Die Suid-Afrikaanse reg. François Smuts
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die Suid-Afrikaanse reg - François Smuts страница 7
Dis een van die redes hoekom mense hof toe gaan: omdat die twee partye albei dink dat húlle interpretasie van die regsposisie reg is. Waar kom die “basiese regsposisie” vandaan, en hoe word duidelikheid, of minstens rigting, verkry oor die area van onsekerheid? Regsgeleerdes gaan soek die antwoorde in die bronne van die reg.
Die eerste en oudste bron word die “gemenereg” genoem en dit bestaan uit daardie reg waarvan ek reeds hierbo gepraat het – die Romeinse reg soos wat dit deur die Hollanders toegepas is en hier aan die Kaap ingevoer is. Hierby is die Britse “common law” gevoeg, toe die Britte die Kaap oorgevat het en hulle stempel op die regstelsel begin afdruk het. Maar aan die Kaap het daar reeds verskeie regstelsels bestaan toe Van Riebeeck & Kie. hier aangekom het, byvoorbeeld die Xhosas se regstelsel, die Zoeloes se regstelsel, die Sotho’s se regstelsel, en so aan. Hierdie sisteme word saam gegroepeer en “inheemse reg” genoem, en dit het ook ’n eie geur aan ons regstelsel gegee. Dit is aangevul deur die destydse invoer van die Maleise slawe wat hulle eie, hoofsaaklik Islamitiese, regstelsel saam met hulle heerlike kos hier aangebring het.
Hierdie mengsel is mettertyd tot ’n eiesoortige bredie ontwikkel deur die interpretasie daarvan deur ons howe. Ons howe, anders as in die Amerikaanse regstelsel, werk met wat genoem word die “presedenteleer”, wat beteken dat howe gebind word deur die uitsprake wat vroeër deur ander howe oor ’n spesifieke onderwerp gelewer is.
Wetgewing speel ’n al hoe belangriker rol as ’n bron van die regsposisie oor onderwerpe. Van alle wette is die belangrikste een sekerlik die Grondwet, omdat dit deesdae die maatstaf is waaraan die geldigheid van alle wette gemeet word, maar ook waarvolgens die gemenereg geïnterpreteer en ontwikkel word.
Hierbenewens neem regters ook die regsposisie van ander lande in ag as dit verwant is aan die feitestel waarmee die regter aan die werk is, of lig kan werp op hoe die situasie hanteer behoort te word. Ten slotte kyk hulle ook na wat akademici oor ’n onderwerp te sê het. Maar laasgenoemde twee bronne is nie bindend vir ’n regter nie – die menings wat daarin uitgespreek is, kan net help om hom te oortuig.
Noudat jy weet waar ons reg sy oorsprong het, is dit tyd om te kyk na ’n paar onderskeide in die reg, want dit is geweldig belangrik om te weet oor watter deel van die reg jy aan die praat is as jy ’n probleem bespreek, amper om dieselfde rede as wat jy nie ’n skroef met ’n hamer moet probeer losdraai of kanker met kopseerpille moet probeer behandel nie.
1.4.1 Strafreg en siviele reg
Kom ons begin by ’n onderskeid wat leke seker die meeste misverstaan: dié tussen straf- en siviele reg. Strafreg het te make met daardie dade wat die staat verbied en waarvoor daar ’n strafsanksie is, met ander woorde waarvoor jy deur die staat gestraf (of gevonnis) kan word. Toe ek nog aanklaer was, het ek dikwels mense hoor sê “ek het ’n saak gemaak teen hom”, waarmee hulle bedoel het dat hulle ’n klag by die polisie ingedien het. Maar in ’n strafsaak is die geveg tussen die staat en die beskuldigde, want die doel van die strafreg is uiteindelik die behoud van die orde in die samelewing, nie om die griewe van die klaer uit die weg te ruim nie. Die klaer is niks meer as ’n getuie nie. Die strafreg is toegespits op ’n lys misdade en volg sy eie stel “spelreëls”. Dit kan op ’n vonnis uitloop, wat gewoonlik ’n boete of gevangenisstraf is.
In die siviele reg, daarenteen, is die staat soms ook ’n party, en soms gaan dit ook om ’n daad wat die staat verbied. Maar niemand gaan aan die einde van ’n siviele saak tronk toe of kry ’n boete nie. Die geveg gaan oor die griewe wat partye onderling het. In verreweg die meeste gevalle is die partye in ’n siviele saak twee (of meer) private individue. In die siviele reg word ’n ander stel “spelreëls” gevolg as in strafsake. Hoewel die oorweldigende meerderheid van sake wat in howe voorkom siviele sake is, is die sake wat die vet opskrifte in koerante kry oorwegend strafsake.
1.4.2 Publiekreg en privaatreg
Nog ’n belangrike onderskeid is die een tussen publiekreg en privaatreg. Die publiekreg is die deel van die reg wat te make het met die samestelling van die staat en ander openbare liggame (of “publieke” liggame – vandaar “publiekreg”) soos byvoorbeeld Telkom of Metrorail, die onderlinge regsverhoudings tussen staats- en openbare liggame en die verhouding tussen staat en individu. Die privaatreg daarenteen reël die verhouding tussen individue.
Die publiekreg bestaan uit ’n hele aantal onderwerpe, waarvan die belangrikste deesdae konstitusionele of grondwetlike reg is. Grondwetlike reg bestaan uit al die reëls wat in die grondwet vervat is (of daaruit afgelei kan word) oor al die onderwerpe waarmee die grondwet handel. In hooftrekke is hierdie onderwerpe die samestelling en die funksies van, en die verhoudings tussen, die verskillende hoofdele van die regering, asook die verhouding tussen daardie dele van die regering en die landsburgers. ’n Belangrike onderafdeling van grondwetlike reg is menseregte, wat vervat is in die handves van menseregte.
Naas grondwetlike reg (as onderafdeling van die publiekreg) staan die administratiefreg, wat handel met die dade van die amptenare van die staat en wat deesdae hoofsaaklik deur die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid (Promotion of Administrative Justice Act) gereël word. Ander onderwerpe wat ook onder die publiekreg val, is strafreg, omgewingsreg, lugvaartreg, plaaslike owerheidsreg en internasionale reg. Al hierdie onderwerpe beteken maar wat hulle name sê, met die uitsondering van internasionale reg, wat handel met die reg wat geld in die verhoudings tussen lande.
1.5 PROSESREG – DIE REËLS VAN DIE SPEL
Die prosesreg is die reëls waarvolgens die spel van litigasie gespeel word. Hoekom wil jy as leek iets van die reëls weet? Omdat die reëls soms bepalend kan wees vir die sukses of mislukking van jou saak, en om min of meer dieselfde redes as wat jy nie vir Roger Federer as openingsbouler vir die Proteas sal inspan nie – hy mag dalk ’n woeste afslaan hê, maar jy speel nie krieket op ’n tennisbaan nie. Behalwe hiervoor maak die prosesreg ’n groot deel uit van die “regstaal” wat die regsproses so ontoeganklik maak vir die leek. Verstaan jy prosesreg, verstaan jy al ’n goeie stuk regstaal.
Te droog sal ek dit ook nie maak nie. Ek wil eintlik net hê jy moet ’n paar basiese begrippe verstaan wat uit my ervaring selfs geleerde leke pootjie.
In hierdie afdeling praat ek net oor die siviele prosesreg – daardie reëls wat op die siviele regspel van toepassing is. Oor die strafprosesreg – daardie reëls wat by strafsake geld – gesels ons wanneer ons oor die strafreg gesels. En wat die siviele prosesreg betref, begin en bly ons by die mees basiese onderskeid wat hier geld, naamlik dié tussen aksies en aansoeke.
1.5.1 Aksies en aansoeke
Aksies en aansoeke klink dalk vir jou soos dinge wat jy by Binnelandse Sake doen, maar dis een van die mees basiese onderskeide in die prosesreg. Kom ons praat eerste oor ’n aksie.
1.5.1.1 Aksies
’n Aksie begin met die uitreik en betekening van ’n dagvaarding. ’n Mond vol pitte, nè? Kom ons gebruik ’n voorbeeld om te verduidelik: Sê nou jou Italiaanse prins daag op, maar hy’s tien jaar laat – jy is klaar getroud met Stefan Staatsamptenaar. Jy wil dus ’n egskeiding hê. Die dokument waarmee jy die hofproses begin, is die dagvaarding. ’n Deel van die dagvaarding is die besonderhede van vordering wat uiteensit wat jy wil hê – ’n egskeidingsbevel, die helfte van die huis en R15 000 per maand onderhoud; en hoekom jy dit wil hê – omdat jou huwelik in die pomp sit. Die dagvaarding met sy besonderhede van vordering gaan jou nooit ’n egskeidingsbevel besorg as hy in die laai bly lê nie. Dit moet “amptelik” word, en Stefan moet daarvan kennis neem. Amptelik word hy die dag dat hy by die hoë hof uitgereik word, wat beteken dat hy