Tryna du Toit-omnibus 8. Tryna du Toit
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Tryna du Toit-omnibus 8 - Tryna du Toit страница 5
Tommie werk by oom Jacob in die fabriek, maar hy is van ’n ander stoffasie. Hy het nie die ouer man se toewyding en sakevernuf nie en daar was al dikwels wrywing tussen hulle.
Arme Tommie! Tussen sy ambisieuse ma, wat glo dat Tommie as Jacob Lessing se enigste broerskind sy regmatige erfgenaam en opvolger is, en die hardvogtige, puntenerige oom Jacob, wat ander eise as bloedverwantskap vir sukses in die lewe stel, voer hy maar ’n moeilike bestaan.
“En toe, wat soek jý hier?” vra Ansie tergend toe hy haar groet.
Tommie grinnik. Hy het ’n donker pak aan, sy langerige hare met die wangbaarde is netjies gekam en die donker oë vonkel lewenslustig. Ansie besef weer dat hy ’n baie aantreklike man is. Jammer dat tannie Thelma hom so bederf het. Maar hy is nog jonk, speels en uitgelate soos ’n jong vul. Hy moet hom eers uitbaljaar voor hy die lewe met erns sal bejeën.
“Ek wil darem ook weet wat aangaan,” sê hy. “Kom wys my die nuwe skilderye.”
Saam stap hulle studeerkamer toe, waar hy die twee skilderye van John Stevens in stilte bekyk.
“En wat betaal oom Jacob nogal vir dié goed?” vra hy nuuskierig. Hy fluit van verbasing toe Ansie vir hom sê. Dan skud hy sy kop.
“As ek dink die bohaai wat oom Jacob opgeskop het oor die ou motortjie wat ek gekoop het …”
Ansie glimlag. Tommie se een groot hartstog in die lewe is motors. De “ou motortjie” waarteen oom Jacob so beswaar gemaak het, is ’n duur, vinnige ingevoerde een uit Italië.
“En hoe loop die ou motortjie?” vra Ansie droogweg.
Tommie se gesig verhelder.
“Soos ’n droom. Ek wil jou ’n geheim vertel, Ansie, maar jy mag vir niemand sê nie, hoor? Ek het ingeskryf vir die volgende tydwedren op Kyalami.”
“Motorwedrenne! Tannie Thelma sal dit nooit toelaat nie.”
“Ek is nie van plan om Ma vooraf te sê nie,” sê hy koel.
Ansie skud haar kop, haar gesig ernstig.
“Jy kan verongeluk, Tommie.”
Hy haal sy skouers op.
“’n Mens lewe net een keer. En ’n mens is net een keer jonk.” Hy grinnik vir haar. “Kom jy kyk hoe ek wen?”
“Ek hoop jy sal twee keer dink voor jy so iets waag,” sê sy. En dan: “Daar is John Stevens nou, Tommie. Kom, dan gaan stel ek jou voor.”
Die twee mans takseer mekaar belangstellend.
“Tommie Lessing?” vra John. “Familie van meneer Lessing?”
“Broerskind,” sê Tommie. “E … Ansie het nou net vir my die veelbesproke skilderye gewys. Maar moenie my vra wat ek daarvan dink nie. Vra vir Ansie. Ek is ’n regte filistyn, ek weet niks van hierdie dinge nie.”
“Praat met Tommie oor motors,” sê Ansie tergend. “Hy bou al motors van hy vyftien is.”
“Dis ’n handige man om te ken,” sê John. “Waar werk jy, Tommie?”
“Ek werk vir oom Jacob,” sê Tommie bondig.
“Vertel John van die Ferrari,” sê Ansie haastig, om sy gedagtes af te lei. “Verskoon my, ek dink Mercia soek my.”
Dit is reeds laat en die meeste gaste is al weg toe John weer na haar toe kom.
“Ek het net kom groet. Ek vertrek môre Rhodesië toe.”
“Ek het so gehoor,” sê sy kalm. “Ek is bly die uitstalling het so goed afgeloop. Al die skilderye is binne die eerste paar dae verkoop. ’n Merkwaardige prestasie.”
“Almal behalwe een wat nie te koop was nie. Jammer ek kan nie vir koffie bly nie. Ons moet nog by vriende van Pat aangaan.” Hy steek sy hand na haar uit. “Ek stuur vir jou ’n presentjie om dankie te sê vir al julle vriendelikheid en gasvryheid. Ek hoop jy sal dit aanvaar.”
“Ek … dit is nie nodig nie,” stamel sy verleë.
Hy glimlag net. ’n Oomblik lê haar hand in syne, dan vra hy: “Dié dokter Peet Bruwer. Is hy jou kêrel?”
Sy aarsel, verbaas, dan glimlag sy. “Ja,” sê sy sonder om te blik of te bloos.
Sy kyk hom agterna terwyl hy wegstap en is bewus van ’n onverklaarbare gevoel van verlies.
Toe die familie en ’n paar vriende wat agtergebly het, later saam koffie drink, sê Mercia opgewonde vir Ansie: “Het jy al die nuus gehoor? John gaan Jacob se portret skilder.”
Ansie staar haar ongelowig aan.
“Maar John gaan môre terug Rhodesië toe.”
“Net vir ’n paar weke. Sodra hy terugkom, gaan hy met die skildery begin.”
Ansie is vreemd ontsteld.
“Waarom wil hy vir oom Jacob skilder?” vra sy.
“Dis ’n baie spesiale voorreg, Ansie,” sê Frank Mentz. “John Stevens aanvaar nie juis opdragte nie. Ek weet van ’n paar mense wat hy van die hand gewys het.”
“Dis in ieder geval ’n voorreg waarvoor ek duur betaal,” sê Jacob Lessing droog. Hy kyk na Ansie en vra: “Waarom wil jy nie hê John Stevens moet my portret skilder nie, Anna?”
Ansie skud haar kop.
“Ek was net verbaas,” sê sy ontwykend. “Ek het nie geweet hy kom terug nie. Gaan hy vir Mercia ook skilder?”
“Nee,” sê Mercia liggies, maar sy lyk vies. “Hy sê hy het nie nou tyd nie. Miskien, as hy klaar is met Jacob se portret …”
“Het hy so gesê?” vra Ansie nuuskierig.
“Nee. Ek hoop maar hy sal van plan verander.”
Ansie is besig om vir Frank Mentz ’n tweede koppie koffie in te skink toe een van die huishulpe na haar toe kom.
“Meneer Stevens het ’n pakkie vir jou in die studeerkamer gelos, juffrou Ansie. Hy sê jy weet daarvan.”
Ansie gee Frank se koffie vir hom en gaan dan haastig studeerkamer toe. Op die lessenaar lê ’n pak in bruin papier toegedraai met haar naam daarop. Dit lyk soos ’n skildery. Met vingers wat skielik van opwinding bewe, maak Ansie die tou los en haal die papier af.
Dis een van die skilderye van die Griekse eilande wat sy bewonder het. Daar is ’n kaartjie by: Met komplimente, John Stevens.
’n Lang ruk staan Ansie daar met die skildery in haar hande, verward en onseker, haar gemoed vol teenstrydige emosies.
Waarom sou hy die skildery vir haar gee? Waarom kom hy terug Johannesburg toe? Net om Jacob Lessing se