Anton Rupert: 'n lewensverhaal. Ebbe Dommisse

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Anton Rupert: 'n lewensverhaal - Ebbe Dommisse страница 26

Anton Rupert: 'n lewensverhaal - Ebbe Dommisse

Скачать книгу

Hexrivier­berge wat om sy uitvoerdruiwe bekend is. Hy moes daardie dag die uitstaande bedrag van £9 000 aan die Forrer Broers betaal, en die oggend om agtuur weet hy nog nie waar hy dit gaan kry nie. Dit is een van die nouste van nou gapings waar­deur hy in die begin van sy loopbaan moes kom – maar hy hét, deur daardie dag £11 000 se TIB-aandele te verkoop aan ’n paar boere wat ’n byeenkoms van be­langstellendes op De Doorns bygewoon het. “Ek het ’n paar etikette (vir wynbot­tels) aan hulle gewys en my idees aan hulle verkoop. Ek het ’n droom aan hulle verkoop.”2

      Hy ry via Wellington en Bainskloof – die Dutoitskloofpas is nog nie gebou nie – na Kaapstad terug en kon voor die bank se sluitingstyd die geld inbetaal.

      Daardie aand bel Rupert vir Huberte in Johannesburg om die blye nuus mee te deel. Dit is die eerste langafstandoproep wat sy van hom ontvang. Sy waar­deer dit ten seerste: “Die feit dat hy dit so belangrik geag het om dit vir my te ver­tel was ’n kleinood wat ek met my saamgedra het, want ons was saam in die ding.”

      Rupert, wat sy loopbaan deur ’n hoë prys op lojaliteit stel, sou nooit die steun vergeet wat hy in die jare veertig van veral die wynboere, maar ook van tabakboere, gekry het toe hy dit broodnodig gehad het nie. Daardie lojaliteit en voort­gesette betrokkenheid by ’n bedryf wat ’n betreklike klein opbrengs toon ver­geleke met die bestuursaandag wat daaraan bestee word, sou weer sterk na vore kom tydens 1979 se herstrukturering van die Suid-Afrikaanse drankbedryf.

      Die koop van TIB se aandele word mettertyd ook ’n wederkerige voordeel. Ver­skeie aandeelhouers van Rembrandt uit die beginjare het miljoenêrs geword, som­mige multimiljoenêrs. Die rykdom van ’n hele aantal ander welgestelde Bo­landse families, dus inderdaad ook in groot mate die welstand van die Boland self, rus op die fondament van Rembrandt-aandele.

      Een Paarlse boer het vir elk van sy vier kinders £2000 se aandele gekoop. Kort ná die eeuwisseling was elke kind se aandele R132 miljoen werd.

      ’n Afgetrede hoogleraar in ginekologie het in 2001, toe Rupert ná sy val in sy woning met sewe gebreekte ribbe in die hospitaal was, per brief uit Johan­nes­burg laat weet hy was in 1944 op De Doorns die dag toe Rupert daar aandele ver­koop het. Hy wou verder gaan studeer en het nie aandele gekoop nie; sy neef, wat ’n Packard wou koop, ook nie. Maar hulle was nie daarvan bewus dat die ginekoloog se moeder wel £500 se aandele gekoop het nie. Teen die eeuwisseling het die ginekoloog en sy suster “lekker geleef” uit die opbrengs van daardie aan­dele.

      Een persoon wat later spyt was dat hy nie aandele gekoop het nie, was Piet Meiring, die Suid-Afrikaanse inligtingshoof by wie Rupert in Johannesburg kers opgesteek het oor die feesuitgawes wat hy tydens die Voortrekker-eeufees aange­gaan het. Meiring skryf in sy herinneringe dat hy die dag onthou toe Rupert, wat daar naby by Voorbrand was, hom weer op kantoor besoek het. “Ek het, soos ’n dwaas, nie geswig vir sy voorstel dat ek aandele in die nuwe maatskappy koop nie.”

      Dit berou Meiring erg juis omdat hy in die oorlogsjare saam met dr. Hendrik Verwoerd in groot skuld gedompel is. ’n Kollega van hulle by Die Transvaler, Ram­mie Botha, het naamlik besluit dat daar meer geld in besigheid as in koerant­werk steek, en hy begin saam met Whiskers van Niekerk, met Meiring en Ver­woerd as mededirekteure, ’n garage en ’n markagentskap wat markprodukte by huisvroue aflewer. “Spandabelheid en wanbestuur het die twee ondernemings in duie laat stort, met my en dr. Verwoerd as borge by die bank,” vertel Meiring. Elkeen was R50 000 aan Volkskas en Sasbank verskuldig. Die banke was toe­geef­lik en het ’n deel van die skuld afgeskryf, maar Meiring moes sy motor en sommige van sy skilderye verkoop om die skuld te delg.3

      Die petalje het ook ’n merk gelaat op Verwoerd, wat deur bemiddeling van Fritz Steyn deur die banke tegemoetgekom is. Rupert is oortuig dat hierdie fi­nansiële mislukking die aanleiding daartoe was dat Verwoerd teen die kapitalis­me gekant geraak het. “Hy was bevooroordeeld teenoor die sakesektor omdat hy self ’n negatiewe sakeondervinding gehad het.” Een van die gevolge was dat die beleid van afsonderlike ontwikkeling wat Verwoerd later as eerste minister wou uitbou, misluk het onder meer omdat hy nie blanke kapitaal in die swart tuislande wou toelaat nie.

      TIB brei in die stigtingsjare mooi uit deur verdere aandelewerwing en die aan­koop van nog ondernemings. TIB se kapitaal is vroeg volskryf en dit lê ook die grondslag vir latere aandele-uitgifte en uitbreidings.

      In die drankhandel word die kroon daarop gespan met die stigting van Dis­til­lers Korporasie op 11 Junie 1945 – die eerste Afrikaanse maatskappy wat op die Johannesburgse Effektebeurs genoteer is.

      Distillers se eerste direksie is soos volg saamgestel: S.A. (Sidney) Schonegevel (eerste voorsitter, twintig jaar lank), Anton Rupert (besturende direkteur), Dirk Hertzog, C.C. (Oupa) Kriel, J.J. (Jurgens) Schoeman, J.F. (Freddie) Kirsten, P.C. du Toit en F.S. (Fritz) Steyn. In ’n memorandum waarin Dirk Hertzog reageer op kritiek dat die direksie deur die Nasionale Party beheer is, skryf hy: “Daar was geen NP verband nie en tewens SAP lede op die raad.”4

      Die geslaagde notering volg op ’n groot deurbraak vir die nuwe groep op 23 Maart 1945. TIB, as trustee van Union Distillers SA (Pty) Ltd, gaan ’n oor­een­koms aan om die grond, masjinerie en toerusting van die South African Farm Pro­ducts Protective Association Limited te koop. Dié Stellenbosse maatskappy was in likwi­dasie.

      Die terrein is geleë in die munisipaliteit van Stellenbosch aan die voet van Pa­pegaaiberg, oorkant die stasie en aan die noordekant begrens deur die Plan­ken­brugrivier. Dit is sewe hektaar groot en het ’n ligging langsaan die skilderagtige universiteitsdorp waaroor ’n mens net kon droom. Rupert se oog vir geleenthede laat hom nie in die steek nie.

      Die prys was vir daardie tyd nie min nie: £25 000. Die ooreenkoms word namens TIB onderteken deur Schonegevel, een van die oorlewendes van die Slag van Dellville-bos in die Eerste Wêreldoorlog waarin 2 400 Suid-Afrikaanse soldate op Franse bodem gesneuwel het. Die ooreenkoms maak voorsiening daarvoor dat die trustees kon optree namens ’n maatskappy wat nog gestig moet word.

      Op 11 Junie 1945 word die nuwe maatskappy, Distillers Korporasie (SA) Be­perk, onder die Maatskappyewet geïnkorporeer. Die kapitaal bedra ’n aansienlike £1 300 000, verdeel in 2 200 000 gewone aandele van 10 sjielings elk en 200 000 voorkeuraandele van £1 elk. Die wynboere se vertroue in Rupert was so sterk dat die aandele-uitgifte oorvolskryf is.

      Heftige en selfs neerhalende kritiek begroet die geboorte van die nuwe speler in die drankbedryf, wat met agt drankwinkels wegspring. In die tydskrif Wine and Spirit van die KWV, ’n belangrike koöperatiewe speler in daardie tyd, skryf die redakteur ietwat venynig dat hy die kritiek selfs vreemd vind, “. . . as we know that businesses without prospects of a future are usually left severely alone; left to their own fate”.

      Verder kritiseer hy die leierskap van die nuwe maatskappy oor sy gebruik van Afrikaans: “Why they should continually refer to the Afrikaans origin of the company, they alone know.”

      Vir Rupert is daar egter ’n goeie rede om ook Afrikaans te gebruik. Trou aan sy wortels en deurdrenk met die begeerte om te bewys dat Afrikaners in die ny­we­r­heid kan slaag, is hy nooit skaam of huiwerig om die vlag vir Afrikaans te hys nie.

      Daar is ook ’n ander beweegrede. Hy wou die wynboere, meestal Afrikaners, tot hul reg laat kom. En hy wou landgoedwyne bevorder, ’n droom wat hom lewens­lank besig hou en verwesenlik is deur onder meer die betrokkenheid van die Ru­perts by landgoedere wat gehaltewyn produseer.

      Hy kon in die beginjare nie veel vir die wynboere aanbied nie, maar daar was ’n sterk begeerte by hulle dat Afrikaners inspraak in die drankhandel kry. Die on­bevredigende situasie van destyds laat een van die boere opmerk dat die wynhandel in die hande is van “whiskydrinkers wat die wynbottels in die drank­win­kels regop laat staan”.

      Die

Скачать книгу