Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom (skooluitgawe). Marita van der Vyver

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom (skooluitgawe) - Marita van der Vyver страница 3

Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom (skooluitgawe) - Marita van der Vyver

Скачать книгу

wou hê miljoene men­se moet my storie lees.

      Maar toe Tibo vanaand aan tafel vir Yann vertel dat ek my lewensverhaal begin skryf het, proes Yann in sy preiesop. Ons eet gereeld sop. Dis goedkoop en gesond, sê Mana, en mens kan dit van enigiets maak. Soms, veral teen die einde van die maand, proe haar sop of dit van dooie akkedisse gemaak is.

      “Wie wil nou ’n veertienjarige skrywer se storie lees?” vra Yann en lag dat die sop spat.

      “Vyftienjarige,” lig ek hom in. “Oor ’n paar dae is ek vyftien.”

      “Mens sou dit nooit raai nie,” sê hy met sy oë iewers onder my ken. Min of meer waar my borste sou gewees het as ek borste gehad het om van te praat. Yann is my sestienjarige stiefbroer. Hy glo dis sleg vir mens se gesondheid om nice te wees.

      “Daar wás al tienderjarige skrywers wat beroemd geraak het,” stry ek terwyl my wange warm word. “Wat van Anne Frank of … of …”

      “Anne Frank het ’n lewe gehad waarin iets gebéúr het. En sy moes doodgaan voor sy beroemd geword het.”

      Goed. Anne Frank was ’n vrot voorbeeld. Só graag wil ek nou ook nie beroemd wees nie.

      “Almal het ’n lewe waarin iéts gebeur,” troos Beyers toe hy sien hoe bek-af ek na my preiesop staar. “En die res maak jy mos maar op. Skryf jou storie, Hanna.”

      Beyers is my stiefpa. Ek sou graag wou sê my bose stiefpa, maar ek kan nie so openlik lieg nie, nie eens in ’n storie nie. Hy’s die beste man wat my ma nog ooit in haar lewe gehad het. Toe ek dit ’n paar maande gelede vir hom sê, kort ná hulle getrou het, lyk hy kamma in die gesig gevat.

      “Ek’s die énigste man wat jou ma nog ooit in haar lewe toegelaat het. Kyk net na my voorgangers. ’n Moffie en ’n proefbuis!”

      Beyers kan ’n woord soos moffie gebruik sonder dat jy jou nek deur jou skouers wil druk van verleentheid. Soms laat hy dit amper soos ’n eretitel klink. ’n Hele paar van sy pelle is moffies. Hy’s ’n akteur, sien. Jy sal hom miskien herken. Omtrent tien jaar gelede het hy die romantiese hoofrol in ’n baie gewilde TV-reeks gespeel. Vergete bloeisels? Bloeisels van vergetelheid? So iets. Beyers noem dit Bloeiende vergeetagtigheid. Met ’n spottende grynslag. Ek is in elk geval te jonk om dit te onthou. Dank jou sterre, sê Beyers.

      Hy het nog altyd verhoogwerk verkies, maar deesdae is daar nie meer baie verhoogwerk vir middeljarige wit mans nie. Dees­dae is hy ook radio-omroeper, televisie-aanbieder, voorleser by kunstefeeste, seremoniemeester by sakekonferensies … Hy háát sakekonferensies, maar dis ’n manier om ’n paar rand te verdien. En hy meen dis beter as Bloeiende vergeetagtigheid.

      Maar dis nie waaroor ek wou skryf nie.

      Die res maak jy mos maar op. Soos Beyers sê.

      Liewe leser, ek wil vir my ’n lewe opmaak. Die lewe van ’n amper vyftienjarige meisie met ’n eksotiese naam soos Fabienne. Sy’s ek, maar sy’s ook nie ek nie. My alter ego, soos juffrou Lieben­berg dit noem. Juffrou Liebenberg is my Afrikaans-onderwyseres. Sy’s erg opgetrek met die opstelle wat ek inlewer. Wonderlike verbeelding! skryf sy in die kantlyn. Ek wil nou nie ondankbaar klink nie, maar ek sou meer gehou het van: Wonderlike skryfkuns!

      Ek meen, ek wéét ek het ’n vrugbare verbeelding. Soms dink ek dis die enigste ding aan my wat nie bloot gemiddeld is nie. Wat die res betref – voorkoms, lengte en gewig, atletiese vermoë (of onvermoë), punte in die klas, gewildheid onder skoolmaats – dis alles so-so. Comme ci, comme ça. Soos my pa sê as hy wil maak of hy kan Frans praat. Ek’s nie juis mooi nie, maar ek’s darem ook nie so onooglik dat jy my vir Aspoestertjie se stiefsuster sou aansien nie. Ek’s beslis nie die middelpunt van aandag op partytjies nie, maar ek word darem nog genooi na partytjies. Selfs my pui­sies is gemiddeld. Ek het nie ’n akneeprobleem soos die arme ou in my klas wat die bynaam Krater gekry het nie. Maar ek het ook nie ’n vlekkelose vel soos my vriendin Sharon nie.

      Dis net my verbeelding wat my onderskei. En dit steek ek meestal maar weg van my maats. Op laerskool het ek dit gebruik om maats te wen, om die lekkerste speletjies uit te dink en die grillerigste stories op te maak, maar nou’s ek op ’n ouderdom waar verbeelding nie so belangrik is soos die regte haarstyl of ’n paar ingevoerde stewels nie.

      Die ander ding wat my onderskei, natuurlik, is my ingewikkelde gesinslewe. En dit steek ek meestal ook maar weg. Die kinders wat wel daarvan weet, soos Sharon, dink dit moet fantasties wees om so ’n buitengewone gesin te hê. ’n Mallerige ma wat jy op haar naam kan noem en ’n pa met peroksiedhare wat vir jou slangvellangbroeke uit Londen bring en ’n stiefpa wat nog net-net aantreklik genoeg is dat jy kan sien waarom hy lank gelede die hoofrol gespeel het in Bloeiende vergeetagtigheid. En dan is daar die twee bekkige agtjariges. En my ongelooflike cool sestienjarige stiefbroer!

      Maar ek hou nie van slangvellangbroeke nie. Of van strepe in my hare of ringe in my naeltjie of my wenkbroue of enige ander plek op my lyf nie. Nie eens aan my vingers nie. Ek is ’n enorme teleurstelling vir my trendy pa.

      Maar ek hét darem nog ’n pa. Een wat van bloed en bene gemaak is. Dink hoe moet die arme Tibo voel. Sy pa is van glas gemaak. Selfs ’n pa met peroksiedhare is beter as ’n deurskynende pa.

      Vyftien jaar gelede het Mana besluit sy wil ’n kind hê, maar sy wil nie ’n man hê nie. Toe sleep sy haar gay woonstelmaat nader om vir my te skep. Dis hoe sy dit stel – skep, asof sy van een van haar skilderye praat. Sy’t selfs met hom getrou. So ’n speel-speel-troue om die familie tevrede te stel. Ek het die foto’s gesien. Die bruidegom lyk so glamorous dat jy amper vergeet om na die bruid te kyk. Gavin straal in ’n wit syhemp en ’n langbroek van wit linne. Net so ’n titseltjie maskara om sy donker oë. Mana staan langs hom in ’n swart langbroekpak wat hy vir haar ontwerp het, met kneusblou kringe onder haar oë en ’n mislike uitdrukking om haar mond. Dit was ’n oggendtroue. In daardie stadium was sy elke oggend naar.

      ’n Klompie jare later (lank ná die egskeiding) besluit Mana sy wil nog ’n kind hê, maar beslis nie nog ’n man nie. Nie eens ’n speel-speel-man soos Gavin nie. Toe gaan sy oorsee en sy kies die mees fantastiese pa op aarde, ’n proefbuis van glinsterende glas, skoon en stil (baie stil) en sterk en tog ook breekbaar (baie breekbaar) om vir Tibo te vervaardig. ’n Proefbuis op ’n wit perd, kan jy maar sê. Wel, dis die storie wat sy vir Tibo vertel het toe hy nog simpel genoeg was om dit te glo.

      Interessant, nè? Ek is geskep, hy is vervaardig. Ek voel soos ’n skildery (soms ’n middelmatige skildery, soms ’n mislukking, nooit juis soos ’n kunswerk nie) en hy klink soos iets wat uit ’n fabriek kom. ’n Onderdeel van ’n masjien.

      En dan is daar my twee stiefbroers, Yann en Amos, wie se ma nou al tien jaar lank 29 jaar oud is. Sy woon in Amerika, waar sy maak of sy ’n belowende jong aktrise is, maar eintlik is sy ’n sukkelende ouerige aërobiese instruktrise. Sy’t ’n ongelóóflike lyf, volgens Yann. Borste soos ballonne. G’n wonder hy kyk so minagtend na my twee muskietbyte nie.

      Verstaan jy nou, liewe leser, waarom ek gewoonlik maar stilbly as my klasmaats oor hulle gesinne begin kla? Dis net te veel moeite om die hele affêre te verduidelik. Ek het al daaraan gedink om dit grafies voor te stel. ’n Plannetjie op te stel, soos daardie stambome wat jy voor in dik Russiese romans kry sodat jy elke keer gou daarna kan loer as jy vergeet wie nou weer op watter manier aan wie verbind is. Dan pluk ek net die plannetjie uit elke keer as ek iemand ontmoet, soos ’n visitekaartjie.

      Fabienne sal nie prentjies nodig hê om haar lewe te verduidelik nie. Fabienne se lewe is ’n reguit lyn van geluk. Glinsterend soos skoon glas. Fabienne se pa is ’n gewone, normale man met

Скачать книгу