'n Dief aan die kers - Skelm woorde deur die eeue. Anton F. Prinsloo

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу 'n Dief aan die kers - Skelm woorde deur die eeue - Anton F. Prinsloo страница 6

Автор:
Серия:
Издательство:
'n Dief aan die kers - Skelm woorde deur die eeue - Anton F. Prinsloo

Скачать книгу

ABC kan net sowel die os, huis genoem gewees het. Grieks alpha, beta was in Hebreeus alef (“os”), beth (“huis”), na aanleiding van die Fenisiese simbole vir die letters. Dié verruimende inligting is wyd bekend, maar daar is ’n Engelse stertjie aan. Talle der talle kere word die naam van ’n Engelse winkel as Ye olde shoppe aangedui. Die ou Engelse alfabet het ’n ekstra letter gehad, naamlik thorn. Dit het die th-klank soos in die woord this verteenwoordig en het só gelyk: þ. As dit geskryf is met die ringetjie van die þ oop, het dit na ’n Y gelyk en vandaar die Ye, in plaas van The (þe).

      algebra — onderafdeling van wiskunde

      Die oorspronklike betekenis van die woord was om die pype van gebreekte bene te heg. Arabies al-jebr beteken om dinge weer bymekaar te bring. In die 16de eeu was wiskundiges die kluts kwyt en het gedink dat die woord algebra vernoem is na die Arabiese chemikus, Geber (die al beteken “die”). Op die gebied van die wiskunde is die herkoms ’n verkorting van die frase ibr al-jebr wa’lmugabalah: die naam van die wetenskap van hereniging en gelykstelling.

      Die Latynse bywoord alias beteken eintlik “op ’n ander tyd, by ’n ander geleentheid, iemand anders” en hang dus nou saam met alibi. In Nederland was dit vroeër ’n skertsende bynaam wat net spottend gebruik was; ALIBI.

      Alibi is eintlik die verkorting van die Latynse ali-ubi “ander plek”. In Engeland het ’n oorlosie wat ’n sekere uur slaan maar waarvan die wysers ’n ander tyd aandui, in die 19de eeu die naam alibiklok gedra.

      terug na → ALIAS

      alimenteer — geld betaal aan ’n geskeide gade ter onderhoud

      Oorspronklik het alimenteer net te make gehad met die veror­bering van voedsel wat langs jou alimentêre weg hulle pad moes vind sodat jy nie ondervoed raak nie. Ongelukkig ken jou gewese vrou nie dié betekenis nie en vra nog ’n klomp onverteerbare geld daarby wat sy met jou gewese motor kom haal as jy ’n dag laat is – en dit meestal op ’n maandelikse basis. Sommige geskeide mans is selfs bereid om die hoogste kulinêre offer te bring, soos om sy eks daagliks met sjampanje en oesters te bederf, as sy van die maandelikse geld sou vergeet. Die alimentêre kanaal is die vakterm vir die spysverteringskanaal waardeur ’n mens gevoed word (Latyn alere “voed”).

      alkohol — suiwer wyngees deur distillasie verkry

      G’n dame wat haar maskara werd is, sal alkohol aan haar oë smeer nie. Maar eeue gelede was die Arabiese woord vir fyn oogpoeier al-kuhl. Die kuhl is in Afrikaans kohl “fyn donker poeier van die element antimoon gemaak” en dié is ter verfraaiing en verleiding om die oë gebruik; → antimoon. Omdat dit so suiwer was, is die woord alkohol later deur die alchemiste aan enigiets gegee wat gesuiwer is, veral deur distillasie – en vandaar ons verbasende moderne betekenis (wat ’n mens soms dronkslaan).

      allegorie — ’n simboliese vertelling of voorstelling met ’n dieper betekenis van iets wat werklik plaasgevind het of bestaan

      Dié deftige definisie beteken eintlik maar net “vergaderingspraatjies”. In die meeste vergaderings word warm lug heen en weer gebesig – wat met die koelte van die volgende oggend verdwyn. Byvoorbeeld: Die minister van landbou sal jou met ’n mooi storietjie probeer oortuig dat die rioolsloot oor jou grond drinkwater na jou vee vervoer. Dit omvat die betekenis van allegorie: ’n gepraat oor een ding terwyl ’n ander bedoel word. In Grieks het allos onder meer “ander” beteken en daarby is agora “vergaderplek, veral die markplek” gevoeg. Maar hoekom juis die mark? In vervloë dae was die mark die plek waar die skinderpraatjies uitgeruil is. Sommige van dié stories kon ’n mens in die moeilikheid laat raak — en daarom het jy liewer jou sappige nuus indirek oorgedra. Die mense wat hierdie agterbakshede verkondig het, het eintlik oor “ander dinge” gepraat. Later is die woord met agora verenig.

      Die vorm en grootte van ’n akkedis het die Romeine aan die vorm van die boarm laat dink en hulle het wat vandag die Engelse lizard is, lacertus “boarm” genoem. In Spaans was dit el lagarto wat later die wisselvorm alligarter gekry het.

      In die VSA word die avokadopeer dikwels alligatorpeer genoem. Die oorspronklike Asteekse naam daarvoor was ahuacatl met die wisselvorm aouacate wat die Spaanse veroweraars se swaar tonge as avocado uitgespreek het; → AVOKADO. Die Engelse matrose kon dit nie namaak nie en het dit toe alligator genoem.

      allure — aantrekking

      As jy die meisies laat omdraai van bewondering, is jy niks meer as ’n stuk aas wat vir ’n jagvalk uitgehou word nie. Die woord kom uit Oudfrans aleurer wat bestaan het uit à “na, toe” + loirre (Latyn luere) “aas vir ’n jagvalk”. In latere Frans beteken dit “manier van loop, houding” – en dit is jou gepronk wat die dames so aantrek. In Nederlands het dit ook verwys na die gang van ’n perd.

      almanak — lys met dae, maande en ander inligting vir die jaar

      Die Spanjaarde en die Arabiere het glo saamgesweer om dié woord te maak: dit lyk soos al + manakh – maar ongelukkig is daar nie ’n woord soos manakh in een van die twee tale nie. ’n Moontlike herkoms is uit Angel-Saksies al-mon-aght wat ­beteken het “maan­kyker” na aanleiding van die rekords van die nuwe en volmaan wat deur die Saksers gehou is.

      altaar — plat vlak om op te offer

      Die Romeine reeds het gode by plekke aanbid wat verhoog was sodat die gebede makliker na die hemel daarbo kon weerklink. Altus beteken “hoog” in Latyn en altaar het dus “verhoog” beteken.

      amalgaam — verbinding van ’n metaal met kwik

      Die Middeleeuse dokters het dalk in hul mediese onkunde ook die Griekse taal verkrag. Vir hulle was amalgaam ’n ­strelende, helende pleister. Hulle het die naam moontlik van malagma “sagmaak” gekry en ’n a- vooraan gesit om nie net die woord nie, maar ook hul rekeninge bietjie te laai. Soos gewoonlik is die ander herkomste so droog soos ’n seer keel: dalk kom dit uit Arabies al-jamsa “ver­eniging” of Grieks ama “saam” + gamos “huwelik”.

      amandel — pitvrug met eetbare pit

      Dié kliere in ons keel word in Nederlands amandels genoem, dieselfde woord as vir die neut, en volgens hulle herkomsboeke kom dit van die Franse amygdale wat “mangel” beteken. (Die Frans vir amandel is amande, en het dus niks met die mangel te doen nie; die Italianers het ook twee woorde daarvoor, naamlik amigdala vir die klier en mandorla vir die vrug. In Duits is albei Mandel.) Dié Nederlandse naam amandel vir die mangel kom klaarblyklik van die amandelvorm van die klier.

      Die sogenaamde Jordaan-amandel het niks met die Bybelse rivier te make nie: die Jordaan is ’n verbrouing van die Franse jardin “tuin”, dit wil sê die gekweekte plant en nie die wildeamandel nie.

      terug na → MANGEL

Скачать книгу