Anton Rupert: 'n lewensverhaal. Ebbe Dommisse

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Anton Rupert: 'n lewensverhaal - Ebbe Dommisse страница 38

Anton Rupert: 'n lewensverhaal - Ebbe Dommisse

Скачать книгу

uit Amerika ontvang is:

      “Die Afrikaanse taal ontvang erkenning buite die grense van Suid-Afrika, selfs in internasionale handelskringe. Toe die Rembrandt-fabriek in die Paarl ’n besending sigaretpapier van die Ecusta Paper Corporation, Noord-Carolina, VSA, ontvang het, was die werknemers aangenaam verras om tweetalige etikette te sien op die houers waarin die sigaretpapier verpak is. Hiermee het Ecusta geskiedenis gemaak, want sover vasgestel kan word, is dit die eerste keer dat ’n oorsese lewe­ransier Afrikaans op hierdie wyse erken. Die blote feit dat Ecusta uit eie beweging die taal van sy kliënte respekteer, is sonder enige twyfel een van die faktore wat tot die suksesvolle ontwikkeling van hierdie onderneming bydra.”

      Rupert verkoop in die beginjare nie net geesdriftig aandele nie, hy koop self ook uit sy eie salaris aandele in die Rembrandt Trust, wat die houermaatskappy van die Rembrandt Groep geword het.

      Rembrandt Tabakkorporasie word in 1956 op die Johannesburgse Aandele­beurs genoteer, en soos TIB en Tegkor word dit ’n belegging sonder weerga. In 1999 wys Rupert daarop dat iemand wat in 1948 aandele van R1 000 in die Rembrandt Groep gekoop het, toe R17 miljoen daarvoor kon wys, sonder dat dividende bygereken is. In 2002 is bereken dat die eerste aandeelhouers wat R1 000 se aandele gekoop het, in die nuwe millennium oor ’n fabelagtige bedrag van meer as R30 miljoen sou beskik. Dit is as die waarde van Remgro, VenFin en Richemont saam bere­ken word. Uit aandele wat in waarde met 3 000 000% toegeneem het, het Rembrandt van baie mense miljoenêrs gemaak.

      Elke nuwe aandeelhouer ontvang in die beginjare “as ’n lid van die Huis van Rembrandt” van Rupert ’n brief van verwelkoming wat hy persoonlik onder­teken. Sy werkdag begin gewoonlik met ’n paar leggers briewe en korrespondensie wat hy moet onderteken.

      In die verwelkomingsbrief verduidelik hy die posisie van die maatskappye. Rem­brandt Tabakkorporasie is die moeder- of beherende maatskappy wat kapitaal belê in twee filiale. Die een is die vervaardigingsmaatskappy, Rembrandt Tabak­ver­vaardigingskorporasie van Suid-Afrika Beperk, wat die beroemde Rembrandt-sigaret en bekende pyptabaksoorte soos Drosdy, Rembrandt, Bandmaster en Spoor vervaardig, en die ander Rembrandt Tabakkorporasie (Oorsee) Beperk, die verkoops­maatskappy wat die beroemde Rembrandt-sigarette na oorsese markte uitvoer.

      “Al die maatskappye in hierdie groep staan 100% onder Afrikaanse beheer en word nie deur buitelandse maatskappye beheer nie. Ons is trots op ons produkte en ons is trots op ons afkoms,” lui die verwelkomingsbrief.

      “Om hierdie status te bevestig het ons u hulp in drie opsigte nodig:

      “Eerstens wil ons u versoek om elke dag ’n nuwe Rembrandt-roker te kry.

      “Tweedens vra ons u om van tyd tot tyd enigiets van gemeenskaplike belang aan ons te rapporteer. Met hierdie doel voor oë stuur ons binnekort aan u ’n klein voorraad memo-vorms en antwoordbetaalde koeverte sodat u dit net op die pos kan doen.

      “Derdens wil ons u vra om nie ligtelik u aandele te verhandel nie. Bewaar dit vir die nageslag.”

      Daarna word gekonstateer dat die Afrikaanse boer ongetwyfeld die beste tabak kweek en dat die hoë standaard wat Rembrandt met sy produk en verpakking stel, hom die “mees gesogte sigaret in Suid-Afrika” gemaak het.

      “Die aanvraag na ons sigarette is natuurlik aansienlik groter as ons produksie en indien u in ’n area woon waar Rembrandt nog nie beskikbaar is nie, vra tog asseblief u vriende om ’n bietjie geduld te beoefen – REMBRANDT KOM!

      “Die Afrikaner het ontwaak in die handelswêreld in die algemeen en in die ta­bak­bedryf in die besonder en hierdie ontwaking is ’n sterk gety wat deur niks ter wêreld gestuit kan word nie.

      “Ons nooi u uit om by hierdie gety aan te sluit, sodat ons met trots ’n waardige erfenis aan ons seuns en dogters van die volgende geslag kan oorhandig.”

      Die brief is onderteken deur die persoon wat sy eie raad gevolg en aandele be­waar het wat ’n fortuin werd geword het:

      “Met opregte groete

      “Agtend, die uwe

      “A.E. Rupert

      “Besturende direkteur”

      Rupert het die drakrag van tabak korrek getakseer. Sy seun Johann, wat die voor­sitterskap van die groep oorgeneem het, verklaar in hierdie verband: “The reason my father went into tobacco is because he studied those industries of the thirties that survived the Depression and tobacco was the only one that didn’t get blown out of the water, so he felt that he wasn’t going to spend his whole life building a company and then find some exogenous facet like a major depression wrecking everything.”

      In Mei 1953 beantwoord Rupert op ’n konferensie van verkoopbestuurders self die vraag waarom Rembrandt in die tabakbedryf is. Eerstens, sê hy, moet onthou word dat tabak van die vroegste jare af ’n ruilmiddel was. Dié funksie het sigarette tydens die Tweede Wêreldoorlog vervul. In die ou tyd het tabak onder die Ameri­kaanse Indiane die plek van mirre en wierook ingeneem. Ten tweede is sigarette depressiebestand. Groot voorrade tabak kan nie oornag hul waarde verloor nie.

      Daarbenewens is ’n sigaret volgens Rupert “iets intiems en persoonliks”. Trou­ens, en hy verwys met ’n sekere mate van irritasie daarna: “Ons, die Afrikaners, was die enigste Westerse volk sonder sy eie sigaretfabriek. Elke beskaafde volk het sy eie sigaret. Ons moet ook ons eie hê.”

      Hy vervolg dat die sukses wat tot dan toe behaal is, die illusie verbreek het “dat dit slegs Engelse en Jode is wat kan besigheid doen. Dit was noodsaaklik dat ie­mand die illusie breek.”

      Rupert, wat besef het dat sy produkte twee keer so goed soos ander mede­din­gers moes wees as hy blywende welslae wou behaal, bou algaande ’n sterker mede­dingende voordeel op. Vanweë die steeds stygende aanvraag word die fa­briek in die Paarl vergroot en weer vergroot, gemeganiseer deur nuwe masjiene aan te koop, en produktiwiteit steeds opgestoot terwyl gehaltebeheer streng vol­gehou word.

      Nogtans, bedag daarop dat ’n prysoorlog sy groep erg kon seermaak, besluit hy om na die buiteland te beweeg. Hy doen dit om lonende nuwe markte op te bou, en in die proses kom hy ook vorendag met innovasies wat mededingers agtergelaat en rookpatrone internasionaal verander het.

      Hoofstuk 8

      Vorentoe met innovasie

      Twee van die redes wat Rupert vir die Rembrandt Groep se sukses uitsonder, is innovasie van denke en innovasie van produkte. Hy het dit wyer as die bedryfslewe probeer toepas.

      Sy vernuwende denke, wat verreikende maatskaplik-ekonomiese implikasies ingehou het, kom sterk na vore reeds op die Tweede Ekonomiese Volkskongres, wat in 1950 in Bloemfontein gehou is in opvolging van 1939 se Eerste Ekono­mie­se Volkskongres. Dit is op hierdie tweede kongres, voordat Rembrandt enige bui­te­landse belange bekom het, dat hy die eerste keer deelgenootskap as sakefilo­so­fie in die openbaar verkondig.

      Hy bepleit ware deelgenootskap – waarby hy ook swartes wil betrek; ’n byna revolusionêre idee in die heersende tydsgees van daardie jare – as die enigste m­a­­nier waarop die voordele van private onderneming tot seën vir die mensdom aangewend kan word.

      Rupert hou sy toespraak, getitel “Die Afrikaner in die nywerheid”, twee jaar nadat dr. D.F. Malan die bewind in 1948 oorgeneem het deurdat die Nasionale Party genl. Jan Smuts se Verenigde Party verslaan het. Afrikanernasionalisme was op ’n hoogty, vol selfvertroue. Die doel van die kongres was om ’n opgawe van die vorige dekade se ekonomiese vordering te maak en besieling daaruit te put. Met die

Скачать книгу