Anton Rupert: 'n lewensverhaal. Ebbe Dommisse

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Anton Rupert: 'n lewensverhaal - Ebbe Dommisse страница 32

Anton Rupert: 'n lewensverhaal - Ebbe Dommisse

Скачать книгу

direkteur van die Rembrandt Groep geword het, neem hulle onder sy vlerk. Yeats, wat in Argentinië gebore is, was ’n briljante student aan wie ’n Rhodesbeurs toegeken is. Soos sy mede-Rhodesbeurshouer Schalk Pienaar, een van die voorste Afrikaanse koerantredakteurs, dink hy hy mors sy tyd op Oxford en keer terug na Stellenbosch, waar hy saam met prof. J.C. de Wet van die belang­rikste Afrikaanse regsboeke skryf. Hy stel die Ruperts bekend aan akademici en ander inwoners en hulle word geleidelik in die gemeenskap ingetrek.

      Heelparty akademici word stimulerende gespreksgenote van die Ruperts.

      Onder die professore wat naby hulle in Mostertsdrift gewoon het, is C.G.W. Schumann, die ekonoom deur wie Rupert mettertyd as “’n praktiese dromer en ’n realistiese idealis” beskryf is; die landboukundige Len Verwoerd, die broer van Hendrik Verwoerd wat ideologies sterk met die latere premier verskil het; en die letterkundige F.E.J. (Fransie) Malherbe, wie se broer prof. F. du T. Malherbe in Pretoria vir Rupert in chemie klas gegee het; asook die komponis Arnold van Wyk. Die politikus Paul Sauer, latere minister, en sy eggenote, Deborah, het hoër op in die straat ’n huis gehad.

      Dirk Hertzog en sy vrou het ook daar naby in Tuinstraat 2 ’n huis laat bou wat hy “Rus Roes” genoem het. Oorkant húlle het die digter Dirk Opperman en sy vrou, Marié, vriende van sowel die Hertzogs as die Ruperts, in Thibaultstraat 3 gewoon. Rupert se broers, Jan en Koos, hoewel meermale in die buiteland, het Stellenbosch ook hul basis gemaak en naby hom gewoon. Die wyk Mostertsdrift en spesifiek Thibaultstraat raak algaande moeilik bekostigbaar vir akademici, wie se salarisse mettertyd al hoe swakker aangepas is, en al hoe meer sakelui en me­dici trek teen die eeuwisseling in die buurt in.

      Toe Rupert besluit om met sigarette te begin, val sy keuse vir ’n sigaretfabriek op die Paarl, geleë in die Bergriviervallei. Hy was oortuig dat die Paarl net die regte klimaat het vir die veroudering van tabak en die vervaardiging van sigarette.

      Dit is na hierdie vallei dat Jan van Riebeeck, goewerneur van die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie, in Oktober 1657 ’n ekspedisie gestuur het. Twee­honderd-en-negentig jaar later kom Rupert as ’n nuwe pionier na die Paarl. Soos Van Riebeeck het hy ook ’n droom gehad, maar daarby die wilskrag en inisiatief om sy droom werklikheid te maak.

      Rupert begin met sy sigaretfabriek in die Paarl ondanks min kapitaal. Rem­brandt se aanvangskapitaal was net £125 000.

      Daar was ook ander probleme. Ná Daan Hoogenhout se vertrek is Hennie van Zyl, verkoopbestuurder, gevra om as bestuurder van Voorbrand oor te neem. In 1946 besluit Van Zyl egter om saam met ’n vriend by SAPRO, ’n leerkofferbesig­heid, in Port Elizabeth te gaan werk.

      Die enigste geskikte persoon wat Rupert kon vind om die taak by Voorbrand te onderneem, is sy jonger broer Jan, wat in daardie stadium in ’n prokureursprak­tyk in Port Elizabeth met sy vader, John Rupert, was nadat hy hom die vorige jaar as prokureur bekwaam het. Jan willig in om na Rembrandt te kom en reël die verskuiwing van die fabriek in Johannesburg na die ou meul in die Paarl waar Rupert van plan was om nuwe sigarette te loods. Voorbrand se produksiebates en handelsmerke word vir ’n bedrag van £70 000 aan Rembrandt oorgedra. Aandeel­houers in Voorbrand verkry vanweë die nuwe ontwikkelings ’n belang in Rem­brandt, wat steeds ook pyptabak verwerk. Rupert self word gemagtig om aansoek om £70 000 se aandele in Rembrandt te doen.

      Van Zyl se besigheid by SAPRO het spoedig ook misluk en hy kom in 1948 terug na die groep as sigaretverkoper. Hy en Hoogenhout was van die eerstes van ’n hele aantal werknemers van Rembrandt wat die groep verlaat en daarna teruggekeer het, sonder dat Rupert hulle dit ooit verkwalik het.

      Die groep se ander medestigter, Hertzog, was in die vroeë stadium steeds ’n vennoot van die prokureursfirma Couzyn, Hertzog & Horak in Pretoria. Weens ’n terugslag as gevolg van diefstal deur iemand in sy afdeling besluit Hertzog om hom eerder op Stellenbosch by die groep aan te sluit.

      Sy skerp regsbrein was ’n bate vir die nuwe groep, maar ná ’n jaar sê hy hy wil teruggaan Pretoria toe. As kranige tennisspeler glo hy dat hy om gesondheidsredes minstens weekliks moes speel en die Kaapse winterweer maak dit nie altyd moontlik nie. Sy vrou, Lorraine (gebore De la Harpe), ’n Pretorianer, pas haar ook moeilik in die nuwe omgewing aan ná die verlies van ’n doodgebore baba en mis aanvanklik haar noordelike vriendekring.

      Nadat Hertzog eers in Arcadia in Pretoria gewoon het, koop hy by sy terugkeer na die Noorde ’n huis in Waterkloof en praktiseer daar as regsgeleerde. Die aanpassing is egter moeilik en hy vra mettertyd om na Stellenbosch terug te keer. In die proses besluit hy om ’n klein besigheid wat hy met sy broer se geld bedryf het, te saneer of te verkoop. Die besigheid, wat haarkleurstof en toiletware ge­maak het, is uiteindelik verkoop en die verlies afgeskryf. Hertzog beëindig sy ver­bintenis met Couzyn, Hertzog en Horak in 1953.

      Rupert merk in sy stigtersnotas op dat Hertzog, wat intussen begin gholf speel het, ná sy terugkeer tevrede in die Kaap was. Hertzog, wat die res van sy loopbaan in die Rembrandt Groep was, kon self ’n jaar nadat hy terug op Stellen­bosch was, in sy memoires daaroor opmerk: “Nou ja, dit is nou alles anders. Werk en speel is al byna net so volop as in Pretoria. My werk is veel meer bevredigend as daar. Kantoor is groter. Ek is beslis onderkant Anton. Hy het aangebied ’n mede-besturende direkteur, maar dit het ek afgewys en gesê ek wil onder hom werk van­weë die feit dat hy meer dan ek weet op die terrein. Hy is dus nou voorsitter van TIB en ek besturende direkteur – ons het omgeruil. By RBB is ek nou voorsitter en hy besturende direkteur.”

      Die enigste probleem volgens Rupert in sy stigtersnotas was dat Hertzog, ’n ywerige polemikus wat talle briewe aan koerante geskryf het, op enige ander tyd as gedurende kantoorure moeilik beskikbaar was. Hertzog weer redeneer dat hy ’n volle dag se werk met volle konsentrasie insit en dus nie tuis of op die gholfbaan gepla wil wees nie. Hy glo boonop dat hy baie liggaamlike oefening moes kry omdat hy as kind sieklik was. Hy was ’n asmalyer wat op negejarige ouder­dom ook rumatiekkoors gekry het wat hartklepletsels gelaat het. Toe hy twintig was, het drie versekeringsmaatskappye sy aansoeke om ’n lewenspolis afgewys; volgens hulle was sy lewensverwagting “nie eens vyf jaar teen ’n premie nie”. (Hy korswil dat die versekeraars nagelaat het om ’n nul by die vyf te voeg.) Hy moes sorgvuldig op sy dieet let, met spoorelementpille en aanvullende mikro­voedingstowwe.

      Ná ’n motorongeluk in 1968 waarin sy vrou ernstig beseer is en ’n invalide vir die res van haar lewe geword het, vind Hertzog dit ook prakties moeilik om oor­see te reis.

      Hy probeer vroeg-vroeg om Rupert in gholf geïnteresseerd te kry. Ná ’n paar probeerslae sê Rupert egter reguit dat hy op die gholfbaan net ’n gek van homself maak. Jare daarna raak Rupert se oudste seun, Johann, egter ’n geesdriftige gholfspeler. Hy is bevriend met gholfhelde soos Ernie Els en Trevor Immelman, dien as voorsitter van die PGA in Suid-Afrika en moedig die ontwikkeling van jong gholfspelers aan.

      Twee ander bekendes verlaat die groep ook in ’n vroeë stadium.

      Die een is J.F. (Freddie) Kirsten, boer van die Paarl, wat uit die direksie van TIB tree nadat hy ’n belang in ’n drankwinkel verkry het. Die ander is Fritz Steyn, die prokureur wat tevore TIB se aandele teen ’n hoër prys teruggekoop het. Rupert-hulle help hom om ’n dranklisensie te bekom. Hoewel Rupert-hulle die aansoek finansier, eis Steyn daarna die lisensie vir homself op. Toe Rupert hom daarop wys dat hy eintlik namens TIB, waarvan hy direkteur was, die lisensie verkry het, bedank Steyn in 1948 uit TIB se direksie. Rupert het Steyn, wat later ’n Trans­vaalse LUK, Volksraadslid, ambassadeur en regter geword het, nooit weer daarna gesien nie.

      Rupert verwys in sy voorsittersrede van Rembrandt Beherende Beleggings in 1996 na diegene wat in die eerste tien jaar gekom en gegaan het, en dié wat terug­gekom en tot die einde gebly het: “Daar het min van ons oorgebly wat die geloof gehad het. Ek dink net dr. Stals en ek het werklik geglo. Ons het bly glo dat hier­die dinge moontlik is; dat hy wat nie in wonderwerke

Скачать книгу