Anton Rupert: 'n lewensverhaal. Ebbe Dommisse

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Anton Rupert: 'n lewensverhaal - Ebbe Dommisse страница 39

Anton Rupert: 'n lewensverhaal - Ebbe Dommisse

Скачать книгу

sektore – handel, nywer­heid, finansies en mynwese – onderneem het, toon dat die Afrikaners se bydrae ten opsigte van omset in die private sektor in die dekade sedert die Eerste Eko­no­miese Volkskongres feitlik verdubbel het. Die sterkste vordering was in die handel, gevolg deur die nywerheid, maar tog kom die totale bydrae vir al vier sektore op slegs 11% te staan – steeds nie indrukwekkend nie, maar ten minste is ’n begin gemaak.

      Rupert, wat op 4 Oktober 1950 op die eerste dag van die driedaagse kongres sy 34ste verjaardag vier, staan as ’n betreklike jong man tussen ander sprekers wat oor die algemeen ouer en meer ervare as hy is – dr. Malan, wat die kongres open, dr. Nic Diederichs, prof. C.G.W. Schumann, dr. M.S. Louw . . .

      Hy begin sy toespraak deur die gehoor daaraan te herinner: “Maar ons persentasie bydrae tot die nywerheid is nog klein en nouliks 6% – veels te klein om nou al die stutte onder hierdie klein volksgebou uit te trek en brûe na ander te bou.”

      Onmiddellik voeg hy daaraan toe: “Ons is altyd bereid om saam met julle te werk, maar nie altoos vir julle nie. Ons vra geen gunste of gawes nie want ’n volk red homself!”

      Hy wei uit oor Suid-Afrika se nywerheidsontwikkeling in die vorige 25 jaar. ’n Kwarteeu tevore was die Suid-Afrikaanse nywerheidsproduksie minder as £100 miljoen per jaar; sedertdien het dit toegeneem tot £700 miljoen per jaar, ’n styging van 700%. “Ons het waarskynlik op nywerheidsgebied relatief vinniger gevor­der as enige ander land in die wêreld – selfs vinniger as Amerika of Rusland.”

      Rupert beskryf dit as ’n industriële revolusie. Hy skryf dit toe aan onder meer wetgewing wat die Nasionale regering van genl. Hertzog ná sy bewindsoorname in 1924 deurgevoer het, waardeur onder meer Yskor (die yster-en-staalkorpora­sie, later vernoem tot Iscor) tot stand gekom het, asook aan die rol wat Afrika­ner­entrepreneurs soos Hendrik van der Bijl, Hendrik van Eck en Frikkie Meyer in die opbou van die land se grootste basiese nywerhede gespeel het.

      Tog beheer Afrikaners in daardie stadium minder as 1% van die mynbou- en nywerheidsondernemings, waarvan die markwaarde meer as £1000 miljoen op die beurs beloop.

      Hy waag die mening dat die nywerheid die gebied is waar Afrikaners die beste sal presteer. “Alleen waar die nywerheid grens aan die handel lê ons probleme; probleme van bemarking, verkoopbaarmaking en reklame wat aanvulling en on­dervinding verg wat nie op universiteite of uit teksboeke bygebring kan word nie.”

      Hy was twaalf jaar tevore in Bloemfontein om namens die studente hulde te bring aan wyle vader Kestell op sy 84ste verjaardag. “Ek herinner my heel goed sy bedanking aan die studente, en op sy hoë ouderdom het hy gesê: ‘Ek leef nie in die verlede of die hede nie, maar in die toekoms.’”

      ’n Konstante blik op die toekoms sou ’n refrein in Rupert se loopbaan word. Hy bewys dit ook in sy toespraak van 1950 terstond met ’n pleidooi om opheffing van swart mense (wat hy in die heersende taal van destyds “naturelle” genoem het).

      Hy voer aan dat Suid-Afrika deur die nasionale strewe van die Afrikaner om­skep is in ’n nywerheidsland wat werk aan duisende Afrikaners in die stede ver­skaf. “Maar dit het ook werkverskaffing gebring aan honderdduisende natu­relle. Die ongekende groei het meer as 30 000 naturelle per jaar na die stede gelok en meer naturelle uit die Noorde na Suid-Afrika getrek as ooit gedurende die vorige eeu.” Dit het veroorsaak dat elke stad in die land meer swart mense as wit mense het.

      Hy bepleit die “ou beskawingstaak” as antwoord op hierdie ontwikkelings wat “een van ons grootste aktuele vraagstukke” meegebring het.

      “Vir die bestaan van beide die naturel en onsself is dit nodig dat ons die mees­terskap in eie gebied en voogdyskap in sy gebied sal aanvaar. Maar ’n meesterskap gebaseer op prestasie – Meester wees maar Meester werd.

      “Ons moet ons nywerhede nog verder uitbou sodat ons finansieel in staat sal wees om reg te laat geskied en om te kan bestaan as goudontginning eendag ver­val. Ons moet ons staal- en petrolnywerhede uitbou om beide ons en die naturel te beskerm teen ’n vreemde juk in geval van ’n nuwe oorlog. Daar moet na­tu­relle wees wat weet dat ons howe die basiese menslike regte beskerm en ook sal twy­fel aan die voorgegewe vryheid uit vreemde lande.”

      Rupert lê twee gedagtes in die gehoor se midde.

      Die eerste is dat Afrikaanse nyweraars dit op hulle moet neem om met ’n aanvangskapitaal van £5 000 ’n maatskappy sonder winsbejag te stig – wat hy die Bantoe Ontwikkelingskorporasie noem – met die oog daarop “om lokale nywer­hede in die naturellegebiede op beskeie manier aan te voer. Dit te doen as blyk van ons goeie bedoelings en opregte strewe.”

      Sy tweede voorstel is die oprigting van ’n korporasie vir immigrasie uit Euro­pese lande. “Ons het reeds ’n tekort aan geskoolde blanke arbeid selfs ook, meen ek, op ons plase. Ons moet hierdie twee hand aan hand laat gaan – die een moet die ander aanvul.”1

      Rupert ontvang ’n staande ovasie van die kongresgangers, onder hulle ook sy vader, John, sowel as sy oudskoolhoof, dr. G. von W. Eybers.

      Sy aandrang op ontwikkeling van swartes, hoewel agterna beskou paternalis­ties ingeklee in die woordgebruik wat destyds gangbaar was, hou inderdaad die idee van deelgenootskap in wat hy vorentoe met groot oortuiging sou verkon­dig.

      Hy staan ook nie alleen in sy pleidooi dat ekonomiese toenadering tot ander be­volkingsgroepe wenslik is nie. Dieselfde gedagte word op die volkskongres ge­­opper deur dr. Diederichs sowel as prof. L.J. (Wicus) du Plessis, wat verklaar: “Nou­dat ons staanplek verower het in die sakelewe deur ons kragte onder mekaar saam te snoer, moet ons begin brugge slaan na die ander bevolkingsgroepe om ons invloed op en ons diens aan ons landsekonomie as geheel te versterk.”2

      Rupert se toespraak, hoewel goed ontvang ondanks die destydse werklikheid dat die ekonomiese mag oorweldigend in die hande van Engelssprekendes was, was in belangrike opsigte ’n voorspel tot die debat wat jare later in Afrika­ner­kringe oor ontwikkeling van die swart tuislande, die rol van verstedelikte swartes en dergelike sake gewoed het.

      ’n Lang tyd het daar egter niks van sy voorstelle gekom nie. Rupert reageer lakonies daarop: “Daar was toejuiging, maar nie aksie nie.”

      Hyself sou egter die idee van deelgenootskap veel verder voer, aanvanklik in sy sakeketting in Suid-Afrika en in die buiteland, en uitkringend na sy medemens en die natuur en diereryk.

      Innovasie met produkte is ewe doelgerig deur Rupert nagestreef. Hiermee het Rembrandt, hoewel hy in die begin in werklikheid geen kontant gehad nie, baie dinge “geprakseer”, soos hy dit stel.

      Die groep spits hom uit die staanspoor daarop toe om deur navorsing nuwe en beter produkte in die tabakbedryf te lewer. Hoewel die tabakbedryf ryk aan tradisies was, besef Rupert as entrepreneur ook dat tot die helfte van nywerheids­produkte ’n kwarteeu tevore totaal onbekend was. “Ons het ons daarom doelgerig daarop toegespits om deur navorsing nuwe en beter produkte in die tabakwêreld te lewer,” beklemtoon hy. Innoverende produkte word op die mark gebring voor­dat mededingers dit kon doen. In die proses is hard gewerk. “Ons glo dat sukses behaal word deur diegene wat daardie ekstra bietjie lewer, en dat 24 uur in ’n dag eintlik te min is.”

      ’n Nuwe filter, die Golden Throat, en ’n nuwe verpakking, All Seal, word vroeg bekend gestel. Rembrandt het geen masjiene gehad om kartonpakkies te maak nie, en vervaardig toe papierpakkies met aluminium buite en binne: die All Seal.

      ’n Dramatiese innovasie is die eerste filtersigarette van koningsformaat wat in 1952 op die mark gebring word – ’n volle jaar voor enige ander maatskappy ter wêreld. “Weer eens omdat ons nie geweet het dat dit nie moontlik was nie,” vertel

Скачать книгу