Een nag in Vegas. Elize Mitchell

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Een nag in Vegas - Elize Mitchell страница 3

Een nag in Vegas - Elize Mitchell

Скачать книгу

gerus maar jou poeding eet, daar’s niks fout met jou lyf nie, Telani. Ek weet ons aanmerkings was ongevraag, maar dit was as ’n kompliment bedoel, nie afbrekend nie.”

      “Sal jy my verskoon?” Sy staan op. “Dis nie die rede nie, Simon, ek hou net nie van trifle nie, en wat ander oor my lyf te sê het, traak my regtig nie. Daar is ander dinge wat seerder maak as om te hoor jy’s . . . uhm, groot.” Sy glimlag. “Nou ja, geniet die aand verder,” sê sy en vat haar handsak. “Dalk loop ons mekaar eendag in die Kaap raak.”

      Simon staan beleef op. “Ag nee, kom nou. Hou my ten minste geselskap, ek is amper klaar. Dis net, ek moet nog leer om nee te sê vir roomys met sjokoladesous. Hoekom kry jy nie ook nie?”

      Die teleurstelling op sy gesig laat haar amper ingee, maar sy besluit daarteen. Liewer nie, dis net moeilikheid soek. “Geniet gerus joune, maar ek het genoeg gehad.”

      “Sien ons mekaar môre?” vra hy hoopvol. “Dalk kan ons ’n paar besienswaardighede gaan bekyk – saam met iemand is dit altyd lekkerder.”

      “Ek het nog nie planne nie, maar eintlik moet ek begin pak.”

      “Goed dan, ons kyk maar hoe dit gaan. Lekker slaap.”

      “Nag, Simon, jy ook.”

      Toe sy wegstap, kyk sy om. Sy sien dat hy ingedagte met die lepel sit en speel, ’n frons tussen sy wenkbroue.

      2

      Telani word wakker van die hinderlike gelui van ’n telefoon. Sy is sommer vies. Wie pla so vroeg, en dit op haar laaste dag? Sy wou juis vanoggend laat geslaap het. Net toe sy haar hand uitsteek om te antwoord, hou die gelui op. Sy klim gegrief uit die bed. Sy kan nou netsowel onder die stort inspring en van haar frustrasie ontslae raak.

      Terwyl sy stort en aantrek, dink sy hoe sy haar laaste dag in Vegas gaan deurbring. Vandag wil sy die strate invaar en ’n geskenkie vir Marissa koop. As dit nie vir dié vriendin van haar was wat haar deur die hartseer tyd bygestaan het nie, het sy seker nou nog in sak en as gesit en wonde lek. Sy skud haar kop vererg – genoeg hiervan. Die lewe gaan aan. Wanneer sy terug is in die Kaap, moet almal sien die vakansie oorsee het haar die wêreld se goed gedoen en haar hart is ver van gebroke af.

      ’n Harde geklop aan die deur onderbreek haar gedagtes. Eers die telefoon, nou ’n laspos by die deur. Wat is dit van­oggend? Sy maak die deur oop, wil sommer lelik praat, maar die woorde stol. Voor haar staan Simon.

      “Pla ek?” vra hy met ’n onseker glimlaggie.

      Telani sluk haar woorde. Moet die dekselse man so aantreklik wees? Selfs in jeans en ’n T-hemp lyk hy soos die held van ’n sepie.

      “Ek was juis op pad uit,” sê sy en tel haar handsak op sodat hy die boodskap moet kry.

      “O, ek sien,” sê hy terwyl hy haar op en af bekyk. “Jy lyk baie mooi.”

      Sy wonder selfbewus of die rok nie te veel van haar borste vertoon nie. Die lae hals beklemtoon juis die gleufie waar die ronde kurwes teen mekaar druk. Toe sy dit gekoop het, was sy desperaat en uitdagend, maar nou sien sy watter uitwerking dit het.

      “Wil jy inkom? Daar is darem nog tyd. Ontvangs het my vroegoggend al wakker gebel. Toe staan ek maar op en besluit om die beste van my laaste dag te maak.”

      Hy vryf sy hande. “Dis ek wat gebel het. Ek het jou nommer by hulle gekry.” Hy lyk ongemaklik. “Telani, daar’s iets wat ek met jou wil bespreek.”

      “O,” sê sy verbaas. “Kom sit. Wat op aarde is daar waaroor ons so vroeg in die dag moet praat?”

      “Dis persoonlik. Ek lê al heelnag wakker en dink.”

      Hulle gaan sit teenoor mekaar. Sy wonder of sy haar dit verbeel dat sy oë bekommerd lyk. Sy glimlag. “Ek’s ’n arbeidsterapeut, onthou, nie ’n sielkundige nie.”

      “Presies. Jy’t gisteraand genoem dat jy sonder werk is en . . .”

      Sy spring op en gaan staan hande op die heupe voor hom sodat hy effens terugskuif. “Dit het regtig niks met jou uit te waai nie. Vergeet daarvan.” Dis die laaste ding waaroor sy wil praat. Sy mik na die deur.

      Simon spring op. “Ek het jou hulp nodig, Telani.” Hy trek haar aan die arm terug. “Luister net eers, asseblief, dis oor my seuntjie.”

      Sy kyk ongelowig na hom, haar oë op skrefies. “Jou wát?”

      “My kind.”

      “Wil jy my nou kom vertel jy’s getroud?” Sy ruk los en gaan maak die deur oop. “Ek dink jy moet liewer loop, Simon. Ek weet nie onder watter indruk jy is nie, maar ek is nie ’n los meisie wat afleiding soek met getroude mans nie. En moenie op my gevoelens probeer speel met die storie van die kind wat kastig hulp nodig het nie. Ek is nie vyftien nie.”

      Simon druk haar weg en maak die deur weer toe, maar Telani is so boos, sy kan slange vang.

      “Jy weet, julle sakemanne is almal dieselfde. Gaan kastig oorsee op besigheid, maar iewers pas julle ’n los gelukkie in, so asof dit julle reg is, en deel van die pakket. En om dan boonop jou kind voor te hou.” Sy voel asof sy gaan stik. “Jy behoort jou te skaam!”

      Simon laat haar begaan, gaan sit net stadig.

      “Kan ek nou my kant stel sonder dat jy my in die rede val?” vra hy uiteindelik. “Moet asseblief tog nie so oor my troon nie. Kom sit asseblief.”

      Sy plak haar vererg op die randjie van die bank neer en vou haar arms oor haar bors. “Eintlik wil ek niks hoor nie, maar maak gou, ek wil loop.”

      “Ek is nie getroud nie, ek is al ’n paar jaar ’n wewenaar. Jaco, my seuntjie, is vier.” Hy vryf oor sy oë, lyk asof hy na die regte woorde soek. “My vrou het leukemie gehad en is dood toe Jaco skaars twee jaar oud was.” Hy bly so lank stil dat Telani wonder of hy hom bedink het. “Jaco is ’n pragtige kind, maar hy’s meestal teruggetrokke en besig met sy eie gedagtes. Partymaal verander hy handomkeer en gaan vreeslik te kere, gewoonlik oor onbenullighede, as hy iets nie kan regkry nie.” Simon vryf oor sy knieë en sy sien die hulpeloosheid op sy gesig. “Telani, ek weet daar is iets wat nie reg is nie. Die kleuterskool se verslae noem ook dat daar afwykings is, dat hy nie altyd optree soos ander kinders van sy ouderdom nie. Ek weet Jaco het hulp nodig, maar ek het nog altyd weggeskram, gehoop dit sal vanself regkom, gedink dis omdat hy nie ’n ma het nie.”

      Teen wil en dank luister Telani aandagtig. Sy het al met so baie kinders met dieselfde simptome te doen gehad. Sonder dat sy dit kan help, boei sy storie haar, wil sy meer weet.

      “Toe jy gister noem dat jy ’n arbeidsterapeut sonder werk is” – hy glimlag skeefweg – “was dit asof daar ’n lig vir my opgaan.”

      “Ek verstaan nie waar ek inpas nie, behalwe dat ek jou kan verwys na verskeie instansies met uitsonderlike sukses­rekords.”

      “Ek het baie goed hieroor gedink, Telani. Ek wil jou ’n aanbod maak. Wil jy my nie met Jaco help nie? Dis nogal ’n teer saak vir my.”

      “Maar jy vermoed net daar skort iets, dis nie te sê dis wel so nie. Baiemaal is ouers net oorsensitief omdat hulle kinders nie so fluks vorder soos hulle vriende s’n nie.”

      “Ek

Скачать книгу