Die boek van toeval en toeverlaat. Ingrid Winterbach (Lettie Viljoen)

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die boek van toeval en toeverlaat - Ingrid Winterbach (Lettie Viljoen) страница 3

Die boek van toeval en toeverlaat - Ingrid Winterbach (Lettie Viljoen)

Скачать книгу

met iemand anders sal verwar nie.”

      “Tot in ewigheid?” sê ek, en lag skamper (gedagtig aan Sof se Gereformeerde hel).

      Die man lag saam, ’n plesierige laggie.

      “Wat het jy gesê is jou naam?” vra ek.

      “Freek,” sê hy. “Freek van As!”

      “Ek is jammer,” sê ek, “ek kan jou steeds nie heeltemal plaas nie. Jy verwar my met iemand anders.”

      Freek van As gaan onverstoord voort. “Jy het laat die aand saam met Marthinus Maritz en Herman Holst daar aan­ge­kom.”

      “Dit onthou ek,” sê ek. (Ek het my kop verloor dié aand; ek was dronk, my optrede was afkeurenswaardig.)

      “Luister Freek,” sê ek, “ek kan nie nou met jou praat nie. Hulle het gister by my ingebreek. Ek herstel nog van die skok.”

      Nou kraak die lyn so dat sy stem onhoorbaar is. Ek oorweeg dit om op hierdie punt die telefoon saggies terug te sit op sy mik. Herman Holst, die koerantredakteur, was die aand daar; Marthinus Maritz, die digter met die misplaaste lewensdrang, was daar; ons het besoek gebring aan Felix du Randt, ’n gewese minnaar van my. Baie vaagweg ont­hou ek die teenwoordigheid van ’n vierde persoon, maar ek kan nie daar­van seker wees nie. ’n Donker man? Bleek.

      “Ek moet gaan,” sê ek. “Ek kan hierdie gesprek nie nou voortsit nie. Ek het te veel ander dinge waaraan ek tans my aandag moet gee.”

      “Ek aanvaar dit so,” sê Freek, “ek laat weer van my hoor.”

      “Liefs nie,” sê ek, en sit die foon neer. Tot sover die newel­agtige skim van Freek van As, asook die intrusiewe herinne­ring aan ’n aand in Braamfontein byna dertig jaar gelede. Ek keer daarna terug wanneer ek minder onthuts oor my verlies is.

      Ek drink ’n stewige whisky en gaan slaap. Ek het nog nie die moed om ’n lys van die vermiste skulpe te maak nie. Wat het Freek van As na sewe en twintig jaar laat besluit om met my in aanraking te kom? Skuld ek hierdie man iets?

      *

      Theo Verwey sien daar vanoggend gladgeskeer en rosig uit. Schütz op die CD-speler. Ons praat oor dié spesifieke op­name.

      “Ek het indertyd tot ’n Schütz-koorgroep behoort,” sê Theo.

      “Dit moet ’n besondere ervaring gewees het,” sê ek, “om Schütz te sing.”

      “Dit wás,” sê hy. “Ek het ’n uitvoering van die Sym­pho­niae Sacrae in Berlyn in 1996 gehoor. Dit was werklik uitmuntend.”

      “Sewe jaar na die muur afgebreek is,” sê ek. “Schütz in Berlyn. Hou jy van Berlyn as stad?”

      “’n Werklik besondere stad,” sê Theo. “Dit het ’n ander sfeer as die res van Europa.”

      “’n Anargistiese energie, het ek gehoor. Ek was nog self nie daar nie.”

      “Maak ’n plan om te gaan,” sê hy.

      Ek haal my skouers op.

      “Ons het ’n ekstra skenking gekry vir die projek,” sê hy.

      “Dis goeie nuus,” sê ek, “by wie – ’n weldoener?”

      Theo kyk verbaas. “Hoe het jy geweet?”

      Ek sê ek het geraai, ’n grap gemaak.

      “’n Lid van die Kommissie vir die Bevordering van Afri­kaans. Die Derde Afrikaanse Taalgenootskap. ’n Hoëprofiel-individu. ’n Mooi bedrag. Hy borg ruimhartig jou aanstelling vir die eerste ses maande, maar hiermee kan ons jou kontrak met ’n verdere ses maande verleng.”

      Theo staan in profiel by die venster en uitkyk. Hy is ’n mooi man. Sy gelaatstrekke is besonder harmonieus, die mond selfs ’n tikkie te sensueel. Ek kan met geeneen van sy gelaatstrekke selfs die geringste foutjie vind nie. Sy gelaats­kleur is rosig – ’n teken van goeie bloedsirkulasie en ’n ge­sonde dieet. Sy donker hare is welig en begin pas grys word. ’n Gesig wat hom leen tot sensuele oorgawe – as die uitdrukking in sy oë anders was, sou ek selfs sê dis ’n harts­togtelike gesig. Sy wenkbroue vorm ’n hoë boog, wat iets permanent verbaas aan sy voorkoms gee. Hy staan ’n oom­blik peinsend met ’n kaart in sy hand.

      Ek het dinge op die hart, dringende kwessies, en die man ontlok by my ’n vreemde behoefte om my hart teenoor hom uit te stort. Onverklaarbaar, vind ek dit. Miskien omdat ek vermoed dat die behoefte hier ongeoorloof is? Verskerp die verbod in daardie geval die begeerte? Ek soek na gepaste (gevoeglike) woorde vir die gevoelens wat dringend in my keel uit die hartstreke opstoot. Voorlopig is ek onseker oor hoe ek hulle betaamlik moet inklee.

      “Ek het onlangs ’n baie mooi boek gelees,” sê ek.

      Hy kyk van die kaart af op. Hoflik. “Ja?” sê hy.

      “Dit gaan oor ’n man wat baie ryk is. Fabelagtig ryk. Dit het my aangespreek,” sê ek, “daardie soort rykdom. Hy wil onder meer ’n kapel met Rothko-skilderye koop. Sy agent raai hom af. Hy dring met ’n soort perversie daarop aan.”

      Theo Verwey kyk steeds hoflik na my; hy wag dat ek voortgaan.

      “Die man se agent en adviseur – ’n gewese minnares van hom – één van sy reeks adviseurs, trouens, sê hy is dit aan die publiek verskuldig om die kapel nie vir sy privaat ge­bruik aan te koop nie.”

      Theo kyk geïnteresseerd.

      “Maar die man hou vol. Hy wil dit vir homself hê. Bloot omdat hy dit kán.”

      Ek bly ’n oomblik stil, luister na die musiek. Ek vind die instrumente mooi, die geluid assosieer ek met komplekse kleure – met tersiêre, nie met primêre kleure nie.

      “Hoewel dit meer as sy rykdom is wat my in die boek aanspreek,” sê ek.

      “Ja?” sê Theo.

      “Hierdie man beweeg van een punt na ’n ander in die stad in ’n limousine. Hy het selfs onderhoude met sy verskillende adviseurs hierin. Daar is verskillende oponthou­de en versperrings. Onder meer ’n begrafnisstoet. Dit is een van die mooiste dele in die boek. Hy eet een of twee keer saam met sy vrou. Hulle is pas twee weke getroud. Sy is ook enorm ryk. Aan die einde van die boek is hy dood.”

      “Is dit so?” sê Theo Verwey, en lig sy welgeskape wenk­broue ’n aks hoër.

      “Ja,” sê ek, “ja, helaas.”

      “Beveel jy dit aan?” vra hy.

      “O, ja,” sê ek, “van harte. Die boek of die dood?”

      Hy glimlag.

      *

      Die middag bel ek konstabel Modisane om te hoor of hulle al die skurk gevang het wat my skulpe gesteel het.

      “No-ho,” sê die konstabel, met ’n aarseling in sy stem wat my laat vermoed dat hulle nog nie die geringste poging aangewend het om iets aan die saak te doen nie.

Скачать книгу