Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom (skooluitgawe). Marita van der Vyver

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom (skooluitgawe) - Marita van der Vyver страница 7

Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom (skooluitgawe) - Marita van der Vyver

Скачать книгу

verveeld nie.”

      Ons gaan soos vlugtelinge uit ’n Oos-Europese oorlog lyk, besef ek toe ek Mana se rooi reënjas aan die kapstok in die voorportaal gryp. Berge bedek my en bome val op my. Ons geroeste kombi staan in die oprit langs die huis met ’n geleende sleepwaentjie agteraan gehaak. Ek sal sterf van verleentheid as iemand wat ek ken hierdie petalje moet sien. Die bagasiebak en die waentjie is klaar volgepak en die helfte van die bagasie moet nog in. En natuurlik die ses mense en twee honde.

      Dis nou te sê as ek die twee honde kan opspoor, dink ek terwyl ek deur ons onkruidbegroeide tuin stap. Ek knip die hekkie agter my toe en kyk rond in die blinknat teerstraat. Die berg se krom rug is toegewikkel in ’n tjalie van mis.

      “Pampoen! Patat!” roep ek met ’n mond vol reën. Ek klink soos ’n groentesmous. “Patat! Pampoen!”

      As dit nie vir hierdie twee honde met hulle simpel name was nie, sou Mana en Beyers mekaar dalk nooit ontmoet het nie. Mana se Pampoen is ’n middelslag-basterbrak, moeilik om te beskryf, skraal soos ’n windhond, lieftallig soos ’n labrador, met ’n gladde bleek­geel vel soos ’n pampoen wat net-net begin ryp word. Beyers se Patat is ’n groot, wollerige, kwylerige gedoente, ’n kruis tussen ’n poedel en ’n beer, die kleur van ’n borriepatat se skil. Mana en Beyers het elk met ’n hond teen die berg gaan stap, toe ruik die honde mekaar. Liefde met die eerste snuif, kan jy maar sê. En soos enige jong verliefdes probeer die twee troeteldiere toe natuurlik dadelik wegkom van hul preutse oppassers. Ruk los en laat spaander, met Mana en Beyers wat skreeuend agterna storm.

      “Pampoen! Pampoen!” gil Mana.

      “Patat! Patat!” bulder Beyers.

      Toe bots hulle amper teen mekaar.

      “Is jou hond se naam Pampoen?”

      “En joune Patat?”

      “Ons kan hulle laat kleintjies kry,” stel Beyers voor, “en ’n groen­tewinkel begin. Dink net! Aartappeltjie en Worteltjie en Skorsie …”

      “En miskien meer eksotiese name vir die dogtertjies?” sê Mana. “Iets soos Aubergine of Courgette?”

      Toe begin hulle lag.

      En toe hulle ophou, toe is dit heeltemal te laat om die honde uitmekaar te hou.

      Hulle hét toe kleintjies gekry en ons hét vir al vier kleintjies groentename gegee. Maar ons moes hulle weggee aan normale mense wat vir hulle normale name gegee het. Smartie en Stoffel en Wollie en Whisky.

      Ek wéét dit klink soos iets wat Walt Disney uitgedink het. Perdita en Pongo in ’n Londense park. Pampoen en Patat teen ’n Kaapse berg. Maar ek kan nie help nie, liewe leser, dis die waar­heid en soms is die waarheid nogal corny.

      Onwaarskynlik, dis die woord wat Mana graag gebruik. Sy sê die werklikheid is baiekeer meer onwaarskynlik as enige storie. As ek so na haar kyk, dink ek sy moet reg wees, want sy’s meer onwaarskynlik as enige ma wat ek nog in ’n storie teëgekom het.

      Dis waarom ek nie sal omgee as juffrou Liebenberg sê Fabien­ne se lewe klink darem ’n bietjie dik vir ’n daalder nie. Gee my eerder ’n ma met groen vingers as ’n ma met groen hare. Ja, soms vergeet Mana om haar verfkwaste te was voor sy hulle in haar hare druk, dan loop sy rond met ’n kop vol eienaardige kleure. As sy sien ek skaam my dood, bedek sy haar hare met een van haar slap hansworshoede. Dan skaam ek my éérs dood. Gee my eer­der ’n pa met bloed op sy vingers as ’n pa met maskara op sy wimpers. Gee my eerder Fabienne se fantastiese tande!

      Intussen loop ek in die reën en roep na twee honde met on­waarskynlike name. Toe ek hulle eindelik sien, voor die laaste huis in die doodloopstraat, skrik ek my boeglam. Dis die huis wat aan die Heks van Endor behoort. Ons noem haar die Heks van Endor, want sy het toutjiesrige grys hare en ’n skerp neus en sy hou meer van katte as van kinders. Ek kan glad nie verstaan hoe Pampoen en Patat aan die verkeerde kant van haar toegerankte draadhei­ning beland het nie, maar hulle het twee van haar swetterjoel katte in ’n kaal wilgerboom opgejaag en probeer nou hulle bes om die katte uit die boom te blaf. Die heks staan op haar stoep, brandmaer in ’n swart kamerjas, en gooi skoene na hulle.

      “Pampoen! Patat!” roep ek dreigend. “Kom dadelik huis toe.”

      Die honde voel duidelik vere vir my dreigende stem.

      “Ekskuus, mevrou?” roep ek, want dit lyk nie of sy my sien nie. “Juffrou? Tannie? Kan ek inkom? Om die honde te kom haal?”

      Dit lyk of sy my ook nie hoor nie. Ek maak die tuinhekkie versigtig oop en draf vinnig na die kaal boom. Die volgende oomblik tref ’n verslete pantoffel my vol teen die kop.

      “Ek het net gou die honde kom haal,” verduidelik ek terwyl ek buk-buk probeer om hulle halsbande beet te kry. “Jammer as hulle vir mevrou gehinder het.”

      Sy sê niks, lig net ’n volgende pantoffel dreigend op.

      Ek klou aan die halsbande en trek die honde so buk-buk saam met my by die hek uit. Die laaste pantoffel, ’n pienke met ’n skerp hakkie en ’n stukkie nagemaakte pels oor die tone, volg ons tot in die straat.

      3. Bloedvingers, suikervingers, groenvingers …

      Maar kom ons keer terug na Fabienne se storie. Van die dag dat Fabienne se lieflingsuster se lekkerste sjokolademousse so onverklaarbaar in modder verander het, is alles nie meer pluis in Fabien­ne se lewe nie.

      Snags in haar slaap keer die verfkwasvrou terug om haar te tart, met haar woeste hare en haar skelbont rokke, serpe, truie. Lemoenoranje en jakarandapers en koringblomblou, verbeel jou, kleure waarin Fabienne se ma nie dóód gesien sou word nie, nie eens een-een nie, en hierdie vrou hang al hierdie kleure gelyk aan haar lyf. En saans aan tafel, terwyl hulle smeltsagte lamsboud met roosmaryn of souserige beesstertbredie eet, staar Fabienne af­ge­trokke na haar gesin se vingers. Groenvingers, suikervingers, bloed­vingers. Dis die aftelrympie wat aanhoudend in Fabienne se kop draai. Bloedvingers, suikervingers, groenvingers. Wie gaan eerste uit­val?

      Hulle gaan jou saggies versmoor, fluister die verfkwasvrou snags in haar oor. Hulle wéét jy hoort nie hier nie. Jy sal jouself moet red. Raak ontslae van hulle. Of raak ontslae van jou verfkwaste.

      Fabienne word saggies waansinnig. Haar gesin merk dat sy al hoe minder eet en vermoed dat sy ’n dieetsiekte het. Hulle sleep haar na dokters en sielkundiges, maar sy word net al hoe maerder. Camille bak soos ’n besetene. Sy skep poedings asof haar suster se lewe daarvan afhang. Sy gebruik daagliks dosyne eiers en kilogramme suiker. Sy smelt enorme blokke sjokolade, tot alles, selfs haar ma se spogrose, soos sjokolade ruik. Fabienne voel of sy in ’n Paaseier vasgevang is. Alles om haar is donker en soet en hol.

      Snags in haar bed, ná die verfkwasvrou kom kuier het, skakel sy haar gesin een-een uit. Elkeen op ’n gepaste manier. Niks meer as selfbeskerming nie, sê sy vir haarself.

      Groenvingers sal deur ’n vleisetende plant verslind word, ’n reusagtige beblaarde gedrog uit ’n oerwoud in Suid-Amerika, ’n plant wat sy wou mak maak. Op ’n dag, as sy haar groen­ge­vingerde hand uitsteek om die plant se stingel te streel, pluk die plant haar nader en sluk haar heel in.

      Suikervingers sal aan ’n sjokoladetruffel verstik. Nee, dink Fa-bienne, dit sal nie werk nie. Jy kan nie aan sjokolade verstik nie, dit smelt in jou keel. Maar sê nou net daar het ’n stuk eierdop in die vulsel agtergebly? Groot genoeg om Suikervingers se keelgat te versper?

      En

Скачать книгу