Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom (skooluitgawe). Marita van der Vyver

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom (skooluitgawe) - Marita van der Vyver страница 4

Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom (skooluitgawe) - Marita van der Vyver

Скачать книгу

amper nooit sop hoef te eet nie.

      Ná ek lank oor Fabienne se lewe gepeins het, het ek besluit haar pa moet ’n tandarts wees. En haar ma was ’n tandarts-assistent voor sy getrou het. Dis hoe sy Fabienne se pa ontmoet het. Nou is sy net ’n ma. Een wat netjies aantrek, nooit eienaardige hoede dra nie en skoolvergaderings bywoon sonder om die skoolhoof te beledig of met die ander ma’s te baklei.

      Fabienne het natuurlik fantastiese tande. Ek het ’n gaping tus­sen my boonste voortande, nou nie so wyd dat ek ’n potlood daar kan indruk nie, maar nogtans groot genoeg om my te hinder. En anders as al die ander dinge aan my lyf wat my hinder – my amper onsigbare tieties, my lelike voete, my puisies – kan ek iets aan my tande dóén. Maar ek sal eers iets aan my ma moet doen. My tandarts sê ek moet draadjies dra. Ek is grétig om draadjies te dra. Wat maak dit saak as seuns jou nie wil soen nie? Selfs sonder draadjies word ek nie juis oorval deur soenende seuns nie. Maar my ma skop vas. Geldmors, meen sy, dit sal my tande karakterloos laat lyk. Wie wil nou karaktervolle tande hê?

      Aan my puisies kan ek seker ook iets doen. As ek minder sjokolade eet en my gesig elke aand behoorlik skrop, sal ek minder puisies hê. Maar partykeer dwing die lewe mens om wrede keuses te maak. Ek sal liewer saam met my puisies lewe as om sonder sjokolade te lewe.

      Fabienne het nog nooit voor so ’n keuse te staan gekom nie. Fabienne kan elke aand ’n boks sjokolade verslind sonder om ooit deur ’n puisie of ’n vetrolletjie gestraf te word. Maar sy sal nie. ’n Boks sjokolade op haar eie opeet nie, bedoel ek. Fabienne weet van selfbeheer. En sy weet dat sjokolade sleg is vir haar fantastiese tande. Nee, Fabienne sal haar sjokolade met iemand deel. Sy sal seker maak dat haar sjokolade ook iemand anders se tande, vel en lyf bederf. Maar dit laat Fabienne ’n bietjie onderduims klink, nè? Laat ek dit anders stel: Fabienne sal die soet én die bitter in die lewe met iemand deel.

      Waarskynlik met haar suster, Camille, wat twee jaar ouer is as sy.

      Fabienne het nie broers nie. Nie stiefbroers, halwe broers of volle broers nie. Net ’n suster, ’n bloedsuster en ’n sielsuster en alles wat ’n suster maar kan wees. Behalwe ’n pes. Sharon sê sy verstaan nie hoekom ek so graag ’n suster wil hê nie. Hare is meeste van die tyd ’n pes. En tog is Sharon se lewe, met suster en al, tien keer makliker as myne tussen my barbaarse broers.

      Daarom het Fabienne vir Camille. En Camille vir Fabienne. Waarom klink die laaste twee sinne soos iets uit Bloeiende vergeet­agtigheid? Dis wat juffrou Liebenberg sal dink as sy dit moet lees. Wat juffrou Liebenberg ook sal dink, of sommer reguit vir my sal vra, is hoe op aarde ek enige leser gaan boei met ’n storie oor twee stralend gelukkige tandartsdogters.

      Waar’s die spanningslyn? Waar’s die drama en die intrige? Waar’s die storie, Hanna?

      Goed, juffrou Liebenberg, ek sal vir jou ’n storie gee.

      Op haar vyftiende verjaardag word Fabienne deur ’n tragedie getref. Haar pa word doodgeskok deur sy eie tandartsstoel! Terwyl hy ’n agtjarige seuntjie se tande stop (ek sal hom soos ’n kruis tussen Tibo en Amos laat lyk en hom Timos noem), skok die boor in sy hand hom morsdood. Hy stort neer op Timos, wat natuurlik ook geskok word en boonop versmoor onder die tandarts se swaar lyf. Omdat sy assistent daardie dag siek is, het sy vrou hom in die spreekkamer kom help. Sy dink dis alles háár skuld, want sy het die tandartsstoel oor die etensuur skoon geskrop (sy is een van daardie skroppende soort vroue, anders as my ma) en sy moes op een of ander manier ’n kortsluiting veroorsaak het. Om haarself te straf, laat trek sy al haar tande en begrawe dit saam met haar man. Haar dogters vermoed sy het haar varkies saam met haar tande verloor, maar hulle is sulke ordentlike dogters dat hulle nie weet hoe om dit vir haar te sê nie. En die weduwee word by die dag meer waansinnig. Sy kry dit in haar kop dat haar dogters haar tart met hulle fantastiese tande. Sy besluit dat hulle dieselfde offer as sy moet bring. Laat een nag bedwelm sy vir Camille met ’n massiewe dosis laggas en trek al haar tande (sommer so in die kombuis met ’n tang uit die gereedskapskis onder die wasbak) terwyl die arme kind hulpeloos giggel. Op die oomblik toe die laaste tand uit Camille se bloedige mond gelig word, stap Fabienne by die kombuis in …

      Hoe’s dáái vir ’n storie, juffrou Liebenberg? Kom ons noem dit Bloeiende tandvleis!

      Nee. Ek wíl oor stralende geluk skryf. Miskien omdat my eie lewe so ’n tekort aan stralende geluk het.

      Vat nou maar my ma se nuutste verspotte plan. Mana Minnaar het nog nooit ’n tekort aan simpel idees gehad nie, maar hierdie een is sowaar simpel verby. Sy het besluit sy wil ’n wittebrood hou – vir die eerste keer in haar lewe – maar dit sal nie ’n gewone, normale wittebrood wees nie. Ek sê mos sy glo nie aan normaal nie. Sy wil al haar kinders en haar stiefkinders en natuurlik haar ongebore kind saamsleep. Na ’n verlate huis op ’n verlate berg. Sodat ons “mekaar beter kan leer ken”.

      Dis amper so verspot soos ’n proefbuis op ’n wit perd.

      2. Pampoen en Patat hinder ’n heks

      En toe wieg daardie proefbuisperd my sommer aan die slaap gisteraand. In die middel van die nag word ek wakker met ’n vel papier wat aan my wang vassit en ’n pen wat my een neusgat versper. Ek was seker moeër as wat ek besef het.

      Die skool het gister gesluit vir die wintervakansie. En elke keer as ek aan my ma se plan vir die volgende drie weke dink, besef ek weer dat ek nie haar dogter kan wees nie. Nie rêrig nie. Iemand het ’n fout gemaak in die kraaminrigting, ek is omgeruil met ’n ander baba, ek het aan die verkeerde bors begin suig. Mana sê alle kinders wonder soms of so iets nie dalk met hulle gebeur het nie. Ek wonder lankal nie meer nie. Ek is seker ek is die verlore dogter van ’n tandarts.

      Die reën raas teen die ruit langs my bed. Ek het nog altyd van ons nat Kaapse winters gehou, gedog dis ’n heerlike verskoning om heeldag te lê en lees, maar van ek saam met my nuwe gesin in hierdie nuwe huis woon, laat die reën my vasgekeer voel. Te veel mense, te veel diere, te veel rumoerigheid om my. ’n Skrywer het stilte nodig!

      En nuwe huis is nie heeltemal die regte beskrywing vir hierdie dubbelverdiepinghool aan die gatkant van Tafelberg nie. Toe Mana en Beyers teen die einde van laas jaar trou, moes ons ’n groter huis vir die hele spul van ons soek. En soos ek reeds laat glip het, rol ons nie juis rond in die rande nie. Probeer jy nou ’n huis met minstens vyf slaapkamers soek, en boonop ’n garage of ’n buitekamer of ’n plek wat Mana as ateljee kan gebruik, teen ’n prys wat twee mense sonder ’n vaste inkomste kan bekostig. ’n Akteur en ’n skilder. I ask you. Dis wat op elke eiendomsagent se gesig geskryf gestaan het. ’n Akteur en ’n skilder met vier kinders tussen hulle. En ’n vyfde baba op pad. Tj, tj, tj.

      Ons het probeer om kamers uit te skakel. Tibo en Amos kan mos ’n kamer deel, het Beyers voorgestel. Sy weet darem nie, het Mana gesê. Soos dié twee baklei, sal hulle mekaar binne die eerste paar weke vermoor. Nie ’n slegte idee nie, het Yann gemeen. Dit maak tog meer sin om familielede uit te skakel as om kamers uit te skakel.

      “Pasop,” het Beyers gewaarsku, “of ons sit vir jóú ook saam met hulle in ’n kamer.”

      “Great,” het Yann gesê. “Hulle sal my binne ’n maand tot waan­sin dryf, dan kan julle my in ’n gestig gaan toesluit. Dan het julle sommer van drie kinders ontslae geraak. Wie bly oor?”

      Hy het na my gekyk. Betekenisvol, soos hulle sê.

      “Nee!” het ek gekeer. “Julle kan nie verwag dat ék saam met twee klein seuntjies moet slaap nie. Ek’s die enigste meisiekind in die huis. Ek verdien my eie kamer!”

      Hulle kon ook nie eintlik verwag dat ek ’n kamer met ’n sestienjarige seun moet deel nie, nie

Скачать книгу