Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom (skooluitgawe). Marita van der Vyver

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom (skooluitgawe) - Marita van der Vyver страница 5

Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom (skooluitgawe) - Marita van der Vyver

Скачать книгу

saam met my in ’n bed sou wou spring. Ek het nie gedink dis só snaaks nie.

      “Die baba kan die eerste paar maande saam met my en Beyers slaap,” het Mana gesê, “maar daarna sal dit ook ’n kamer nodig hê …”

      Mana dring daarop aan om die ongebore baba dit te noem. Hy is te seksisties, reken sy, en sy is omgekeerde seksisme. En hy of sy klink so pynlik korrek dat jy wil kreun. Teen dié tyd praat ons almal van Ditjie se geboorte, Ditjie se kamer en Ditjie se lewe.

      As Ditjie maar weet wat wag, dink ek soms, bly Ditjie net daar waar Ditjie nou is.

      Ná ons na honderde huise gekyk het, het ons oplaas een gekry waarvan nie een van ons hoegenaamd gehou het nie. Dis nie nuut en gemaklik nie, dis nie oud en karaktervol nie, dis net … wel, gróót. Dit lyk soos ’n spoorweghuis wat te groot vir sy skoene geword het. Growwe baksteenmure en staalraamvensters. Of liewer, dis hoe die onderste verdieping lyk. Die boonste ver­die­ping is later bygelas, vuilwit mure met vensters van verskillende groottes, soos ’n lawwe strooihoed by ’n vervelige winterjas. ’n Spektakel van ’n huis, met ’n lekkende dak en drie gekraakte vensters, waarin geen normale gesin ooit sou woon nie. Dis waarom die eiendomsagent besluit het dis presies die huis vir ons.

      Maar dis groot genoeg dat ons elkeen ons eie slaapkamer kon kry. Amper elkeen. Tibo en Amos deel die morsigste vertrek in die huis – en in hierdie huis is dit nogal ’n prestasie – wat ons Die Martelkamer noem. Waar hulle gereeld probeer om mekaar te verwurg, mekaar se ore af te byt, mekaar se ledemate te verpletter. Tot dusver darem nog sonder sukses.

      Daar is selfs ’n soort tuinhuis in die agterplaas waar Mana kan skilder. Dis ’n grap, want daar’s g’n spoor van ’n tuin nie, net on­kruid wat kuithoogte groei, maar dis wat die eiendomsagent dit ge­noem het. Die Tuinhuis.

      Beyers het ywerig begin tuinmaak aan die voorkant van die huis, dat dit darem bietjie beter kan lyk van die straat af, maar sy ywer het saam met die laaste somerhitte verdwyn. Mana het belowe sodra Ditjie gebore is, trek sy die onkruid in die agterplaas uit. Ek vermoed ons gaan nooit juis ’n tuin hê om van te praat nie.

      Fabienne het natuurlik ’n lushof van ’n tuin. Fabienne se ma het groen vingers, groen hande, groen arms. Noudat ek daaraan dink, Fabienne se ma was nie ’n tandarts se assistent nie. Sy is ’n … wat is die woord wat ek soek? Horti-iets. Hortikultus? ’n Glamorous weergawe van ’n tuinier, dís wat Fabienne se ma is, en dís hoe sy Fabienne se pa ontmoet het. Sy het hom gehelp om die tuin uit te lê toe hy vir hom ’n nuwe huis laat bou het. Dis tog meer romanties om die liefde van jou lewe in ’n tuin te leer ken! As julle bewende hande vir die eerste keer oor ’n geurige roosboompie aan mekaar kan raak – eerder as oor die oopgesperde mond van ’n pasiënt wat die vorige aand te veel knoffel geëet het.

      Die tandarts se huis is deur die stad se beste argitek ontwerp. Elke venster pas by elke ander venster en die dak pas perfek by al die mure. Die huis is modern en vol lig en glinsterend skoon. Amper soos ’n tandarts se spreekkamer. Met groot bosse blomme wat die ma met die groen vingers elke oggend in die tuin pluk en in swaar glasvase rangskik. Dis die huis waar Fabienne en Camille gebore is. Natuurlik nie in die huis nie, hulle is soos normale babas in ’n hospitaal gebore, maar dis die huis waarheen die ma met die groen vingers hulle gebring het toe hulle ’n paar dae oud was. En Fabienne het gewéét, van sy haar verstand gekry het, dat sy in hierdie huis hoort. Dat sy by die regte ma en pa beland het.

      Of miskien sal ek haar soms, net so nou en dan, laat wonder of haar ma nie eerder ’n mallerige kunstenares moes gewees het nie. Net om haar bietjie interessanter te maak. Tot dusver klink sy darem te veel soos ’n drip. So kom ons maak vir Fabienne kuns­tig. Besonder kunstig. Maar sonder ’n kunstenaar se morsige persoonlikheid.

      Op die ouderdom van twee teken sy ’n volmaakte stokmannetjie. Op ses skilder sy stillewes, blomme uit haar ma se tuin wat haar pa dadelik herken, daardie een is ’n roos en daardie ’n affodil en daardie ’n magrietjie! So dis normaal dat sy soms sal wonder waar haar talent vandaan kom. Met ’n ma wat heeldag in die grond rondgrawe en ’n pa wat heeldag in ander mense se monde rondgrawe.

      En dan word sy een oggend wakker, ná ’n eienaardige droom oor ’n meisie met die naam Hanna Hoekom wat saam met ’n spul wilde broers in ’n spektakel van ’n huis woon, en sy onthou dat die meisie se ma ’n woeste boskasie van ’n haarstyl gehad het wat met verfkwaste bo-op haar kop vasgesteek was. En haar eerste verwarde gedagte is: Miskien is daardie verfkwasvrou my ma? En dan vryf sy oor haar oë en skuif regop en besluit dit was net ’n nag­merrie.

      Maar die saadjie van twyfel is geplant. Daardie aand aan tafel, terwyl hulle sappige biefstuk en gebakte aartappels eet, kyk sy na haar pa wat nooit enigiets teken nie (behalwe tjeks) en haar ma wat nooit enigiets verf nie (behalwe haar lippe soggens voor die spieël) en sy kry die kriewelrige gevoel dat sy nie aan hierdie tafel hoort nie. Sy druk dit dadelik dood, die ry miertjies wat deur haar maag marsjeer, en vra wat is daar vir nagereg. Tuisgemaakte sjokolademousse, antwoord haar suster met ’n trotse glimlag. Camille het ’n slag in die kombuis, veral met soetgoed, en gewoonlik is Fabienne mal oor haar suster se poedings. Maar vanaand proe die mousse soos modder …

      “Het jy nie my Harry Potter gesien nie?” wil Amos weet toe hy by my kamer inbars.

      “Het jy nie my toe deur gesien nie?” vra ek met my kwaaiste stem. “Dink jy dis ’n kafee dat jy sommer kan instorm sonder om te klop?”

      “Ja, oukei, ek’s jammer, maar ek soek my Harry Potter!”

      “Jy gaan dit nie in my kamer kry nie.”

      Hy kyk nogtans rond asof hy hoop dat die boek op ’n toweragtige manier in my kamer beland het. Dalk afgelewer deur een van Hogwarts se posuile.

      “Mana het gesê ons moet boeke saamvat, want daar’s nie TV in die huis op die berg nie en nou …”

      “Daar’s ook nie ligte in die huis op die berg nie,” val ek hom in die rede. “Ons gaan almal saans by kerslig sit en lees soos in die Middeleeue.”

      “Maar ek kan nie my Harry Potter kry nie!”

      “Ek’s nie verbaas nie. Jou kamer is so deurmekaar dis ’n wonder dat jy elke aand jou bed kry.”

      “Ek sweer dis Tibo wat dit weggesteek het!”

      “Jou bed?” vra ek met ’n lieftallige glimlaggie.

      “Tj’aag, jy’s simpel, man.” Hy gluur na my waar ek kruisbeen op die bed sit, klaar aangetrek, my tas gisteraand al klaar gepak, soos gewoonlik die enigste een in die gesin wat gereed is om te vertrek wanneer ons veronderstel is om te vertrek. “Wat skryf jy?”

      “Niks met jou uit te waai nie.”

      “Jou lewensverhaal?” vra hy met ’n gevaarlike grinnik wat hom nogal soos sy ouer broer laat lyk.

      “Iemand anders se lewensverhaal. Gaan soek jou boek op ’n ander plek.”

      “Is daar towenaars in jou storie?”

      “Ja,” lieg ek sonder dat ek weet hoekom, miskien net oor daar skielik iets soos belangstelling oor sy sproetgesig flikker. “Towe­naars en tandartse.”

      “Tandartse?”

      Die flikkering verdwyn oombliklik. Hy gee haastig pad uit my kamer. Los my nogal gekrenk op my bed.

      “Dis in elk geval nie ’n storie vir agtjarige seuntjies nie!”

Скачать книгу