Sondag op 'n voëlplaas. Johann Nell

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Sondag op 'n voëlplaas - Johann Nell страница 11

Автор:
Серия:
Издательство:
Sondag op 'n voëlplaas - Johann Nell

Скачать книгу

Fransman het die geskenk by my gevat en toe ons hande aan mekaar raak, kon ek sy naskeermiddel of iets ruik. Hoe hy met daai twee eiers en voëlvel weer terug in Frankryk sou kom, het ek nie geweet nie.

      Agter in mister Pocock se kar was ’n boks met twaalf bottels wyn wat ek moes gaan uithaal. Vir Pa, oom John en die man van die koöperasie om te deel. Regte egte Franse sjampanje. Die goud­kleurige etikette op die groen bottels het ek seker honderd keer oor en oor gelees en probeer verstaan: Moët & Chandon. Hoe spreek ’n mens dit uit? Ek het gewens ek kon mister Fransman vra om dit net een keer hardop te sê.

      Hoe die transaksie verder verloop het, het my min geskeel. My hart het gesing. Die gedagte van geld uit vere en voëls was wonderlik bevrydend. En om die bottels wyn wat uit ’n ver land kom vas te kon hou, was amper ’n gewyde oomblik.

      Daardie aand het ’n paar uitheemse woorde op my tong kom lê. In my kamer, voor die spieël teen die hangkas, het ek stip na my mond gekyk en die vreemde klanke tussen my lippe laat uitrol. Ek kon sweer ek praat Frans: mêrciééé, whiéé-whiéé, sie-whóé-plei, bôn-djóér, sjaampaan. Dit was beslis nie sjêmpyn nie! As ek al hier­die nuwe woorde in een lang sin aanmekaar las, en dan nog Moulin Rouge, Hendrik Frensch Verwoerd, Brussels sprouts en Moët & Chandon sporadiesêrens in die middel invoeg, was dit ’n eg fantastiese lang Franse gesprek!

      Ek het my gesig nader aan die spieël gebring. Toe ek met my mond aan die spieël raak, was dit koud en hard. Ek het myself sta­dig en lank op die lippe gesoen. Ek het ’n tree teruggegee. Vir ’n oomblik het ek weer na myself gekyk en die eerste tekens van ’n donserigheid op my bolip sien uitkom.

      Jou mooi slákvreter, het ek gesê en toe in die bed gespring. Mettertyd het ek gehoor dat Pa gesê het die Fransman is ’n “dandy boy”.

      Dis ’n mooi naam, het ek gedink.

      12

      Die tyding van Andri se ongeluk met die volstruis het binne ure die verste uithoeke en diepste gate van die Kangovallei bereik. En die stories het gelóóp.

      “Dis Dawid de Jager se eie skuld,” het ek gehoor hoe oom John Bruwer een middag, nie lank daarna nie, vir Pa gesê het. “Dis om­dat hy ’n hele trop mannetjies saam in een kamp met hóéveel wyfies aanhou.”

      “Ja, mens hou tog een mannetjie by twee wyfies, of hoogstens drie, in een kamp!” het Pa sy kennis van volstruisboerdery laat blyk.

      “Dís nou as jy jou lyf slim hou, en jy dink jy weet hoe om met broeivoëls te boer. Dan gebeur sulke goed.” Oom John het sy hande in die lug gegooi.

      “En waar’s Emily de Jager? Kon sy nie kyk wat haar kind doen nie? Jy los mos nie so ’n klein meisiekind alleen by sulke groot voëls nie, en dan hoop en bid jy maar die plaasvolk kyk agter haar.” Dit het vir my geklink of Pa iets sê wat Ma vroeër aan hom gesê het.

      “Ja, sies, man! Wanneer gryp een van hulle haar?”

      “Dis mos omdat sy nie na ’n normale skool toe gaan nie. As sy in die koshuis op die dorp was, het daai kind nie nou op sterwe gelê nie.”

      “Nee, dis daai meisiekind se eie skuld. Hou haar lyf mos seuns­kind. En kyk wat hét sy nou daarvan. Sy dink sy’s die plaasseun. ’n Regte mannetjiesmeisiekind as jy my vra.”

      “Trek glo tot seunsklere aan. Jy sal nie wéét dis ’n meisiekind nie. Pleks dat sy saam met haar susters koeke bak.” Pa het so met sy twee groot hande beduie, asof hy presies weet hoe ’n koek gebak word.

      “Is so! Daai Dawid en Emily de Jager gaan nog lang trane huil oor daai kind. Sy lyk hoeka nie reg vir my hierbo nie.”

      Eers die een dan die ander man draai die wysvingers langs die ore. Pa en oom John dink Andri is mal! Ma ook, ek het al gesien hoe maak sy haar oë as sy oor Andri praat.

      Andri is nie mal nie, dink ek. Dis omdat sy ’n seunsnaam het. ’n Meisiekind met ’n seunsnaam, dis hoekom!

      Of is sy dalk regtig ’n seunskind? ’n Meisiekind met ’n tollie? Sê nou maar …

      Mieta het hier by ons vir Meisie kom vertel dat Andri, tot almal se verbasing, so vinnig herstel dat sy ná drie dae uit die hospitaal op Oudtshoorn ontslaan is. Die rug toegewerk met presies vyftig steke. Die meisiekind kon by die huis aansterk as sy haar stil gedra tot die wonde geheg het. Oor veertien dae moet die steke weer uit.

      As ek Andri weer sien, sal ek haar self loop vra of dit waar is. Ek het gewonder of sy die krapmerk met die steke vir Jester sal wys. Dit sal nie goed wees nie, want dit sou beteken sy moet haar hemp optrek om haar rug vir hom te wys. Dalk gaan loer hy smiddae ná skool, wanneer niemand naby is nie, deur haar oop kamervenster. Ek wonder wat maak die twee wanneer ek nie naby is nie. Nee, ek weet presies wat hulle doen. “Issit seer?” sal hy vra, en sy sal haar kop knik. Dan sal hy sê hy sal die volgende dag weer kom, en sy sal sê dit is reg. Die volgende dag sal sy on­gevraagd en sonder waar­sku­wing haar pajamahemp optrek en haar rug vir hom wys. “Kyk!” sal sy spog. “Vyftig! Jy kan dit tel.”

      “Jissss,” sal hy sê, “dis kwaai!”

      Haar gesig sal dan ernstig word. Hy is al gewoond daaraan dat sy die een oomblik laf is en die volgende een doodernstig. Die blou oë onder die goue krulkuifie op skrefies getrek. “As jy môre weer kom, gaan ons na my geheime plek toe,” sal sy fluister.

      Ja, ek weet. Sy dink ek weet nie, maar ek weet. Daardie bliksemse, bliksemse Jester!

      13

      Soms ry ek smiddae ná skool met my fiets af tot by die teerpad aan die onderkant van ons plaas wat soos ’n slang al langs die rivier afkronkel. Al die verkeer na en van die grotte gaan hierlangs, nie net motors nie maar ook busse. Groot busse. Toerbusse. Springbok Tours/Toere. Holidays for Europeans. Stampvol in luuksheid gelaai met mense wat vakansie hou en dan na interessante plekke geneem word. En een van daardie plekke waarheen mense graag kom, is die Kangogrotte.

      Wie is hierdie mense wat op busse vakansie hou? By die huis gaan vra ek vir Ma. Toe sy sê dis mense van oorsee, het ek eers gedink sy bedoel mense wat op Mosselbaai bly. En toe vertel Pa my ook die grotte is ’n wêreldbekende besienswaardigheid vir toeriste. Hulle kom van Duitsland, Engeland, Frankryk en Amerika om hier te kom kyk hoe ons streek lyk. Dit is omtrent die eerste keer dat Pa met my gepraat het of ek al groot is en genoeg verstand het om te verstaan. Die meeste van hierdie toeriste het nog nie eens ’n volstruis gesien nie, sê Pa. Dalk net op ’n prentjie. Of ’n verdwaalde enetjie in hulle koue Europese dieretuine. En dis waarom hulle ook op die volstruisplase met die bus stop en dan na die voëls kyk.

      Dames en here, onthou daar’s 24 hoendereiers in een volstruiseier!

      Waaat …?

      Ja, en die dop is so sterk dat die grootste mens daarop kan staan!

      Neee …!

      Ladies and gentlemen, die volstruis voel geen pyn as die vere ge­pluk word nie.

      Haai …?

      ’n Mens pluk nie ’n volstruis soos wanneer jy ’n afkophoender se vere uittrek vir die pot nie.

      Ha-ha-ha …!

      Nee, madames et monsieurs, die mannetjiesvolstruis se vere word twee keer per jaar gepluk. Vir versierings.

      Oee

Скачать книгу