Die boek van toeval en toeverlaat. Ingrid Winterbach (Lettie Viljoen)

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die boek van toeval en toeverlaat - Ingrid Winterbach (Lettie Viljoen) страница 8

Die boek van toeval en toeverlaat - Ingrid Winterbach (Lettie Viljoen)

Скачать книгу

onveranderd bly.”

      “Huidlys,” sê ek, “vind ek een van die vreemdste woorde in die taal. Naas dermbeendoring.”

      *

      Ek beween my skulpe soos Rachel haar kinders. Ek is beur­telings moorddadig kwaad en terneergedruk. Ek bel konstabel Modisane kort-kort om te hoor of daar al iets gevind is. Dit kan my nie skeel dat hy dink daar is iets fout met my nie. ’n Vrou wat tekere gaan oor skulpe asof sy niks beters het om oor te treur nie. Ek het heelwat om oor te treur, maar op die oomblik treur ek oor die skulpe.

      Ek het ’n kind, ’n dogter, en ek het ’n metgesel, iemand met wie ek die afgelope sewe jaar ’n verhouding het. Hoe­wel my dogter reeds ’n jong vrou is, met haar eie lewe, bly sy voortdurend in my gedagtes. Dit is dikwels met pynlike intensiteit dat ek haar vorm terugroep in al die fases van haar lewe – as klein kind, as jeugdige, en nou as volwasse vrou. Die reuk van haar hare digby die kopvel, die sysagte vel en bykans onmerkbare oorgang tussen nek en kakebeen, die delikate kronkeling van are oor haar bors net onder die sleutelbeen, die besondere toonhoogte van haar stem – wanneer sy bly is, of wanneer sy angstig is. Die hitte­graad van haar asem as sy koorsig is, as sy iets digby my oor sê. Dit kan ek alles met helderheid terugroep. Ek het groot geneentheid teenoor Frans de Waard, die man met wie ek ’n verhouding het. Hy verskaf my buitengewoon stigtelike so­wel as erotiese plesier. Hy is ’n veelfasettige man, solied so­wel as sexy, aantreklik, intelligent en viriel; ’n man wat nie op hom laat wag nie – ontvanklik vir die gee en neem van plesier. Maar ek staan die afgelope maande minder oop na hom. Ek is meer gerig op my onmiddellike omstandighede – die projek waarmee ek Theo Verwey assisteer, die boek waaraan ek begin skryf het, en nou die verlies van my drie en twintig skulpe.

      En nou ineens presenteer Marthinus Maritz homself in my gedagtes – hoewel ek geen rede het om te glo dat die impetus van hom afkomstig is nie. Freek van As het my aan hom herinner – die man wat ek steeds met geen duidelikheid kan onthou nie. My skerpste en mees onmiddellike herinneringe aan Marthinus Maritz is sy sydelingse blik; die kragtige, effens vlesige torso; ’n uitstraling van sowel aggressie as behoeftigheid wat hy gehad het, en ’n rustelose ongeduld wat die tempo van sy liggaamlike en mentale bewegings be­paal het.

      Ek bly steeds nadink oor die dooies – dié wat na aan my was en my ontval het, en sommige van die ander, soos Marthinus Maritz. Ek bly steeds met hulle omgaan in my gemoed. Ek dink ek sien sommige van hulle met groter helderheid – my moeder, my vader, my suster, Joets. Ek sien met groter duidelikheid die opsigte waarin elkeen van hulle se lewens verydel is. Hieroor sou ek byvoorbeeld kon treur, maar ek kies om my verdriet te fokus op die vermiste skulpe.

      Haar naam is Judit, maar ek noem haar Joets. Desem­ber­maande kuier ons by my tannie-hulle op hulle klein plasie in die Vrystaat. Ek is nege, Joets is vyftien. Bedags stap ons ver in die veld, soms vang ons krappe in die droë loop van die spruit. Smiddae speel ek op my eie in die voortuin. Almal slaap, in die klein toegeboude stoepkamertjie agter my is daar voortdurend ’n lae suisgeluid – dit klink soos ’n woer-woer wat baie stadig beweeg. (Saans maak dit my bang.) Ek speel in die koelte op die gras by ’n klein ronde rotstuintjie. Ek speel ’n verbeeldingspeletjie met ’n klein selluloïedpoppie. Ek gaan volledig op in die spel. Saans slaap ek en Joets in ’n kamer vol onuitgepakte dose, my tannie-hulle het pas in die huis ingetrek. Die dose is tot teenaan die dak gestapel. Daar is nog geen elektrisiteit nie. Joets maak my een nag met ’n kers wakker en dreig om my tone te brand as ek nie sê wat sy vir Kersfees gaan kry nie. Die vertrekke het lae sakplafonne, daar is altyd vlieë, die kombuis ruik na melk en tydens die lang, warm somermiddae is dit warm en doodstil in die huis.

      *

      Nege dae na die inbraak kry ek ’n oproep van konstabel Modisane.

      “Your stolen goods have been retrieved,” sê hy.

      “Where?!” vra ek.

      “In Ladybrand,” sê hy.

      “Ladybrand in the Free State?” vra ek.

      “Yebo,” sê hy, “Ladybrand in the Free State.”

      “Who took them?” vra ek.

      “A mister Patrick Steinmeier,” sê hy. (Hy spreek dit Pa-triek uit.)

      Ek aarsel ’n oomblik voor ek vra of meneer Patrick Stein­meier wit is.

      Konstabel Modisane vra oor sy skouer. In die agtergrond is ’n geroesemoes hoorbaar.

      “They don’t know,” sê hy.

      “Where is mister Steinmeier now?” vra ek.

      “Mister Steinmeier is dead,” sê hy.

      “How did he die?!” vra ek.

      “Mister Steinmeier hanged himself,” sê konstabel Modi­sane.

      “I see,” sê ek. “Where did he hang himself?”

      “In Ladybrand. When can you identify and claim your stolen goods?” vra hy.

      Ek kan dadelik kom, sê ek.

      “When you come I will show you the photographs,” sê die konstabel.

      Nou is ek verward. Foto’s van die skulpe? “What photographs?” vra ek.

      “The photographs were taken of mister Steinmeier when they found him,” sê hy.

      “I don’t want to see them,” sê ek.

      “Okay,” sê die konstabel gemoedelik, “I will show them.”

      Ek meld my twintig minute later met bonsende hart by die toonbank aan.

      Konstabel Modisane is ’n joviale kêrel. Hy hou my obses­siewe telefoonnavrae van die afgelope dae duidelik nie teen my nie. Ek merk pas nou dat sy hare in ’n soort borselkop gesny is, ’n styl soortgelyk aan een van dié waarvan ek al afbeeldings op haarkappersadvertensieborde in Nigeriese kuns gesien het. Toe hy omdraai om my goed te haal, merk ek dat sy boude en bobene volrond en lewenslustig swel.

      Hy plaas ’n klein kartonboksie voor my op die toonbank. Dit voel of ek ’n dooie persoon se as in ontvangs neem. Eers tel ek die boksie op en skud dit liggies. Dit voel omtrent die regte gewig. Ek is so senuweeagtig dat ek sukkel om dit oop te maak.

      Die skulpe is in ’n klein goiingsakkie binne die boks. Die sakkie het ’n sterk, onplaasbare reuk. Dit is effens klam. Ek pak met bewende hande die skulpe een vir een op die toonbank uit. Daar was twee en dertig skulpe weg, nege is teruggevind. Een van die periglyptas is terug, die kleinste Harpa major is terug, die Trochus maculata, die kleinste Conus figulinus en die Conus geographus. Twee tonnas en ’n helmskulp. En die een klein Nautilus.

      Konstabel Modisane maak deurentyd begeleidende ge­luide: “… eh heh, eh heh,” sê hy, wanneer hy nie met van die ander konstabels oor sy skouer praat nie.

      Die skulpe is vuil. Hulle is bedek met grond, as en iets vetterigs. Ek wil nie voor die konstabel aan hulle ruik nie. Wat het met hulle gebeur? Is hulle vir een of ander iets ge­bruik – ’n ritueel, ’n voorspelling? Is daar met hulle gedob­bel, het hulle in ’n vuur beland? Ek vee saggies oor die oppervlak van die kleinste Nautilus (die grote en die ander kleintjie is nie hier nie). Dit lyk beskadig. My oë voel trane­rig en in my keel stoot iets diks op.

      “Are these your goods?”

Скачать книгу