Somer van betowering. Schalkie van Wyk

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Somer van betowering - Schalkie van Wyk страница 4

Somer van betowering - Schalkie van Wyk

Скачать книгу

pleit haar stemlose liefde om vervulling. Dit laat haar hard op haar onderlip byt terwyl haar trane met die skuimende water in die opwasbak meng.

      Elbie maak die plaashek van Voetpaddrif agter haar toe, blik oor haar skouer om seker te maak dat slegs die dakke van enkele dorpshuise nog sigbaar is en huppel met die sorgvrye vreugde van ’n kind teen die helling van die heuwel af na die wilgersomsoomde meer toe.

      “Ek is bly, ek is bly, want my skooldae is verby,” sing sy uitgelate, vleg walsend tussen enkele boomstamme deur en bly effens kortasem staan. Die somergroen van die bome en gras en die silwer helderheid van die water verdiep in die vroegskemer wat soos ’n sagte sluier oor die aarde sak en die boodskap bring van die naderende nag. Die skoonheid van die vroegaand oorweldig haar oomblikke lank, maar die blydskap oor die matriekeksamen wat eindelik agter haar lê, laat haar arms in ’n impulsiewe gebaar wyd oopgooi terwyl sy hardop uitroep: “Oom Giepie se Ganspan, hoor jy my? Ek is klaar met skool! Vir altyd en altyd klaar!”

      “ ’n Aanhanger van die hedonisme,” sê ’n diep, welluidende mansstem skuins agter haar.

      Sy snak verskrik na haar asem, swaai om en sien hoe ’n lang, breedgeskouerde man, in rydrag geklee, sy perd onder die oorhangende takke van ’n reusewilger uitlei. Sy hare is swart, en sy hoef nie te kyk om te weet dat hy persblou oë, ’n kuiltjie in sy vierkantige ken en ’n sweem van ’n Romeinse boog in sy neus het nie. Wanneer sy haar oë sluit, kan sy sy lippe sien, fyn afgeëts soos dié van ’n standbeeld. Sy mondhoeke neig boontoe, asof hy wil glimlag, en sy onderlip is effens dikker as sy bolip. Lippe, sag en sensueel, wat in haar drome . . .

      “Jy ontken dit nie? Jy is ’n hedonis?” onderbreek sy stem haar gedagtegang.

      Elbie sper haar oë wyd oop, verneder en skaam omdat sy onbewustelik haar oë gesluit het. Luan Stegmann glo heel waarskynlik sy is ’n skaamtelose bakvissie wat met toe oë gestaan en wag het dat hy haar soen, dink sy, vryf haar oë met haar wysvinger en mompel verskonend: “Jammer. Ek dink die lastige muggies het in my oë gevlieg.”

      “Wag, dalk kan ek help,” bied hy aan.

      Sy voel sy vingers om haar pols, sy aanraking warm en intiem, en spring agteruit asof sy hand haar gebrand het.

      “Muggies én perdebye?” vra hy, onderdrukte lag in sy stem. “Wat laat jou so rondspring, Elbie? Dalk rooimiere?”

      “ ’n Mens noem dit selfbehoud,” antwoord Elbie met gedwonge kilheid en lig haar ken. “As iemand jóú onverwags gryp, sal jy ook vinnig padgee.”

      “Wel, hoekom probeer jy nie?” vra hy, koggelende lag in sy oë.

      “Omdat ek moeg is,” sê sy snipperig en sak op die kort, groen kweek neer, haar rug op hom gekeer.

      “Dan het julle klaar getrek?” sê-vra Luan en gaan sit langs haar.

      Sy wens hy wil loop; sy wens hy wil bly. Sy wens hy hou op om met haar te praat; sy hoop hy hou nooit weer op praat nie. Sy wens, sy hoop, sy bid dat hy nie die onstuimige geklop van haar hart kan hoor en raai hoe onbeskryflik baie sy van hom hou nie.

      “Jammer,” sê hy spytig. “Dit kan nie maklik wees om tot siens te sê vir die plek waar jy grootgeword het nie.”

      “Helderstroom is die mooiste plaas in die wêreld,” sê sy met ’n oortuiging wat uit liefde gebore is. “Ek ken elke boom, elke graspol, elke klip op ons plaas. Ek en Karwats, my ryperd . . .” Sy sluk droog, knip haar oë vinnig en lag geforseerd. “Jammer. Ek kon nie vir Pappa of Anneke sê hoe hartseer ek is om afskeid te neem van ons plaas nie.”

      “Daar is ’n oplossing: trou met ’n ryk boer wat Helderstroom by jou pa kan koop,” stel hy voor.

      Sy betrag hom met ysige afkeer. “Is dit wat jy sal doen: met ’n ryk vrou trou sodat jy haar geld kan vat?”

      Hy breek ’n grasspriet af, kou daaraan en hou haar deur vernoude oë dop. “Dis wat die dorpenaars glo: arm Lukas Stegmann se aantreklike seun gaan vir hom ’n ryk vrou vat. Wees gewaarsku: rykes van die kontrei, hier kom ou sukkelaar Lukas se seun om julle dogters te steel. Sluit hulle toe, want al wat hy soek, is geld. Kyk net wat het hy gedoen toe die groothartige Giepie van Graan duisende rande in sy bankrekening gesit het sodat hy universiteit toe kon gaan om onderwyser te word. Die ondankbare Luan Stegmann het die geld uitgedobbel, en een maal per jaar maak hy ’n draai by Giepie om nog meer geld uit hom te kry.” Luan se lag is kort en wrang. “Het ek die prentjie duidelik genoeg geskilder?”

      “Duidelik genoeg, maar net jy weet hoe waar dit is. Oom Giepie leef soos ’n kluisenaar, en vra iemand hom uit, hou hy hom doof. Dit help nogal om doof te speel, want die dorpenaars het oorgenoeg oor my pa ook te sê.”

      Hy hoor die ondertoon van begrip in haar stem en glimlag dankbaar. “Jy het grootgeword. Ek is bly . . . en jammer. Toe jy ses was, het jy my gevra om met jou te trou. Gaan jy my weer vra, of is jy nou te groot en verstandig?” terg hy.

      “Dit was kort na my ma se begrafnis en tant Philippa het gedreig om by ons in te trek en vir my en Anneke ma te speel. Ek was so bang dat my pa met haar sou trou dat ek weggeloop het. Dis hoe ek op julle plaas beland het.” Sy glimlag by die herinnering aan haar kinderlike vrees. “Jy moes toe twaalf of dertien gewees het, maar jy was galant genoeg om my nie af te jak nie.”

      “Hoe kon ek? Jy was te mooi en fyn om seer te maak. Boonop was ek gevlei. Ek het beloof om met jou te trou sodra jy klaar geëet het. En jy, wispelturige meisie, het aan die slaap geraak voordat jy jou tweede toebroodjie klaar geëet het. En toe het my pa my na julle plaas toe gestuur om vir jou mense te sê waar jy is.” Hy sug oordrewe. “Die kans van ’n leeftyd . . . en ek word deur ’n toebroodjie gefnuik.”

      “Ek hoop daar is meer as net ’n toebroodjie by die huis. Ek is honger,” sê Elbie en staan op, bewus van die naderende nag, maar nog meer bewus van haar verraderlike emosies wat haar soos ’n beginsellose meisie wil laat optree. Dit moet verkeerd wees om te wens dat ’n man jou in sy arms neem en soen. Dit kan niks anders as sonde wees om te voel jy sal enigiets vir ’n man doen, solank hy hom net by jou kan hou nie, dink sy skuldig en sluk droog.

      “Jy en jou ewige honger,” verwyt hy, kom orent en bly voor haar staan. “Ek kuier tot na Kersfees by oom Giepie. As jy na die dam toe kom, so teen skemer, of ’n bietjie vroeër . . .”

      “Jy kan na ons huis toe kom, Luan,” nooi sy hoopvol.

      “Jy is net agtien, Elbie. Ek kneus nie bloeisels nie. Maar ek sal hier wees as jy wil gesels,” antwoord hy bruusk, swaai byna inspanningloos in die saal op sy perd en ry die nagdonker tegemoet.

      2

      Elbie trek voortjies met haar vurk deur die groente op haar bord, haar blik nikssiende op die tafelblad. Hy kneus nie bloeisels nie, het Luan gesê. Hoekom voel sy dan gekneus, stukkend, flenters . . . verwerp? vra sy haarself af, maar weet reeds wat die antwoord is.

      Luan was saam met Anneke in die klas, saam in matriek, terwyl sy nog op laerskool was. Maar soms het sy Anneke na die hoërskool vergesel om ’n kermis, ’n konsert of ’n sportbyeenkoms by te woon, en dan was Luan daar. Haar Luan. Dit is belaglik om te glo sy het Luan liefgekry toe sy ses was, maar êrens langs die pad van haar grootword het dit gebeur. Sy weet sy het hom onherroeplik liefgekry, want ten spyte van haar gewildheid onder die skoolseuns en jong mans op die dorp kon sy nooit vir hulle dieselfde emosies ervaar wat Luan in haar wakker gemaak het nie. Maar Luan . . . In sy oë is sy ’n onvolwasse kind, ’n dom bakvissie wat dit gewaag

Скачать книгу