Plesierengel. Leon van Nierop

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Plesierengel - Leon van Nierop страница 12

Автор:
Серия:
Издательство:
Plesierengel - Leon van Nierop

Скачать книгу

een keer by hom. Hy vat jou hemel toe en los jou daar. Die probleem is, wanneer jy afkom aarde toe, wil jy nie meer leef nie.”

      “Gaan nou!” Erika besef dat sy te hard praat. Die vrou sit haar motor in trurat en ry tot in die straat. Sy kyk nog een maal na Erika en roep: “Jy het sy nommer. Glo my, hy is elke sent werd!”

      Sy trek weg.

      Erika stap terug in die huis in en sluit die sekuriteitshek en voordeur.

      Tot dusver was – ís – haar werk alles. Luister sy die afgelope jaar wat sy begin praktiseer het na mense se probleme. Hoor sy van egskeidings, mans wat hul vroue verkul, jonges wat deur pedofiele misbruik is, vroue wat wreedaardig aangerand is, verkrag is, mishandel is. Dogters wat deur hul stiefpa’s misbruik word.

      Help sy selfbewuste vroue wie se mans hulle emosioneel afpers of afknou. Herstel sy mense se selfbeeld, ondersteun sy kliënte wat senuwee-ineenstortings gehad het, wat kla dat dit voel of naalde in hul liggame inboor wanneer hulle in die openbaar verskyn of ’n toespraak moet maak. Ondersteun sy skoolkinders wat geboelie word, maar behou die veilige en professionele afstand wat haar verhoed om emosioneel by kliënte betrokke te raak.

      Sy het die krisis, toe Rodney haar vir ’n jonger meisie verlaat het, met niemand bespreek nie, nie eers haar mentor nie. En daardie wond is nog net so rou soos amper vier weke gelede toe hy haar kortaf meegedeel het dat hy nog probeer om homself te vind, dat sy met haar werk getroud is en hom nie verstaan nie.

      En nou daag Aronique Pringleton op en konfronteer haar met inligting wat klink na iets uit ’n pornografiese rolprent – ’n geheime lewe waarvan sy vaagweg bewus was, in skindertydskrifte en -koerante raak gelees het, maar nog nooit direk mee in aanraking gekom het nie, behalwe enkele kere deur ’n kliënt se belydenisse.

      Erika neem haar selfoon en pons Rodney se nommer in. Sonder om te dink, druk sy Call, hulpeloos om die aksie te keer. Nou, meer as ooit, het sy die behoefte om sy stem te hoor.

      Die telefoon lui aan die ander kant en Erika besef sy het nog kans om die oproep te beëindig. Maar sy vind nie die krag om dit te doen nie.

      ’n Vrouestem antwoord. “Rodney se foon.”

      Erika skud haar kop. Sy kan nie praat nie.

      “Hallo? Ek kan hoor daar is iemand.”

      Erika druk die telefoon dood sonder om te praat. Oomblikke later lui haar selfoon en Rodney se naam verskyn. Sy antwoord dadelik. Dit is dieselfde vrou van tevore. “Moenie weer hierdie nommer skakel nie.”

      Die verbinding word verbreek.

      Erika sit lank met die selfoon in haar hand. Toe maak sy haar afspraakboek oop en kyk na die inskrywings die volgende dag.

       Millicent Hansen. 11:30.

      Sy was lank laas so gespanne oor ’n kliënt se voorgenome besoek.

      Dit is moeilik om aan die slaap te raak, maar sy weier om weer ’n slaappil te neem. Dit laat haar kop altyd dof voel sodat sy nie die volgende dag behoorlik op haar werk kan konsentreer nie. En sy kry daardie bitter smaak van Zopimed nie uit haar mond nie, selfs teen middagete.

      Sy word oudergewoonte net na dagbreek wakker. Sy rol ’n oomblik rond en staan dan op en trek haar oefenklere aan om te gaan draf.

      Dit moet gedurende die nag gereën het, want sy ruik dit nog. Alles is vars en skoon.

      Sy kies vanoggend ’n ander pad as wat sy (en Rodney) gewoonlik gedraf het. Dit neem haar by die dieretuin verby. Sy kyk na die tamaai ou bome wat hul takke oor die paaie sprei en dink hoe lief sy vir Johannesburg is. Dat sy eintlik nêrens anders wil woon nie. Sy hou veral van Parktown. Dis naby die middestad, maar net ver genoeg daarvandaan om veilig te wees. Relatief veilig as sy kyk na die misdaadsyfers in haar woonbuurt.

      ’n Seun wat koerante aflewer groet haar. Vroue met kleurvolle kopdoeke, wat te oordeel na hul uniforms seker op pad is om stukwerk te doen, loop al geselsend by haar verby. Hier en daar merk sy dat ’n verbygaande motoris haar agternakyk.

      Terwyl sy en Rodney nog uitgegaan het, het hy nie daarvan gehou dat sy met ander mans praat of dat hulle aandag aan haar skenk nie, veral nie by die muurbalbaan nie. Hy het haar selfs later gevra om ’n sweetpakbroek te dra en nie die kort broekie waarmee sy gewoonlik muurbal gespeel het nie. Sy het mooi bene en die ander spelers het gedurig na haar gekyk.

      En nou is hy weg – Rodney wie se oog gedwaal het by die muurbalbaan. Want dit is waar hy waarskynlik die aktrise ontmoet het met wie hy begin uitgaan het. Of dalk het hy ’n onderhoud met haar gevoer vir die Engelse dagblad waarvoor hy werk. Erika is nie seker nie.

      Die straat hier voor is besig. Sy het nog nooit so ver gedraf nie.

      Sy gaan staan op die hoek en besluit om nog net een straatblok verder te hardloop en dan terug te draai.

      Terwyl sy wag vir die verkeerslig om na rooi oor te slaan, hou ’n motor langs haar stil. Die verkeerslig raak geel. Die motoris draai sy ruit af.

      “Erika! Haai!”

      Sy kyk en probeer ordentlik fokus.

      “Albert Steyn!” sê hy.

      Sy herken hom. Hulle was saam hoofmeisie en hoofseun in Northcliff en het vir ’n maand of twee vas uitgegaan.

      “Albert?” Sy kan haar oë nie glo nie. “Wat maak jy hier?”

      “Ek werk as argitek in Rosebank. En jy, lees ek in die koerante, is deesdae ’n sielkundige wat ongelukke onder onderbroeke maak.”

      “Ag, dit!” Sy lag. “Moenie alles glo wat jy lees nie.”

      “Bly jy hier naby?”

      “Ja,” antwoord Erika.

      “Spring in, dan neem ek jou terug.”

      “Maar jy is seker op pad iewers heen?”

      “Was in die gim en gaan terug huis toe. Toe!” Hy beduie.

      Die lig word groen en die motoriste agter hom toet. Sy klim haastig in sy motor.

      Albert het ’n effense magie begin kry waaroor sy T-hemp net ’n bietjie te styf span. En hy begin van sy hare verloor.

      “Waarheen?”

      Sy verskaf haar huisadres.

      “Wys jou net hoe groot is hierdie dorp. Ons bly in dieselfde omgewing en weet dit nie eers nie!” Hy lag. “Ek was op die punt om jou te bel nadat ek die storie in die koerant gesien het, toe dag ek jy is dalk … jy weet . . ?”

      “Wel,” sy weet nie eintlik wat om te sê nie, “hier is ek nou! Draai hier links, dis korter.”

      Hy skakel sy flikkerlig aan en kyk dan na haar. “Dis goed om jou weer te sien, Erika.”

      “Goed om jou weer te sien.”

      Hulle luister vir ’n oomblik na die musiek op die radio.

      “Wat ek netnou wou vra, is: Is jy getroud?”

Скачать книгу