Monument. Maretha Maartens

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Monument - Maretha Maartens страница 11

Автор:
Серия:
Издательство:
Monument - Maretha Maartens

Скачать книгу

die moontlikheid van redding, sonder suurstof en heeltemal alleen uit die lig uit in die donker dieptes af te gaan.

      “Pa dink mos ek gaan ’n washout word, Margo. Daai Maandagoggend op pad dorp toe, toe hy en Ma Chris gefight het, het hy gesê ek is gebore om ’n washout te wees, oor ’n flippen rugby jersey wat weggeraak het!”

      Daarby was Adriaan ’n testosteroonfabriek.

      Genene beduie hulle moet boontoe gaan. Margo raak aan die relingstut van die trapreling. “Ek het nog nooit dié soort hout gesien nie.”

      “Afrika-slanghout. Die res van die trapreling is eikehout.”

      “Dis ’n ongelooflike hout.”

      “Jou ma het kort gelede nog vir my gesê ’n vrou wil elke dag aan iets raak wat so mooi is dat jou hart in ’n soort rus inskop. En dat sy so skuldig gevoel het om by Lukas aan te hou oor ’n relingstut van slanghout totdat hy bes gegee het. But a thing of beauty …”

      Genene praat sagter: “As hulle tog maar ’n loper op die trap gelê het. Hout kan onmoontlik glad wees. Net een stortsel uit ’n glas water kan die begin van ’n tragedie wees.”

      Hier het Lukas Lubbe se kleinseun dan op Ma Chris afgekom.

      “Nee, niemand kan sê hoe lank sy daar gelê het nie,” het Cheri oor die telefoon gesê. “Ek is jammer dis ek wat jou oor so iets moet bel, Margo. Adriaan is weg vir die week, dis dié dat ek bel. Gelukkig het hy jou telefoonnommer hier op die telefoongids by die telefoon geskryf, anders het ek nie geweet hoe om by jou uit te kom nie.”

      Toe Margo stilbly, het Cheri voortgegaan met die slegte nuus.

      “Sy’s baie deurmekaar, die Genene-vrou sê sy het ernstige breinbeserings. En natuurlik die verlamming in haar onderlyf, hulle weet nie of dit permanent is nie. Ek weet nie van die rugmurg nie, sy het net van die rugwerwels gesê. Jou ma is uit ICU, ek dink ek moet môre ry en gaan kyk wat aangaan. Ek het gebel, maar hulle het gesê hulle gee nie inligting aan die publiek nie. Die Genene-vrou sê jou ma wil net huis toe gaan, sy het vir Evangeline, sy sal beter af wees by haar huis.”

      Eindelik kon Margo ’n paar verwarde vrae uitkry.

      “Ek weet regtig nie. Die Genene-vrou sê sy het nie gesond geëet nie, sommer net koffie en brood. Sy het black­outs gekry vandat Lukas Lubbe dood is. En sy het baie gestres oor misdaad en wat in die land aangaan en sy so alleen. Die week voor sy geval het, het sy glo vir Genene gesê haar bloeddruk is 90 op 52, wat hel laag is.”

      Hier het Ma Chris gelê. Kom huis toe, Margo. Ek het my rug gebreek, ek sal jou nooit weer so kan teleurstel nie.

      Hoofstuk 9

Aartappelfees.%20Skilderye%20Wendy%20Malan%201993%20en%20Ansie2008.JPG

      Die haak vir die katetersak sit nog onder die matras. Genene het ’n handjievol lyfpoeier in die lug geblaas voor sy uit is. “Jy en ek is mos laventelmeisies, Christina.”

      Margo bly ongemaklik staan. Was dit nie vir die swart om Ma Chris se oë en die kaalgeskeerde vierkant op haar kop nie – so ’n verrassend klein toegangsopening na die bloeding en die brein – sou sy vir haar gesê het: “Ma, jy lyk nes ’n Nasa-ruimtevaarder. En jou nekstut lyk ongemakliker as die harnas om jou lyf.”

      Op ses het Diederick eendag verveeld aan Oumbecca se porseleinpoppe gekarring. Die een wat van die boonste rak afgeval het, het só gelyk. Oumbecca het dit met klere en al in ’n swartsak gegooi. As jy eendag ’n dogtertjie het, Margo, laat ek maar ’n ander een vir jou maak.

      “Hi, Ma.”

      Sy maak haar regterhand oop en toe, oop en toe, die vuis elke keer kneukelwit gebal. Kantpaadjie net soos altyd, maar die haarwortels is asgrys. Die perlemoennaellak aan haar toonnaels het begin afskilfer, maar haar gesig is gegrimeer.

      “Waar is Michael?”

      “Genene se man het hom by hom in die sitkamer gehad.”

      “En Genene?”

      “Sy het gesê daar’s ’n vergadering by haar huis, hulle is huis toe. Onthou Ma, sy het Ma se hakskene ingesmeer.”

      “Hoekom het sy dan nie gegroet nie?”

      Haar spraak is aangetas. Sy praat soos wat haar kinders nooit toegelaat is om te praat nie.

      “Sy hét gegroet, Ma. Sy’t nog gesê oom Piet het die Sondagmiddag-vaakheid oor hom, hy gaan dit nie tot aan die einde van die vergadering maak nie.”

      “Oor die plaasmoorde?”

      “Hoe bedoel Ma?”

      “Ons was by my pa se graf gewees.”

      “Wie, Ma?”

      “Hoekom kan jy nie onthou nie? Ek en Oumbecca, dis die eerste wat ek van my pa gesien het, 6th South African Armoured Division Cemetery by Castiglione dei Pepoli.”

      Sy vat haar ma se hand, maar dis soos om ’n budjie te probeer vashou. Haar ma se vuis skop in haar handpalm.

      “Die meeste kinders doen dit nie op dertien nie, jy sou nie.”

      “Ma kyk my vlak.” Korswel is ook toenadering. Sy is so gekneus, hoe moes sy nie ná die val gelyk het nie?

      “Daar was rose, Italië is vol rose, bloedrooi. Bill Hallman het nie gereis nie, dank die Vader.”

      Margo weet nie wat om te sê nie. “Sy raak deur die blare,” het Cheri berig. “Al die ligte aan, maar niemand in die kamer nie. Sy het my uitgevra oor jou, of ek weet jy het ’n Jood vir ’n boyfriend, dieselfde soldaat wat op jou oumagrootjie Jacomina afgekom het toe sy meel en suiker uit die spens gaan haal het. Toe raak sy net weg, sy slaap verskriklik diep.”

      En skielik kom sy terug, wawyd wakker. “So, watse vergadering is dit by Genene?”

      “Sy het van ’n gesinskamp gepraat, Heart Cry of iets. Hulle hou vergadering daaroor by haar huis.”

      “Wie?”

      “Ma, ek ken mos nie die mense nie. Haar man het net na haar geroep en gesê hy sien Hugo se kar staan al voor hulle deur. ”

      “Die kamp is in September. Jy kan gerus gaan, Johnie en Isabel is wonderlike mense. Of hoekom is jy hier?”

      Haar tong sleep soos soms op ’n Vrydagaand in die tydgleuf tussen die gasontploffing en die liefde wat alles en almal uit hulle plekke en bane geruk het.

      Toegegee: Was dit nie vir Lukas Lubbe nie, was Ma Chris ’n alkoholis. Hy was op presies die verkeerde tyd betyds gewees toe hy op Vrydag 5 April, die eerste dag van die Aartappel-en-Wildfees van 2002, die een geraamde skildery na die ander by die Landbousaal ingedra en teen die muur regs van Ma Chris se stalletjie kom neersit het.

      “Dit sal my leer om alles in een rit te wil doen,” het hy gegrinnik. “Ryk vrouens ken nie iets soos tyd wanneer hulle skilderye kyk nie.”

      Pa het van sy stoel af opgestaan. Ma het

Скачать книгу