'n Dief aan die kers - Skelm woorde deur die eeue. Anton F. Prinsloo

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу 'n Dief aan die kers - Skelm woorde deur die eeue - Anton F. Prinsloo страница 13

Автор:
Серия:
Издательство:
'n Dief aan die kers - Skelm woorde deur die eeue - Anton F. Prinsloo

Скачать книгу

opgeblase was. In Grieks het bombux “sywurm” beteken – bombastiese spraak is dikwels ook so uitgerek soos die sydraad om ’n kokon (wat terloops tussen 600 tot 900 meter lank kan wees). Dit gee ’n nuwe betekenis aan die woord langdradig.

      bonanza — voorspoed, geluk

      Die Spaanse seevaarders het met bonanza begryp “mooiweer” en kalmte na ’n hewige storm (en waarskynlik bakleiery in ’n seegeveg om ander skepe te beroof). In Matteus 8:26 word verhaal hoedat Jesus die storm op see laat bedaar het en “dit het doodstil geword” – wat in Spaans vertaal word met una grande bonanza. Ons woord bonus (Latyn “goed”) is nie net familie nie, maar ook die oorsprong waarop bonanza gebou is.

      boord — die kant van ’n skip

      In ou Europese tale soos Oudfrans, Teutonies en Middelengels was die boord eintlik ’n plank (Engels board) en dit is oorgedra op die kant van die outydse houtskepe. Om aan boord te gaan, was eers om na die kant van die skip te gaan, soos in die vroeëre seegevegte. As die skepe langs mekaar was, is die een met gryphake aan die ander vasgehou en kon die matrose aan boord van die ander skip gaan. Dié boord het ons vandag nog in die woorde bakboord en stuurboord. Aanvanklik was eersgenoemde die kant van die boot of skip wat agter jou bak (“rug”) was, want in die wêreld waar regterhanders die botoon voer, het die skipper agter gesit en die roerstok met sy regterhand beheer terwyl sy rug na die see gekeer was. Aan sy voorkant was die stuurkant. Die woord bak vir die rug van ’n persoon vind ons ook nog in die woord agterbaks, met ander woorde “agter jou rug”, waar ’n vuilis dinge doen sonder dat jy daarvan weet. In Oudfrans was bord ’n “plank, tafel”. Die bord waaruit geëet word, was vroeër inderdaad ’n stuk plank, soos vandag se broodbord; vandaar ook die verband met tafel. In Middelnederlands (wat tussen ongeveer 1250 en 1500 in Nederland gepraat is), het bord ook die wisselvorm boord gehad.

      bottel — houer, fles vir ’n vloeistof

      Vandag is dit van glas, maar vroeër eeue was die houer vir wyn, die bottel, ’n velsak. Dit was in elk geval praktieser as om uit oordrewe romantisisme uit die skoen van ’n skone dame te drink. Die Engelse bottle het boot (skoen) as voorgeslag — wat natuurlik ook uit vel of huid gemaak is. Die woord bottel is in Nederlands eers laat gebruik vir fles.

      botter — vetstof uit room verkry

      Daar word vermoed dat botter uit Skithies kom (Skithië was al die lande noordoos van Wes-Europa en die noordkus van die Swartsee). Die Grieke het die woord bouturon waarskynlik geleen: bous “os, koei” + turos “kaas”. Botter was dus os- of koeikaas. Die koei- of os- is waarskynlik vooraan gevoeg om die produk te onderskei van bokooi- of skaapooikaas. Botter is in antieke tye in Indië, Iran en Noord-Europa gebruik, maar nie deur die antieke Romeine of Grieke nie. Die antieke Romeinse geskiedskrywer Herodotus noem botter as een van die eienaardighede van die Skithiese bevolking (saam met dagga!).

      boudoir — slaapkamer

      As madame haar vererg het, het die heer van die huis hom nie daaraan gesteur nie, maar haar beveel om haar dikbek in die slaapkamer te gaan afblaas. Die Franse werkwoord bouder beteken “pruil” en boudoir “pruilkamer”. Koning Lodewyk XV (1710–1774) se minnaresse het die een ná die ander (daar was ’n hele aantal) hulle misnoeë met sy sekskapades te kenne gegee deur hulle onderlippe uit te stoot. Die bekendste een was die berugte madame De Pompadour (1721–1764) wat koningin Marie as ’t ware uit die koninklike lakens gelig het. Marie self het agt, nege of tien kinders by haar man gehad, voordat sy hom meegedeel het dat sy nie langer in hulle boudoir belang gestel het nie.

      terug na → KABARET

      boulevard — boomryke straat vir wandelings

      Soos wat die verskillende volke hulle barbarismes afgegooi het, het stede nie meer skanse, dit wil sê boulevards of bolwerke, nodig gehad nie. Maar in plaas van hulle plat te slaan, het hulle die mure as (verhoogde) paaie gebruik waar mense rustig kon wandel. Die Nederlandse woord bolwerk het hom ook in ander tale as Frans tuisgemaak, byvoorbeeld Engels bulwark, Deens bolværk, Sweeds bàlverk; Pools bolwark, Russies bolverk en Italiaans baluardo.

      brassière — buustelyfie, bra

      In Frans het die bra as armskut onbeskaamd manlik die arm (Frans bras) beskerm en nie ander, losweg gesproke, dele gestut nie.

      bravo — uitroep van bewondering

      In Italiaans het bravo “dapper” beteken (soos Engels brave), maar vroeër was dit die naam vir ’n sluip-, huur- of enige soort moordenaar (wat in elk geval dapper sou moes wees). Nie almal was nie: een bron (net met die naam Florio) beskryf die bravo as ’n vuur­vreter wat jou vir geld sou beskerm; maar as gevaar gedreig het, was hy die eerste wat sy skurwe hakskene sou wys.

      ’n Bruid was eeue gelede skoondogter genoem. Dié eienaardige betekenis kom uit die Gotiese taal wat tussen ongeveer die 4de en die 9de eeu deur die Gotiese volk in veral Wes-Europa gepraat is. In die antieke Indo-Europese tradisie het die getroude vrou by haar man se familie gaan woon. Die enigste pasgetroude vrou (die bruid) in so ’n familie sou die skoondogter wees. Sommige taalkundiges meen ook dat die woord terugslaan op die Proto-Indo-Europese stam bru- wat “kook” beteken het, want dit was die plig van die skoondogter.

      Die bruidsruiker is ’n oorblyfsel van die sogenaamde corona nuptualis (’n kopkrans wat deur die Grieke en Romeine gebruik is om oorwinning aan te dui).

      Die troukoek spruit uit ’n soort huwelik wat net deur die boonste lae van die Romeinse samelewing aangegaan kon word. Dit is voor tien getuies deur die Pontifex Maximus (die hoogste hoëpriester) bevestig en die bruidspaar moes saameet aan ’n koek wat van sout, water en meel gemaak was. Die snobs het ook bepaal dat net mense wat so getrou het, vir die hoogste godsdienstige ampte in aanmerking kon kom. By hierdie seremonie het die bruidegom stom daar gestaan en kyk hoe sy ongetroude vriende die bruid inbring en agterna deur getroude mans huiswaarts begelei word. Dalk sou hy eerder met een van hulle se skoondogters wou trou. (Die -gom van bruidegom was ’n ou betekenis van “man”: dus bruidsman.)

      terug na → TROUKOEK

      bruidegom → BRUID.

      bruidsruiker → BRUID.

      bulimie — sieklike eetsug

      Die ongelukkige mense wat aan dié siekte ly, word so honger dat hulle voel of hulle letterlik ’n os sal kan opeet. Die woord kom uit Grieks boulemia “oshonger” en is saamgestel uit bous “os” + limos “honger”.

      Конец ознакомительного фрагмента.

      Текст предоставлен ООО «ЛитРес».

      Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.

Скачать книгу