen wat ons kry, is dit genoeg en kan ek vir my en die kinders ’n slag iets nuuts koop.”

      Die jammerte vir hierdie moedige vrou wel in Alet op. Met hoe min is sy tog nie tevrede nie! Vir die eerste keer in haar lewe het sy ook geld waarmee sy haar en die kinders kan bederf.

      Alet skink vir die kleintjies koeldrank en sny vir hulle dik snye van die pienk koek.

      ’n Ligte kloppie aan die voordeur laat die vrolike gesels skielik opdroog.

      Alet maan haar onstuimige hart tot stilte toe sy Louis in die oop deur sien.

      Ongeërg nooi sy hom in . . . asof dit gereeld gebeur dat hy sommer ongenooid by haar kom tee drink.

      “Middag, Martha.” Louis steek sy hand na haar uit.

      “Goeiemiddag, meneer Erlank . . .” Martha stryk verleë haar rok glad oor haar maer bene.

      “Hoe gaan dit met die werk? Is dit nie baie harde werk vir jou nie?”

      Martha lag spontaan. “Te swaar? Ai, meneer Erlank, ek het nog nooit in my lewe so min gewerk soos daar nie!”

      “En julle?” Louis sluit die kinders almal by hierdie benaming in. “Is julle bly die skool het weer begin?”

      “Ja, meneer!” Dit is Truia wat spontaan antwoord. “Ons is bly, want nou is juffrou terug . . . ons het verlang.”

      “Ek dink ons moenie vir juffrou weer toelaat om met vakansie te gaan nie . . . of wat sê julle?”

      Alet gee vir Louis sy tee aan en hou die suiker na hom uit. “Wil jy ook ’n stukkie van die heerlike koek hê? Martha het my so bederf.”

      Louis kyk skepties na die helderkleurige koek, maar toe hy Martha se benoude oë sien, dring hy joviaal daarop aan.

      “Maar natuurlik! Dit is dan waarvoor ek gekom het . . .Ek het vir Martha met die koekblik hier sien inkom, en dit is toe dat ek vir myself sê: Kyk, Louis, in daardie blik is koek. Jy beter sorg dat jy daar kom, anders kry jy niks nie . . . dan eet daardie juffrou van jou alles alleen op en . . .” Sy oë vonkel ondeund. “Sy is reeds so vet . . .”

      Martha bloos van lekkerkry, en Alet lag ongelowig terwyl sy oor haar skraal heupe vryf.

      “Ek sal nie stry nie, want my ma het my hierdie vakansie so bederf. Dit was net melk en vrugte, koekies en room en . . . ag, alles wat lekker is.”

      “O, ek wens ons kan ook eendag met vakansie gaan!” Die versugting kom diep uit Truia se kinderhart.

      Alet voel die trane agter haar oë brand. As dit net nie so ver was nie, kon sy vir Truia en Willem een vakansie saamgeneem het na haar ouers se plaas toe.

      Sy druk Truia se hand saggies waar sy langs haar op die rusbank sit.

      “Jong, ’n mens weet nooit . . . Voordat jy dit besef, gaan julle dalk eendag met vakansie.”

      Louis beskou hulle peinsend.

      “Ek sal julle sê wat . . . Met die komende kort vakansie gaan julle almal saam met my plaas toe. Ons het ’n enorme huis op die plaas en my ma sal verskriklik bly wees om weer ’n slag ’n huis vol mense te hê.”

      Die kinders staar hom oopmond aan en Martha laat haar kop sak terwyl sy senuweeagtig met haar sakdoekie speel.

      “Ek . . . ek weet darem nie, meneer . . . Ons . . . ons is so ’n klomp en ek . . .”

      “Ag, Maaaa . . .” Soos ’n koor protesteer die kinders.

      “Ek . . .” Martha raak verbouereerd. “Ek ken nie eens meneer se ma nie en die kinders . . . hulle kan maar ’n handvol wees.”

      “My ma is regtig lief vir kinders. Ek is haar enigste en sy wou altyd so graag ’n huis vol kinders hê. Buitendien neem ons mos vir juffrou ook saam. Sy kan jou help om die kinders op te pas as jy bang is hulle raak weg daar op die plaas.”

      Alet staar hom verbaas aan. Sy het nie gedink dat sy ingesluit is by hierdie uitnodiging nie.

      Martha glimlag deur die trane wat stadig in haar oë opdam.

      “As juffrou saamgaan . . . dan sal ek baie graag wil gaan, want dan . . . dan sal dit nie so vreemd wees nie. Ek . . . ek is maar skaam . . . en bang vir vreemde mense.”

      “Jippie!” Truia en Willem vlieg op en gryp hul ma om die nek terwyl hulle haar heen en weer sus.

      “O, Mamma, kan ons regtig gaan? Almal! Mamma gaan mos saam?”

      “O, meneer!” Truia sak op sy stoel se leuning neer en druk ’n soen teen sy kop.

      Alet staar die kinders verstom aan. Kan dit die skaam, skugter Ventertjies wees wat sowaar hul meneer soen van pure opgewondenheid? Sy wil nog protesteer en sê sy kan nie saamgaan nie, maar

Скачать книгу