Die boek van toeval en toeverlaat. Ingrid Winterbach (Lettie Viljoen)

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die boek van toeval en toeverlaat - Ingrid Winterbach (Lettie Viljoen) страница 4

Die boek van toeval en toeverlaat - Ingrid Winterbach (Lettie Viljoen)

Скачать книгу

sê die man, en hy klink nie onsimpatiek nie.

      “I trust you will do your best,” sê ek.

      Ek hoor ander stemme in die agtergrond, die konstabel praat met iemand oor sy skouer.

      “Well, goodbye,” sê ek.

      “Goodbye,” sê die konstabel, afgelei.

      Die aand drink ek twee whiskys voor ek ’n lys maak van die vermiste skulpe. Die drie Nautilus pompilius-skulpe is weg – twee kleintjies en ’n grote. Albei Murex nigritus-skul­pe is weg. Die Terebra maculata en die Terebra aerolata is weg. Die drie Harpa major-skulpe is weg. Die Conus marmoreus, die Conus geographus, albei Conus textile-skulpe, die twee Conus betulinus-skulpe en die twee Conus figulinus-skulpe, almal weg. Die twee Periglypta magnifica-skulpe is weg. Die topskulp Trochas maculata is weg. Die bruid van die see, Argonauta argo, is weg. Die twee wit kauri’s (Ovulaovum) en die tieroogkauri (Cypraea tigris) is weg. Al die tonnas en die helmskulpe is weg. Die Marginella mosaica en die blosende Marginella rosea is weg.

      Ek gaan lê op die bank in die sitkamer. Ek het teenstrydige gedagtes. Die drie Harpa majors was van my mooiste skulpe. Hulle vorm en kleur is aangrypend – die delikate vertikale ribbes soos die snare van ’n harp; die delikate, ligbruin lyntjies tussen die opgehewe ribbes soos die klein lyntjies geteken deur ’n seismograaf. Veral na hierdie drie skul­pe het ek die afgelope tyd met groot aandag gekyk. Ek sou die noulettendheid waarmee ek na hulle gekyk het selfs ’n soort meditasie kon noem, want daar is min ander dinge waaraan ek my aandag so selfloos en ononderbroke gee. (My eerbiedige aandag.) Maar ofskoon ek egoloos op hier­die voorwerpe, hierdie skulpe, gemediteer het en selfs God in die detail gesien het (by wyse van spreke), het ek my terselfdertyd steeds uitermate aan hulle geheg. Moes ek my hart minder aan hulle gehang het? Moes ek die heil van my siel (ewig, onsterflik) op ander maniere probeer bewerkstellig het? Moes ek die skoonheid my laat voed, maar van die plesier van besit afstand gedoen het? Moes ek die afgelope jare minder in lewelose dinge en meer in verhoudings belê het? Ek het vandag vir Theo Verwey van die ryk man vertel. Waarom? Flardes herinnering aan die aand in Braamfontein, dertig jaar gelede, kom by my op. Wie is hierdie Freek van As wat byna dertig jaar later soos ’n hond met ’n dooie voël in sy bek by my aankom?

      Van dié besondere aand onthou ek allereers dat ek te veel gedrink het. Ek onthou dat die jong koerantredakteur Herman Holst daar was – ’n aantreklike, netjiese, geïnhi­beer­de kêrel wat sedertdien iewers in die groot niet ver­dwyn het en sy geluk in Amerika gaan soek het. Hy en die digter Marthinus Maritz het in dié tyd dikwels saam uitgehang. Ek is met die twee van hulle na die woonstel van Felix du Randt. Ek het enkele weke vantevore my verhou­ding met Felix beëindig. Ek het die aand intense spyt daar­oor gehad en ek wou hom meteens gaan besoek en ten minste ons ver­trouensverhouding herstel. As ek reg onthou, was die digter en die uitgewer maar alte gretig om my te vergesel. Uit­ge­honger vir ’n bietjie opwinding. Ons het laat­aand by Felix se woonstel in Braamfontein opgedaag. Ek was in ’n opge­werk­te en ooremosionele toestand. Sexy Felix du Randt met sy spits, sluwe vosgesig het ons hoflik ontvang, maar teen­oor my was hy yskoud. Van sy kant was daar geen sprake van ’n versoening nie. Nooit het ek kon voorsien dat vosse­rige Felix met sy warmbruin, sproeterige vel, wat my ’n paar maande vantevore nog met soveel harts­tog, so sonder ambi­valensie en met soveel vertedering be­jeën het, sy rug so on­verbiddellik op my sou kon draai nie. Hoe afstandeliker hy teenoor my was dié aand, hoe meer histeries het ek geraak. Wat wou ek van hom hê? Dat hy my terug in sy arms sou neem? Dat hy my teer en intiem sou toelag soos hy dit enkele weke vantevore in ons liefdesbed gedoen het? Dat hy steeds ewige trou aan my sou sweer nadat ek hom laat verstaan het dat hy nie die regte man vir my is nie? Felix het ’n ander sy van homself daardie aand laat sien, een waarvan ek nie vermoede gehad het dat dit bestaan nie.

      Marthinus Maritz is al dood. Felix het ek nooit weer ge­sien nie; hy was iewers in die Noorde hoof van ’n taalburo of taalkunde-departement voor hy tragies in sy vroeë veertigs in ’n motorongeluk dood is.

      Marthinus Maritz, die digter met die verbete lewensdrif, het effens vooroorgebuig gestap, sy bolyf was vlesig, sy voete effens na buite gedraai; sy swaar, donker, bebaarde kop te groot vir sy lyf; sy blik sowel uitdagend as verwil­derd; in sy oë die lig van poëtiese besetenheid. Sy eerste digbundel was ’n groot sukses. Hy was hartstogtelik oor die poësie, ambisieus, intellektueel energiek – selfs onvermoei­baar – maar ’n emosionele kreupele. ’n Vertwyfelde, gekwel­de man. Hy het moeilike kinderjare gehad, sy ma het hom skreiend verwaarloos, haar minnaars het hom mishandel. Hy was getroud; ons het een of twee keer seksueel iets probeer, maar ons kommunikasie en aangetrokkenheid tot mekaar was verbaal, nie fisiek van aard nie. Sy eerste digbundel is toegejuig as ’n gawe Gods aan die taal. Waar in Afrikaans is daar nog so ’n debuut – nog so ’n bundel trouens – waarin pyn, vertroebeling en emosionele versaking so aangrypend verwoord word, waarin daar soveel hartstogtelike verse oor jeug en illusie, wanhoop en ontgogeling is, as in daardie eerste digbundel van Marthinus Maritz? Hy kon dit nie weer regkry nie. Wallace Stevens was een van sy geliefkoosde dig­ters. Die motto in sy eerste digbundel was ’n aanhaling uit ’n gedig van Stevens. Marthinus was ’n misplaaste figuur, hy het homself toenemend misken en geïsoleer gevoel, die poësie opgegee, geld probeer maak, dit reggekry. Sy sake-onderneming was ’n reusesukses, hy het enorm welgesteld geraak, die poësie weer opgeneem, maar hy het nooit weer iets soos sy eerste bundel kon skryf nie. Miskien het hy ge­dink as hy ’n fat cat soos Wallace Stevens is, sal hy soos Stevens kan skryf.

      Marthinus was ’n man met ’n deurdringende intelligensie en ’n ongekontroleerde aggressiewe streep wat soos ’n foutlyn deur sy persoonlikheid geloop het. Sy aggressie was meesal op vroue gerig. Ek het dit nie toe besef nie. Hy het my die aand, toe ek histeries uitgevaar het en met opset rooi wyn op Felix se nuwe wit bokhaarmat gemors het, aan weerskante van my gesig geklap met ’n oorgawe waarvan ek nou, dertig jaar later, eers die intensiteit kan herken. Dit het daardie man genot verskaf om my in die openbaar te klap, besef ek nou, aan weerskante van my gesig dat die handmerke rooi gewys het, oënskynlik om my tot bedaring te bring. Felix du Randt, die gewese minnaar, het uitdrukkingloos toegekyk en ’n lap gaan haal om die rooi wyn op sy duur nuwe mat mee op te vee. Dit was duidelik dat hy alles wat hy vroeër emosioneel in ons verhouding belê het, in daardie duur, wit, geweefde, egte langhaarbokmat herbelê het – hy het die wynvlekke met afsku bejeën. Ek twyfel of hy tussenbeide sou getree het selfs as Marthinus my nog hardhandiger behandel (gestraf) het.

      Maar buiten Marthinus Maritz, Felix du Randt en Herman Holst was daar dus nog ’n vierde persoon teenwoordig, die newelagtige Freek van As, wat alles die aand waargeneem en met my ’n gesprek oor Plato gevoer het, as ek hom moet glo. Die uitgewer het verdwyn, die digter en die gewese minnaar is dood, net Freek van As het oorgebly. Na sewe en twintig jaar tree hy uit die newelryk van die verlede te voor­skyn om my aan ’n insident in my laat twintigerjare te herinner. Stel ek nog belang? Dit is verby en afgelope, daardie tydperk van vergissing en swak oordeel.

      *

      “Die mooiste deel in die boek waarvan ek jou gister begin vertel het,” sê ek die volgende dag vir Theo Verwey, “is mis­kien die beskrywing van die begrafnisoptog van die dooie rap-sanger. ’n Spektakulêr uitgebreide optog. Die ryk man klim uit sy motor en slaan dit gade. Die oorledene se lyk word in die lykswa ten toon gestel, ietwat gekantel, as ek reg onthou, sodat dit nie plat lê nie. Die dooie sanger se stem op kasset – geweldig versterk – begelei die optog. Stel jou dit voor. Daar is onder andere ook dervishes in die op­tog. Wat is ’n dervish tog weer in Afrikaans?”

      “’n Derwisj, ’n Mohammedaanse bedelmonnik,” sê Theo, “van die Persies darvish, wat arm beteken.”

      “Die bedelmonnike dans,” sê ek. “Hulle tol om en om. Dis een van die mooiste momente in die boek, die beskrywing van die tollende, draaiende derwisje.”

      Theo Verwey knik hoflik.

Скачать книгу