'n Dief aan die kers - Skelm woorde deur die eeue. Anton F. Prinsloo

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу 'n Dief aan die kers - Skelm woorde deur die eeue - Anton F. Prinsloo страница 5

Автор:
Серия:
Издательство:
'n Dief aan die kers - Skelm woorde deur die eeue - Anton F. Prinsloo

Скачать книгу

waarskynlik ontleen aan cord (uit Grieks chordon) wat “katderm” beteken het – wat die snare tot die verdriet van die DBV vir ou musiekinstrumente verskaf het.

      akkumulasie — versamel

      In Latyn was cumulare “’n klein hopie maak” en cumulus “’n hopie”. As iemand dus ’n fortuin geakkumuleer het, het hy letterlik ’n hoop geld versamel. Die cumulus-wolk is inderdaad ook familie: dit is die naam van die donderwolk wat tot op groot hoogte ’n hoop wolke is.

      akkuraat — noukeurig, korrek

      As ’n mens iets akkuraat doen, ly jy pyn. So altans het die Romeine dit gesien, want Latyn accurare het “sorg vir, pyn ly” beteken (cura het “pyn” beteken). Iemand wat vir iets sorg, se benaming is familie hiervan, naamlik kurator (Latyn ad to + curare “take care of”)

      akrobaat — koorddanser, tuimelaar in sirkus

      Eintlik beteken die woord oorspronklik “iemand wat op sy tone loop of net die punte van sy tone en vingers gebruik om te beweeg”. Die twee Griekse woorde waaruit dit saamgestel is, is akros “punt (van die tone)” + bainein “loop, gaan”. Die akrobaat moet sy kunsies ook op groot hoogte (akros) uitvoer (sonder enige platvloersheid).

      Familie hiervan is akrofobie “morbiede vrees vir hoogtes” en akropolis (veral die een in Athene) wat uit akros “hoogste, boonste punt” + polis “stad” saamgestel is.

      aksent — klemtoon

      Die woord het sy ontstaan gehad in die Romeine se vertaling van die Griekse prosodie (pros “byvoeg” + ode “lied”) as ad “aan” + cantus “sang”. In Grieks het dit die toonhoogte van ’n spraakklank in gedigte beskryf. Lettergrepe met ’n gravisaksent gemerk is met ’n diep stem gesing; die akuut het ’n ­musikale vyfde hoër aangedui; ’n kappie het beteken dat hoog begin en dan ’n vyfde laer gesing word. In taal het die klem later op die luidheid eerder as die toonhoogte of lengte van die noot geval, en daaruit het die klemteken ontwikkel. Aksent beteken dus eintlik “sang by spraak voeg”.

      aksident — ongeval

      As jy probeer ski en jy breek ’n been, moet jy hoop dat dit nie joune is nie. Oorspronklik was dit nie jy wat geval en allerlei bene gebreek het nie: dit was hoe die sterre in die firmament geval of uitgeval het wat jou lot bepaal het. As hulle aan die verskiet was, sou jy onge­twyfeld tot ’n nare voorval of ongeval gebring word. (Latyn ad “tot” + cadere “val”)

      akupunktuur — naaldprikking van die liggaam

      Die oorspronklike betekenis was “afmerk met klein stekies”. Dit klink asof dit ’n vroeëre vorm van tatoeëermerke was, maar eintlik was die naaldstekies op baie besondere punte van die liggaam. Dat dié soort medisyne baie oud is, blyk daaruit dat die Romeine reeds ’n woord daarvoor gehad het. Acus was ’n naald (afgelei van die werkwoord wat “skerpmaak” beteken het) en pungere was “steek”. Die behandeling teen pyn en siektes het voor 2500 v.C. in China ontstaan en oor die wêreld versprei; → akuut.

      akuut — hewig, vinnig

      Akuut het beteken “met ’n naaldsteek”. ’n Naald is skerp, en “skerpmaak” is ook een van die betekenisse van die Latynse acuere (uit acus “naald”). In geneeskundige verband dui dit op ’n siekte wat van die aanvang snel verloop en vererger totdat dit genees word of die dood intree.

      akwamaryn — blougroen soort beril, ’n halfedelgesteente

      Die kleur van die steen het die vroeë naamgewers aan die kleur van seewater laat dink en hulle het dit dus so genoem (Latyn aqua “water” + marinus “see”).

      akwarium — groot glasbak, gebou waarin lewendige waterdiere en plante gehou word

      Die Romeine het al die woord geken, maar dit het vir hulle “drinkplek van vee” beteken. Die aqua “water” is maklik te verklaar en die -rium het moontlik onder invloed van vivarium (letterlik “visdam”) bygekom.

      alarm — noodsein, waarskuwing

      Wat eens ’n gevreesde militêre bevel was met die vooruitsig van bloed en kanonne, is vandag net ’n waarskuwing, of ten beste die verskriklike lawaai van ’n stelsel wat nagtelike besoekers aan jou huis hopelik hulle melk laat wegskrik. Alarm was ’n krygsoproep van burgers (Ouditaliaans all’arme, Frans alarme: ’n oproep om die wapen op te neem).

      albakoor — soort tornyn

      Hoe bring ’n mens die kloutjie van ’n jong kameel by die oor van ’n soort seevis? Ons woord kom oorspronklik uit Portugees albacora wat dit uit Arabies al bakara verkry het – die bakara was die meervoud van buko “jong kameel”. Die vis is waarskynlik so genoem vanweë die grootte daarvan: dit is ’n tandwalvis wat tot die familie van die dolfyne behoort.

      albaster — fyn soort marmer

      Die Latynse woord vir albaster het “gekleurde klip waarvan dose en houers vir salf of olie gemaak word” beteken. Die Grieke het dit ’n “vaas vir reukwater” genoem. Die herkoms is uit Egipte a-labaste wat “kruik vir die godin Bast” beteken het. Die Egiptenare het geglo dat sy in die vermomming van ’n swart kat saam met hulle geloop het wanneer hulle na haar tempel toe gaan. Die Woordenboek der Nederlandsche taal meld ook Egipte as moontlike land van oorsprong, maar dat dit dalk na die stad Alabastrum in Thebaïs genoem is waar dit gedelf is. Hoe ook al: die delikate, bykans deursigtige kleur van die stof is in Victoriaanse tye dikwels met die gelaat van ’n mooi jong dame in verband gebring. (Moontlik was sy so kil soos die klip.)

      albatros — groot soort seevoël

      Die oorspronklike naam van die voël in Spaans of Portugees is alcatraz wat “pelikaan” beteken het en miskien uit Arabies al-ghattas (“see-arend, duiker”) kom. ’n Ander moontlikheid is Portugees alcatruz “die bak van ’n waterwiel”, na aanleiding van die bek van die pelikaan waarin dit volgens oorlewering water na die kleintjies gedra het. (Dat die arme pelikaan in hierdie verhaal figureer, is ook duidelik uit die eiland Alcatraz in die baai van San Francisco: dit is genoem na die ­pelikane wat daar in redelik groot getalle gebroei het.) Dié woord is deur die Latynse albus “wit” beïnvloed en is deur ­ontalige Engelse matrose verbrou tot albatros. Die grootte van die voël het tot die byname Kaapse skaap, hamel gelei. Die Nederlandse ­woordeboek teken dit as ’n reusagtige meeu met ’n groot, dik bek wat in ’n haak uitloop, met kragtige vlerke soms tot oor die drie meter breed, veral by die Kaap die Goeie Hoop. Hulle is goed aan die matrose bekend omdat hulle skepe dikwels weke lank honderde ure se vlug van die kus af volg.

      album — vroeër ’n boekie vir persoonlike soeweniers; houer vir musiekitems soos plate, CD’s

      Die Romeine het dié woord gebruik vir ’n tafel of stuk muur wat met gips wit gemaak is (Latyn albus “wit”) en waarop die kronieke van die hoëpriesters, die wette van die pretors (goewerneurs, amptenare met die hoogste regterlike gesag) en die voorskrifte vir siviele sake aangeteken is. Die Latynse woord vind ook neerslag in woorde soos albino (“persoon sonder pigmentskleurstof, daarom met wit vel en hare, rooi oë”), albumen (“wit van ’n eier”) en die ou naam vir Engeland, Albion, wat deur die Romeine gegee is vanweë die wit ­kalkkranse by Dover. Latyn albus is moontlik ook verwant aan

Скачать книгу