Somer van betowering. Schalkie van Wyk

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Somer van betowering - Schalkie van Wyk страница 6

Somer van betowering - Schalkie van Wyk

Скачать книгу

selfbewus en kyk weg oor die watervlak. “Dankie, maar dis net jou opinie. Boonop . . . Skoonheid het niks met wen te doen nie.”

      “Dit het. Ek het minstens ses keer onbeskaamd geskimp dat ek beskikbaar is om jou metgesel na julle matriekafskeid toe te wees. Jy het my skimpe geïgnoreer, want . . .” Hy swyg, skraap sy keel ongemaklik en staar strak voor hom uit.

      “Tertius!” verwyt Elbie en glimlag met goedige begrip toe hy vinnig na haar kyk. “Daar is seker kleiner dorpies as Hangkrans, maar jy weet self: almal wag dat jy die ongeskrewe reëls van die gemeenskap moet oortree en speel dan die rol van aanklaer en regter, sak soos ’n spul aasvoëls op jou neer en skeur jou met hulle kloue uitmekaar. Skoolmeisies nooi nooit werkende mans na die matriekafskeid toe nie – dis die dorpenaars se ongeskrewe wet en dit was ons skoolhoof se uitdruklike opdrag. Dieselfde reël het tog in jou matriekjaar ook gegeld.”

      Hy frons nadenkend en knik bevestigend. “Ek hét vergeet!” sê hy verlig en lag uitbundig. Hy besef dat sy nie saamlag nie en vervolg verskonend: “Jammer, Elbie. Ek voel ’n bietjie dronk van verligting. Sien, die jong ouens op die dorp praat onder mekaar oor julle meisies . . .”

      “Ek weet,” kom dit koel van Elbie, haar blik afgewend. “Elbie de Villiers glo dat, omdat sy ’n professor se dogter is, die jong mans van Hangkrans nie goed genoeg is vir haar nie. Sy gaan universiteit toe om vir haar ’n jong lektor te vang.” Sy kyk hom in die oë. “Glo jy dit, Tertius?”

      “Natuurlik nie! Anneke het vir Therine vertel hoe hard jy studeer het en van al die ander skoolbedrywighede wat jou voltyds besig gehou het. Dis net . . .” Hy aarsel, byt op sy onderlip en vra hoopvol: “Sal jy saam met my uitgaan, Elbie? Jy is tog nou klaar met skool . . . klaar volwasse. Ek weet jy gaan universiteit toe, maar ons kan mekaar beter leer ken. Dalk korrespondeer. As ek nie te bedrywig is op die plaas nie, kan ek soms oor ’n naweek Johannesburg toe ry en jou uitneem. Ek verwag nie dat jy net aan my getrou moet wees nie, maar . . . maar ek wil nie hê jy moet van my vergeet nie.”

      “Hoe kan ek? Jy boer op my geboorteplaas en jy slaap elke nag in die huis waarin ek grootgeword het,” sê sy met ’n neutrale stem.

      “Ja . . . ja.” Hy kug selfbewus, ’n donker blos van verleentheid op sy gesig. “Ek hoop nie dit maak van ons vyande nie, Elbie. Ek bedoel, jy is welkom om elke dag hier te kom kuier . . . selfs te oornag. Helderstroom is tog nog julle De Villierse se erfgrond. Ons huur net die plaas.”

      “Jy verstaan my verkeerd, Tertius. Die plaas was vir my pa net ’n blyplek, nie iets om oor sentimenteel te raak nie. Hy is dolgelukkig in sy nuwe studeerkamer op die dorp. Ek glo dit was ’n wyse besluit om ons plaas te verhuur.”

      “Dan sien jy kans om saam met my uit te gaan?” vra hy gretig.

      Sy aarsel en staar met troebel oë voor haar uit. Hoe maklik sal dit nie wees om ja te sê nie, dink sy wrang. Sy sal die meerderwaardige Luan Stegmann behoorlik op sy neus laat kyk as Tertius haar gereeld begin uitneem. Tertius en Luan is albei vyf-en-twintig, maar Tertius pleit om te kom kuier, terwyl Luan haar duidelik laat verstaan het dat sy te jonk en onvolwasse is om aanspraak op sy vriendskap te maak. As sy ja sê . . .

      Maar sy kan nie. Sy kan nie Tertius gebruik, bloot om wraak te neem op Luan nie, want diep in haar hart weet sy wie die prins en wie die dienskneg is. Luan is die alleenheerser oor haar liefde, die enigste aanspraakmaker op haar lojaliteit, selfs al sal hy nooit bewus wees daarvan nie, besef sy met ’n gevoel van volslae onmag. Haar verlange na hom is soos ’n kloppende seer wat met elke hartslag saam met haar bloed deur haar are bruis.

      “Gaan jy nie eens die moeite doen om my te antwoord nie, Elbie?” kom dit gekrenk van Tertius, sy stem skor van spanning.

      Sy glimlag sonnig en sê vertroulik: “Ek sê dit net vir jou, Tertius, maar . . . ek voel nie werklik groot en klaar volwasse nie. Daarby het my tant Philippa my laat verstaan dat sy my summier sal onterf as ek ’n verhouding met enige man aanknoop voordat ek my studie voltooi het. Ek stel nie in haar geld belang nie, maar sy sal die lewe vir my arme pa ondraaglik maak as dit bekend word dat ek saam met jou uitgaan. My pa het klaar soveel las van sy maagseer – ek wil nie die rede wees dat hy in die hospitaal beland nie.”

      “Jy is ’n wonderlike meisie,” sê Tertius met innige waardering. “Dat jy bereid kan wees om ter wille van jou pa jou eie liefde op te offer . . . Dit kan nie vir jou maklik wees nie, maar ek verstaan en ek sal jou wense eerbiedig, Elbie.”

      En nou laat hy haar soos ’n huigelaar en ’n skurk voel, dink Elbie skuldig en gluur hom vies aan. “Moenie my verhef tot die status van Moeder Theresa nie, Tertius. Dis vir my baie maklik om tant Philippa se bevele uit te voer, want ek is nie lief vir jou nie.”

      Tertius lyk ’n oomblik lank van stryk gebring en glimlag dan begrypend. “Ek besef dit, Elbie, maar as ons mekaar beter kan leer ken . . . Enigiets is moontlik. Maar ek sal geduldig wees. Ek sal harder werk as ooit tevore en ’n reusesukses van die boerdery maak. Oor vier jaar kan ons weer praat.”

      Sy sug ongeduldig. “Vier jaar is ’n leeftyd om op ’n seepbeldroom te wag, Tertius. Neem ander meisies uit. Ek is seker meer as een sal bereid wees om met jou te trou.”

      “Gee jy nie om dat ek intussen ander meisies uitneem nie?” vra hy geraak.

      “Hoe kan ek? Ek gaan beslis nie vier jaar lank met my neus in my boeke sit nie. Ek is jonk en vry om my lewe te geniet – en jy ook.”

      “Seker, ja.” Hy glimlag afgehaal. “Maar as jy oor vier jaar niemand anders liefhet nie . . . Ek sal hier wees, Elbie.”

      “Waar anders?” vra sy ongeërg, draai haar perd om en jaag op volle galop terug na die ou opstal op Helderstroom toe.

      Therine Davel plaas die skinkbord met teegoed op die tuintafel onder ’n skaduryke peperboom neer en kyk ongeduldig rond. “Ek wonder waar draai my ma nou weer,” sê sy vir Anneke, wat ’n bord warm skons op die tafel neersit. “Ek het haar gewaarsku dat ons alleen gaan tee drink, want na al daardie moeite gaan ek nie koue skons eet nie.”

      Anneke blik met ’n ondeunde glimlag na Therine se krulhare wat vlamrooi in die spatsels sonlig wat deur die blare syfer, vertoon. Therine het ’n humeur wat by haar kleur hare pas, dink sy, maar haar opflikkerings van ergernis word oorheers deur haar sagte geaardheid en warm humorsin. Dank die hemel Tertius en Therine het tant Elize se rooi hare en groen oë geërf, want as Tertius háár ooit sou liefkry . . . Sy wil rooikopkinders met sproetjies op hulle neusies hê, nie verbleikte kinders soos oom Hans met sy verbleikte, wit hare en sy verbleikte, blou oë nie. Haar gedagtes laat haar bloos en sy peuter met ’n knoop van haar rooskleurige bloesie, oneindig dankbaar dat Therine nog nooit die geheim van haar gevoel vir Tertius geraai het nie.

      “Koewie! Ek kom, kinders!” roep Elize uit die rigting van die stalle.

      “Draaikous!” roep Therine en begin die tee skink.

      Elize trippel op ’n skommeldraffie nader, druk-druk oor haar onbeheerbare, kort, krulhare, vee met haar hande oor haar vuilerige voorskoot en plof uitasem op die naaste tuinstoel neer. “Skarrel hier, skarrel daar . . . nes ’n vervlakste eekhoring wat akkers vir die winter versamel. Dankie, my kind,” sê sy toe Therine vir haar ’n koppie tee aangee. Sy proe aan haar tee, pruim haar lippe en beduie na haar koppie. “Nog ’n lepeltjie suiker, Therine. En nog ’n skeppie vars room op my skons. Vier sal seker genoeg wees.” Sy kyk met verwondering na Anneke. “Ek kan dit nie verstaan nie, Anneke. Ek draf my bene af van sonop tot sononder, werk my gedaan in die huis, die tuin en veral by die hoenders, maar ek bly rond en gesond. Hoe jy en Elbie sulke graatjies kan wees . . .”

Скачать книгу