Iemand vir 'n scoop?. Marida Fitzpatrick

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Iemand vir 'n scoop? - Marida Fitzpatrick страница 7

Автор:
Серия:
Издательство:
Iemand vir 'n scoop? - Marida Fitzpatrick

Скачать книгу

As jy meer wil weet, ontmoet my Maandag 12:00 by die standbeeld in Nelson Mandela Square.

      Andi druk die papiertjie in haar sak. Sy wil nie hê die fotograaf moet dit sien nie. Dit kan dalk niks wees nie, maar sy het ’n gevoel dis iets ... iets wat vir haar die storie van haar lewe gaan gee.

      3

      Die aand, nadat sy haar Jack Greeff-verlowingstorie geskryf en gestuur het, kuier sy by Vera en Hano in hul Toskaanse villa in Houghton. Dis Vrydag en sy hoef nie môre te werk nie. Andi en Vera kom al van graad een af saam. Vera was altyd die slimmer een op skool. Om die waarheid te sê, sy was dié slimste. Dux-leerling van Benoni Hoër, nege onderskeidings in matriek, aktuarieel gaan swot.

      Andi weet nou nog nie mooi wat aktuarieel beteken nie, al het Vera haar dit al hoeveel keer verduidelik. Dit het haar lank genoeg gevat net om te leer hoe om dit reg uit te spreek. Nou weet sy dit het iets te doen met iemand wat vir versekeringsmaatskappye uitwerk wat jou kans is om dood te gaan of ’n horribale siekte te kry sodat hulle kan weet hoeveel jy per maand vir lewensversekering moet betaal, en hulle nog steeds meer as jy score.

      Vera het een keer vir haar gesê ’n vrou se kans om in ’n terroriste-aanval te sterf, is statisties groter as haar kans om ná die ouderdom van dertig ’n man te kry. Andi wonder of sy dalk in die Midde-Ooste moet gaan bly om albei daardie kanse te verhoog.

      Rentia en Vera het saam by daardie grênd ouditfirma gewerk. Dis hoe Andi en Rentia vriende geword het. Maar nou is Vera voltyds ma. Sy mis die syfers, sê sy. Op universiteit was haar hele koshuiskamer met wiskundige formules beplak. Toe sy die syfergetikte rekenmeester, Hano Terblanche, die eerste keer na haar kamer nooi, was die transaksie so te sê beklink.

      Vera het nog altyd met haar kop besluit en Andi vermoed dit was ook die geval met Hano. Hy hou daarvan om Playstation te speel en liedjies uit die Gesange en Psalms-boekie te fluit.

      Selfs al het Vera nou ’n man en kinders, het Andi altyd ’n ope uitnodiging om daar te gaan kuier. Ná die nagmerrie-onderhoud met Jack Greeff het sy moederlike troos nodig. En dis nou een ding wat Vera kan gee.

      Dit is ’n missie en ’n half om by hulle huis uit te kom. Hulle woon in ’n estate binne-in ’n estate in ’n afgesperde woonbuurt, wat eintlik net ’n ander woord is vir ’n estate. Dis net wagte en waterfonteine en broodbome waar jy kyk. Baie posh.

      Eers het dit Andi glad nie gepla dat Vera getroud is en kinders het en sy wat Andi is, nie eens ’n kêrel kan kry nie. Maar deesdae begin dit aan haar krap. Seker omdat Rentia nou ook gaan trou. En Wendy het konstant ’n trop mans agter haar aan. Wanneer die troulus haar beetpak, kan sy net haar vingers klap en vyf van hulle sal met ’n ring in die hand op een knie neersak. Andi kan nie help om te voel of sy op die rak agterbly nie. Een van die dae is sy dertig en steeds single. En sy’t nie eens ’n loopbaan om van te praat nie.

      Met haar aankoms is daar chaos in Villa Terblanche.

      Riekert, amper een, skreeu op Vera se heup. Hy lyk soos ’n foto vir een van daardie plakkate of TV-advertensies oor kindermishandeling: Net trane en slym en kromgetrekte handjies met twee ogies wat sê: Kan iemand asseblief tog net lief wees vir my?

      Vera se oë sê: Kan iemand asseblief vir my binneaarse valium toedien?

      Maar al wat sy sê, is: “Andi, kom net in. Kry vir jou iewers ’n sitplek. Soos jy kan sien, moet ek gou ’n paar goed uitsorteer.”

      “Dis reg so, Veer. Gaan jy aan.”

      Toe sy instap, hoor sy vir Jantjie hoog en aanhoudend blaf. Jantjie is hulle worshond wat ’n obsessie het met skaduwees. Wanneer hy so blaf, weet Andi al, is dit vir ’n skaduwee. Dit raak erger as hulle te min met hom gaan stap.

      “Beeno!” skreeu Vera terwyl sy met die gillende Riekert by die trappe opklim. “Beeno, Jantjie, Beeno! Ounooi gee Beeno!” Die hondesielkundige het gesê die enigste manier om Jantjie se aandag van skaduwees af te lei, is met ’n lekkerny. “You’re very lucky that he’s food motivated, you know,” was die sielkundige se kommentaar. Toe Vera haar dit vertel, het Andi gewonder of sy dit vir Paul moet sê: “You’re very lucky that I’m food motivated, you know. Gee vir my ’n roomys en ek skryf vir jou ’n voorbladberig.”

      Maar vanaand werk Beeno nie op Jantjie nie. Sy blaffies raak net meer en hoër. En nou het Knersus, hul ander worshondjie, vir Jantjie se wangedrag begin blaf. Knersus beskou dit as sy plig om Jantjie te dissiplineer, aangesien hul eienaars dit nie regkry nie. Die twee blaf nou in kanon.

      Andi stap maar sitkamer toe. Die huis ruik na brand. Vera is ’n briljante aktuaris en goeie ma, maar nie die wêreld se beste kok nie. In die sitkamer tref Andi vir Hano op die mat aan, omtrent dertig sentimeter voor die enorme platskerm-TV. Hy speel Playstation. Dit lyk of daar enige oomblik kwyl by sy mond gaan uitdrup.

      “Hallo, Hano,” sê sy, maar sy kry net ’n knik terug, sonder dat hy sy oë van die skerm wegskeur. Hy is seker in die kritieke fase van stage vyf punt iets van een of ander geveg.

      Andi gaan sit op die leerbank. Bo hoor sy nog Riekert se gille, wat nou nie meer hartseer is nie, maar woedend.

      Die geluide van die speletjie doof dit effens uit. Elke keer wanneer Hano met koorsagtige duimklieke ’n man op die skerm doodskiet, sak hy met die vreeslikste sterfgeluide inmekaar. Wanneer daar nog mans in weermagklere voor die geweerloop op die skerm verskyn, versnel die aantal duimklieke en lyk dit of Hano se regtervlerkie in ’n spasma ingaan. ’n Man van sewe en dertig.

      Dan hoor Andi klieke van ’n ander aard. Sy kyk om en sien Nina, drie, poedelkaal by die trappe aftrippel in haar Barbie-hoëhakskoene. Bolle skuim kleef oral aan haar lyfie.

      “Nina, kom terug!” gil Vera van bo af.

      Nina het uit die bad ontsnap en is baie in haar skik daaroor. Arme Vera, dink Andi. Sy kyk vir Hano. Hy sien Nina nie eens nie. Hy maak nou klein geluidjies en sy kop ruk. Sy sal moet ingryp, besluit Andi, al is sy hoe bang vir kinders. Nina hardloop weg toe Andi op haar afpyl. In die kombuis gly haar skuimvoetjies op die teëls en sy val. Juig al wat leef. Nou is daar nog ’n geluid om by Riekert se gille, Jantjie se geblaf en die Playstation-doodskreune te voeg. Dit begin bedrieglik sag. Net so ’n hoë geteem, maar dan crescendo dit tot ’n allemintige martelaarskreet. Andi gryp haar aan die hand en sleep haar al skreeuend by die trappe op. Klein stoutgat.

      “Dankie, An,” sê Vera waar sy op haar knieë voor die bad staan. Vera is so mooi, sien Andi weer. Klein met ’n fyn gesiggie en kort, donker pixie-hare wat veertjies maak oor haar voorkop en langs haar slape. Riekert speel nou op engelagtige wyse pienk en vrolik in die skuim op ’n manier wat ’n mens laat dink jy het nou-nou gehallusineer toe jy die duiwel self in sy oë kon sien.

      Hy kyk sy suster verbysterd aan, asof sy waansinnig is om so te skree oor ’n heerlike skuimbad. “Jy gaan naughty chair toe,” waarsku Vera haar. Die naughty chair is hulle plaasvervanger vir lyfstraf. Die dreigement het geen uitwerking nie. Op die ou end kry sy Nina tevrede deur toe te laat dat sy met die Barbie-skoene en al in die bad klim.

      “Hoe gaan dit by die werk?” vra Vera toe dit uiteindelik so stil en salig is dat hulle die skuimborreltjies kan hoor bars. Siestog, sy’s altyd so beleefd. Maak nie saak watter katastrofes in haar huis afspeel nie, sy sal altyd die ordentlike ding doen en in ander mense se lewe belangstel.

      “Eintlik heel opwindend,” sê Andi. Sy’s nou ook op haar knieë voor die bad en maak klowe in die skuim met ’n Bratz-pop.

      “Opwindend, sê jy?”

Скачать книгу