Sondag op 'n voëlplaas. Johann Nell

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Sondag op 'n voëlplaas - Johann Nell страница 4

Автор:
Серия:
Издательство:
Sondag op 'n voëlplaas - Johann Nell

Скачать книгу

net sulke fyn haartjies.

      “Wie’t jou hare gesny?” vra Andri.

      Hy antwoord haar nie en druk die mus vinnig terug op sy kop. Dit reënboogmus het ’n lang punt wat na agter val. Hy lyk soos die kleinste enetjie van die sewe dwergies in my storieboekies. Ek kan sien Andri wil lag, maar dan is sy weer ernstig. “Kóm nou!” sê sy. “Of ons gaan alleen.”

      Voor hy nog ’n woord kan sê, het sy al ’n ent in die rigting van die voetpaadjie gehardloop. Ek spring weg agter haar aan, en toe ek oor my skouer kyk, sien ek hy kom ook, met die stok in die een hand en met die ander druk hy die mus stewiger vas.

      “Starig!” skree hy. “Jy hol te vinnig.”

      Sy draai skielik om en druk haar wysvinger op haar lippe. “Sjad­dap. Wil jy hê jou ma moet hoor waarheen ons gaan? As mý ma uitvind, is dit groot moeilikheid.”

      “Of jou pappa …” fluister hy terug.

      Gou spring sy weer soos ’n dassie weg oor die polle en klippe. Ons hardloop sonder om ’n woord te praat tussen die volstruiskampe deur en glip agter die laaste stoor verby waar die voetpaadjie begin. Tussen die rooi trekker en die lusernbaler deur. Oubaas agterna.

      “Voetsêk weg daai hond,” sê Jester dan.

      Andri gaan staan stil, buig so agtertoe om die hond te sien, maar dan val sy weer weg in die kronkelpaadjie wat voor haar uitgetrap lê. “Maak vinnig!” roep sy, sonder om terug te kyk.

      “Wa’heen gat ons?” roep Jester saggies.

      “Kom, jy sal sien.” Sy hardloop nog vier of vyf tree verder en steek meteens vas in haar spore. Ek moet vinnig briek, maar Jester kom van agter met ’n spoed en sy kop klap hard teen myne.

      Die bleddie eierkop! Kan hy nie kyk waar ek is nie?

      “Eina, fokkit.” Die wolmus val agter hom op die grond.

      Andri kom tussen ons staan. Sy het nie gehoor wat hy sê nie, maar gryp hom met een beweging aan sy trui se kraag en ruk hom aan sy bors vorentoe. Hulle neuse raak feitlik aan mekaar.

      “My kop!”

      “Luister, klipkop,” fluister sy in Jester se gesig.

      Hy wil huil, lyk dit, maar hy sluk-sluk en kyk Andri vas in die gesig.

      “As jy één woord sê van vandag maak ek jou dood …”

      Hulle kyk mekaar in stilte aan. Hy verstaan niks. Sy wag op ’n antwoord.

      “Hoor jy my, klein strontgat?”

      Jester kyk haar onbegrypend aan. Sy het hom nog steeds aan die trui beet. Haar gesig is so naby dat dit vir hom seker uit fokus is. Sien hy ook net die dowwe blou van haar oë en ruik hy ook die soet asem deur haar saamgeperste lippe? Ek het haar nog nooit só hoor praat nie. En dit lyk dan amper of hulle lippe aan mekaar gaan raak.

      Dan praat Jester: “Ja, kleinmies,” sê hy.

      Andri los sy trui en stamp hom vies agtertoe sodat hy struikel en byna val.

      “Nou toe,” raas sy, “bly by my.” Sy draai vorentoe, maar swaai dan dadelik weer om na hom. “Ek is nie jou kleinmies nie!”

      Hy gooi die stok in sy hand eenkant toe en ’n verskrikte tortel­duifie fladder van agter die groot klippe op en vlieg met ’n luide vlerkslag oor ons koppe weg. Andri kyk die voël agterna, sug en sê: “Nou is alles bederf. Kom ons gaan terug.”

      6

      Ek was in standerd 5 toe ek tot die hemelse besef gekom het dat ons plasie aan die bopunt van die Kangovallei net ’n stippeltjie op ’n groot en uitgestrekte wêreldkaart was. Anderkant die heinings van ons volstruiskampies, verby die see van Mosselbaai na die suide en oor die pers Swartberge na die noorde, is daar ’n groot wêreld en baie ander mense.

      Dit was die jaar toe Pa vir my en Ma na ’n konsert in die Kango­grotte gevat het. Ipi Tombi in die Van Zylsaal. Vir die eerste keer het ek kennis gemaak met Afrika-musiek. Die ritme van die dans, tromme en voetestamp.

      Ek kon nie verstaan waarom die skouspel nie in die dorp se burger­sentrum aangebied is nie. Daar was ’n verhoog, met gordyne wat oop en toe kan sak. Daar was ’n orkesput vir die musikante. Daar was sitplekke in netjiese rye. Pa sê toe vir my die grotte is meer aards en eie aan die Afrika-mentaliteit. Hierdie soort ding het dus eerder tuisgehoort onder in die diep, donker grotte van die Swart­berge. En dit was vir my verstommend dat soveel van die wit mense van al die dorpe in die streek en die omliggende plase spe­siaal grotte toe gery het om daar na die vertoning te kyk.

      Dit was ook die jaar dat dit opgehou reën het. In ons klein­wêreld­se bestaantjie het ek telkens gehoor dat Pa-hulle van die droogte praat en dat daar moeilikheid aan die kom was. Maar vir my was dit iets onwerkliks. Daar was steeds water in die riviertjie, alhoewel die stroompie al hoe kleiner geword het. Daar was altyd water in die krane en ek kon nie verstaan waarom mense bekommerd oor die droë aarde was nie. In hierdie stadium van my lewe was dit vir my belangriker om die wêreld buite die grense van die Kangovallei te ontdek. Ander wêrelde, uitheemse mense waarvan ek nog nooit gehoor het nie, mense wat onverstaanbare tale praat en in eksotiese lande ver oor die see woon. Hoe onverstaanbaarder die tale, hoe groter was die bekoring vir my. Frans was nie meer net Pa se voor­man op die plaas nie, dit was ook die taal wat die Franse in Frank­ryk praat.

      Frans. Frans. Frans.

      Dit het in my kop kom vassteek. Frankryk. Die Franse Hugenote. Franse Revolusie. Ons het van hierdie goed in die geskiedenis­klas begin leer. In die nag in my bed het ek oor woorde en sinne en klanke lê en dink. Los woorde het soos pêrels aan ’n string kom hang en ek het besef dat eenkantdinge onderling aan mekaar ver­bind is.

      “Frans, Frans, Frans,” sou ek oor en oor in my kop dreunsing. Tot­dat daardie doodgewone bruin voorman se doodgewone naam so eksoties en boheems geklink het dat ek my verbeel het ek leef self in ’n wêreld ver weg van die hitte en volstruise en bruin mense en skool en huiswerk en koshuis en tabaklande.

      Wat is ’n Franse horing?

      Dié onbekende wêreld het mettertyd voor my begin oopvou. Franse sjampanje. Die wyn met die borrels wat die ryk Bruwers in oorvloed gedrink het op hulle uitspattige partytjies wanneer dit in daai ronde oop glase geskink word dat die skuim soos warm bier oorloop. Natuurlik! Dis die wyn van Frankryk in die dik groen bottels waarvan die prop met ’n klapgeluid afskiet en almal dan hande klap en die vrouens ligte gilletjies gee. Sou dit ook so eksoties proe?

      Frans se wyn was iets anders. Dit was daardie cheap hanepoot­gemors (Ma het dit só genoem) wat soos sterk pie lyk in die plastiek­bottels met die skroefdoppe. Pa het dit altyd van die dorp af gebring. Dan bêre hy dit in die toesluitkas agter die kombuisdeur en skink dit Vrydae vrygewig in blikbekers vir die volk.

      Een sluk en laat hy val waar hy wil!

      Dankie, my ta!

      Lekker, my baas.

      My grootbaas.

      My koning.

      En Franschhoek? Dit is ’n dorp! Soos Schoemanshoek. ’n Plek wat regtig in Suid-Afrika bestaan. Naby die

Скачать книгу