Een nag in Vegas. Elize Mitchell

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Een nag in Vegas - Elize Mitchell страница 2

Een nag in Vegas - Elize Mitchell

Скачать книгу

een vir een verby­skiet. Uiteindelik is hulle op die vlak waar die restaurante is, en Telani is eerste by die deur uit.

      “Stadig, wag vir my,” sê ’n diep stem hier langs haar. Die hand op haar arm is ferm en sy beur vererg weg, maar die man laat nie los nie. “Ontspan, ek is nie van plan om jou te ontvoer nie,” lag hy. “Jislaaik, ek kan nie glo die wêreld is so klein nie. Dat ons nou sowaar in dieselfde hotel moet wees!”

      Sy kyk verbaas na die aantreklike ou langs haar met sy warm glimlag. Sy ontspan effe toe sy hom herken. Dis wraggies een van die uitgesproke mans wat sy vroeër vandag in die kafee teëgekom het.

      “En terloops, ek glo glad nie die storie van jou rokgrootte nie,” voeg hy skertsend by asof hy om verskoning vra vir hulle ongevraagde kommentaar.

      “Asof jy sal weet.” Daar is net ’n sweem van ergernis in haar stem. “Net toe ek dink dit kan net Amerikaners wees, moet ek my woorde sluk. Ons ou nasie is ook glad nie op ons bek geval nie, nè?” kap sy terug.

      Hy lag hardop. “Ja, dit wys net weer. Ons mense is al so dwarsoor die wêreld versprei, jy moet twee keer dink voor jy iets sê. Dit was ’n goeie les, ek sal beslis in die toekoms meer versigtig wees.” Dan kyk hy nuuskierig na haar. “Waarheen is jy op pad?”

      Hy is nog langer as wat sy aanvanklik gedink het en sy moet opkyk na hom.

      “Restaurant toe.”

      “Ek ook,” sê hy ingenome. “Gee jy om as ek saamstap? Ek so honger, ek kan vanaand een van Texas se beeste opeet.” Sy gesig verhelder. “Ons kan mos sommer saam eet,” nooi hy terwyl hulle wag vir die kelner. Sy blou oë vra so mooi dat sy wegkyk.

      “Liewer nie. Ek ken jou nie, en buitendien hou ek daarvan om op my eie te wees,” skerm sy.

      Sy hand is liggies onder haar elmboog terwyl hulle die kelner volg. “Twak. Dis die ideale kans om mekaar te leer ken.”

      Sy twyfel nog, maar miskien help dit om die lang aand korter te maak.

      “Jy gaan my sowaar nie wegstuur nie, ons mense is mos bekend vir ons gasvryheid,” dring hy aan.

      “Ook weer waar.”

      Die kelner trek haar stoel uit en sy gaan sit. Ten minste eet sy nie weer alleen soos iemand wat melaats is nie.

      “Kom ons begin van voor af. Ek is Simon van Breda.” Hy steek sy hand plegtig na haar uit en sy neem dit huiwe­rig.

      “Telani Malan,” sê sy.

      “Aangename kennis, Telani. Dis ’n mooi naam.”

      Sy is steeds nie op haar gemak nie, maar ’n halfuur gelede het sy haarself bejammer omdat sy stoksielalleen is, en nou eet sy saam met een van die aantreklikste mans wat sy in ’n lang tyd gesien het. Hy herinner haar aan die een of ander filmster, en vir een aand kan sy darem seker die mooie man se geselskap geniet, troos sy haarself.

      “En as jy nou so droomverlore lyk?” Sy stem is sag en sy kyk op, vas in sy vraende oë. “Verlang jy huis toe, na iemand?”

      “Miskien. As mens alleen in die vreemde is, raak ’n vakansie partykeer net te lank, dan is dit tyd vir huis toe gaan,” probeer sy hom om die bos lei. Sy druk haar hare agter haar oor in. “Waar is jou vriend, die een wat saam met jou was?”

      “Na sy suster toe. Ons is hier vir sake, maar hy gaan eers agterbly en by haar kuier. Sy woon al vyf jaar hier en hulle sien mekaar maar min. Hulle het baie om in te haal en ek was nie vanaand lus vir familiebesprekings nie.”

      Die kelner skink wyn en neem hulle bestellings. Simon skuif haar glas tot voor haar. Hy lig syne en wag vir haar om dieselfde te doen.

      “Op nuwe vriendskappe, nuwe uitdagings en nuwe horisonne,” sê hy geesdriftig, maar Telani neem net ’n slukkie sonder om te antwoord. Sy sien dat hy fronsend na haar kyk.

      “Ja, veral op die nuwe uitdagings en horisonne kan ek drink,” sê sy teësinnig, net om iets te sê, en vat nog ’n slukkie.

      “Wat beteken dit?” vra hy geïnteresseerd. “Dalk ’n nuwe werk?”

      “Nee, net die teenoorgestelde. Ek soek werk.”

      Hy sit sy glas neer en kyk belangstellend na haar. Telani kan haar tong afbyt dat sy dit laat uitglip het, maar dis omdat sy heeltyd daaraan dink.

      “Het jy iets in gedagte?”

      “Nee . . . ek bedoel . . . ja,” stotter sy. “Ek is seker my vorige werkgewer sal my terugvat.” Hierdie gesprek moet sy nou kortknip. “Vergeet daarvan, die etenstafel is beswaarlik die plek om oor so iets te praat.”

      Hy kyk haar opsommend aan en tel weer sy glas op.

      “Nou toe dan, met al die formaliteite agter die rug, kan ons lekker gesels. Ek brand om te hoor van watter deel in ons mooi land jy kom,” verander hy die onderwerp.

      “Kaapstad.” Sy brei nie uit nie.

      “Interessant, dis toevallig waar ek ook woon, maar die Kaap is groot, Telani.”

      Sy hoor versigtigheid in sy stemtoon, asof hy nie te voorbarig wil klink nie.

      “Ek weet, so vertel my liewer van jouself. Jy woon seker naby die see – jy’s so bruingebrand.” Sy probeer ’n glimlaggie optower. “ ’n Surfer of lifesaver op Clifton, miskien?”

      Hy lag. “Ek wens ek was, maar jy’t verkeerd geraai. Ek speel gholf.”

      Sy begin eet sonder om te wys dat sy verder belangstel.

      Die ete verloop stil, by tye ongemaklik, want Telani doen geen moeite om ’n praatjie aan te knoop nie, raak net nou en dan iets kwyt oor die kos.

      “Gaan jy my niks oor jouself vertel nie?” probeer hy weer voordat hy die laaste stukkie steak in sy mond sit.

      Telani kyk na sy leë bord, dan na haar kos waaraan sy skaars geraak het. Sy moes nooit vanmiddag so ’n groot sny van die swartbessiekaaskoek geëet het nie, dink sy spytig.

      Hy vou sy servet op. “Ek wil nie jou CV hoor nie, net so ’n ietsie, soos watse werk jy doen?”

      “Jammer, nie geweet jy sou belangstel nie,” glimlag sy verskonend. “Ek is ’n doodgewone arbeidsterapeut.”

      Hy sit haar so ingedagte en bekyk dat sy ongemaklik rondskuif.

      “Wat’s fout? Weet jy nie wat ’n arbeidsterapeut doen nie?” vra sy geïrriteerd.

      Sy oë is vol belangstelling. “Ek het so ’n idee, maar jy kan my gerus meer vertel.”

      “Ons werk met mense en veral kinders wat probleme het – moeilik lees of skryf, of sukkel met handvaardigheid, maar daar is hope ander goed ook.” Sy skud haar kop. “Aag, dis ’n breë veld, en ek is seker dit interesseer jou nie regtig nie.”

      “Inteendeel, dis uiters interessant.”

      Hy wag dat sy aangaan, maar sy’t genoeg uitgelap. Hoe minder hy van haar af weet, hoe beter.

      Sy

Скачать книгу