Anton Rupert: 'n lewensverhaal. Ebbe Dommisse
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Anton Rupert: 'n lewensverhaal - Ebbe Dommisse страница 20
Reeds in 1941 kom ’n geleentheid na vore om ’n insolvente tabakfabriek oor te neem, en dit lei spoedig tot sy volgende belangrike stap in die sakelewe, die stigting van die Voorbrand Tabakmaatskappy.
Voorbrand word gestig op ’n tydstip dat die sakewêreld in Suid-Afrika deur Engelssprekendes oorheers is. In die handel, nywerheid, finansies en mynwese was Afrikanerondernemings se omset in 1938-’39 slegs 5% van die totaal; in die nywerheid slegs 3%. Daar was destyds slegs enkele gevestigde Afrikaanse maatskappye, soos die versekeringsmaatskappye Sanlam en Santam, die mediamaatskappye Nasionale Pers (later Naspers) in die Suide en Voortrekkerpers in die Noorde, die begrafnisondernemer Avbob, asook Volkskas, die eerste Afrikaanse handelsbank, gestig in 1934.
Twee ander Afrikaners wat as pionier-entrepreneurs teen daardie tyd bemagtigings- en werkgeleenthede vir Afrikaners in semistaatsinstellings geskep het, was die chemiese ingenieur dr. Hendrik van Eck en die ewe briljante elektrotegniese ingenieur dr. Hendrik van der Bijl. Van der Bijl, voorsitter van Evkom en daarna Yskor, het sy ideaal verwesenlik om goedkoop elektrisiteit en staal as die basis vir nywerheidsontwikkeling te verskaf. Die nywerheidsdorp Vanderbijlpark is na hom genoem. Hy is as voorsitter van Yskor opgevolg deur dr. Frikkie Meyer, wat as voorsitter van die raad van die UP die eerste sakeskool ter wêreld buite die Harvarduniversiteit gevestig het.
Onder Van Eck se voorsitterskap van die NOK is belangrike staatsondersteunde instellings soos Sasol, Foskor, Safmarine en Alusaf gestig en gefinansier. Michael O’Dowd, ’n direkteur van Anglo American, skryf hieroor: “The primary credit (for the policy) belongs to the Afrikaners, and it was in effect opposed by many, if not all, English-speaking South Africans.”
In die aandrang op ekonomiese mobilisasie in die jare veertig het talle nuwe ondernemings in die private sektor onder Afrikaners opgespring. Sommige was suksesvol, soos die ondernemende Willem Boshoff van Krugersdorp, wat reeds van die middel van die jare dertig af die grondslag vir Afrikanerdeelname aan die goudmynbedryf gelê het. Die meeste het egter misluk. In Johannesburg alleen was daar ’n stuk of vyftig sulke ondernemings.5
Uiteindelik sou uit die inisiatiewe van die jare veertig veral twee ondernemings in die private sektor groei en vooruitgaan.
Die een is Rupert se Rembrandt, wat uit Voorbrand ontwikkel het. Die tweede is Veka, die Volks- Hemde en Klerefabriek Beperk, wat onder Albert Wessels die handelspad aanvanklik met “Ossewa”-klerasie aandurf en later as Veka/Bertish bekend staan.
Soos ander in die destydse Afrikanerkringe aan die Rand het Rupert vir Wessels goed geken, en hy woon onder meer Wessels se verlowingsparty met sy eerste vrou, die bekroonde digteres Elisabeth Eybers, in Pretoria aan huis van die Eyberse by. Wessels maak later sy grootste vooruitgang met die verkryging van die handelsreg vir Suid-Afrika van die Japanse voertuigmaatskappy Toyota.
Geslaag of misluk, ondernemings soos dié was almal pogings van ’n volk wat homself ekonomies en maatskaplik wou red.
Hoewel Rupert ná sy aankoms in Johannesburg intens betrokke by die RDB was en aanvanklik nie die beweging wou verlaat om die nuwe terrein van ’n tabakfabriek te betree nie, kon hy agterna oorvloedig dankbaar wees dat hy dit wel gedoen het.
Dit bring ook fasette van sy bedekte self na vore, wat hy egter nie as ’n teenstelling beskou nie: aan die een kant die doelgerigte, vooruitstrewende sakeman, en aan die ander kant die denker en dromer wat iets vir sy medemens wil beteken.
Rupert se ommeswaai van die droogskoonmakery na die tabakbedryf is ewenwel nie ongewoon vir ’n entrepreneur nie. Entrepreneurs is nooit getroud met ’n bepaalde bedryf nie. Hulle is rustelose, eksperimentele mense.
Die gewese akademikus word in die nuwe sakeomgewing in die woelige Johannesburg spoedig toegegooi onder werk. Einde Augustus 1941 bel hy sy verloofde, Huberte, in die Merenskybiblioteek in Pretoria met die woorde: “Ons moet nou trou, want ek kry nie kos op die tye dat ek vry is om te eet nie!”
Huberte stribbel eers teen dat hy nie durf bel na die biblioteek, waar sy geen oproepe mog ontvang, en dan nog só iets sê nie. Sy huiwer nogtans nie om die jawoord te gee nie – gedagtig ook aan die wyse raad van sen. Martin Vermeulen, vader van haar Tukkievriendin Theresa Vermeulen. Terwyl sy ná haar verlowing by die Vermeulens op Lindley in die Vrystaat gekuier het, het hy oor ’n glasie sjerrie aan haar gesê: “Jy gaan trou met ’n leier van mense, iemand van wie ons baie verwag. Besluit vroeg om sy hulpmaat te wees. Someone must keep the home fires burning. Bly tuis en staan hom by as ’n ondersteunende krag wanneer hy tuis kom.”
Toe Rupert ouers gaan vra, sê Huberte se stiefvader, Piet Wessels, ’n onderwyser in boekhou en handelsrekene wat sy aanstaande skoonseun baie bemoedig het, aan hom: “Ek weet jy sal haar nie kan onderhou nie, maar ek het vertroue dat julle die mas sal opkom.”
Die twee word ’n maand later, op Saterdag 27 September 1941, in die Gereformeerde kerk op Krugersdorp deur ds. W.P. Venter in die huwelik bevestig. Rupert is lidmaat van die groter Nederduitse Gereformeerde Kerk, maar hulle trou in die Dopperkerk omdat sy vrou Enkel-Gereformeerd, ’n Dopper, is.
Die daaropvolgende Donderdag berig Die Transvaler dat die “sprankelende bruid” geklee was in “’n sierlike tabberd van ivoorkleurige satyn” toe sy aan die arm van haar vader (eintlik haar stiefvader, wat ook ’n bekende in Transvaalse rugbykringe was) die kerk binnetree. “Deftige kenmerke van haar smaakvolle mondering was die besonder lang sleep en die lang sluier wat met ’n kunstige hooftooisel van lemoenbloeisels vasgeheg was. Haar ruiker was uit aronskelke saamgestel.”
Haar strooimeisies is haar vriendinne Theresa Vermeulen en Rona Wallace, dogter van ’n tandarts van Krugersdorp. Die blommemeisie is haar jong suster Vivia Wessels.
Die bruilof word in die Moon Hotel gevier. Nadat die gaste vir die dinee aangesit het, word die eerste heildronk deur Fritz Steyn ingestel, waarop die bruidegom “gepas geantwoord het”. Verdere heildronke word ingestel deur J.H. van Dyk, dr. G. von W. Eybers, Dirk Hertzog en J.J. Botha. Daarop antwoord mnr. Piet Wessels en die twee strooijonkers, Jannie Rupert, jonger broer van Anton, en Boet Postma, seun van die rektor van die Pukke, die Potchefstroomse Universiteitskollege vir Christelike Hoër Onderwys.
Die bruidspaar vertrek in Rupert se motortjie, die DKW met die registrasienommer TK 714, om ’n lewe te begin waarin Huberte haar man pal sou bystaan. Die motortjie se seildak lek wanneer dit reën, dan moet sy met ’n sambreel oor haar kop sit anders reën sy nat.
Hul wittebrood was amptelik ’n bekendstellingsreis van die RDB, en Rupert versprei die boodskap van die reddingsdaad so ver soos hulle gaan. Onder andere bly hulle oor by bevriende predikante en ander vriende van die beweging.
Die eerste drie maande van hul huwelik gaan hulle tuis by die Wesselse op Krugersdorp. ’n Merkwaardige toeval omtrent die Wesselse se huis was in later jare ’n groot verrassing vir die Ruperts se oudste seun, Johann. Hy het as skoolseun by sy oupa en ouma Wessels op Krugersdorp gebly wanneer sy ouers met sy suster Hanneli vir behandeling aan haar oë in die buiteland was. Toe hy daarna ’n slag op Krugersdorp die Wesselse se huis aan sy aanstaande, Gaynor Downie, gaan wys, vertel sy dat sy in dieselfde huis grootgeword het! Haar vader het die huis naamlik uit die boedel van