Karoo-Kantate. Marié Heese

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Karoo-Kantate - Marié Heese страница 3

Karoo-Kantate - Marié Heese

Скачать книгу

      “Ja … ekke kon nog altyd vinnig hol. Maar by my eerste skool het ons nie ’n coach gehad nie. Toe moes ek na die anner skool toe gaan om naby die kinderhuis te wees. Ons coach is een van die kinders se pa en hy’s mal oor atletiek.”

      “Ek sien. Van watter vakke hou jy die meeste?”

      Die kind haal haar skouers op. “Ag, alles is orraait. Ek doen orraait. Juffrou?”

      “Noem my Stien.”

      “Stien? Wat eet ons?”

      “Ons kan op Worcester stop vir ’n pasteitjie of iets. En ’n Coke. Oukei?”

      “Oukei,” sê Jannie. “En tjoklits?”

      “En tjoklits,” belowe Stien.

      “My ouma kon sukke lekker hoenderpaai bak,” sê Jannie met verlange in haar stem. “Met naeltjies in. Saam met begrafnisrys. En soetpatats. Sukke taaaaies.”

      “Jy was seker lief vir haar.”

      “Ja,” sê Jannie. “Ja, ek was …”

      Ouma Nonnie het eerste siek geraak. Sy was altyd so ’n besige mens, nooit gekla nie, nooit siek nie. Dit was moeilik om te glo dat sy regtig op ’n dag sou bly lê.

      “Wat makeer dan, Ma?” vra ma Ellie dié Saterdagmôre, haas­­­tig op pad skool toe vir ’n opleidingsessie. “Moet Ma nie dokter toe gaan nie?”

      “Seker niks,” antwoord ouma Nonnie. “Sommer bietjie saaits.­ Net, ek is verskriklik moeg. Smaak my ek kan nie my arms optel nie.”

      “Ma moet maar bly lê. Jannie sal kyk. En antie Fienie sal ook kom inloer.”

      Ma Ellie maak seker dat Ouma alles het wat sy sal nodig kry en gee haar ’n piksoen voordat sy, viets in ’n rooi langbroek en ’n wit T-hemp, by die trap afdraf.

      Op ouderdom tien lees Jannie al dik boeke deur, en sy is tevrede om by Ouma te bly met ’n lekker boek in die hand. Die ou rottangstoel is groot en gemaklik. Die radio speel saggies: die rustige klavierklanke van Richard Clayderman.

      Ouma Nonnie lê baie stil. Jannie kyk af en toe na haar en merk op hoe vlak en heserig sy asemhaal. Onder die verbleikte flennienagrok lyk haar borste plat, so anders as die ferm voor­stewe waarmee sy gewoonlik die wêreld aandurf. Ook haar hare is nie vanoggend in ’n bolla nie; ’n dun wit vlegseltjie hang slap oor haar een skouer. Teen die wit kussingsloop lyk haar gesig soos iets uit hout gekerf, dofbruin, met diep kepe soos die hale van ’n stomp mes weerskante van haar neus en mond. Dit laat Jannie aan ’n masker dink, en dis om van bang te raak.

      “Ouma? Ouma Nonnie?”

      Naderhand gaan Ouma se bruin oë stadig oop. “Ja, my kind?”

      “Het Ouma nie … wil Ouma nie … is Ouma nie dalk honger nie?” Jannie kan nie onthou dat Ouma al brekfis gehad het nie.

      Ouma Nonnie skud haar kop. “Nee, kind, ek is nie honger nie.”

      “Maar Ouma’t nog niks gehad om te eet nie. Ek sal gaan haal.”

      “Nou ja … wee’jy wat? Ek is darem lus vir ’n bietjie scramble mit tamatiesmoor. Mit net so ’n njitseltjie knoffel daarin, jy weet mos.”

      “Ek sal vir Ouma gaan maak,” sê Jannie gretig. “Antie Fienie is weg mark toe.”

      Jannie gaan kry vinnig alles bymekaar in antie Fienie se groot kombuis. Die antie hou nie daarvan dat die boarders vir hulleself kom kook nie, maar as sy hoor vir wie dit is, sal sy seker nie raas nie, want ouma Nonnie sit dikwels hand by in die kombuis. Eers die kookolie, dan die uie, dan die tamatie … bietjie knoffel, bietjie basilie … twee eiers, goed deurgeklop, maar nie skuim nie … sout, moenie vergeet nie … Stukkie toast daarby … die skinkbord netjies reggesit met die mes en vurk en die papierservetjie. So ja.

      Ouma Nonnie kom met moeite orent teen die kussing. “Het my kind dit alles alleen gedoen en by die trap opgedra?”

      “Ja, Ouma. Hier’s nog ’n kussing. Sit Ouma nou reg?”

      “Dis goed so, dankie. Gee seblief my tanne aan, kind.”

      Jannie is grillerig vir die glas met die swewende smaail, maar sy gee dit gedienstig aan. Ouma hap-hap ’n paar keer tot sy tevrede is.

      Hoe moet dit voel om sonner tanne te wees? dink Jannie. Seker simpel. Maar dan liewer winkeltande as ’n glasoog, soos ou Johnnie in die onderste kamer op die hoek.

      Ouma Nonnie druk die servet onder haar ken in en trek die skinkbord nader. Jannie sit in die rottangstoel en kyk tevrede hoe sy stadig alles op haar bord opeet.

      “So, dit was lekker, kind. Nou wil Ouma slaap, hoor.”

      “Ja, Ouma.”

      Jannie vat die skinkbord ondertoe, was al die skottelgoed wat sy gebruik het, droog dit af en bêre dit. Nou het antie Fienie niks om oor te kla nie.

      Sy loop weer saggies boontoe en loer by die kamer in. Dis heeltemal stil, net die radio wat rustige musiek speel. Ouma Nonnie het afgegly teen die kussings en lê effens skeef. Jannie loop nader om haar met die kussings te help. Dan besef sy meteens dat ouma Nonnie nie slaap nie. Haar oë is oop en dit lyk asof sy teen die plafon vaskyk. Maar sy haal nie meer asem nie.

      “Ouma!” gil Jannie. “Ouma! Ouma Nonnieeee!”

      Antie Fienie het net by die kombuis ingekom van die mark af. Sy hoor die nood in die kind se stem en stoom by die trap op so vinnig as wat haar swaar lyf dit toelaat. Sy het al so dikwels in haar lewe die dood aanskou dat sy met een kyk weet: die ou vrou is weg. Ai tog, dat die kind nou eerste op haar moes afkom!

      “Waar’s jou ma, Jannie?”

      “Skool toe, al weer ’n workshop,” snik Jannie. “Ek moes vir Ouma oppas. Ek het vir haar scramble gemaak, met tamatie­smoor … sy was lus … en ek het onthou van die suiker, lat die tamatie nie suur proe nie, en die knoffel …”

      “Ja, my hartjie. Jy’t reg gedoen.”

      Die lyk gaan nou pebliek na knoffel stink, dink antie Fienie, sy sal ’n plan moet maak. Bietjie van die ou vrou se English Lavender op haar uitgooi. Sal moet hulp kry om haar uit te lê. Sy hoop Ellie se begrafnisboekie is op datum. Ai, ai, ai. Antie Fienie druk Jannie styf teen haar bors vas.

      Hoofstuk 2

      HIERDIE KIND IS GELIEF

      Die koms van die kind was vir Nols ’n verrassing. Nie alte aangenaam nie. Nero het hulle eerste gewaar. Hy lig skielik sy groot kop op en blaf. Dan staan hy op en draf stertswaaiend voordeur se kant toe.

      Nols is nog volledig opgeneem in die musiek. Hy konsentreer op die uitvoering van Saint-Saëns se Orrelsimfonie wat hom teen ’n dawerende volume uit sy versigtig geplaaste luidsprekers omsingel. Viole, altviole en tjello’s het so pas die nuwe, vreedsamer tema ná die herhaling van die somber aanvangsmotief ingelei.

      Hy verlustig hom in die ryk onderbou van orrelakkoorde. Alhoewel die

Скачать книгу