Sondag op 'n voëlplaas. Johann Nell

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Sondag op 'n voëlplaas - Johann Nell страница 8

Автор:
Серия:
Издательство:
Sondag op 'n voëlplaas - Johann Nell

Скачать книгу

staan. Mieta het hom daardie aand ná werk langs die strooise se buitetoilet gegryp. Die arme Jester het eers gedink sy maak ’n grap. Maar toe die eerste houe met haar kaal hand op sy kaal boude val, het hy sy mamma deur al die taai snot en trane plegtig belowe, ook voor die Heretjie in die hemel, dat hy nooit ooit weer in ’n volstruiskamp sal ingaan nie. As daai voël jou trap, bly net jou harsings teen die grond sit.

      “Waar het jy dit gehoor?” het ek Andri gevra.

      “Mieta het dit self vir Mamma kom vertel.”

      En toe sy dit sê, was ek spyt dat Jester se ma hom nie harder geslaan het nie. Vir wat sal hy ook maak soos wat Andri maak?

      Andri het my ook vertel dat sy een oggend saam met Jester in die hoenderhokke besig was om die hoendereiers versigtig in die rot­tangmandjie vir die kombuis te pak toe Jester skielik een van die eiers op die grond gesit het. Andri het hom verbaas aangekyk. “Wat maak jy nou?”

      “Kyk hier,” sê hy. Andri staan toe opgewonde nader, want sy het gedink hy wil haar iets wys.

      “Ek kan ook op ’n eier dans,” sê Jester. En voor Andri nader kon kom, sit hy sy voet op die eier. En toe die ander voet. Kraak! Onder sy voete spat ’n geel, slymerige gemors.

      Andri het geskok nader gestorm. “Is jy dom, jou stupid?” skree sy. “Dis ’n hoendereier! Dis nie ’n volstruiseier nie.”

      Jester het verleë eenkant toe geval toe Andri hom hard wegstamp. Sy het by die platgetrapte eier gebuk, asof sy dit wil optel om weer aanmekaar te sit. Onder haar hande het die slymerige eierdop in honderde stukkies in die grond ingetrap gelê.

      Sy het woedend na hom opgekyk. “Voertsek! Voertsek hier by my eiers. Lóóp!” Sy het hom aangekyk totdat hy wegdraai en by die hekkie uit is. Toe skree sy weer vir hom: “Jy kom nooit weer naby my hoenders of eiers nie! Hoor jy my, klong? Nooit nie!”

      Ek weet nou nie meer hoeveel van my herinneringe verbeelding is en wat daarvan regtig so gebeur het nie. Dit is egter hoe dit in my kop leef en al hoe ek dit kan onthou. Ek sien byvoorbeeld hel­der voor my hoe Andri een middag weer bo-op ’n eier in haar eie wêreld verlore raak. Die sonbesies het oorverdowend in die geel doring­bome gesing. Plek-plek het dwarrelwindjies stof die lug ingetrek. Sy het probeer om, met haar tone klouend aan die ovaalvormige dop, die eier al in die rondte te laat tol deur haar bolyf hard met haar arms om te swaai. ’n Mal dansie bo-op ’n volstruiseier. Sy het haar oë styf toegeknyp en haar gesig in die warm Karooson ingedraai.

      Draai-draai-draaaaaaai op die eier. Dan weer anderkant toe.

      Draai-draai-draaaaaaai.

      Onder haar voete het die eier ook gedans. As sy dan haar oë oop­maak, was alles pikswart om haar. Verblind deur die helder son en dronk gedraai.

      Sy het eers gehoor dat die volk histeries skree toe ’n harde hou haar reg van agter teen die rug tref. “Daai voël! Pasop daai voël!” was al wat Pietman kon uitkry, hy was een van Dawid se voormanne.

      Andri het met ’n slag in die harde stof ingeduik. Haar kop het die grond eerste getref.

      “Bly op die grond!” het Pietman vir haar geskreeu. “Moenie op­staan nie … bly plat lê!”

      En toe was die pikswart mannetjiesvoël bo-op haar. Die klou aan sy regterpoot se toon, ’n vlymskerp prehistoriese lem, het haar rug oopgekloof. Dit het gelyk of hy bo-op die klein bondeltjie dans soos hy trap-trap met sy rooi slangvelbene. Die swart-en-wit vlerkpluime aan weerskante van sy lyf het ’n asvaal wolk hoog die lug in opgestuur. Die volstruis se klein kop het op en af geruk op die lang dun grys nek, die eend-bek hap-hap en klap-klap, sy groot ronde oë oopgesper.

      Pietman kon die vinnigste by haar uitkom en het die gedierte met ’n doringtak verwilder. Die volstruis het weggespring, maar Pietman nog ’n keer bestorm; knoppiesvelbene al trappend hoog in die lug en ’n slanggeluid uit sy keel.

      Pietman het Andri van die grond opgeraap. Daar was oral bloed. Hy het met die kind, hangend in sy arms, na die hekkie aan die onderkant van die kamp gehardloop. “Gaan roep die baas!” het hy vir een van die kleinvolk geskreeu. Buite die kamp het hy haar op haar maag op die dik gras neergelê. Haar hempie aan die agterkant was aan flarde getrap, en onder die lap kon hy die helderrooi bloed in lang strepe uit haar rug sien sypel.

      Emily het die paniekgeroep uit die kombuis gehoor en gesien hoe Pietman met die kind in sy arms aangehardloop kom. Een van die kinders het Dawid agter die lusernbaler in die stoor gaan roep.

      Dawid en Emily het tegelykertyd by die toneel aangehardloop gekom. Emily het met ’n gil gebuk om die beseerde kind op te tel. “Andri, my kind!”

      Andri het skielik regop gekom en haar ma weggestamp. Sy het haar maer armpies na haar pa uitgesteek. Dawid het ’n oomblik na haar gekyk en haar toe in sy arms opgetel en die huilende kind na die plaashuis gedra.

      “Ek bring die kar! Ons moet dadelik in hospitaal toe,” het Emily verdwaas agter hom aangeroep. Sy het ’n rukkie oor die werf staan en uitkyk.

      Agter die strooise, ’n ent weg van die groot werf af, ruk Jester sy kop agter die muur in, van waar hy die hele petalje met groot oë staan en dophou het.

      10

      Ek het gehoor dat pa ’n afspraak met mister Pocock op die dorp het. Ek móés net saam, want Pa sou saam met oom John Bruwer ry, en dit beteken dat ons met sy nuwe Mercedes 280SE sou ry – die enigste kar in sy soort in die hele Klein-Karoo. Die motor was groot en wit en splinternuut. Dit was een van die mooiste karre wat ek nog gesien het. Die Bruwers kon so ’n motor maklik bekostig, want hulle was die rykste boere in die hele Kangovallei en Schoemanspoort. En dit wat so ver buite my bereik was, was so aanloklik. Maar dit was eintlik die tweede rede waarom ek wou saam dorp toe. Die eerste rede was die hele ding met die volstruisvere.

      Ek wou gaan hoor wat Pa met mister Pocock bespreek oor die Moulin Rouge. In my verbeelding kon ek al sien hoe mister Pocock vir Pa sê dat hy self die vere in Parys moes gaan aflewer, en dat ek kon saamgaan! Ek weet nie van waar hierdie lawwe idee kom posvat het in my kop nie, maar nadat ek die foto in oom John Bruwer se boek gesien het, was die “vieslike kroeg” net iets wat ek móés sien.

      My opgewondenheid is gou-gou kortgeknip toe Pa aankondig dat ek beslis nie kon saam nie, want die planne het drasties ver­ander. Dit is ’n vergadering slegs vir mans. Pa en oom John sal Vrydag­oggend vroeg in dorp toe om met die prokureur te praat. Van daar gaan hulle twee Kaapstad toe ry om met die een of ander man, van in- en uitvoere van die koöperasie, die papierwerk af te handel. Ek was nog min in die Kaap, maar is bly dat Pa die geleentheid kry om ook groot geld te gaan maak, soos die Bruwers al jare lank doen. Daarom aanvaar ek dit dat ek by die huis moet bly. Hulle is in elk geval Sondag weer terug.

      En toe gebeur die ondenkbaarste ding. Pa en oom John sou so twaalfuur die middag terug wees op die plaas. Om hulle verwagte sukses van die naweek te vier, saam met die vooruitsig op ’n goeie vere-oes, nooi tannie Maggie Bruwer ons vir Sondag se middagete Sterling Gold toe. Dit sal die eerste keer wees dat ons gesin daar gaan kuier. Trouens, dit sal die heel eerste keer wees dat ons as vriende, as bure, en Pa as sakevennoot, ons voete daar gaan sit. Ek kan my kwalik inhou en tel die ure ongeduldig af. Op ’n manier is Ma ook senuagtig. Ek kon dit agterkom toe sy my reeds van vroegdag af aan­jaag om my klere reg te kry vir die okkasie. Met Pa nog op pad vanaf Kaapstad, gaan ons ook nie eens kerk toe daardie og­gend nie, soos dit ons gewoonte is. Ma het my nietemin vir die ete in kerk­klere ingedwing. Ons is lank voor twaalf al aangetrek en ge­reed, en ek probeer in stille opgewondenheid die

Скачать книгу