Tryna du Toit-omnibus 8. Tryna du Toit

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Tryna du Toit-omnibus 8 - Tryna du Toit страница 6

Tryna du Toit-omnibus 8 - Tryna du Toit

Скачать книгу

te betaal, en hy stel nie belang nie. En waarom wil hy nie Mercia se portret skilder nie? ’n Bekende en sjarmante persoon soos Mercia Lessing, met haar rooigoue hare, suiwer gelaatstrekke en vleklose vel is tog die ideale model vir selfs die uitsoekerigste kunstenaar.

      Sy kyk op toe haar stiefpa langs haar kom staan. Jacob Les­sing is ’n lang, maer man met ’n streng gesig, ruie wenkbroue en blougrys oë – ’n ongenaakbare mens sonder humor, vir wie die lewe min vreugde inhou; ’n harde meester en ’n gedugte vyand, soos meer as een al tot sy skade uitgevind het. En terselfdertyd het hy ’n liefde wat byna aan hartstog grens vir alles wat mooi is: Bergheim, sy kunsversameling, Donkerpoort met sy mooi perde en stoetbeeste, ’n vrou soos Mercia … Of is dit alles vir hom maar net die simbool van wat hy, ’n arm man se seun, deur eie vernuf en harde werk bereik het?

      Oom Jacob het die afgelope tyd oud geword, dink sy. Hy is meer geboë, hy lyk moeg en sy gesig het ’n gryserige kleur. Hy is natuurlik nie meer jonk nie – hy is reeds drie-en-sewentig – en hy behoort nie meer so hard te werk nie. As hy ’n seun gehad het, of ’n kleinseun, of iemand wat hom kon bystaan, die verantwoordelikhede kon help dra … Maar daar is niemand nie, net Tommie.

      Hy kyk na die skildery in haar hande.

      “Het jy ook een van John Stevens se skilderye gekoop?” vra hy verbaas. “Jy het ons niks daarvan gesê nie.”

      “Ek het dit nie gekoop nie,” sê Ansie ’n bietjie kortaf. Sy wys hom die kaartjie wat by die skildery was. “Hy het gesê hy stuur vir my ’n presentjie – om dankie te sê vir al ons vriendelikheid en gasvryheid. Ek het nooit gedroom dat dit een van sy eie skilderye sal wees nie. Ek kan dit tog onmoontlik aanvaar.”

      Jacob Lessing haal sy skouers op.

      “Beskou dit maar as ’n afslag op die skilderye wat ek gekoop het – ek het genoeg daarvoor betaal – en wat ek nog sal betaal vir die skildery wat hy gaan maak.”

      Ansie glimlag effens.

      “Ek sal dit graag wil hou. Ek het van die begin af daarvan gehou.” Sy aarsel en dan sê sy: “Die ander skilderye wat oom Jacob vir die fabriek aangekoop het … ek sal hulle graag eendag wil sien.”

      Hy lyk verbaas.

      “As jy belang stel, kan ek dit reël, maar jy het nog altyd gesê jy hou nie van moderne kuns nie.”

      Ansie bloos effens.

      “’n Mens is nooit te oud om te leer nie,” sê sy liggies.

      Hy kyk ondersoekend na haar.

      “Dié dokter Peet Bruwer, Anna, is daar ’n verhouding tussen julle?”

      Ansie verstyf effens. Waarom stel almal so skielik belang in haar private sake? Sy aarsel ’n oomblik, maar vir Jacob Lessing kan sy nie jok nie.

      “Peet het my gevra om met hom te trou, oom Jacob,” sê sy. Hy kyk vraend na haar en onwillig vervolg sy: “Ek hou van Peet, maar ek weet nog nie of ek met hom wil trou nie.”

      Hy maak ’n laai van die lessenaar oop en haal ’n brief uit. Toe hy omdraai om weg te loop, kyk hy weer na haar, die blougrys oë skerp en fronsend.

      “Moenie haastig wees nie,” sê hy bruusk. “Jy is nog jonk. Daar is nog baie tyd.”

      Ansie begin die skildery weer versigtig toedraai. Sy voel skie­lik moeg en ’n bietjie bedruk. Dit was ’n lang dag.

      Peet staan in die deur.

      “Is dit waar jy is? Dink jy nie dis tyd dat ons huis toe gaan nie?”

      Ansie glimlag vir hom.

      “Ek is gereed, Peet,” sê sy.

      Hoofstuk 2

      Ansie sou vir die Paasnaweek saam met vriende Drakensberge toe gaan, maar twee aande voor hulle sou vertrek, bel Mercia en vra dat sy die naweek saam met hulle Donkerpoort toe kom.

      “Ek weet jy het ander reëlings,” voeg Mercia haastig by voor sy kan antwoord. “Maar Jacob dring daarop aan. Julle móét almal die naweek Donkerpoort toe kom. Hy gaan volgende week vir sake Suid-Amerika toe en sê daar is iets wat hy eers met die familie wil bespreek.”

      Ansie protesteer verontwaardig. Sy kan Peet-hulle tog nie op die laaste nippertjie in die steek laat nie. Buitendien, sy is nie deel van die onmiddellike familie nie en sy wil liewer nie by hulle sake betrokke wees nie.

      “Jy móét kom, Ansie,” hou Mercia vol. “Ek kan goed verstaan dat jy liewer saam met jou vriende wil gaan, maar Jacob het uitdruklik gevra dat jy ook Donkerpoort toe moet kom. Hy sal baie omgekrap wees as jy nie daar is nie. Asseblief,” vra sy sag, byna pleitend toe Ansie nog aarsel. “Ek vra dit as ’n baie spesiale guns, Ons het jou die afgelope tyd so min gesien. Jy wil mos nie meer vir ons kom kuier nie …”

      “Jy weet goed dat julle weg was, Mercia, en ek sien jou ge­reeld as jy Pretoria toe kom om by ouma Visser te kuier,” antwoord Ansie ferm, maar sy voel tog skuldig. Mercia is reg, sy kuier die afgelope tyd al hoe minder op Donkerpoort of in die groot, deftige huis in Johannesburg. “Gaan jy nie saam met oom Jacob Suid-Amerika toe nie?”

      “Nee,” sê Mercia. “Nee, ek gaan nie saam nie.” Sy aarsel, dan sê sy sagter. “Ek wil ook met jou gesels, Ansie. Daar het iets gebeur – nee, ek kan nie oor die foon sê nie, maar ek wil graag jou raad vra.”

      Wat kon daar nou weer gebeur het? wonder Ansie met ’n tikkie onrus. Of is dit sommer weer net ’n streek van Mercia om haar op Donkerpoort te kry? As haar stiefpa egter so ’n bevel uitgereik het, is dit seker beter om te gehoorsaam. Sy is nie bang vir Jacob Lessing nie – daardie dae is gelukkig verby – maar om Mercia se ontwil sal sy moet gaan. Maar sy is nogtans vies en teleurgesteld. Sy het daarna uitgesien om saam met Peet en die ander te gaan naweek hou, om te stap en berg te klim en perd te ry en saans onder die sterre te ontspan; om weg van die stad tyd te hê om te dink – oor die lewe, oor haar eie toekoms – en miskien ook om klaarheid oor haar eie probleme te kry.

      “Ek sal dan seker moet kom,” sê sy vir Mercia. “Wie sal almal daar wees?”

      “Almal kom. Ouma Visser is terug uit die Vrystaat – sy sal sommer saam met ons ry. Thelma en Tommie sal daar wees, en Bettie – sy sou die naweek weggegaan het, maar Jacob sê nou hy het haar nodig. Frank kom ook …” – dis of sy effens stamel oor die naam – “en die bure kom Saterdagaand vir ete. So, bring asseblief ’n lang aandrok saam – jy weet Jacob is gesteld op dié dinge. Kan ons jou ook oplaai, of verkies jy om self te kom?”

      “Ek sal self kom, dankie.”

      “Dan verwag ons jou Donderdagmiddag vroeg. Terloops, daar­die skildery van Jacob is klaar. Jy sal dit die naweek op Don­kerpoort sien.”

      Wat broei daar nou weer in haar stiefpa se kop? wonder Ansie toe sy die telefoon neersit. Wat is die dringende saak wat hy met die familie moet bespreek? Waarom gaan Mercia – wat so graag reis – nie saam met hom Suid-Amerika toe nie? En waaroor wil Mercia met haar gesels? In haar hart is daar weer die roering van onrus, die vae gevoel van naderende onheil wat sy nie kan afskud nie. Hopelik is dit net haar verbeelding, die ou opstandigheid wat haar stiefpa se outokratiese optrede so dikwels in die ou dae by haar gewek het.

      Dan is die skildery

Скачать книгу