Die boek van toeval en toeverlaat. Ingrid Winterbach (Lettie Viljoen)

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die boek van toeval en toeverlaat - Ingrid Winterbach (Lettie Viljoen) страница 5

Die boek van toeval en toeverlaat - Ingrid Winterbach (Lettie Viljoen)

Скачать книгу

sal speel. Hy het omtrent vyf toevallige seksuele interaksies met vroue in sy reis deur die stad dié dag. Hoewel dit nie eintlik ’n reis is nie – dis eerder ’n stadige voortgang deur die stad. Hy loop byvoorbeeld sy vrou op bepaalde punte raak – hy sien haar op ’n sypaadjie verbystap vanuit sy be­wegende motor, hy sien haar vanuit sy motor in ’n huur­motor langs hom verbykom. Hulle eet een of twee keer saam. Hy vra haar tydens een of twee van hierdie terloopse ontmoetings wanneer hulle weer seks gaan hê.” Ek kyk af na my skoenpunt. “Aan die einde van die boek het hulle ’n kortstondige seksuele ontmoeting. Op staande voet, iewers.”

      Theo Verwey kyk verbaas.

      “Sy slaan haar bene om sy lyf,” sê ek. “Dis ’n hartstogtelike bymekaarkoms.”

      Theo se wenkbroue lig nog hoër.

      Ek praat met neergeslane oë, ’n effens ironiese toon in my stem.

      “Die vrou is ’n digter,” sê ek. “Hoewel hy nie veel van haar digterlike vermoëns dink nie. Hulle is pas twee weke getroud. Sy is skatryk. Ek het dit al genoem. Sy kom uit een of ander Europese familie met óú geld. In die loop van die dag verhandel die man groter en groter somme geld, teen al sy finansiële adviseurs se raad in. Hy verloor alles. Sy vrou se geld ook, wat hy steel in ’n bedrieglik eenvoudige – onthutsend eenvoudige – digitale of kubertransaksie. Ek is nie seker presies hoe nie.”

      Theo Verwey luister nou met sy volle aandag.

      “Hy vertel haar dat hy haar geld verloor het, maar sy glo hom nie eintlik nie. Voor hy sy apartement die oggend verlaat, praat hy eers met sy honde.”

      Theo Verwey kyk my ’n paar sekondes woordeloos aan. “Beveel jy dit aan,” vra hy weer, “om alles wat jy het te verwed as jy weet jy kan dit moontlik verloor?” Hy glimlag. Daar is selfs iets ironies in sy stem. “Om jou vrou se geld te steel en dit te verloor in een of ander riskante transaksie?” Hy glimlag steeds.

      Ek glimlag ook. Ek kry my asem terug. Dit is die verste wat ek nog op ’n oggend met iemand gegaan het. Dit is die verste wat ons nog met mekáár gegaan het.

      *

      Die aand lê ek soos die vorige op die bank in my tuinwoonstel. Ek huur die kleiner, onderste deel van die huis, die huis­eienaars bewoon die groot boonste verdieping. Ek het my huisbaas onmiddellik die slotte aan die voordeur laat vervang en ’n stewige veiligheidsdeur laat insit. Hulle was die dag weg toe die inbraak gebeur het. Volgens hom het hulle nog nooit vantevore ’n inbraak gehad nie. Sedert die voorval voel ek nie gerus nie.

      Ek dink na oor die inbraak. Watter soort dief laat klere, juwele, skoene, ’n CD-speler, CD’s en ’n televisie agter en steel skulpe? ’n Versteurde dief, met geperverteerde be­hoef­tes? ’n Dief met ’n geheime agenda? ’n Dief waarvan die lin­kerhand nie weet wat die regterhand doen nie? ’n Dokter-Jekyll-en-meneer-Hyde-dief? Dokter Jekyll, die esteet, steel die skulpe, meneer Hyde, die skobbejak, urineer en ontlas op die mat. Dokter Jekyll kom versigtig by die voordeur in, meneer Hyde gooi die klere uit die kaste en die skulpe (met een armbeweging) op die grond. Dokter Jekyll bondel die klere weer terug en pak die skulpe versigtig in ’n boks. Ek hou nie hiervan nie, ek hou nie van die idee dat iemand spesifiek my skulpe teiken nie – én ek is bitter ontsteld oor die verlies. Dit rus soos ’n gewig op my bors. My hart pyn daarvan. Die kanse dat ek hulle sal terugkry, is gering, ge­oordeel na konstabel Modisane se stemtoon. Die terugvind van gesteelde skulpe is in elk geval seker nie vir die polisie ’n prioriteit nie.

      Ek het behoefte daaraan om met iemand te praat, maar ek weet nie met wie nie. Ek kan my voorstel hoe my ge­wese man sou reageer as ek hom hiervan vertel. Ek kan my sy ver­oordelende stilte aan die ander kant van die lyn voor­stel. Sy effens moeisame en bestraffende asemhaling. In sy wêreld­beeld is daar heelwat sfere van hulpbehoewendheid wat voorrang bo die verlies van skulpe sal geniet. Ek wil my kind nie hiermee lastig val nie. (Verwag ek van haar, soos van haar vader, ook ’n mate van veroordeling? ’n Ongeduld met my hardnekkige vasklou aan my verlies? Sy reis lig – so­ver sy gaan, werp sy alles van haar af.) Ek wil ook nie met Frans, my minnaar en metgesel, hieroor praat nie.

      Maar my skulpe! Die papiernautilus, Argonauta argo, ver­want aan die Nautilus, ’n papieragtige dun, breekbare, glan­sende wit skulp – een van my héél mooiste skulpe, ’n skug­ter bruid! ’n Kopspelende karveeltjie op die oop see! ’n Der­tienjarige meisietjie! Die Conus betulinus, glad, spiraalgegroef om die basis, ’n swaar, sagte okerkleurige skulp, waarvan ek nog die koel gewig in my hand kan voel. Soos ek eweseer die gewig van die twee swaar Conus figulinus-skulpe voel, en die dag helder voor die oog roep waarop ek hulle in ’n dorp aan die Kaapse kus gekoop het. Die Conus marmoreus – die skulp waarvan Rembrandt ’n reeks etse gemaak het. Die twee dramatiese Murex nigritus-skulpe – ’n rare vonds, al die pad van die Golf van Kalifornië – ’n ornate wit skulp, grillig verbeeld, uitdagend, donker gestreep oor die skouerdeel, met puntige donkerbruin uitsteeksels. Die ligte Tonna variegata – delikaat soos ’n Japannese papierlantern! Die Mitra mitra, ’n swaar, koel, spiraalvormige skulp, so genoem omdat dit lyk op ’n biskopshoed (Latyn mitra van die Grieks mitra, wat tulband beteken), die grootste van die miters. Die merkies daarop is diep oranje – effens bleker in die kleiner een. Die Marginella mosaica, met rye spiraal­agtige donkergrys of bruin merkies, soos sandopdrifsels, op die bleek, melkerige oppervlak – ’n skulp waarin die tyd self sy merke in die oppervlak ingeweef het. Aan die verlies van die drie Nautilus-skulpe wil ek nie eens dink nie. Die twee kleintjies en die een grote. Twee trotse ridders en ’n konin­gin; vaandeldraers van die gestreepte blasoen; pronkerige perdjies van die diepsee! Miskien van almal die naaste aan my hart (met uitsondering van die twee bruin figulinus-konusse). Die laaste oorblywende genus van die oer-orde Nautiloidea, ’n óú skulp, glad van buite, van binne opgerol, met ses en dertig kamers, waarvan net die buitenste bewoon word.

      Hoe het die dief geweet, met watter feillose instink het hy die mooistes geneem, die mees waardevolles, dié wat my die naaste aan die hart lê? Hoe moet ek dit verklaar? Of moet ek dit nie probeer verklaar nie, maar mevrou Fortuna se wispelturige hand hierin sien?

      In my nood rig ek my tot my moeder, my vader, en veral tot Joets, my oorlede suster. Dit is nie dat ek hulle aanspreek nie, maar dat ek my gesig – smekend – in hulle rigting draai. Asof ek wil sê: Sien my. Hier is ek. Wat staan my te doen?

      Noudat ek nie meer moet rekening hou met hulle fisieke bestaan nie – met die tussenkoms van klein daaglikse verskuiwings en irritasies wat ’n verhouding kenmerk nie – kan ek my verbeel dat ek elkeen van hulle met groter helderheid sien.

      Ek het in geen tyd aan Marthinus Maritz gedink nie. Freek van As het hom weer onder my aandag gebring. My kontak met Marthinus was kortstondig, maar hy het ’n diep indruk op my gemaak, in die tyd. Hy het my in die teenwoordig­heid van my gewese minnaar, die sexy, vosrooi en verleidelik besproete Felix du Randt, die koerantredakteur Herman Holst, en Freek van As hard op albei wange geklap, maar selfs met daardie twee stewige oorveë kon hy nie daarin slaag om my tot inkeer te bring nie.

      *

      “Die man van wie jy my gister vertel het,” sê Theo Verwey die volgende dag, “jy sê hy het met sy honde gepraat. Wat het hy vir hulle gesê?”

      “Daar word net daarna verwys,” sê ek, “ek herinner my nie dat sy direkte woorde aangedui word nie. Sy apartement het mure van twee, drie verdiepings hoog, en ek stel my die honde in ’n swart marmerhok voor.”

      “Watter soort honde is dit?” vra Theo.

      “Ek kan nie onthou nie. Wit borzois dalk. Of Russiese wolf­honde. Honde wat deur sy personeel versorg word, neem ek aan. Met daardie soort geld word mense waarskynlik spesiaal in diens geneem om die honde te versorg en met hulle

Скачать книгу