Anton Rupert: 'n lewensverhaal. Ebbe Dommisse

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Anton Rupert: 'n lewensverhaal - Ebbe Dommisse страница 27

Anton Rupert: 'n lewensverhaal - Ebbe Dommisse

Скачать книгу

toekom. Sy eerste landgoedwyne kom van Montpellier, Theuniskraal en Alto. Hoewel die etikettering van wyne wat waarborg dat hulle van ’n spesifieke land­goed en sy wingerde afkomstig is, ofte wel appellation contrôlée, algemeen in Duits­land en Frankryk was, is die gebruik nie in Suid-Afrika toegepas totdat Rupert dit ingebring het nie.

      “Dit was ’n interessante bemarkingsidee,” vertel hy. “Dit het die boere inge­skakel, dit het hulle op die landkaart geplaas en hulle op hul voete gebring.”

      Teen 1946 het sowat twintig wynboere hulle aangesluit by die sambreelorgani­sasie wat as die Bergkelder bekend geword het. Die bekendstes van hierdie pioniers is Andries Jordaan van Theuniskraal, Tulbagh; De Wet Theron van Mont­pel­lier, Tulbagh; Manie Malan van Alto, Stellenbosch; baron Von Carlowitz van Uit­kyk, Muldersvlei; Danie Roux van Provence, Franschhoek; P. Bruwer van Mont Blois, Robertson; en P. Beyers van Riversmeet, Groot-Drakenstein.

      Landgoedwyne kry egter eers ’n kwarteeu later, in 1972, algemene erkenning en wetlike beskerming in Suid-Afrika.

      Rupert begin ook die idee toepas om die prys van goeie landgoedwyne op te stoot. Paul Sauer, latere minister en self ’n wynboer van die Stellenbosse spogplaas Kanonkop, kritiseer Rupert aanvanklik oor die duurder wyne. Maar sy ver­weer is moeilik weerlegbaar: “Gaan kyk watter wyn mense bestel wanneer hulle gaste onthaal. Hulle koop buitelandse wyne omdat dit duurder is. Hulle wil nie lyk asof hulle suinig is deur goedkoper wyne voor te sit nie.”

      Op die koop toe verken hy reeds van 1946 af moontlikhede om tot die bierhandel toe te tree – ’n vroeë verkenning op die terrein van nog ’n lonende produk wat uiteindelik sou uitloop op die bieroorlog, wat deur heftige botsings tussen uiteenlopende persoonlikhede en mededingende instellings gekenmerk sou word (sien hoofstukke 16 en 20).

      Distillers begin onder baie moeilike omstandighede, want die verwoestende Twee­de Wêreldoorlog was pas verby. Geld en goedere was skaars. Die verspreiding van boumateriaal is van regeringsweë deur ’n kwotastelsel gereguleer.

      Rupert se nuwe maatskappy moes van ou geboue gebruik maak. Hy kon ’n permit verkry om boumateriaal ten bedrae van slegs £5 000 aan te koop. Prioriteit nommer een was daarom die bou van tenks. Onderdakwerkgeriewe was maar prioriteit nommer twee.

      Daar kon ook nie aan ’n luukse kelder gedink word nie. Teenoor die moderne luukse kelders moes Rupert met veel meer beskeie hulpmiddele klaarkom in sy poging om in die drankbedryf in te breek. Afdakke is gebou om ’n mate van be­skutting te verleen. Dié is later toegebou namate stene beskikbaar geword het.

      Die administratiewe vleuel van die gebou bestaan uit vier klein afgeskorte kan­tore en ’n groot kamer. Rupert, sy sekretaris, J. van R. Maartens, en Hoogenhout het daar gesit. In die vierde kantoor was ’n paar klerke, onder wie Fanie Botha, die latere minister van arbeid.

      ’n Vroeë terugslag was die rantsoenering van rabatbrandewyn deur die KWV, wat kwotas vir proefspiritus vir die drankbedryf op grond van aankope in die ver­lede ingestel het. Hoewel Distillers in die begin 40 000 gellings per jaar in die voor­uitsig gestel het, word weens rantsoenering slegs 9 000 gellings aan hom toegeken op grond van sy oorname van die veel kleiner Forrer Broers.

      Gevolglik, ondanks aansienlike kapitaal en veredelingsgeriewe, was Distillers “all dressed up and nowhere to go”, soos Dirk Hertzog dit in ’n interne memorandum gestel het. “Dit het swoeg en sweet gekos om ten spyte van hierdie in­per­king van Regeringsweë tog suksesvol sake te doen.”5

      Distillers moes sowat 80% van sy toegesegde kwota proefspiritus aan die ouer gevestigde maatskappye soos Castle Wine & Brandy afstaan. Die wiel draai egter wel: In ’n ironiese nasleep is hierdie reus in die drankbedryf in 1969 oorgeneem deur die Oude Meester Groep, wat uit Distillers voortspruit.

      Wat Rupert-hulle aan voldoende voorraad en geboue ontbeer het, word vergoed deur gehaltebeheer wat die produksieproses betref. Dit is dwarsdeur Rupert se lewe een van sy sterk punte. Hy het byna ’n obsessie oor gehalte. Distillers lê hom dus van die begin af toe op die vervaardiging van gehaltebrandewyn soos Oude Meester en vele ander.

      Huberte Rupert besoek dikwels die kelder en wys besoekers rond. Sy toon deu­r­entyd ’n lewendige belangstelling in haar man se sakeaktiwiteite. Haar besoeke sorg soms vir drama: Die nuwe onderneming moes destyds ou bottels gebruik, want daar was nie ’n glasfabriek in die Kaap wat bottels gemaak het nie. Die skoon­maak van die bottels word ’n hele proses, en dit speel voor die laboratorium af; nie juis ’n aanskoulike gesig vir besoekers nie. Daarom het ene Milton, die hek­wagter, ’n paar harde blase op ’n fluitjie gegee wanneer Huberte op besoek kom. Dit is die teken vir die bottelwassers om in die kelder te verdwyn. Huberte en haar besoekers het dan ’n minder belemmerde toegang tot die laboratorium gehad.

      In die naoorlogse jare tree ook een van die tipies menslike fasette van Rupert en sy vrou na vore, twee mense wat intens met die wel en wee van hul werknemers saamgeleef het.

      Die moontlikheid ontstaan dat een van sy kundigste werknemers, Alfred Baum­gartner, ’n Duitser wat uit Swakopmund in die destydse Suidwes-Afrika (Nami­bië) afkomstig was en in 1946 as wyntegnoloog vir Distillers begin werk het, ná die oorlog as ’n vyandige vreemdeling met sy gesin uit Suid-Afrika na Duits­land gedeporteer sou word. Die Baumgartners het trouens al die meeste van hul huis­raad verkoop en het met net hul beddens en vyf kleretasse op die gevreesde de­portasiebevel gewag.

      Op ’n dag stel Huberte voor dat sy vir die drie Baumgartner-kinders sal sorg en na hul ouers in die verwoeste Duitsland sal terugneem wanneer hulle in staat is om hulle te ontvang.

      Baumgartner, vader van die Stellenbosse kunstenares Regine Kröger, is oplaas nie gedeporteer nie, maar hy was baie aangedaan. “Ek was so stomgeslaan deur hierdie groothartigheid, so oorval deur diepe waardering en dankbaarheid, dat ek my gevoelens skaars kon uitdruk. Al die onaangename voorvalle gedurende die oorlog, internering en die bedreiging van deportasie het voor Anton en Huberte Rupert se groot vriendskapsgebaar verdwerg. Nadat die nuwe regering (in 1948) permanente verblyf in Suid-Afrika aan my toegestaan het, het ek gedink daar is net een wyse waarop ek my dankbaarheid kon betoon, en dit was om vir die res van my beroepslewe in Anton Rupert se nywerheidsonderneming te dien,” skryf hy.6

      Die episode kenskets iets omtrent Rupert en sy vrou wat nie algemeen bekend is nie: Hulle maak meer dan eens die lotgevalle van hul werknemers hul eie. Waar hulle kon, help hulle.

      Een so ’n geval is Annies Breytenbach se vrou, Loretta, wat weens mislukte kor­nea-oorplantings oogprobleme gehad het. Rupert stuur haar oorsee vir behande­ling, waarna Breytenbach sê hy sal nooit weer vir ’n ander firma werk nie.

      Huberte was ook baiekeer die hart en ore van werknemers. By een geleentheid word diefstal in ’n afdeling deur middel van ’n naamlose briefie onder haar aan­dag gebring, en sy lig die afdelingshoof daaroor in. Toe die misdryf stopgesit is, ontvang sy weer so ’n briefie wat net lui: “Dankie, mevrou.”

      Toe sy eenkeer in teetyd in die Paarl gaan vra of daar probleme is, sê een vrou: “Ja, ons voel seer dat getroude dames nie pensioenregte het nie.” Huberte gaan daarop reguit na die rekenmeester en vra dat dit reggestel word, want die be­trok­ke groep was boonop die getrouste werkers. Van toe af is hulle op die pensioen­fonds. Jare later kry Huberte ’n brief gerig aan “Ons moeder” – om haar te bedank dat die betrokke werknemer ’n kommerlose oudag kan geniet. “Dit is die soort waardering wat die lewe die moeite werd maak,” merk sy op.

      Sy en ander eggenotes van senior werknemers reël Kersmaaltye en Kers­ge­skenke vir die personeel. Sy wens ook Rembrandt-werknemers wat in sport uitblink, persoonlik geluk wanneer hulle presteer deur byvoorbeeld provinsiale kleure te verwerf.

      Haar

Скачать книгу