Anton Rupert: 'n lewensverhaal. Ebbe Dommisse

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Anton Rupert: 'n lewensverhaal - Ebbe Dommisse страница 28

Anton Rupert: 'n lewensverhaal - Ebbe Dommisse

Скачать книгу

van haar eie sou kon vermag.

      Die egpaar se meelewing met die personeel verklaar ten dele die lojaliteit van Rupert se werknemers teenoor sy organisasie en homself.

      Huberte druk haar beskouing van haar man se verhouding met sy personeel só uit: “Die een ding van my kant gesien wat ek moet noem, is dit: Dit is nie die sig­bare goed wat Anton gedoen het wat hom vir my ’n groot mens maak nie. Dit is eerder die vermoë wat hy het om mense te besiel om buite hulleself te presteer. Hy het die vermoë gehad om sy gedagtes oor te dra aan mense wat hulle tot nuwe hoogtes binne hul eie ontwikkeling gebring het.

      “Dit behels doelgerigtheid, eerbaarheid en eerlikheid – dié dinge wat wesenlik in die wêreld saak maak. Dit is nie gelukkies wat langs jou pad val nie. Dit is hier­die doelgerigte eerbaarheid wat op die ou einde vir jou blywende sukses bring, want dan kan jy ook met leerstellings klaarkom. Ek praat nie in godsdienstige sin nie; ek praat uit die sin van eerbaarheid, en dit is wat Anton se krag nog altyd vir my was.

      “Die mense wat met hom saamgewerk het, het almal anderkant uitgekom as begeesterde, beter mense met ’n intense lojaliteit.

      “Dit is iets wat ’n leier maak; ’n mens wat dít kan doen. Dit help nie om entrepreneurs met kapitaal in die bank te wees nie; dis slegs meevallers. Sonder Anton se mensemateriaal om hom, mense wat hy kon besiel, sou hy niks kon vermag nie.”7

      Lojaliteit word een van die vernaamste sentrale begrippe van die Rembrandt Groep. Rupert gee inderdaad aan die woord “nuwe betekenis”, soos die ervare sakejoernalis David Meades by geleentheid van Rupert se tagtigste verjaardag in 1996 skryf. Hy voeg by: “Dis seker die enkele sterkste bousteen van sy sakeryk. Sy mense is bereid om alles vir die groep op te offer.”8

      Rupert wei self uit oor karakter as die belangrikste bestanddeel van leierskap in ’n lesing wat hy reeds in 1965 hou en wat in 1967 in sy boek Leiers oor leierskap opgeneem word. Die goeie bestuurder “het ’n kode van waardes wat uit sy etiese en geestelike lewe voortspruit”. Dit sluit die volgende eienskappe in: eerlikheid, integriteit, betroubaarheid, lojaliteit, nederigheid, opregtheid en standvastig­heid.

      “In enige sakeonderneming wat lank wil voortbestaan, is eerlikheid inderdaad die beste beleid. En ons moet onthou dat dit lank duur om ’n goeie naam op te bou, maar dat daardie goeie naam binne ’n oomblik kan verdwyn as gevolg van een wandaad. Betroubaarheid word slegs deur die tyd bewys,” gaan hy voort.

      “Lojaliteit is een van die mooiste bates in die lewe – die één eienskap wat nie met geld gekoop kan word nie en verdien moet word. Dit is ’n karaktereienskap wat ek bo alle ander stel.”

      ’n Barometer van die werknemers se lojaliteit is die lae personeelomset. In 1997 getuig Johann Rupert, naas sy vader die enigste ander hoof uitvoerende amptenaar in die bestaan van die Rembrandt Groep, voor die Waarheid-en-versoenings­kommissie dat die personeelomset in die groep oor al die jare slegs 2% beloop.9

      Rupert vereis inderdaad onverdeelde lojaliteit. Vir hom begin dit in die gesins­kring. Hy glo dat ’n ontroue eggenoot wat nie meer lojaal teenoor ’n lewensmaat is nie, ook teenoor die groep dislojaal kan word, en hoe kan so iemand in sy of haar werk vertrou word? Kantoorverhoudings tussen getroudes en onge­troudes was vir hom ’n doodsonde. Almal in die Rembrandt Groep het dit geweet, en en­keles wat oor die tou getrap het, is verplaas of het elders gaan werk in die dae voordat die samelewingsnorme toeskietliker geword het.

      Amptenare van Rembrandt wat gereeld oorsee moes reis, kon by geleentheid hul vroue saamneem. Dit geskied ook op aandrang van Huberte. Sy het Rupert oortuig dat vroue behoort te deel in die ervarings wat hul mans in die buiteland beleef en dat daardeur ook suksesvolle huwelike in stand gehou word wat ’n bate vir die groep sou wees. Die gebruik is deur hul seun Johann voortgesit toe hy die uitvoerende hoof van die groep geword het.

      Rupert beskou lojaliteit sodanig as een van die opperste deugde dat hy graag ’n staaltjie omtrent homself vertel. By geleentheid waar hy ’n moeilike situasie omtrent ’n kollega moes hanteer, sê sy vriend prof. James Yeats van Stellenbosch aan hom: “Anton, jy is té lojaal.” Rupert staan op agter sy lessenaar, stap na Yeats en gee hom hand met die woorde: “Dankie, Jamie, dankie; dit is die grootste kom­pliment wat jy my kon gee.”

      Lojaliteit is een van die faktore wat meegehelp het dat Distillers sowel as die latere Rembrandt van krag tot krag gegaan het. Nog ’n bydraende faktor is dat Rupert mededingers met wetenskaplike deurbrake voorgespring het. As opge­leide wetenskaplike het hy voortdurend nuwe tegnologieë benut.

      Distillers se eerste tegniese bestuurder was Gerhard Schröder, wat baie gou ondanks die taamlik primitiewe omgewing ’n laboratorium aangelê het. Schröder, ’n perfeksionis wat aan die Institut für Gärungsgewerbe in Berlyn opgelei is, het die laboratoriumwerk grotendeels opgedra aan Baumgartner, wat sy doktorsgraad in plantfisiologie summa cum laude aan die Universiteit van Freiburg ver­werf het. Baumgartner meen dat Rupert nie ’n beter persoon as Schröder kon gevind het nie: “Gerd Schröder was getroud met Distillers. Hy het nooit gerus totdat ’n taak perfek afgehandel is nie en hy was altyd bereid om enige tyd van die dag of nag aan diens te wees.”10

      Schröder, ’n doelgerigte en harde werker wat hom deur niks laat stuit nie, be­nodig op ’n dag ’n voertuig om wyn in Kaapstad af te lewer, maar net die motor van Fanie Botha, die latere minister, was beskikbaar. Hy vra Botha om van Stel­lenbosch na hom in die Paarl te ry, en toe Botha by hom aankom, sê hy daar skort iets met sy wiele. Toe Botha uitklim, spring Schröder agter die stuurwiel in en ry weg. Die ontstelde Botha bel Rupert en kla steen en been oor sy gekaapte motor. Rupert ontbied Schröder na sy kantoor, maar die hardkoppige Duitse vakman weier om te kom. Daarop lees Rupert hom die leviete voor: “Mnr. Schröder, u kom dadelik na my kantoor of u word afgedank!” Schröder sien toe in wie die baas van die plaas is, en hy gehoorsaam. Van toe af, sê Rupert, was Schröder een van sy lojaalste werknemers.

      Reeds in 1947 bestel Schröder uit Frankryk, land van die sjampanjemeesters, masjinerie en gistingstenks wat Distillers in staat stel om die enigste moderne, ten volle outomatiese vonkelwynaanleg in die land te bedryf. Vier soorte von­kelwyn is onder die handelsmerk La Residence geproduseer.

      Onder Rupert se aanmoediging word brandewyn van ’n baie goeie gehalte gemaak, waardeur die hele plaaslike brandewynbedryf ’n hoër plato bereik. In 1949 behaal Distillers die hoogste punte van alle Suid-Afrikaanse maatskappye wat aan die Rykswynskou (Empire Wine Exhibition) in Londen deelneem. Die prestasie word in 1950 herhaal, die jaar waarin Oude Meester aangewys word as die beste brandewyn wat in die Britse Gemenebes vervaardig is.

      Rupert, wat van 1948 sy aandag toenemend sou toespits op die tabakbedryf wat met Rembrandt se stigting momentum verkry het, ontwerp die bekende handelsmerk van Oude Meester vir Distillers. Later stel hy ook die naam Amarula voor vir die roomlikeur wat ’n wêreldtreffer geword het.

      In daardie stadium was brandewyn en spiritualieë Distillers se grootste geldverdieners. ’n Remmende faktor was dat die maatskappy van die KWV vir rabat­brandewyn afhanklik was en in die eerste vyf jaar ’n allokasie van net 1,3% kon kry.

      Rupert hoor in 1951 die eerste keer van koue of “beheerde” gistingsmetodes, ’n proses wat onder leiding van die Duitser Wilhelm Geiss in Kalifornië ontwikkel is. Sy personeel bestel onmiddellik vier hoëdruktenks uit Duitsland. Die nuwe teg­nologie, tesame met sy klem op gehaltebeheer, stel Distillers in staat om wyne van ’n voorspelbare gestandaardiseerde gehalte, geskik vir die massamark, te produ­seer. Handelsmerke soos Grünberger Stein, gebottel in die spesiale Bocksbeutel-fles wat die Franke in Duitsland gebruik het, en Kupferberger Auslese het baie ge­wild geword.

      Net soos in die geval van tabak bring Rupert aanvanklik ’n wye reeks handels­merke op die mark om uiteenlopende smake te bevredig.

Скачать книгу