Die Suid-Afrikaanse reg. François Smuts
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die Suid-Afrikaanse reg - François Smuts страница 9
Die eiser se saak
Die eiser roep nou al die getuies wat nodig is om sy saak te bewys die een ná die ander. Die getuies kan op hulle beurt verdere bewysstukke soos dokumente, video’s, foto’s, wapens, ensovoorts aanbied, en vir elkeen van hierdie soorte bewysstukke is daar spesifieke vereistes. Alle getuienisse verloop soos volg:
Hoofondervraging – waartydens die getuie sy storie vertel in antwoord op die vrae wat sy regsverteenwoordiger aan hom vra. Hierdie vrae is gewoonlik “oop” vrae wat die getuie toelaat om op ’n vrye en (redelik) natuurlike manier sy weergawe van gebeure te gee.
Kruisondervraging – wat op hoofondervraging volg en die kruks is van die manier waarop ons in Westerse regstelsels in verhore na die waarheid soek. Dit word gedoen deur die “opponent” se regsverteenwoordiger en die vrae is normaalweg meer “geslote”, dit wil sê gerig op ’n spesifieke antwoord, dikwels ’n “ja” of “nee”. Die waarheid en waarskynlikheid van die getuie se weergawe word in kruisondervraging getoets.
Herondervraging – wat die getuienis afsluit en die getuie se “eie” regsverteenwoordiger die geleentheid gee om vrae te vra oor dit wat in kruisondervraging gevra is. Die doel van herondervraging is om ’n verkeerde perspektief of ’n onduidelikheid wat deur kruisondervraging veroorsaak is, reg te stel.
Vrae ter opheldering – wat die landdros of regter in enige stadium van die getuie se getuienis kan vra om duidelikheid te verkry oor die getuienis.
Aansoek om absolusie van die instansie
Die verweerder kan, nadat die eiser sy saak gesluit het, ook aansoek doen om die afwysing van die eiser se saak omdat daar eenvoudig nie genoeg getuienis is nie. Dit word “absolusie van die instansie” genoem. As dié aansoek suksesvol is, kan die eiser egter probeer om meer getuienis in die hande te kry, maar uit my ervaring gebeur dit nie juis nie.
Verweerder se saak
Die verweerder se saak word op presies dieselfde manier as die eiser se saak aangebied. Ná die aanbied van die verweerder se getuienis sluit die verweerder sy saak.
Verhore in die openbaar
Ons sal by strafverhore sien dat die verhore van minderjarige beskuldigdes altyd in camera gehou word, wat beteken dat net die hofpersoneel en die beskuldigde in die hof toegelaat word. In siviele verhore het minderjariges altyd ’n regsverteenwoordiger, maar dit gebeur baie selde dat siviele verhore nie in die openbaar plaasvind nie.
Spesiale getuies en getuienis
Dit is getuies en getuienis wat op enige stadium van die verhoor geroep en aangehoor kan word. Dit pas daarom nie logies in by die eiser óf die verweerder se saak nie – dié getuienis kan deur enige van die twee partye aangebied word:
Deskundige getuies lewer opiniegetuienis. Opinies as getuienis is normaalweg nie toelaatbaar nie, omdat die hof self ’n opinie kan vorm oor dit waaroor ’n getuie ’n mening het. Deskundiges kan wel hul mening gee, omdat hulle op hul spesialisterreine beter as die regter gekwalifiseer is om ’n mening uit te spreek.
Direkte en omstandigheidsgetuienis: Die verskil tussen die twee is ’n belangrike onderskeid. Direkte getuienis is iets soos: “Ek het gesien hoe die verweerder deur die rooi lig ry.” Omstandigheidsgetuienis is afgeleide getuienis, byvoorbeeld remmerke op ’n pad waarvan die snelheid van die motor voordat dit begin rem het, afgelei kan word.
Betoog
Hierna argumenteer die partye oor die getuienis om die hof te probeer oortuig om óf vir die eiser óf vir die verweerder te bevind. Die volgorde van betoog is eiser, verweerder, eiser.
Uitspraak
Ná die betoog moet die landdros of regter besluit of die eiser se eis toegestaan of van die hand gewys moet word. Interessant genoeg kan die hof ook in hierdie stadium bevind dat absolusie van die instansie ten opsigte van die eiser se eis beveel word. Om te verduidelik hoe ’n hof besluit ten gunste van watter party beslis moet word, moet mens eers weet wat ’n onus is.
Onus: Die onus is die verantwoordelikheid om jou saak te bewys en dit is in die meeste gevalle die eiser, hoewel dit uiteindelik afhang van die reg waaroor die saak gaan. By siviele sake moet die party wat die onus dra sy saak op ’n oorwig van waarskynlikhede bewys. (Dis anders as by strafsake, waar ’n beskuldigde bo redelike twyfel skuldig bevind moet word.)
Hoe werk dit? Die hof moet die getuienis vir albei kante oorweeg, maar die proses is by ’n siviele saak baie soos die plasing van gewiggies op ’n outydse weegskaal. Die party wie se saak die swaarste weeg, wen. “Die swaarste weeg” beteken ’n kombinasie van die getuienis en die reg soos dit op die spesifieke feite toegepas moet word. Die hof oorweeg byvoorbeeld watter een van die weergawes wat die getuies voorgehou het die waarskynlikste is. Daar word nie sommer beslis of iemand gelieg het of nie – dit gebeur selde dat ’n hof so ’n sterk uitspraak lewer. As die hof nie kan besluit watter een die waarskynlikste is nie – en die skaal daarom in perfekte balans hang – word teen die party beslis wat die onus dra.
Hoe beoordeel die hof ’n getuie se getuienis? Dis vir die leek seker een van die onverstaanbaarste dele van ’n regter se werk en geweldig moeilik om eenvoudig te verduidelik. In die kortste en breedste terme moontlik gestel, kyk die hof na die volgende drie dinge:
(a) die geloofwaardigheid van die getuienis, met ander woorde of die getuie die waarheid gepraat het oor ’n spesifieke ding of nie;
(b) die betroubaarheid van die getuienis – dus die geleenthede wat die getuie gehad het om die betrokke gebeurtenis te ervaar of waar te neem, en die gehalte en onafhanklikheid van sy herinnering daaraan; en
(c) die waarskynlikheid of onwaarskynlikheid van elke deel van die getuie se getuienis.
Nou weet ek dat hierdie uiteensetting meer vrae laat ontstaan as wat dit beantwoord, maar nader aan die waarheid sonder om in tale te spreek, kan ek ongelukkig nie!
Vonnis
Ongelukkig word die bevel van die hof in sowel siviele as strafsake ’n “vonnis” genoem, wat dikwels verwarring by leke veroorsaak. Anders as by ’n strafverhoor, waar die skuldige gevangenisstraf of ’n ander straf opgelê word, moet die verweerder wat ’n siviele saak verloor meesal geld aan die eiser betaal, of hy word beveel of verbied om iets te doen. Gee die verweerder nie gehoor aan die bevel of die verbod nie, kan hy weens minagting van die hof aangekla word. Maar as daar beveel word dat die verweerder ’n bedrag moet betaal, is daar benewens die invordering van die geld niks wat die suksesvolle eiser kan doen nie. Die verweerder wat nie geld het nie, kan byvoorbeeld nie in die tronk gestop word nie. Dis hoekom ervare prokureurs weet dat die eerste ding wat hulle moet vasstel as ’n kliënt ’n saak teen iemand wil maak, is of die persoon of instansie teen wie daar ’n saak gemaak moet word, die geld het om ’n moontlike vonnis te betaal, of bates waarop beslag gelê kan word. Want ’n leë vonnis beteken niks nie, dit kos net geld. Hieroor praat ons volgende.