Die boek van toeval en toeverlaat. Ingrid Winterbach (Lettie Viljoen)

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die boek van toeval en toeverlaat - Ingrid Winterbach (Lettie Viljoen) страница 2

Die boek van toeval en toeverlaat - Ingrid Winterbach (Lettie Viljoen)

Скачать книгу

Twee konstabels meld hulle aan, ’n kon­stabel Modisane en ’n konstabel Moonsamy. Konstabel Mo­di­sane maak ’n simpatieke klikgeluid met die tong terwyl hy die ramptoneel in oënskou neem. Hy is die jongste van die twee. Hy het gladde, jeugdige wange en ’n hoogronde voor­kop.

      “Do you like these things?” vra hy en beduie na die skul­pe op die tafel.

      “Yes,” sê ek.

      Hou ek van hulle?! Meneer Modisane, konstabel, hoe kan ek begin sê hoe ek hierdie skulpe bejeën? Ek het nie ’n be­wonderenswaardige lewe gelei nie, en daar kan ek nie veel aan verander nie. Ek was onverantwoordelik en on­besonne in die meeste van my verhoudings. Maar wat die skulpe be­tref, meneer, was en is ek die ene eerbiedige en godvrugtige aandag. Dit is my manier om die wondere van die skepping te erken. My meditasie op skulpe is van die weinig dinge wat ek doen om na my geestelike welsyn om te sien.

      “Why do you like them?” vra hy.

      “Because they are beautiful,” sê ek, “and because God made them.”

      Konstabel Modisane gee die skulpe ’n laaste, skeptiese kyk en hy en Moonsamy wissel ’n onderlangse blik.

      “Can you sell them,” vra hy, “are they worth money?”

      “I am not interested in selling them,” sê ek. “And if necessary I will pay money to get the stolen ones back.”

      “How much?” vra hy.

      “I have not had time to decide yet,” sê ek.

      “O-kay,” sê hy, gemoedelik.

      “What is that smell,” vra ek, “do you recognize it?” Vir die eerste keer kom ek dit nou agter. Die soeterige reuk van na­skeerroom in die vertrek. Konstabel Modisane en Moon­samy snuif albei suspisieus rond. Konstabel Modisane ’n raps meer energiek as Moonsamy.

      “It’s Boss,” sê konstabel Modisane, “Hugo Boss aftershave.”

      *

      Ek kom Sof Benadé die volgende dag by Die Sandduin teë. Sy werk as taaladviseur en vertaler by die museum. Sy vertaal uit Afrikaans in Engels, en uit Duits en Frans in Afri­kaans. Ek dink aan haar as die kurator van tale.

      Sy sit met ’n eksemplaar van Die Kerkblad voor haar. “My pa teken jaarliks vir my hierop in,” sê sy, “alhoewel my fami­lie weet dat ek my rug op my saligheid gedraai het. Hulle het lankal aanvaar dat ek tot in ewigheid sal brand in die vure van die hel. Die Gereformeerde hel.” Sy gee ’n klein lag­­gie – half verontskuldigend en half provokerend.

      “Is dit so erg?” sê ek.

      “Dis nog veel erger,” sê sy. “Ek het gedink ek kan weg­kom uit die pastorie. Ek was verkeerd. Ek was ’n deluded doos.”

      (Deluded doos. Hiervan hou ek.)

      Sof het ’n ontwapenende onbeholpenheid en smal hande en voete. Sy is jonger as ek. Donker hare, met die eerste tekens van grys daarin, en ’n gapinkie tussen haar voortande. Sy is ’n sku vrou, met weerlose oë. Mooi, sagte, grysgroen oë, skugter agter die brillense – oë wat pynlik skerp waarneem.

      “Daar is gister by my ingebreek en my skulpe is gesteel,” sê ek. Ek het ineens behoefte om vir hierdie vrou te vertel van die skade wat ek gely het, al ken ek haar nouliks.

      “Daar is ook op ’n mat van my geürineer en ontlas. Dit is ’n mat waarvan ek baie gehou het. Ek het dit ’n intimi­de­rende gebaar gevind. Maar my éintlike verlies is die skulpe.”

      “Die een wat dit gedoen het se hand behoort in die openbaar afgekap word,” sê Sof en gee ’n kuggie.

      “Solank ek net die skulpe ongedeerd terugkry,” sê ek, “eis ek nie ingrypende vergeldingsmaatreëls nie.”

      “Wie sal iemand se skulpe wil steel?” vra sy.

      “Ek sou wou,” sê ek, “maar ek kan myself nouliks hier as maatstaf gebruik.”

      “Wat is nog gesteel?” vra sy.

      “Niks wat my onmiddellik opgeval het nie,” sê ek. “Dit gaan vir my net om die skulpe wat weg is. Dit breek my hart.”

      Die middag ry ek na werk langs die see uit om oor my verlies na te dink. Ek ry stad-uit, in die rigting van die Suid­kus. Hier het ons soms kom vakansie hou toe ek klein was. Ons het ’n huis op die see gehuur. Ons het Juliemaand ge­kom, as dit koud was in die Transvaal. My pa het hom weke vantevore ter voorbereiding in ons agterplaas versigtig begin verbruin. Hy het op ’n stoel gesit met ’n handdoek om sy lyf en ’n hoed op sy kop. Hy het geleidelik bruiner geword en op dié manier nooit vervel nie. By die see het ek en my jongste broer treintjies van die stele van piesangblare ge­maak. Ons het bobbejaantou geëet en baie siek geword daar­van. Ek het in ’n boek geteken wat ek by my oupa pre­sent gekry het – die vader van my moeder, wat sy gesin verlaat en pas ná meer as twintig jaar weer teruggekeer het. Dit was ’n Croxley Pen Carbon Book, tien en ’n driekwart by agt en drie agtste duim in formaat. Die blaaie was genommer en afwisselend gelinieer en ongelinieer. My pa het vir my ’n trein daarin geteken met ’n rooi balpuntpen. (Pienker as wat dit rooi was.) Ek het balle­rinas geteken, bruide en bruidegomme met blomme- en strooi­meisies, ek het my speelkaar­te daarin nagetrek, ek het ’n seetoneel geverf met ’n see­rower­skip op die agtergrond, wat ek nageteken het van my verfdoos. My suster, Joets, het ’n meermin op die agterblad geteken. Dit was pragtig. Ek was vyf of ses, sy was elf of twaalf. Ons ma het ewe wit in haar baaikostuum gebly as wat sy voor die vakansie was. Sy was bang vir die golwe. Die duine voor die huis was ongerep. Dit was oorgroei met inheemse struikgewas en ’n duinestruik met klein blaartjies en rooi bessies.

      Nou soek ek vergeefs na hierdie ongerepte kuslyn, want die ganse kus is sedert daardie tyd omskep in ’n plesieroord, digbebou met woonstelblokke en tyddeeleenhede. Hierdie kuslyn bied vandag geen troos nie. My bui word hierdeur nie verbeter nie.

      Sedert ek hier aangekom het, het ek weer begin skryf. ’n Jong vrou kom op ’n stoep uit in ’n sagte, geblomde rok. Vir hierdie vrou sal dit nooit moontlik wees om geluk te vind nie. Sy hou haar blik onafwendbaar gerig op ’n man in ’n wit flanelbroek en wit hemp met opgerolde moue. Sy mooi arms is bruingebrand en hy rook ’n sigaret. ’n Man daal in Messina in die kopermyne af. Hy weet nie waar hy vandaan kom en waarheen hy gaan nie, en hy neem sy toevlug tot die najaag van voortvlugtige plesier.

      *

      Baie laat die aand bel ’n man my. Hy noem sy naam maar dit lui geen klok nie.

      “Ek dink weer vanaand met genoeë terug aan ’n aand in 1978 in Braamfontein in Felix du Randt se woonstel. Ek wil die gesprek wat ek met jou gehad het, graag voortsit!”

      “Sewe en twintig jaar later?” sê ek.

      “Ek en jy het dié aand ’n besondere insiggewende ge­sprek gehad,” sê hy.

      “Is dit so?” sê ek.

      “Jy het met besondere insig oor Plato gepraat. Hoe mooi het jy nie aan my uitgelê nie dat ons verdwaal is in hierdie wêreld. Dat alles wat ons hier ervaar ’n flou af­spieëling is van die egte wêreld en dat alle kennis waaroor ons beskik ’n herinnering is aan ’n bestaan uit ’n vorige wêreld.”

      “Jy

Скачать книгу