'n Dief aan die kers - Skelm woorde deur die eeue. Anton F. Prinsloo

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу 'n Dief aan die kers - Skelm woorde deur die eeue - Anton F. Prinsloo страница 10

Автор:
Серия:
Издательство:
'n Dief aan die kers - Skelm woorde deur die eeue - Anton F. Prinsloo

Скачать книгу

assassin is bedwelm om ’n soort “dood” voor te stel, en is daarna “opgewek” in ’n tuin met stortvloede wyn en kos wat deur maagde voorgesit is. Hy was oortuig daarvan dat hy in die hemel aangekom het en dat Sabbah die verteenwoordiger van die god was wat hulle onder alle omstandighede, selfs tot die werklike dood, moes gehoorsaam.

      Ander bronne beweer dat jong seuns na die tuin gebring is waar hulle met hasjisj in bedwelming gehou is. Op ’n sekere tydstip is die dwelm onttrek en is hulle gekerker. Hulle is daar in kennis gestel dat hulle die paradystuin net weer sou sien as hulle bereid was om Sabbah tot die dood te volg, al het dit die grootste selfopoffering en selfs moord vereis. Die hasjisj sou dan hasjasjin opgelewer het – die basis vir die woord assassin.

      Die dweepsieke Islamitiese sekte het hom dalk ook in Palestina gevestig en berug geword as gevolg van die moorde wat sy lede gepleeg het. Die manne het opdrag van Sabbah (bekend daar as “die ou man van die berge”) gehad om alle Kruisvaarders uit te moor. Volgens oorlewering het hulle dit onder invloed van hasjisj gedoen, of is hulle agterna met dié dwelm beloon. Die Mongole het hulle (gelukkig) in die 13de eeu uitgemoor.

      atlas — boek met landkaarte

      Die boek met kaarte het niks met die herkoms van die benaming te make nie – ook nie die mitologiese spierpaleis (Atlas) wat die wêreld op sy skouers dra nie. Atlas is ’n soort satynsy wat uit die Verre-Ooste gekom het en het in Arabies “glad” beteken. Die werkwoord talasa beteken “glad vryf” – maar die eerste kaartboeke is op materiaal gedruk en het toe dié naam gekry.

      atleet — sportman in atletiese oefening

      Al het iemand van jou ’n standbeeld gemaak waar jy (naak) ’n diskus aan ’t gooi is, is jy nog nie ’n atleet nie. Jy moes eers aan ’n kompetisie deelgeneem en gewen het, soos die Olimpiese Spele, want die Grieke het jou dan met ’n athlon “prys, trofee” beloon. Atleet was dus eerstens ’n prys.

      atoom — stofdeeltjie wat net deur radioaktiwiteit verdeel kan word

      Toe dié naam toegeken is, het niemand nog geweet dat die atoom nie die kleinste van die boustene van die heelal is nie. Die Grieke het geglo dat dit onsnybaar was, vandaar die naam (a “nie” + tomos “’n snit” van temnein “sny”).

      atrium — voorhof

      In Romeinse tye was die atrium die sentrale kamer van ’n antieke huis. Sommige bronne meen dat daar ’n gat in die dak was waardeur die rook uit die vuurherd kon ontsnap. In die veronderstelde antieke taal Proto-Indo-Europees het ater “vuur” beteken en atrium skoorsteengat in ’n dak – dit het niks met die voorhof te make gehad nie. (Proto-Indo-Europees was die oertaal waaruit die mees antieke Indo-Europese tale gestam het.)

      atropien — verdowingsmiddel

      Die Grieks mitologiese skikgodin Atropos kon baie vinnig jou noodlot bepaal, net soos atropien wat uit die dodelike ­belladonna verkry word en na haar genoem is. En jy sou niks daaraan kon doen nie, want haar naam beteken “onbuigbaar”. As sy haar tande vasgebyt het oor jou toekoms, was jy jou eie verlede. (Maar omdat dit vir senusiekte ingespan word, sou jy darem hopelik kon kalm bly.)

      atrositeit — afskuwelikheid

      In Proto-Indo-Europees waarskynlik ’n vuurvreter – maar beslis nog nie afskuwelik soos vandag nie. In Nederlands het atroos “wreed, barbaars” beteken net soos in Latyn atrocitas.

      au pair — gewoonlik ’n meisie wat by ’n gesin inwoon om die kinders op te pas en te versorg

      Die Franse herkoms is letterlik “eweknie (van die moeder), op gelyke voet”, dit wil sê met toegang tot alle voorregte en genietinge van die gesin. Die feit dat sy ook die moeder se eweknie was, het in talle huise (en sal nog in talle huise in die toekoms) veroorsaak dat sy van matras verander het.

      aura — subtiele uitstraling om lewende wesens

      ’n Deftige definisie vir ’n gewone windmaker (uit Latyn aura “bries, wind, lug”).

      Die oorspronklike betekenis van die woord laat ’n mens sommer besluit om dit nooit weer te eet nie. In die 16de-eeuse Asteketaal Nahuatl van Sentraal- en Wes-Meksiko is dié vrug die ahuacatl genoem. Dit het “testikel” beteken en is so genoem na aanleiding van die vorm van die vrug, of omdat geglo is dat dit ’n afrodisiakum is. Toe die Spanjaarde daar aangekom het, het hulle ’n wisselvorm aouacate gehoor wat hulle as avocado uitgespreek het. Engelse matrose was nog meer deur die war en het van die alligatorpere (alligator pears) gepraat. Maar die bloukouse bederf dié herkoms met die prosaïese verduideliking dat die skil van die vrug donkergroen, dik, leeragtig en knopperig is – omtrent soos die vel van die alligator; → ORGIDEE.

      terug na → ALLIGATOR

      avontuur — voorval, opwindende gebeurtenis

      Volgens die Romeine was ’n avontuur iets wat ’n mens nie sou kon vermy nie en wat gaan kom. Aventura het “(iets) wat gaan gebeur” beteken (uit ad “om” + venire “kom”).

      B

      bakatel — kleinigheid

      In Latyn het baga “vasbind (in bondels)” beteken wat later in Frans bagage “bagasie” sou word. Maar as moeder na vader luister en nie die hele huishouding plus die kat op vakansie saamneem nie, is daar net klein pakkies in die ­bagasie – kleinighede wat as bakatelle beskou kan word. Bagasie het later na onbelangrike bondels verwys wat kort daarna as vullis beskou is. In hierdie sin het die Franse bagasse gebruik vir ’n nuttelose vrou wat agter die soldate se kamp aangetrek het en ongetwyfeld haar rantsoen horisontaal verdien het.

      In Italiaans was bagatella ook onder meer ’n bessie — iets kleins dus.

      bakterie — eensellige organisme

      Die eerste bakterieë wat met die mikroskoop gesien is, het soos stokkies gelyk en is dus daarna vernoem (Grieks bakterion “staffie”).

      bal — gewoonlik formele dansparty

      Dit is maklik om die woord terug te voer na die Latynse ballare “om te dans” – maar daar is ’n stertjie aan. In die Middeleeue is op verskeie plekke in Europa (veral Napels in Italië) ’n eienaardige speletjie in die kerk deur die deken van die kerk en die koorseuns gespeel. Dit is die Gekkefees genoem. Die seuns het om die deken gedans en gesing terwyl hulle ’n bal vang wat hy na hulle toe gooi. Daar is ook gespot met die kerklike instellings. Die bal is agterna weggegooi, maar die dansritme is ballade genoem – as ’n mens die bron kan glo.

      balalaika — Russiese driehoekvormige snaarinstrument

      Waar ’n mens deesdae in ’n musiekuitvoering nie op jou tande mag kners sonder dat die geluid jou buurman aanstoot gee nie, het die vroeë spelers van die balalaika ’n gebabbel om hulle verdra. Altans, so lyk dit as ’n mens in ag neem dat die instrument sy naam van ’n Russiese woord gekry het wat waarskynlik verwant was aan balabolit wat “praatsiek, klets, babbel” beteken.

      balein — stof wat uit walvisbaard gemaak word

      Die Grieke se verbeelding het dikwels om die mens en sy liggaamsdele

Скачать книгу