Die Suid-Afrikaanse reg. François Smuts

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die Suid-Afrikaanse reg - François Smuts страница 6

Die Suid-Afrikaanse reg - François Smuts

Скачать книгу

      strafprosesreg – die formele reëls waarvolgens strafsake gevoer en bereg word.

      strafsaak – ’n saak tussen die staat en die persoon wat aangekla word dat hy ’n misdaad begaan het.

      strafsanksie – wanneer ’n persoon se daad deur die staat gestraf kan word.

      stukke/hofstukke – die dokumente wat tydens ’n hofsaak opgestel word. Dit omvat prosesstukke in aksies, en alle dokumente in aansoeke.

      summiere vonnis – ’n verkorte prosedure wat in ’n aksie gevolg word (gewoonlik) wanneer daar ’n geldbedrag geëis word en die eiser van mening is dat die verweerder nie ’n verweer het nie. Die verweerder sit dan sy verweer in ’n beëdigde verklaring uiteen en dit word dan deur die hof beoordeel om te sien of die verweer steek hou. As die verweer soos uiteengesit nie steek hou nie, word summiere vonnis toegestaan, en dit is min of meer die einde van die pad vir die verweerder se verweer van die saak.

      teenaansoek – wanneer ’n respondent in ’n aansoek sy eie aansoek teen die applikant bring, as deel van dieselfde aansoek. Jy bring byvoorbeeld ’n aansoek teen my om my te verbied om jou grond te betree. Ek bring dan ’n teenaansoek vir ’n hofbevel wat sê dat ek ’n reg van weg oor jou grond het.

      teeneis – wanneer ’n verweerder as deel van dieselfde aksie sy eie aksie teen die eiser begin. Jy bring byvoorbeeld ’n aksie teen my vir betaling van die balans van die kontrakprys vir die bouwerk wat jy by my huis gedoen het. Ek stel dan ’n teeneis teen jou in weens die feit dat ek jou geknoei moes laat regmaak, wat baie meer gekos het as die balans van die kontrakprys. Die bakleiery is gewoonlik oor dieselfde feite, maar uit verskillende perspektiewe.

      teenkant of teenparty – opponent in ’n aksie of aansoek.

      toegestaan – ’n aansoek word toegestaan as dit suksesvol is. Sien ook afgewys.

      tussenbeitredende party – wanneer ’n buiteparty wat nie deur een van die bestaande partye tot ’n aansoek betrek word nie, deel wil word van ’n aansoek. Die buiteparty doen dit omdat hy dink dat die aansoek ook sy regte raak. A bring byvoorbeeld ’n aansoek teen B, ’n staatshospitaal, vir ’n bevel om ’n aborsie aan haar toe te staan. C, die pa, kan dan tussenbeide tree omdat die kind wat afgedryf gaan word, ook sy kind is en hy teen aborsies gekant is.

      tussentydse/interlokutêre aansoek – aansoek in ’n aksie, om iets te bewerkstellig wat verband hou met die voer van die aksie. As een van die partye byvoorbeeld weier om bloot te lê, kan sy opponent ’n tussentydse aansoek bring om hom te verplig om dit te doen.

      tussentydse regshulp – ’n hofbevel wat gegee word hangende die finale uitslag van ’n saak.

      uitspraak – die redes wat deur ’n regter of landdros gegee word vir die hofbevel wat uiteindelik gegee word.

      verdediging aanteken – wanneer die verweerder in ’n aksie aandui dat hy die aksie gaan teenstaan.

      verdere party – ’n party, soos ’n derde party of tussenbeitredende party, wat deel word van ’n aksie of aansoek.

      verklarende bevel – wanneer twee partye onseker is oor wat hulle regte is, kan hulle die hof vra om uitsluitsel te gee oor wie se interpretasie van wat die regsposisie – en daarom hulle onderskeie regte – is, reg is.

      verstekvonnis of vonnis by verstek – ’n vonnis wat in ’n aksie gegee word omdat die verweerder óf nie die aksie verdedig het nie, óf omdat hy nie betyds sy verweerskrif afgelewer het nie en onder belet geplaas is. By ’n verstekvonnis word die vonnis gegee asof die eiser sy saak sonder meer (dus sonder teenspraak) bewys het.

      vervolging – die voer van ’n strafsaak deur die staat.

      verweer – die rede(s) hoekom ’n verweerder dink ’n eiser in ’n aksie moenie suksesvol wees nie.

      verweerder – die party teen wie ’n aksie gebring word.

      vonnis (straf- en siviele) – by strafsake is ’n vonnis die straf wat deur die hof aan die beskuldigde opgelê word nadat hy skuldig bevind is, byvoorbeeld ’n boete of gevangenisstraf. By siviele sake is ’n vonnis die hofbevel van die hof ten gunste van die suksesvolle party en teen die onsuksesvolle party, wat nie ’n straf is soos by ’n strafsaak nie. ’n Hofbevel wat ’n eiser se eis van die hand wys met koste is ’n voorbeeld van ’n vonnis in ’n siviele saak.

      vonnisskuldeiser – die party ten gunste van wie ’n vonnis gegee is en wat daarom die vonnisskuld kan opeis. Sien skuldeiser.

      vonnisskuldenaar – die party teen wie ’n vonnis gegee is en daarom die vonnisskuld aan die vonnisskuldeiser verskuldig is. Sien skuldenaar.

      voorlopige vonnis – ’n proses waardeur ’n aksie ten opsigte van dokumente waaruit die skuld van die verweerder onomwonde blyk, begin en gevoer word. Dit is ’n proses wat veronderstel is om die verloop van die aksie korter te maak.

      voorverhoorkonferensie – ’n vergadering wat in ’n aksie voor die verhoor tussen die partye gehou word om volgens sekere vasgelegde reëls te probeer om die verhoor so kort as moontlik te hou en die geskilpunte tussen die partye te verminder.

      vryspraak – as die staat in ’n strafsaak sy saak nie bo redelike twyfel bewys het nie, kry die beskuldigde ’n vryspraak. Ons sê die beskuldigde word vrygespreek en ontslaan.

      waarskynlikhede – ’n oordeel oor getuienis wat aandui of dit in ooreenstemming is met algemene lewenservaring. Om te sê dat jy deur ’n blou hond met twee koppe aangeval is, is nie waarskynlik nie. Om te sê dat jou buurman se rottweiler jou hand verskeur het, is. Sien ook geloofwaardigheid.

      wetlik – volgens die bepalings van ’n wet, ook “statutêr” genoem. Moenie verwar word met regtens nie. “Wetlik” is een van daardie woorde wat ’n regsgeleerde van ’n leek onderskei: Leke gebruik dit baie as hulle oor die reg praat, regsgeleerdes feitlik nooit.

      wettig – ’n term wat dikwels verwarrend kan wees, omdat dit sowel ’n sinoniem vir wetlik kan wees as vir regmatig. Dit kan dus albei beteken, naamlik dat iets “volgens die bepalings van ’n wet” is, maar ook wyer strek en beteken dat iets “volgens die bepalings van die reg in die algemeen” is. ’n Mens moet maar kyk na die konteks waarin die woorde gebruik word as jy wil weet wat in ’n spesifieke geval bedoel word. En ja, slimmerd, as iets wettig is, is dit gewoonlik ook regmatig, maar nie noodwendig andersom nie.

      wysiging – verandering, gewoonlik van ’n pleitstuk. Dit kan ook ’n verandering van ’n wet of ’n kontrak beteken, maar ek gebruik dit in hierdie boek net in die eersgenoemde sin.

      1.4 DIE BASIESE GEREEDSKAP

      Met die “regswoordeboek” agter die blad, is jou stryd halfpad gewonne. Maar jy sal nog meer van hierdie boek verstaan as jy sekere basiese regsidees en -begrippe onder die knie het. Kom ons begin dus by die begin: by die bronne van die reg. Daar is ten opsigte van elke feitestel ’n basiese regsposisie (of stel regsreëls) wat geld. Kom ons kyk sommer na ’n karongeluk. Kar A ry in kar B se agterkant vas. Nou is daar ’n basiese regsreël wat sê dat as jy agter in iemand vasry, dan het jy óf te vinnig gery, óf jy het nie jou oë behoorlik oopgehou nie, óf nie ’n behoorlike volgafstand gehandhaaf nie. Daarom is jy gewoonlik 100 persent nalatig as jy van agter af in iemand anders vasry. Dit beteken nie dat daar nie dikwels ’n area van onsekerheid is oor die regsposisie

Скачать книгу