Somer van betowering. Schalkie van Wyk

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Somer van betowering - Schalkie van Wyk страница 7

Somer van betowering - Schalkie van Wyk

Скачать книгу

op Therine en dan op Anneke. “Ek sou sê jy lyk uitspattig gesond langs die maer Anneke, my liefkind. Stem jy nie saam nie, Anneke?”

      “Ek is te jonk om stemreg te hê,” antwoord Anneke vinnig en hou haar hande afwerend op. “Ek en Therine het ’n goeie basis vir ’n lewenslange vriendskap: ons praat nie oor gewig of die grootte van ons hande en voete nie,” vervolg sy en steek haar hande onder die tuintafel weg.

      Langs haar bars Therine gierend uit van die lag.

      “Sy sien weer lawwe prentjies in haar gedagtes,” sê Elize vies. “Waag dit net om vir Anneke te vertel hoe ek in ’n bikini sal lyk, meisiekind, en jy kry ’n oorveeg!”

      Therine skud haar kop en kry haar lagbui onder beheer. “Dis ek en Anneke, Mamma. As my prins die dag met my trou en sy liewe bruidjie oor die drumpel dra, breek hy sy rug en land in die hospitaal terwyl ek alleen ons wittebrood hou. En Anneke . . .” Sy swyg en giggel onkeerbaar.

      “Ek weet al,” kom dit met droewige selfbejammering van Anneke. “As my prins my hand wil soen, verbrysel ek sy vingertjies in my grote. En op ons huweliksnag skop ek hom katswink en hy land langs jou prins in die hospitaal.”

      “Lawwe kinders!” Elize se lag is soos warm musieknote, almal op dieselfde toonhoogte, wat soos krale ingeryg word. Haar wange skud ritmies saam met haar dubbelken en haar maag en vorm die orkesinstrumente van haar lagsimfonie.

      Wat ’n liewe, sonnige mens, dink Anneke waarderend. Ten spyte van swaarkry en teleurstelling kyk tant Elize die uitdagings van die lewe vierkant in die oë en durf die een na die ander laggend aan. Wat ’n wonderlike ouma sal sy nie vir Tertius en . . . en sy vrou se kleinkinders wees nie.

      “Dalk moet ek van my vrees van perde vergeet en leer perdry,” tob Therine hardop. “As die perdry mý nie gewig laat verloor nie, sal die perd definitief gewig verloor!”

      “Van perde gepraat . . .” Elize kyk met ongewone erns na Anneke. “Hoekom het jy nie saam met Tertius en Elbie gaan perdry nie, kind? Julle is al soveel jare maats, maar Elbie is vir hom ’n vreemdeling.”

      “Ek was nooit so dol op perdry soos Elbie nie, Tannie,” antwoord sy gelykmatig. Boonop wou sy nie ’n vyfde wiel aan die wa wees nie, want sy kon sien hoe Tertius na Elbie kyk, dink sy en slaan haar oë neer sodat die skerpsinnige Elize nie haar geheim ontdek nie.

      “Goeiste, oumense kan darem toe wees,” kom dit ergerlik van Therine. “Kon Mamma nie sien Tertius val oor sy voete om Elbie te beïndruk nie? Die arme drommel is vir die duisendste maal so verlief dat hy skoon oormekaar kyk.”

      “Jy oordryf, Therine. Jou broer besef Elbie ken ons nie so goed nie, daarom probeer hy net om haar tuis te laat voel,” sê Elize partydig.

      “En daarom staar hy haar met kalweroë aan en stotter met ’n yl stemmetjie wanneer hy met haar praat?” vra Therine boos.

      “Wag nou, Therine,” sê Anneke paaiend. “Ek weet jy hou van my kleinsus. Hoekom irriteer dit jou dat hy van Elbie hou . . . dalk verlief is op haar?”

      “Omdat . . .” begin Therine opstandig en byt byna haar tong af in haar haas om haar woorde te stuit. Sy glo Tertius en Anneke is ’n volmaakte paartjie, want hulle kan oor enige onderwerp gesels, oor dinge lag wat sy nie snaaks vind nie en mekaar bewonder vir hulle prestasies. Sy is bewus van die onsigbare band tussen haar broer en Anneke, maar as hulle onbewus is daarvan . . .

      Sy maak ’n afwerende handgebaar en staan op. “Moenie jou aan my steur nie, Anneke. Vanselfsprekend hou ek van Elbie. Kom jy saam kombuis toe? Ek is nog besig om die beskuit uit te droog,” sê sy en gee ’n ander wending aan die gesprek. Sy pak die koppies op die skinkbord.

      “Haai, jou arme pa!” kom dit skuldig van Elize. “Hy is kliphard besig om my nuwe hoenderhokke te bou en hy het nog nie ’n druppeltjie tee gehad nie. Skink in, skink in, Therine. Of wag, ek sal. Los alles net hier. Ek sal vir jou pa iets te drinke en te ete neem en dalk nog ’n halwe skon eet. ’n Mens moet dit vars eet, anders droog dit uit.”

      “Nog ’n vetrolletjie,” korswel Therine, knipoog vir Anneke en haak by haar in. “Kom ons vlug van die versoeking af weg, Anneke. My ma se buitensporige eetlus gee my hongerpyne.”

      Hulle loop in stilte na die agterdeur toe. Anneke bly staan en haar oë soek dié van Therine. “Moenie vir Tertius ’n vrou probeer kies nie, Therine. Dis sy keuse.”

      Therine bloos skuldig en vra aarselend: “Het jy geraai dat ek wil hê jy en hy . . .?”

      “Jy het dit nie gesê nie,” val Anneke haar ferm in die rede en gaan die kombuis binne.

      “Ek kan dit nog dink!” sê Therine koppig agter haar.

      Anneke kyk verbaas op toe Elbie met ’n onstuimige uitdrukking op haar gesig die Sondag net na middagete haar kamer binnestorm. “Wat doen ’n mens op ’n dooie drop op ’n Sondagmiddag, Anneke? My oë is seer gelees, daar is niks interessants op die televisie nie en ons het nie eens ’n swembad nie. Op Helderstroom kon ek minstens gaan perdry en in die rivier geswem het.”

      Anneke maak haar boek toe en glimlag simpatiek. “Ek mis ook ons gereelde pieknieks Sondagmiddae langs die rivier, maar as dit jou sal troos: Therine het gebel terwyl jy in die tuin was. Sy en Tertius kom vanaand by ons kuier.” Sy kyk afwagtend na Elbie, wat dikmond voor haar uitstaar, en vra onbegrypend: “Het jy nie gisteraand gesê jy het ons kuiertjie op Helderstroom geniet nie?”

      “Ek het dit geniet om op ons plaas te kuier en op Karwats rond te ry, maar ek het nie van die Davels gepraat nie,” antwoord Elbie onvergenoeg en sak op ’n stoel langs die bed neer.

      “Jy hou nie van hulle nie?” sê-vra Anneke ongelowig. “Nie eens van die moederlike tant Elize nie? En Tertius . . . Hy het alles in sy vermoë gedoen om ons nie soos gaste te laat voel nie. Is hy nie goeie geselskap nie?”

      Elbie maak ’n ongeduldige gebaar. “Moenie my allerlei skuldkomplekse gee omdat ek nie dol is op jou vriende nie, Anneke. Ek hou van tant Elize en Therine en Tertius is gaaf, maar . . . hulle is heelwat ouer as my eie vriende.”

      “Tertius is vyf-en-twintig – net ’n paar maande ouer as ek. Ek en jy is vriende.”

      “Susters – en dis baie beter as vriende.” Elbie ontspan en sy glimlag teësinnig. “Ek sal ter wille van jou van enigiemand hou, maar Tertius se . . . se gasvryheid is so oordrewe dat hy my skuldig laat voel.” Sy sug gefrustreerd. “Ek sal graag elke dag wil gaan perdry, maar met Tertius daar . . . Anneke, jy werk tog saam met Therine. Bel my wanneer Tertius besig is op die lande of om beeste te dip of wat ook al. Ek wil nie elke maal in hom vasloop nie.”

      “Ek sal, maar . . .” Sy kyk Elbie fronsend aan. “Wat het gebeur wat jou laat voel jy moet Tertius vermy, Elbie? Dit gaan nie net oor sy oormatige gasvryheid nie. Ek ken jou, my kleinsus. Wil jy daaroor praat?”

      “Dis niks nuuts nie, want jy het dit gesê toe jy en Tertius nog saam op skool was: hy is ’n opperste flerrie – nee, ’n losbol, want net meisies kan flerries wees. Hy wil hê ek moet saam met hom uitgaan. Ha! So desperaat is ek nog nie!”

      Sy het dit verwag, dink Anneke, en tog is Elbie se woorde soos dolksteke in haar binneste. Op skool het sy enkele kere saam met Tertius uitgegaan, maar almal het geweet hulle is klasmaats en blote vriende. Wanneer sy Tertius besoek het, kon sy en Tertius land en sand gesels, maar altyd nog net as vriende. Kan vriendskap ooit liefde word? wonder sy wanhopig.

Скачать книгу