Somer van betowering. Schalkie van Wyk

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Somer van betowering - Schalkie van Wyk страница 5

Somer van betowering - Schalkie van Wyk

Скачать книгу

. . .” Haar woorde stol en sy lê haar handpalm besorg op Elbie se voorkop. “Nee, jy het nie koors nie. Hoekom eet jy nie, Elbie? Moenie vir my sê jy aard na Pappa met sy maagseer nie. Pyn jou maag, Elbie?”

      Elbie wens sy kan in trane uitbars; wens sy kan al haar hartseer en verwarring in haar groot suster se arms uitsnik, maar besef dat haar liefde vir Luan so ’n intieme deel van haar hele menswees uitmaak dat sy dit met niemand kan deel nie.

      Sy lag halfhartig en skud haar kop. “ ’n Kloekende Moeder Hen – dis wat jy is. Ek makeer niks nie, Anneke. Ek is net doodmoeg en . . . en dis te warm om te eet.”

      Anneke sak op die naaste stoel neer en stut haar ken in haar hande. “Noudat jy dit noem: ek is poegaai, gedaan en kapoet. As dit nie was dat . . .” Sy sit orent, haar oë helder van ’n innerlike warmte. “Kan jy dit glo, Elbie? Ek wou nie hê Pappa moes agterkom hoeveel dit my ontstel om dorp toe te trek nie, maar . . .” Sy blik skuldig na Elbie, lek oor haar lippe en vervolg met neergeslane oë: “Die ou opstal op Helderstroom . . . Dit was my huis vir vyf-en-twintig jaar. Twaalf jaar lank was Mamma daar, en tot vandag toe kan ek haar in die sitkamer, die kombuis of buite in die roostuin sien. Helderstroom is in my bloed. Voel jy nie ook so nie?”

      Elbie knik stom. “Lu- . . .” begin sy, skraap haar keel en begin weer: “Iemand het vir my gesê ek moet met ’n ryk man trou sodat hy Helderstroom kan koop.”

      Anneke trek haar asem sag in en speel met senuweeagtige vingers met Elbie se servet. “Daar is ’n ander uitweg,” sê sy, haar stem byna monotoon in ’n poging om nie haar dieper emosies te verraai nie. “Almal glo dis oom Hans Davel wat ons plaas huur, maar ek weet dis eintlik Tertius wat die boer is. Oom Hans sou lankal sy eie plaas verloor het as dit nie vir die flukse tant Elize was nie. Sy het met ’n hoenderboerdery begin toe Tertius nog op laerskool was en ’n groot sukses daarvan gemaak. Dis ook sy wat gesorg het dat Tertius sy graad in landbou gekry het.”

      “Hoe weet jy? Het hy jou vertel?” vra Elbie verras.

      “Ons was saam in matriek en hy het dikwels met die grootste lof van sy ma gepraat, maar nooit sy pa gekritiseer nie. Dis Therine wat my vertel het. Sy is wel twee jaar jonger as ek, maar vandat sy by die bank begin werk het, het ons goed bevriend geraak.”

      “As tant Elize soveel geld met haar hoenderboerdery gemaak het, hoekom het sy oom Hans nie gehelp om sy plaas te behou nie?”

      Anneke maak ’n onvergenoegde snuifgeluidjie. “Gelukkig dink tant Elize met haar verstand, nie met haar hart nie. Toe sy besef haar hoenderboerdery is ’n sukses, het sy besluit dat sy elke sent wins wat sy maak, sal gebruik om haar kinders ’n geleerdheid te gee. Oom Hans kon nie eens die skoolfonds betaal nie, wat nog te sê om Tertius universiteit toe te stuur. En boonop: toe oom Hans die familieplaas geërf het, was daar reeds ’n verband op die grond, en hy het dit reggekry om ’n tweede en ’n derde verband te kry. As hy Wolwekrans nie verkoop het nie, het die bank dit gevat.”

      “Praat van sukkelaars!” Elbie skud haar kop verdwaas. “Ek onthou Tertius en Luan was vriende op skool, seker omdat albei se pa’s sulke nuttelose mans was.”

      “Dis nie so eenvoudig nie. Oom Hans staan te maklik borg vir sy vriende, en as hy ’n paar rand in sy sak het, gee hy dit vir iemand wat dit nodiger het as hy. Tant Elize sê hy is ’n gebore Kersvader, want hy wil almal help, maar intussen vergeet hy dat sy eie mense ook hulp nodig het.”

      “Hoera vir hom,” kom dit vies van Elbie. “Ek wed hy gaan heeldag op óns stoep sit en koerant lees terwyl tant Elize en Tertius hulle oor ’n boeg werk.”

      “Oom Hans is nie lui nie, net te vrygewig. In die huurkontrak wat Pappa met die Davels aangegaan het, is tant Elize en Tertius die huurders, nie oom Hans nie. Maar dis net tussen ons. Therine het my gevra om vir niemand te vertel nie, want sy voel haar pa is genoeg verneder.”

      “Ek is nie ’n kletskous, soos tant Philippa nie,” sê Elbie en haal haar skouers ongeërg op.

      “Ek weet, maar . . .” Anneke vou die servet in verskillende vorms terwyl sy met neergeslane oë voortgaan: “As jy met Tertius trou, kan jy weer op Helderstroom woon.”

      Elbie skiet regop op haar stoel, haar gesig gloeiend van verontwaardiging. “Wat? Verwag jy van my om op agtien met ’n man te trou bloot omdat jy jou ou slaapkamer wil terughê? Ek kan dit nie glo nie! Jy, my eie suster –”

      “Sjuut! Jy skree, Elbie. Wil jy hê Pappa moet ons hoor?” val Anneke haar gedemp in die rede, haar oë bekommerd op die oopstaande eetkamerdeur.

      “Dis jou skuld,” sê Elbie dikmond, bly dat sy kan rusie maak omdat dit haar tydelik van Luan laat vergeet.

      “Ek weet dit is. Ek is jammer,” sê Anneke sag, ’n moeë verslaentheid in haar houding. Maak die liefde vir een man ’n mens volkome gevoelloos teenoor ander mense wat aanspraak het op jou liefde? wonder sy. Maar sy móés net uitvind of Elbie enige gevoel vir Tertius het, want vrees is deel van haar liefde vir hom, besef sy. Solank as wat sy Tertius liefhet, solank as wat hy ongetroud is, sal vrees haar metgesel wees, want sy sal elke dag wonder met wie hy gaan trou. Waarom is liefde so ’n kankerende teenwoordigheid? Waarom kan ’n mens dit nie soos ’n inkopiesak opfrommel en in die naaste vullisblik gooi nie?

      “Gaan jy huil, Anneke?” vra Elbie bekommerd.

      Anneke glimlag teësinnig. “As trane sou kon help, het ek nooit ophou huil nie. Ek is werklik jammer, Elbie. Ek vergeet jy is net agtien en dat vier jaar van studie nog vir jou voorlê. ’n Mens dink nie ernstig oor mans en ’n huwelik as jy agtien is nie.”

      “Natuurlik nie,” beaam Elbie geesdriftig. “As jy nie vinnig trou nie, bring ek elke vakansie ’n halfdosyn mans saam huis toe totdat jy een kies wat in jou smaak val,” voeg sy skertsend by.

      “Dankie, ek sal my eie soekwerk doen. Maar van die Davels gepraat: Tertius het vroeër vanaand gebel en ons genooi om môre op Helderstroom deur te bring. Hy sê Karwats mis jou.”

      Elbie staar haar onthuts aan. “Sê jy vir my hierdie hele argument gaan oor ’n perd, Anneke? Jy wil hê ek moet met Tertius trou sodat Karwats nie na my sal verlang nie? Goeiste, mens, jy is dowwer as dof!”

      “Ek was nog altyd ’n diereliefhebber,” sê Anneke met soveel aangeplakte vroomheid dat hulle saam uitbars van die lag, bly dat hulle ’n oomblik van genot kan deel, omdat hulle hartseer hulle eie is.

      Elbie hou haar ryperd op die wal van die rivier op Helderstroom in, luister na die donderende gedawer van perdepote agter haar en glimlag uittartend toe Tertius haar oomblikke later op die rug van sy perd, Voorslag, bereik. “Grootprater!” koggel sy, haar oë laggend op sy onthutste gelaat. “Glo jy nog mans is beter ruiters as vroue?”

      “Sommige mense is gebore wenners,” antwoord hy, sy glimlag bedroë, en hy kyk haar deurdringend aan.

      Sy sien hoe die somerson koper uit sy rooibruin, effens krullerige hare haal en kyk met kritiese waardering na sy reguit neus, ferm mond en ken. Sy glimlag in sy groen oë, voel ongemaklik onder die intensiteit van sy blik en sê net met ’n ongeërgde ophaal van haar skouers: “Jy vergeet dis my geboortegrond. Ek en Karwats ken ’n kortpad na die rivier toe wat jy en Voorslag nog moet leer.”

      “Ek praat oor die algemeen,” sê hy met onverwagte erns.

      Sy blik hom verwonderd aan. “Ek verstaan nie. Ek het akademies goed presteer op skool, maar op sportgebied . . .Ek het net vir ons eerste tennisspan gespeel, maar ek was nie

Скачать книгу