Anton Rupert: 'n lewensverhaal. Ebbe Dommisse

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Anton Rupert: 'n lewensverhaal - Ebbe Dommisse страница 2

Anton Rupert: 'n lewensverhaal - Ebbe Dommisse

Скачать книгу

sou slegs medebestaan die mensdom kon red. “Mense sal eenvoudig móét leer saamleef.”

      Medebestaan, ’n oortuiging wat reeds in sy studentedae embrionies by hom begin posvat het, word hierna die kernbegrip wat Rupert die res van sy lewe sou aanvuur; ’n visie wat hy met oortuiging verkondig. ’n Blywende herinnering daar­aan staan in sy kantoor: die beeldhouer Rodin se bekende Die Katedraal, ’n brons­beeld van twee regterhande wat hy in die jare sestig aangekoop het. Dit is vir hom ’n beeld van medebestaan tussen mens en mens, die fondament waarop hy in die sakewêreld die filosofie van deelgenootskap ontwikkel het. Met deelgenootskap, ofte wel vennootskappe wat van land tot land aangegaan is, bou hy ’n uitgestrekte internasionale sakeketting op lank voordat globalisering ’n modewoord geword het.

      Gepaard met sy siening van deelgenootskap gaan maatskaplike verantwoorde­likheid, wat hy as een van die drie groot verpligtinge van ’n suksesvolle sakeonderneming beskou. Dit geld vir medebestaan tussen mens en mens, maar daarbenewens medebestaan tussen mens en natuur, die filosofie waarmee hy uit­ein­delik as bewaringsbewuste weldoener die konsep van vredesparke, ofte wel oor­grensparke, dwarsoor internasionale grense voer. Vredesparke – met as wenslike voorvereiste vrede tussen volke en nasies, sodat bedreigde spesies veilig sou kan voortbestaan ondanks ’n menslike bevolkingsontploffing wat die biologiese kring­loop bedreig – word ’n dwingende visie wat Rupert tot in sy tagtigerjare dag-in en dag-uit na sy hoofkantoor terugbring.

      In Millenniapark op Stellenbosch beywer hy hom met die energie van ’n veel jonger man vir die ontwikkeling van transnasionale wild- en natuurparke wat multilaterale samewerking tussen regerings van verskillende lande verg.

      Vredesparke is miskien die verbeeldingrykste projek wat die weldoener Rupert aanpak in ’n lang sakeloopbaan wat hy aan vele fronte ten bate van die gemeenskap aangewend het.

      Die Ruperts verskyn op die saketydskrif Forbes se lys van die wêreld se 500 rykste mense, die miljardêrs met geskatte bates van meer as 1 000 miljoen Ameri­kaanse dollar. Naas die Ruperts lys Forbes net een ander familie uit Afrika: die Oppenheimers, erfgename van die Suid-Afrikaanse mynmagnaat sir Ernest Op­penheimer en sy seun Harry.4

      Die vernaamste verskil tussen dié twee Suid-Afrikaanse families, wat albei enorm tot die ontwikkeling van hul land sowel as gemeenskapsorg bygedra het, is dat Rupert met feitlik niks begin het om ’n internasionale sakeryk op te bou en ook nie op die basis van sy land se oorvloedige mineralerykdom staatgemaak het nie. In die media loop sy reputasie van die “Koning van Luukse” tot die “Geheime Bemarkingsreus”, die “Skaam Koning van Snob-rokers” en die “Ware Heer van die Sakewêreld”.

      Die chemiestudent wat met ’n eie belegging van net £10 ’n internasionale maat­skappyegroep begin het wat hom ’n wêreldbekende entrepreneur sou maak, word verbind met van die bekendste internasionale handelsmerke, die fondament waarop sy sakeryk gebou is. Van Cartier, die “koning van juweliers en die juwelier van konings”, tot die luukse goedere van Alfred Dunhill; van Mont Blanc se stylvolle vulpenne tot die oudste Switserse horlosiemakers val onder Riche­mont, die internasionale arm van die Rupert-sambreel. Dit is voorafgegaan deur die wêreldwye vestiging van ’n ketting van tabakbelange onder die vleuels van Rem­brandt en Rothmans sowel as die produksie van die bekendste Suid-Afrikaanse wyne en spiritualieë.

      Daarby ontwikkel Anton Rupert in sy loopbaan tot ’n man vir alle seisoene, met aktiewe belangstellings buite die sakelewe: bewaarder van sy land se histo­riese erfenis, beskermheer van die kunste; rigtingwyser op politieke mynvelde; weldoener wat ander help om hulleself te help . . .

      Tog, ondanks die mediablootstelling wat met sy openbare optredes gepaard­gaan, bly hy ’n intens private persoon; iemand wat nie geredelik media-onderhoude toestaan nie en wie se private lewe soos sommige van sy groot saketran­saksies dikwels in geheimsinnigheid gehul is.

      Rupert se rustelose gees en sy alsydigheid is bewonderend opgesom deur die digter Dirk Opperman, wat hierdie “Prins van die Handel” beskryf as iemand wat die handel, wetenskap en kuns kon versoen.5

      Uit sy veelsydigheid spruit ook sy belangstelling in die natuur en dierelewe, die grondslag waarop die idee van vredesparke ontwikkel.

      Die Vredesparkstigting, met Rupert as die eerste voorsitter, het as emeritusbeskermheer oudpres. Nelson Mandela, ’n ikoon van die twintigste eeu, wat graag na Rupert as sy “ouer broer” verwys.

      Agt staatshoofde van lande in Suider-Afrika is erebeskermhere van die stigting, wat oorgrensparke stig en ontwikkel. Rupert beskou dit as ’n katalisator, ’n begrip wat hy met sy agtergrond as skeikundige telkemale in sy lang loopbaan gebruik – ’n stof wat sonder om self ’n verandering te ondergaan ’n verandering in ’n ander stof bevorder.

      Die Vredesparkstigting se fondse, hoofsaaklik verkry van private individue en instansies en groot multinasionale maatskappye, word aangewend om die trans­nasionale bewaringsgebiede uit te bou, maar ook om mense in die toerisme- en dienstebedryf sowel as veldwagters op te lei.

      Vir ’n wêreld met krimpende hulpbronne kan Afrika met sy wye, steeds onbe­woonde ruimtes ’n laaste toevlugsoord vir ’n onvervangbare dierelewe en onge­repte natuurskoon wees. Dit is waarom Rupert die idee van vredesparke begin koppel het met nasionale parke.

      Boonop kan wild- en natuurbewaring as die basis dien om baie Afrikalande se armoede en werkloosheid teen te werk. Want daarmee hang saam die wêreld se grootste bedryf, toerisme, wat op die konflikgeteisterde kontinent nog ligjare ver van sy groot potensiaal ontgin is.

      Hy kon dit beleef dat ses vredesparke regstreeks met sy vaderland verbind word slegs enkele jare nadat die projek beslag gekry het. Die “Afrikasafari” as ’n gesogte toeristebestemming word reeds aanmerklik uitgebrei met hierdie sestal transnasionale parke en bewaringsgebiede wat by Suid-Afrika aansluit en waaroor oor­eenkomste met die onderskeie regerings onderteken is.

      Saam met twee ander vredesparke in Suider-Afrika sal die agttal, met hul ryk­dom van wild en natuurlewe, sowat 60 miljoen hektaar beslaan. Daarby is ’n ver­dere veertien oorgrens-bewaringsgebiede in Suider-Afrika geïdentifiseer om oor die volgende dekade ontwikkel te word. Die 22 vredesparke sal meer as 100 mil­joen hektaar dek, so groot soos Frankryk, Duitsland en Spanje tesame.

      Die idee van vredesparke groei steeds, met belangstelling van elders in die wêreld, soos die gedemilitariseerde gebied tussen die Koreas, die bergpark Mont Blanc, Suid-Amerika en elders.

      Verreweg die omvangrykste van die projekte waarby Suid-Afrika regstreeks betrokke is, is Groter Limpopo, die wildpark wat die grootste diereryk ter wêreld kan word. Die wêreldbekende Krugerwildtuin sal aansluiting vind by drie na­sio­nale parke in Mosambiek en met die Gonarezhou- nasionale park in Zim­babwe. Die beoogde vredespark, vier keer so groot as die reeds aansienlike Kruger­wild­tuin, sal ’n versameling van Afrika se diere, voëls, visse, plante en bome huisves wat ongeëwenaar in die wêreld sal wees. Met hierdie transnasionale park, wat oor die grense van drie lande strek, word beoog dat dit aanvanklik 35 000 km2 sal beslaan wat uiteindelik tot 100 000 km2 kan aangroei – groter as Portugal, Hon­garye of Oostenryk.6

      Grootwild is reeds uit die Krugerwildtuin na die Mosambiekse terrein oorgeplaas. Uiteindelik gaan onder meer duisend olifante na die Mosambiekse kant ge­bring word; dus na ’n gebied waar wilde diere tydens Mosambiek se burger­oor­log meedoënloos uitgeroei is, maar ook die land waaruit die eerste olifante vir die latere Krugerwildtuin dekades tevore geskenk is.

      Die verskuiwing van die eerste trop olifante uit die Krugerwildtuin vind plaas op 4 Oktober 2001, op Rupert se 85ste verjaardag. Die eerste oorplasing van groot­wild na die beoogde vredespark is vir hom ’n verjaardaggeskenk sonder weerga: die verwesenliking van ’n tien jaar lange droom.

      Steeds

Скачать книгу