Tryna du Toit-omnibus 8. Tryna du Toit

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Tryna du Toit-omnibus 8 - Tryna du Toit страница 7

Tryna du Toit-omnibus 8 - Tryna du Toit

Скачать книгу

nyweraar en direkteur van maatskappye wees, die waardige ou man met sy wit kop, ’n gesiene en gerespekteerde lid van die samelewing? Of sal die skilder – soos in van sy ander portretskilderye – die man afstroop tot op die been sodat hy in al sy swakhede naak voor die wêreld staan: ’n koue, liefdelose, onverbiddelike mens met ’n onversadigbare dors na geld en mag, wat deur almal wat hom ken, gehaat en gevrees word?

      Sy ril skielik asof sy koud kry. Al hou sy nie van haar stiefpa nie, sal sy dít nie graag wil sien nie.

      Peet is vies en teleurgesteld toe hy hoor Ansie gaan nie meer saam met hulle nie.

      “Ek is baie lus om ook te bly,” sê hy. “Sonder jou sal dit nie dieselfde wees nie. Maar ek is moeg, die wegkom sal my seker goed doen. En wanneer ek terugkom, wil ek ernstig met jou praat. Ek kan van Junie af ’n pos in Kaapstad kry. Dink solank daaraan, dan kan ons ná die naweek gesels. Miskien kan ek jou nog oorreed om saam met my te gaan.”

      “Ek het nie geweet jy het sulke planne nie,” sê sy verras. “In elk geval, geniet die naweek en dink soms aan my. En wees versigtig – jy weet hoe gevaarlik daardie kranse is.”

      “Miskien sal dit jou hart vermurwe as ek ’n arm of ’n been breek …”

      “Of jou nek,” sê sy koel.

      Peet lag. “Toe maar, ek sal versigtig wees. En sal jy intussen dink aan wat ek gesê het?”

      “Ek sal,” belowe sy.

      Ansie pak in en maak gereed vir die naweek, maar haar hart is swaar. Waarom het haar stiefpa die familie ontbied? ’n Familiekrisis ontstel haar altyd; sy wil liewer nie daarby betrokke wees nie.

      Ansie moet die oggend nog werk. Hulle is kort aan perso­neel, en sy het ’n paar moeilike gevalle. Dit is byna eenuur toe sy by die woonstel kom, moeg en warm. Sy verklee vinnig, drink ’n glas melk, en ’n rukkie later val sy in die pad. Die verkeer is druk, die pad langer as gewoonlik, en Ansie is dankbaar toe sy van die groot pad kan afdraai op die stiller grondpad wat na Donkerpoort lei.

      Die groot ysterhekke na die huis staan wyd oop, asof in verwelkoming vir die verwagte gaste.

      Ansie hou voor die ingang stil en skakel die motor af. Met haar arms op die stuurwiel gestut, tuur sy fronsend voor haar uit na die huis wat hiervandaan tussen die bome en struike sigbaar is. Ná die drukte en spanning van die oggend en die swaar verkeer op die pad, het sy ’n paar minute nodig om tot verhaal te kom voor sy verder ry.

      Dis ’n lieflike herfsmiddag, stil en buitengewoon warm vir April, met ’n blou rokerigheid wat soos ’n waas oor die namiddag hang.

      Jacob Lessing onthaal dikwels naweke of met vakansies van sy sakevriende op Donkerpoort. Donkerpoort is sy trots, die groot hartstog van sy lewe, simbool van wat hy alles deur eie ini­siatief in die lewe bereik het. Met welgevalle kan hy sy oë laat gaan oor die sierlike huis met die mooi antieke meubels, die Persiese tapyte en duur skilderye, oor Donkerpoort se groen landerye, sy stoetbeeste en perde wat oor die hele land bekend is. Donkerpoort is ’n juweel, ’n sieraad waarop enige man met reg trots kan wees.

      Is die skildery wat John van oom Jacob gemaak het, bedoel vir die fabriek? wonder Ansie meteens. Of is hy van plan om dit hier op Donkerpoort op te hang, waar dit die kroon sal span op ’n lang en luisterryke loopbaan?

      Wat sou John se planne wees? Gaan hy dadelik terug Rhodesië toe noudat die skildery klaar is?

      Sy het John net een keer gesien nadat hy van Rhodesië teruggekom het. Ná Mercia se partytjie het sy aan hom ’n kort briefie geskryf om hom vir die skildery te bedank. Sy het niks weer van hom gehoor nie, maar ’n paar weke later het sy by Mercia gehoor dat hy terug in Johannesburg is en reeds aan oom Jacob se skildery begin werk het. Mercia het Ansie na ’n klein onthaal genooi wat sy vir John wou reël, maar Ansie het verskoning gemaak en tuis gebly.

      En toe, een middag, heeltemal onverwags, het hy in Pretoria vir haar kom kuier.

      Sy het die middag pas van die hospitaal af gekom en was besig om vir haarself ’n koppie koffie te maak toe die voordeurklokkie lui. Haar uniform was verkreukel, sy was tam en moeg en warm, en in geen bui vir geselskap nie. Maar toe die voordeurklokkie weer lui, dié keer dringender, was sy verplig om te gaan kyk wie dit is.

      Dit was John Stevens.

      Verras het sy hom aangestaar. Wat soek hy hier?

      Hy het effens geglimlag.

      “Wel. Anna? Gaan jy my nie groet nie?”

      Anna? Sy het verleë geglimlag en vlugtig haar hand in syne gelê.

      “Ek is jammer, ek het nie verwag om jou hier te sien nie. Kom in, asseblief. Sit solank, ek is net besig om koffie te maak.”

      Met ’n tintelende gevoel van opwinding, haar tamheid vergete, haal sy twee koppies uit die rak en sit dit op die skink­bord.

      “Ek hou van jou woonstel,” sê hy toe sy met die koffie inkom.

      Sy glimlag. “Dankie.”

      Sy hou self daarvan. Elke meubelstuk is met sorg ge­kies – meest­al op uitverkopings gekoop, herstel waar nodig en oorgetrek na haar smaak. Die twee pragtige Persiese tapytjies het ­Mercia en Jacob haar met haar laaste verjaardag gegee, die skilderye het Jacob haar van tyd tot tyd gegee – met verjaardae of vir ’n spe­siale geleentheid, wanneer sy dit nie kon weier nie. Bo die elek­triese kaggel, waar dit die lig die beste vang, hang die skildery van die Griekse eiland wat John vir haar gegee het. Sy sien hy kyk daarna, maar hy maak geen opmerking daaroor nie.

      “Woon jy alleen hier?” vra hy.

      Sy lig haar wenkbroue.

      “Dis nie ’n baie diplomatiese vraag nie, is dit?” vra sy tergend. Dan glimlag sy: “My woonstelmaat is verlede jaar getroud, sedertdien woon ek – amptelik – alleen. Ek verkies dit so.”

      Hulle drink hulle koffie en sy wonder wat die rede vir sy besoek is. Terloops vra sy of hy haar brief gekry het.

      “Ek het – twee dae voor ek sou terugkom Johannesburg toe. Ek was die meeste van die tyd by my ma. My pa is – soos ek jou gesê het – ’n paar maande gelede oorlede en sy het besluit om terug te kom Suid-Afrika toe. Haar mense is almal hier. Ek het haar gehelp om haar sake in orde te kry.”

      Hy steek sy hand in sy binnesak en haal sy sakboekie uit. Hy haal ’n kiekie uit en gee dit vir haar. “Terwyl ek my pa se dokumente opgeruim het, het ek op dié kiekie afgekom. Ek het gedink jy sou miskien ook daarin belang stel. Dis my pa en twee van sy vlieëniervriende in Engeland, afgeneem tydens die Tweede Wêreldoorlog.”

      Ansie neem die foto by hom. Drie jong mans in hulle vroeë twintigerjare, geklee in die uniform van die Britse Lugmag. “Herken jy een van hulle?”

      Ansie knik. “Die een in die middel. Ek is seker dis hy.”

      “Kyk agterop,” sê hy.

      Sy draai die foto om. Agterop staan geskrywe: The Three Musketeers: Billie, Mark, John.

      Sonder ’n woord staan Ansie op en gaan na haar lessenaar toe. Uit een van die laaie haal sy ’n mooi geelhoutkissie. Sy sluit dit oop en haal ’n foto uit. Sy gee dit aan John.

      “Dis

Скачать книгу