Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom (skooluitgawe). Marita van der Vyver

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom (skooluitgawe) - Marita van der Vyver страница 8

Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom (skooluitgawe) - Marita van der Vyver

Скачать книгу

sê mos tandpyn kan jou mal maak.

      Bedags verf Fabienne. Maar nie meer stillewes nie. As haar pa na haar skilderye kyk, kan hy nie ’n enkele blom uit haar ma se tuin herken nie. Al wat hy sien, is ’n klomp skelbont kleure. En hopeloos te veel skakerings van rooi.

      Liewe leser, soos jy seker agtergekom het, skryf ek nou ’n siel­kundige riller. Bloedige stillewe? Vervloekte verfkwas? Ek sal nog aan ’n titel dink. Oor die volgende drie weke sal ek baie tyd hê om te dink.

      Ons het eers laatmiddag hier aangekom, by die huis op die berg, ná ’n nagmerrierit in ’n oorvol kombi.

      Die eerste twee ure was ’n nagmerrie omdat Tibo en Amos aanhoudend baklei het of gekla het hulle is honger of gekerm het hulle is verveeld. Maar daaraan is ek gewoond. Dit gebeur elke keer as ons meer as ’n kwartier in ’n kar deurbring. Yann het sy Walkman se oorfone opgesit en ’n glasige uitdrukking in sy oë gekry en nie ’n dooie woord gesê nie (soos elke keer as ons meer as ’n kwartier in ’n kar deurbring) behalwe reg teen die einde toe hy skielik uitgeroep het: “Ek moet pie! Dis dringend!” Dit was die vierde keer dat ons moes stilhou sodat iemand kan piepie. Die ander drie kere was dit Mana. Maar sy sê sy kan nie help nie, dis oor sy sewe maande verwagtend is. Verder het Pampoen of Patat of dalk albei karsiek geword en oor al die komberse gekots, maar dis ook nie die eerste keer dat dít gebeur nie.

      Die laaste halfuur was ’n ander soort nagmerrie. Van ons van die teerpad afgedraai het iewers anderkant Piketberg (of dalk was dit ’n volgende dorp, ek weet nie, Yann sê mos ’n dorp is ’n dorp is ’n dorp) het die grondpad al slegter geword. Die eerste ent kon jy darem nog die spore van ander karre in die modder sien, maar ná ons deur ’n paar plaashekke gery het, was daar glad nie meer ’n teken dat iemand die afgelope tien jaar die pad gebruik het nie. As jy dit nog ’n pad kon noem. Dit was meer soos ’n kron­kelende erosiesloot, massiewe klippe en kuithoogte bosse net waar jy kyk, en plek-plek so steil dat ek bang was die kombi gaan agteroor bollemakiesie slaan. Op ’n kol moes ons deur ’n drif ry. Ek dog die idee van ’n drif is om ’n kar droog te hou, maar die stroom was so sterk dat dit gevoel het of ons gaan begin dryf. Die enigste gelukskoot was dat ons onder die reën uitgery het. Ek dink nie die arme kombi sou water van onder én water van bo kon hanteer nie.

      Liewe leser, ek wéét wat jy dink. Ou Hanna Hoekom oordryf al weer. Sy kan mos nie ’n storie vertel sonder om dit in ’n drama te verander nie. Maar ek belowe dit was nie net my verbeelding nie. Ek kon sien almal in die kar was so benoud soos ek. Tibo en Amos het skoon vergeet om te kla, Yann se oë was vir ’n verande­ring glasig van skok eerder as van verveling, en Mana het die kar se kassetspeler al hoe harder gedraai, asof sy gehoop het Cecilia Bartoli se jubelende stem sal ons tot bo-op die berg dra.

      Dit kan nie goed wees vir ’n ongebore baba om so rond­ge­skommel te word nie. Aan die ander kant, miskien is dit tyd dat Ditjie ’n bietjie taf gemaak word. Ditjie gaan nie ’n maklike lewe hê nie as Ditjie eers by hierdie gesin aangesluit het nie.

      Die ergste van alles, sê Mana toe ons met bewerige knieë uitklim, is dat ons die pad oor ’n paar dae weer moet aandurf om kos op die naaste dorp te gaan koop. Ek bied dadelik aan om honger te ly eerder as om weer daardie pad te ry. Dit sal makliker gaan as die sleepwaentjie eers afgehaak is, troos Beyers. As die kar nie so oorlaai is nie. Maar niemand lyk juis getroos nie.

      Ons kyk half verdwaas om ons rond. Soos skipbreukelinge wat op ’n manjifieke eiland uitgespoel het, maar nog nie mooi kan glo dat hulle nie dood is nie. Ons sien mistige blou berge en groen heuwels oral om ons, die skittering van ’n waterval teen ’n krans, ’n vlakte van fynbos om ’n vervalle huis. Ons hoor ’n oorverdowende gekwetter van voëls. Wel, miskien net ’n doodgewone gekwetter, maar vir my stadsore klink die voëls amper onbeskof rumoerig. En presies op hierdie oomblik, on cue soos Beyers sou sê, begin die son agter die huis sak en die hele prentjie kry so ’n sagte goue gloed.

      Selfs Yann kon dit nie oor sy hart kry om ’n sarkastiese aanmerking te maak nie.

      Ek sal nou nie sê die huis het my voete onder my uitgeslaan nie, maar so in die vleiende lig van die sonsondergang het dit darem nie té onaardig gelyk nie. ’n Eenvoudige reghoekige gebou met witgekalkte mure (wat oral afskilfer) en ’n rietdak (wat soos die vel van ’n brandsiek hond begin lyk), amper soos daardie outydse vissershuisies wat jy op Kaapse kusdorpies kry. ’n Ver­waar­loosde ou vrou wat jou tog laat vermoed dat sy eens op ’n tyd nogal mooi moes gewees het. Dog ek so ewe.

      Dis eers toe ons die swaar houtvoordeur met die enorme outydse sleutel oopwikkel dat ons besef wat Beyers se vriend bedoel het toe hy gesê het die plek staan al lank leeg. Dis omtrent hoe die arme prins moes gevoel het toe hy ná ’n honderd jaar in Doringrosie se toegerankte paleis opdaag. Stof en spinnekoppe net waar jy kyk. Met so ’n muwwe reuk wat aan die meubels kleef. Nie dat daar veel meubels te sien is nie, net ’n enorme tafel, ’n ingesakte rusbank en ’n spul stokou stoele in ’n enkele leef­vertrek – kombuis en eetkamer en sitkamer en alles saam – met ’n paar deure wat na die slaapkamers lei.

      “Dis ’n dump!” roep Yann uit en begin so onbedaarlik nies dat hy nie ’n woord verder kan uitkry nie.

      Hy kry hooikoorsaanvalle van stof en stuifmeel en kathare en ek weet nie wat nog alles nie.

      “Niks wat ’n besem en ’n verestowwer nie kan regruk nie!” roep Mana uit op haar valse vrolike manier. Teen dié tyd het sy klaar ’n besem en ’n stowwer in ’n kombuiskas opgespoor. En die stow­wer in my onwillige hande gedruk. “Yann, gaan help jy jou pa om die bagasie af te laai, dan raak die res van ons gou van die ergste stof ontslae.”

      “Hoekom moet ék help afstof?” vra ek. “Is dit nie bietjie seksis­ties nie?”

      “Ag, ou Hanna Hoekom,” sug Mana en begin die vloer met mening vee, “soms is dit makliker om prakties te wees as om polities korrek te wees.”

      “Is hier dan nie ’n stofsuier nie?” vra Tibo.

      “Hier’s nie elektrisiteit nie,” herinner Mana hom. “Gaan kry jy en Amos elk ’n lap in die kombuiskas. Maak dit klam – nie nat nie, net klam – en dan vee julle al die meubels af.”

      “Watse meubels?” mompel Yann, nies weer ’n slag en vlug by die voordeur uit.

      “O ja.” Tibo knik sy kop verslae, asof die volle omvang van die katastrofe hom nou eers tref. “Hier’s nie elektrisiteit nie.”

      My enigste troos is dat Fabienne volgende naweek opdaag. Kyk hoe verspreek ek my nou. Ek wou eintlik sê my enigste troos is dat Sharon volgende naweek opdaag.

      Haar pa kom haar aflaai met sy splinternuwe 4x4. Die slegte pad sal nie vir hulle ’n probleem wees nie. Met so ’n voertuig sal dit miskien selfs ’n avontuur wees. Dis nou te sê as Sharon se pa weet hoe om ’n 4x4 te bestuur behalwe op teerpaaie in die stad. As ek so na hom kyk, met sy sonbrilletjie en sy blinkleerskoene en sy duur donker pakke, weet ek nie so mooi nie.

      Sharon se pa het ’n hoë pos in die staatsdiens, net onder een of ander minister. Ek dink hy was eers by die Minister van Toe­risme en nou’s hy by die Minister van Polisie. Of andersom. Hy maak vreeslik baie geld. En Sharon se ma nog meer. Sy het ’n hoë pos by ’n groot versekeringsmaatskappy. Human relations, sê Sharon met ’n verveelde uitdrukking elke keer as ek vra wat haar ma nou eintlik doen om soveel geld te verdien.

      Ek weet steeds nie wat vir ’n werk human relations is nie. Ek dink ook nie Sharon weet nie. Ek wonder byvoorbeeld of jy ook baie geld kan maak met animal relations. Ek bedoel nou nie in ’n dieretuin nie, ek bedoel in ’n versekeringsmaatskappy. Of flower relations? (’n Moontlike pos vir Fabienne se groengevingerde

Скачать книгу