Karoo-Kantate. Marié Heese
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Karoo-Kantate - Marié Heese страница 2
“Ek soek ’n werklike weeskind,” sê Stien. “Wat regtig geen ouers het nie.”
“Ja, wel, ons het deesdae ongelukkig baie meer sulkes as tevore. Vigs-wesies, u weet?” Die vrou se donker oë is hartseer. “Ouderdom? Of maak dit nie saak nie?”
“Nie primêre skool nie. Ek is gewoond aan hoërskoolkinders. Ek gee musiek. Is hier dalk … dalk ’n kind wat lief is vir klassieke musiek?”
Dit was seker nou laf van my, dink Stien. Waar sou hierdie kinders aan ’n liefde vir klassieke musiek kom?
Maar Matrone het klaarblyklik reeds aan so iemand gedink. Sy tel die telefoon op en druk ’n nommer. “Alta? Is Jannie daar? Ja, asseblief. Ja, nou.”
“Jannie?” vra Stien.
“Jannie Lappies,” sê Matrone. “Graad 8, soos u gevra het. Dertien. Jannie is baie musikaal. Speel besonder goed klavier.”
Gou is daar ’n klop aan die deur.
“Binne!” roep Matrone.
Stien sien ’n maer figuur verskyn. Groen T-hemp en vaal kortbroek, koperrooi hare poenskop geskeer, een oog blou geslaan en toegeswel. Die heldergroen gesonde oog vorm ’n ongewone kontras met die blas vel.
“Mirrag, Matrone,” sê die kind heel opgewek. Maar dan verander die blye uitdrukking in ’n kwalik onderdrukte sug.
Stien wonder of sy intimiderend voorkom. Seker darem nie.
Matrone frons. “Jannie! My kind, kyk hoe lyk jy!”
“Ek wou nie gebaklei het nie, Matrone, maar ganog is ganog, het my ouma altyd gesê.”
“Ai tog, wat moet juffrou Terblanche dink!”
Dit is so dat Stien vir ’n oomblik huiwer. Wat gaan sy aanvang met ’n rowwejek wat baklei? Maar daar is iets aan die kind se houding wat haar onmiddellik aanstaan. En sy is bly om te sien dis ’n seun, gedagtig aan Nols se hartseer geskiedenis. Sy wou nog noem dat sy ’n seunskind verkies, maar dis nie nou meer ter sake nie. Sy hou van hierdie een.
“Jannie, ek soek iemand wat vir die vakansie wil kom kuier,” sê sy. “Op ’n klein dorpie. Ek hoor jy’s lief vir musiek. Ek en my oom ook. Ons gaan by hom bly. Wil jy kom?”
’n Oomblik se huiwering. Dan: “As ek kom, kan ek klavier speel?”
“Ja,” belowe Stien impulsief. Sy weet dit sal nag wees as die kind Nols gaan irriteer met ’n onbeholpe getjommel.
Nou lyk die seun weer opgewonde. “Matrone, kan ek gaan, asseblief? Ek sal soet wees, rêrigwaar!”
“Nou toe, gaan pak,” beveel Matrone. “Onthou ’n sweetpak, dis seker saans koelerig.”
“Ja,” beaam Stien. “Hierdie tyd van die jaar is dit bedags warm in die Karoo, maar snags kan dit koud word.”
“Trek sommer vir jou warmer aan, Jannie.”
“Ja, Matrone.”
Die kind is vinnig uit by die deur.
“Kan u my iets vertel van Jannie se agtergrond?” vra Stien.
“Die pa was ’n Fransman, ene Henri Labuschagne, ’n raadgewende ingenieur wat op kontrak in Suid-Afrika kom werk het. Die ma was ’n Kaapse vrou, ’n onderwyseres.”
“Albei oorlede?”
“Die pa het teruggegaan Frankryk toe voor Jannie gebore is. Hy’t belowe om weer te kom, maar het skoonveld verdwyn. Die ma het Jannie alleen grootgemaak. Daar was eers ’n ouma wat hand bygesit het, maar dié is later oorlede. Die ma het intussen ’n kêrel of twee gehad en het vigs opgedoen, waaraan sy dood is. Wel, dit was longontsteking, maar u weet mos …”
“Hoe lank is die kind al hier?”
“Jannie het ’n jaar gelede na ons toe gekom. Sy het maar swaar aangepas, foei tog. Sulke kinders wat nooit ’n pa gehad het nie, droom dikwels nog dat hy hulle eendag sal kom haal. Ek vermoed dat …”
Stien frons. “Ekskuus? Het u gesê ‘sy’? Is dit dan nie ’n seun nie?”
“O nee, dis ’n meisiekind. Haar naam is Jeanne Labuschagne, maar almal noem haar Jannie Lappies. Al die kinderhuiskinders kry mos maar byname.”
“Maar die hare?”
“Waterpokkies,” verduidelik Matrone. “Toe kry sy van die sere op haar kopvel en die dokter het gesê ons moet dit kort skeer. Sy’s nou gesond, maar sy lyk nog ’n bietjie vreemd. En sy’s klein vir haar ouderdom. Maar u het nie gesê dat u ’n seun soek nie?”
“Nee, ek het nie,” erken Stien. “Toe ek die kind sien, toe neem ek aan …”
“Is dit ’n probleem? Ek kan haar laat roep en u kan die uitnodiging terugtrek, dan kan ons na iemand anders kyk.”
Stien weet sy kan nie nou die arme kind teleurstel nie. Haar oom gaan omgekrap wees, maar hy moet maar daaroor kom.
“Nee, toemaar, dit sal in orde wees,” besluit sy vinnig. “En die musiek, waar kom die musiek vandaan?”
“Die kind het klaarblyklik ’n heel uitsonderlike talent. Musieklesse gekry in Woodstock waar hulle gewoon het. Klavier en sang. Maar dis ook nou op ’n end … U weet mos ’n gewone skool gee nie meer musiek nie.”
“Ja, ek gee klas by ’n privaat skool.”
“Maar Jannie oefen nougeset, elke iedere dag, so op haar eie. Stemoefeninge, toonlere … vir ure. Ons het gelukkig ’n klavier hier in die eetsaal. Nou wel nie ’n grand nie, maar dit word darem gestem. Wat die kind daar kan uittower, sal juffrou nie glo nie.”
“Regtig?” sê Stien. Maar sy gee nie behoorlik aandag nie. Sy voel baie onseker oor die ontvangs wat vir hulle op Van Stadensdorp wag. Maar sy het klaar besluit: Jannie Lappies kom saam.
Kort voor lank vat hulle die pad verby Paardeneiland en uit op die N1. Langs haar in die rooi Golf sit Jannie, toksak agterin gelaai, plus nog iets styf opgerol en vasgebind, moontlik ’n warm baadjie.
“Hoe ver ry ons?” vra Jannie.
“Dis so drie en ’n half uur se ry,” antwoord Stien. “Die dorp lê teen die voetheuwels van die Klein Swartberge. Dis ’n groen oase, want dit kry fonteinwater uit die berg uit – die omgewing is maar bitter dor. Ons behoort so teen negeuur daar aan te kom.”
Jannie knik.
“Vertel my bietjie van jouself,” vra Stien.
“Niks rêrig om te vertel nie.”
“Neem jy aan sport deel?” probeer Stien weer. “Ek sien jy’t ’n mooi nuwe toksak, en ’n sweetpak ook.”
“Atletiek.”