Anton Rupert: 'n lewensverhaal. Ebbe Dommisse
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Anton Rupert: 'n lewensverhaal - Ebbe Dommisse страница 23
Een van die Ruperts se goeie vriende in Johannesburg, die digter W.E.G. (Gladstone) Louw, gee die jawoord vir ’n reklamespreuk vir die pyptabak: “In ou wynvate beleë.”
Louw, wat op 21-jarige leeftyd met die gesogte Hertzogprys vir Poësie bekroon is, was in daardie stadium ook by die RDB werksaam, in die afdeling vir kuns en kultuur. Hierdie jonger broer van N.P. van Wyk Louw lewer, soos ander in die Ruperts se vriendekring, insette in die nuwe onderneming, wat Drosdy-tabak aanvanklik in ou wynvate berg. Die Ruperts leer Van Wyk Louw ook ken deur middel van Anna Neethling-Pohl, suster van sy tweede vrou, Truida Pohl. Die Rupert- en die Pohl-kinders het almal op Graaff-Reinet grootgeword.
Vriende in die Noorde stel Rupert in die oorlogsjare terwyl hy nog in Johannesburg was, sonder sy wete voor as lid van die Afrikaner-Broederbond. Ander lede van die AB uit daardie jare is die voorste letterkundiges Dirk Opperman en Van Wyk Louw. Rupert se naam is destyds, soos gebruiklik in die geheime organisasie, in ’n omsendbrief gesirkuleer. Hy word lid nommer 3088.
Dirk Hertzog, ook ’n lid, wys in sy memoires daarop dat die ledetal van die AB in die oorlogsjare, waarin genl. Smuts noodregulasies laat uitvaardig het wat staatsamptenare en onderwysers verbied het om tot die beweging te behoort, slegs ietwat meer as 2 000 was. Afrikaners soos hy was gebelg dat Smuts mede-Afrikaners met aansien weens hul AB-lidmaatskap gedwing het om uit die staatsdiens te bedank. Onder hulle was Wennie du Plessis (wat, in ’n ironiese nadraai, Smuts in 1948 in Standerton verslaan het) en prof. Avril Malan (die latere voorsitter van Volkskas, wat volgens Rupert voldoen aan die drie groot B’s wat hy as vereistes vir ’n bankier stel: betroubaar, bestendig en beskaaf).
Rupert is ook een van die 75 afgevaardigdes en sakemanne wat op 24 Augustus 1942 in die Vissersaal in Bloemfontein die stigtingskongres van die Afrikaanse Handelsinstituut bywoon, dus is hy daar as ’n stigterslid.
Die AHI, deel van die opdrag van die Ekonomiese Volkskongres, is onder leiding van die RDB gestig met die doel om die belange van bestaande en opkomende Afrikaanse sakelui en entrepreneurs te bevorder.
Die voorsitter van die eerste bestuur is J.G. (Kaalkop) van der Merwe, sakeman en regsgeleerde van Heilbron in die Vrystaat, en M.S. (Tienie) Louw van Sanlam is die eerste ondervoorsitter.9
Rupert word in 1949 lid van die hoofbestuur van die AHI en in 1950 voorsitter van die nywerheidskomitee, maar tree uit toe sy internasionale belange so uitbrei dat dit te veel aandag verg.
Volgens ’n streng geheime en vertroulike omsendbrief van 14 Januarie 1944 in die Rembrandtargief op Stellenbosch het Voorbrand nadat die maatskappy begin 1942 tot die pyptabakbedryf toegetree het, in 1943 sy produksie met 300% laat styg. Teen daardie tyd het die maatskappy 40 geregistreerde handelsmerke, 11 soorte verpakte tabak en 8 soorte los tabak gehad.
In ’n omsendbrief aan “U as kenner van pyptabak”, gedateer 15 Februarie 1943, beklemtoon Rupert aan kliënte dat Voorbrand vir ’n verskeidenheid make voorsiening maak en die gehalte van die verskeie tabaksoorte handhaaf. “Ons fabriek is geheel en al onder beheer van Afrikaners en Afrikaanse kapitaal. Ons tabak word deur Afrikanerhande bewerk en verpak in sierlik ontwerpte pakkies,” gaan hy voort, en nooi verbruikers om hul bestellings regstreeks van die fabriek in enige hoeveelheid teen kleinhandelspryse te bestel.
In direksienotules word egter opgemerk dat sentiment nie die gewenste uitwerking op Afrikaanse kopers het nie. “Deels weens vroeë teleurstellings van mislukte besighede en grotendeels weens ’n gevoel van minderwaardigheid ag die Afrikaanse publiek hul eie goed nie goed genoeg nie.” Dit is bewys deur Veka se handelsmerk Ossewa en Kopersbond se Kobo. Afrikaners verkies Ambassador-hemde bo Kobo-hemde hoewel dit deur presies dieselfde fabriek gemaak is. “Ook word die naam van ‘duur’ vry algemeen aan Afrikaanse besighede uitgedeel,” lui die notule.
Klaarblyklik om hierdie redes word begin om produkte met Engelse name te vervaardig, terwyl pogings eweneens vroeg reeds aangewend word om die mark vir swart mense en Indiërs te betree.
Rupert stel in die begin van 1943 vir Voorbrand se direksie ’n omvattende verslag oor die tabakbedryf saam. Daaruit blyk sy wetenskaplike agtergrond duidelik. Hy ontleed onder meer die soorte tabak, droogmaakmetodes van die tabakblaar en die byvoeging van geursels, stroopmengsels en preserveermiddels.
In daardie stadium was daar 14 000 tabakboere in Suid-Afrika, almal lid van een of ander tabakkoöperasie, en ongeveer 50 tabakfabrieke, wie se produkte hy almal tabuleer. Aangesien die Tabakbeheerraad in daardie stadium voorraad aan fabrikante op grond van die vorige jaar se produksiesyfer toeken, kom Rupert tot die logiese gevolgtrekking dat enige nuwe fabriek slegs geleidelik en baie stadig kon uitbrei.
Voorbrand is gekortwiek deurdat hy nie sigarette mog vervaardig nie, maar Rupert beveel toe reeds aan dat sigarettabak met die oog op “die grootheid en omvang van die sigaretbedryf” behou en bewaar word. Die oorlogstydse beperkings op sigaretvervaardiging was nogtans ’n opperste beletsel vir uitbreiding, sodanig dat sekere direkteure geneë was om uit te verkoop.
Verdere probleme volgens die verslag is die tekort aan petrol vir Voorbrand se handelsreisigers, aangesien die hoofpetrolkontroleur in die oorlogsjare geweier het om enige petrol aan nuwe reisigers toe te staan. Verkryging van voorraad veroorsaak eweneens moeilikhede, want die maatskappy kry ook te doen met ander kontroleurs, naamlik die kontroleurs van papier, van voertuie, van rubber, van sakke en van nywerheidschemikalieë. Op die koop toe is Voorbrand weens die tekort aan vuurhoutjies “die verdere slagoffer aangesien ons nie vuurhoutjies saam met die tabak kan lewer nie”.
Rupert wys in sy verslag op die dominante posisie van UTC en die greep wat dié maatskappy op groot- en kleinhandelaars asook op reklame en advertensieruimte kon uitoefen.
“Weens die natuurlike traagheid van die mens om verandering te maak, is dit heel duidelik dat reklame en aanhoudende reklame die enigste middel tot sukses is. Advertensie is trouens ’n essensiële uitgawe in die werwing van nuwe kliënte en dien ook om die handelaar aan te moedig en die reisiger selfvertroue te gee.”
Hy stel ’n reeks aksies voor, waaronder kontak van verteenwoordigers met sleutelpersone in hul omgewing, plakkate, kalenders, rolprent- en persadvertensies, kompetisies, pryslyste en persoonlike skrywes en omsendbriewe.10
Reeds in 1943, skaars ’n jaar ná Voorbrand se ontstaan, sien Rupert dus in dat reklame en advertensies een van die fondamente moet wees van welslae. Dit word die begin van die gesofistikeerde reklame- en bemarkingsbenadering waarmee hy mettertyd ’n internasionale reputasie opbou.
Op 4 Desember 1944 word die Voorbrand Tabakmaatskappy se derde algemene jaarvergadering gehou. Dit is in hierdie jaar dat Voorbrand ’n publieke maatskappy word. Die kapitaal word van £25 000 tot £50 000 vermeerder. Aandele ten bedrae van £36 980 is uitgereik.
Rook is destyds, soos ook later, deur die staat as ’n weelde en luukse gesien. Aksynsbelasting was hoog en het winsgewendheid benadeel, terwyl die regering in die oorlogsjare met kwotas en invoerbeperkings bestaande vervaardigers uitermate bevoordeel het. Half moedeloos wonder Rupert en sy vriende op die jaarvergadering: “Watter hoop, wil ’n mens vra, is daar vir jong nywerheidsondernemings om onder sulke omstandighede op die been te kom?” En hulle verskaf met volgehoue idealisme self die antwoord: “. . . ons glo in ons toekoms, en ons sal oorwin.”
’n Kwarteeu later kyk hy op die 21ste verjaardagviering van Rembrandt op 4 Junie 1969 in die Paarl terug na die begindae van Voorbrand: “As ’n mens, soos ek veertien dae gelede, die geleentheid gehad het om te kyk hoe