Sondag op 'n voëlplaas. Johann Nell

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Sondag op 'n voëlplaas - Johann Nell страница 7

Автор:
Серия:
Издательство:
Sondag op 'n voëlplaas - Johann Nell

Скачать книгу

dak. Net boeke. Boeke en boeke uitgestal teen mure wat met hout­panele bedek is.

      Ek het ’n tree vorentoe gegee. ’n Vloerplank het saggies onder my voet gekraak. Met my een vinger die deur oopgestoot. Dit het ge­luidloos oopgegly. Voor my was ’n ander wêreld. Ek kyk van links na regs. Regs na links. Bo na onder. Boeke en boeke. Hier was meer boeke as in die dorpsbiblioteek. My kop het gedraai. My hart het gesing.

      Kan een mens so baie boeke lees? het ek gewonder. Tussen my en die agterste boekrak, die hele lengte van die muur, het ’n massiewe lessenaar van dieselfde donkerkleurige hout gestaan. Onder my kaal voete die sagste mat denkbaar. Dit voel of ’n mens op ’n matras loop. Stapels papier, lêers, boeke, tydskrifte en koerante het in netjiese hopies op die lessenaar gelê. Eenkant het ’n goue lampie onder ’n groen skermpie geskyn.

      Die sagte geel lig het op die boonste koerant geval. Ek het ’n oomblik stil gaan staan. Dit was ’n Engelse koerant met die naam Cape Times. Dit was ’n vreemde koerant vir my. Pa het een keer ’n week Die Burger van die dorp af saamgebring. Dit was eintlik al koerant wat ek geken het. Behalwe Sondae se Rapport.

      In groot blokletters het op die Engelse koerant se voorblad gestaan: The Horror of Soweto. Dit was die foto daaronder wat my aandag getrek het. ’n Swart seun hardloop met ’n slap kind, seker mý ouderdom, in sy arms. En langs hulle ’n skreeuende swart meisie. Haar arms wanhopig in die lug. Hulle het skooluniforms aangehad. Dit het soos ’n prentjie uit ’n rolprent gelyk, en ek het gewonder in watter land dié foto geneem is. Ek het al films in die inryteater gesien. Pa het ons soms Saterdagaande soontoe gevat. Gelukkig was dit nooit een van hierdie bangmaakfilms nie. Daar was so een mooi film waarin die man en vrou op Tafelberg sing. Later het Ma vir my ’n plaat van Gé Korsten en Min Shaw gekoop. ’n Jaar of wat terug het Jaws daar gewys. Ek wou dit verskriklik graag sien, maar Pa het net gesê hy kyk nie na stront nie. En daarmee was my gees geblus vir daai soort films.

      In ’n ronde houertjie, onmiskenbaar met knoppies-volstruisleer oorgetrek, het ’n bondel penne, potlode en ’n liniaal regop gestaan. Langsaan ’n vreemde telefoon. Een wat beslis anders gelyk het as ons s’n by die huis.

      Alles het duur en amper verbode gelyk. Dit het gevoel of ek op heilige grond staan. Moses voor die vlammende braambos. Of iets soos ’n donker, koue katedraal waarin die boeke die vensters is – asof helder van agter verlig deur Gods genadige son. Elke liewe stukkie gekleurde glas in daardie katedraal se vensters was ’n ander boek. Elke boek ’n ander verhaal. Elke verhaal ’n ander wêreld.

      My oog het op ’n ry boeke agter die lessenaar geval. Voetjie vir voetjie het ek om die lessenaar gestap. Dit was ’n ry boeke wat almal presies dieselfde gelyk het, genommer van een tot vier-en-twintig. Almal ewe hoog. Almal ewe dik. Op die rugkant van elkeen kon ek lees: Britannica. My hart het hard in my borskas geklop. Ek het nog nooit so iets gesien nie. My hand het opgegaan na een van die boeke. ’n Groot goue 7 was op die rooi rugkant afgedruk. Met my wysvinger het ek met ingehoue asem die boek tussen 6 en 8 uitgetrek. Die boek was swaarder as wat dit gelyk het. Dit het beelde opgeroep van die Hollandse Bybel wat Sondae oop voor dominee op die preekstoel gelê het. Dik, swaar, vreemd, heilig. Maar hierdie boek: heerlik.

      Die boek het lekker in my hande gelê. Dit was oorgetrek met donker rooibruin, amper swart leer. Ek het dit na my gesig opgelig en met my neus teen die harde buiteblad gedruk. Ek het my asem diep en stadig ingetrek. Die reuk van leer, tabak, ink, ou papier en verre lande het deur my kop gewalm. Met toe oë het ek elke nuanse van die boek se aroma deel van my lyf probeer maak.

      Groot goue letters was op die omslag ingegraveer. My regter­hand se vingers het saggies heen en weer daaroor gestreel. Ek kon duidelik die verskil tussen die leer en die gleuwe van die goue letters onder my vingerpunte voel.

      Die boek het saggies oopgeval. Met die eerste oogopslag kon ek sien dat die inhoud soos een van die woordeboeke by die skool lyk. Woorde en woorde en nogmaals rye woorde onder mekaar. Alfabeties gerangskik.

      My oog val op een van die inskrywings onder die letter M.

      Ek het versigtig omgeblaai. Juffrou Meyer het ons by die skool gewys hoe blaai ’n mens versigtig in ’n groot boek. Jy mag nooit jou vingers natlek om die blaaie om te blaai nie. Voor my spring die ongelooflikste foto op – die prentjie is presies dieselfde as die een op die brief uit Frankryk!

      Dis die windpomp.

      My oë dans oor die woorde. Windpomp? Nee, dis nie ’n wind­pomp nie. Dis ’n windmeul! ’n Windmeul bo-op ’n huisie. Dít was die rooi windmeul van die vieslike kroeg in Parys. Ek lees die in­skrywing met ingehoue asem: Moulin Rouge: Also known as the Red Mill.

      Moulin Rouge.

      Die rooi meul.

      Ek het verwonderd gestaan en die ontdekking laat insink.

      ’n Deur het ver geklap en my teruggeruk na die hede. Ek het die boek vinnig toegemaak en noukeurig op sy plek tussen die ander ingeskuif.

      Met my eerste tree in die gang af, kom Mavis van onder af aan. “Is jy klaar?”

      “Ja, ek is klaar, koebaai.”

      Ek vlieg by die deur uit in die helder sonlig in. My oë op skrefies teen die skerp lig.

      Mavis het die voordeur vir my oopgehou terwyl sy my agter­dogtig nastaar. Ek het daar uitgesweef. Die fiets onder my het ge­kraak soos ek trap. ’n Duif in die grondpad het woes opgevlieg toe ek verbykom en hom amper raakry met my voorwiel.

      Moulin Rouge. Die rooi meul! Die Moulin Rouge was die rooi meul!

      Die wêreld was meteens ’n groter plek.

      9

      Ons het gehoor dat Andri, op haar pa se instruksies, vakansies met die plaaswerk begin help het. Toe ek haar by die skool daaroor vra sê sy ja, sy kan nie wag dat die skool moet klaarkry sodat sy op die plaas kan gaan help nie. Soggens, wanneer die skaduwees van die Swartberge nog uitgestrek en koud oor die plaas gelê het, was sy al in die hoenderhokke besig. Eers die hek oopmaak sodat die hoenders uit die hokke kan uit om in die toegespande erf te skrop. Dan die eiers onder uit die houtkassies uithaal. Versigtig op skoon strooi in die groot kombuismandjie gepak. Nuwe, vars water in die drinkbakke skink. Daarna die mielies en saad meng om vir die pikkende hoenders op die werf uit te strooi. Sy het die hele storie een pouse aan my verduidelik.

      Later het haar pa vir haar groter en meer verantwoordelike take begin gee. Andri kon die volk in die groot volstruiskampe gaan help om die ivoorkleurige eiers te tel. Partykeer tot vyftien in ’n nes onder die driehoekhutjies. En, omdat sy van kleins af al geweet het dat ’n volstruiseier sterk genoeg is om ’n volwasse mens se gewig te dra, het sy soms een mooi eier uitgekies wanneer hulle in die kampe besig was. Hierdie eier het sy dan ’n ent van die nes die veld in gedra en op ’n gelyk stukkie grond neergesit.

      “Kyk, ek staan op ’n eier!” roep sy dan uit, met haar hande skouer­hoogte uitgestrek, met albei voete op die eier balanseer sy. Die volk wat naby gewerk het, het aan die begin hande geklap en deur tande­lose kake gefluit, maar later het dit ou nuus geword. Die eier­toertjie was maar iets wat sy vir haarself en die oop ruimtes ge­doen het, sonder toeskouers. By die skool het sy my altyd vertel van haar toertjies op die volstruiseiers. Dit was iets wat ek beslis nie sou doen nie. Ek was te bang vir daai kwaai mannetjiesvolstruise wat met hul nek soos ’n giftige slang en blaasbek na ’n mens aangestorm kom as jy net naby die kamp verbyloop.

      Jester het haar glo ook soms van ’n afstand af dopgehou, maar nooit sy voet in die volstruiskamp gesit nie. Andri het my self vertel

Скачать книгу