Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom (skooluitgawe). Marita van der Vyver

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom (skooluitgawe) - Marita van der Vyver страница 6

Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom (skooluitgawe) - Marita van der Vyver

Скачать книгу

wat in die buitelug werk. Met ’n maandelikse salaris. Die salaris is belangrik. Iets soos ’n bosbouer of ’n wildbewaarder of so iets?

      Nee. Met so ’n pa sou Fabienne nie in ’n stad kon woon nie. Sy sou iewers in die boendoes moes gaan sit en ek sou dit nie kon vat nie. Ek bedoel sy sou dit nie kon vat nie.

      Dis erg genoeg dat ek die volgende drie weke in die boendoes moet deurbring. Omtrent ’n uur van die naaste beskaafde dorp af! (Met beskaaf, liewe leser, bedoel ek bloot ’n plek met verkeersligte en ’n paar winkels.) En dit oor my ma nog nooit ’n wittebrood ge­had het nie. Die eerste keer was sy te naar. En die tweede keer – nou ja, selfs Mana is nie mal genoeg om saam met ’n proefbuis te wil wittebrood hou nie.

      Toe sy laas jaar met Beyers getrou het, het dit gelyk of sy wéér nie ’n wittebrood gaan hê nie. Daar was nie geld nie, nie met die groter huis wat gekoop moes word nie, en selfs as hulle dalk nog iewers geld in die hande kon kry, sou hulle nie weet wat om met al die kinders te maak nie. Toe bied ’n vriend van Beyers vir hulle die huis op die berg aan, heeltemal verniet, vir so lank as wat hulle dit wil hê. Vir omtrent ’n minuut, een van die langste minute in my lewe, dog ek hulle wil hê ons moet vir altyd daar gaan woon.

      Beyers het die nuus vir ons aan tafel meegedeel (die slegste nuus in hierdie huis word altyd aan tafel meegedeel, gewoonlik terwyl ons sop eet) en toe begin almal gelyk gil en skreeu.

      Ek wil nie soos Josef op ’n berg gaan sit nie! Dit was Moses wat op die berg gesit het! Ek sal ’n eetstaking hou! Ha-ha, jy kla elke halfuur jy’s honger! Nou maar dan kan jy ’n eetstaking hou! Ek wil nie ’n eetstaking hou nie! Ek wil nie na ’n ander skool toe gaan nie! Ek dog jy haat jou skool! Ek haat my skool maar ek sal enige ander skool nog méér haat! Ons sal almal saam ’n eetstaking hou! Ek wil nie ’n eetstaking hou nie!

      “Ons wil nie daar gaan wóón nie!” het Beyers gebulder. Hy doen dit nie baie nie, maar as hy dit die slag doen, bulder hy soos net ’n akteur kan bulder. Koning Lear in ’n loeiende storm. “Ons wil net ’n vakansie hou!”

      ’n Paar oomblikke was dit onheilspellend stil om die tafel. Ons het almal dikmond aan ons aartappelsop geslurp.

      “Hoekom?” wou Yann wantrouig weet.

      “Ons het nog nooit almal saam vakansie gehou nie.”

      “Dit pla mý nie,” het Yann gesê. “Pla dit vir julle?”

      Hy het na my gekyk. Asof hy ’n bondgenoot soek. Dit was die eerste keer dat hy met iets anders as verveling of minagting na my gekyk het.

      “Ag, nee wat,” het ek dadelik gesê, “ek kan lewe sonder ’n ge­sinsvakansie.”

      “In ’n huis sonder TV!” het Tibo in afgryse uitgeroep.

      “Is dit ’n spookhuis?” wou Amos weet. Die enigste een wat effens opgewonde geklink het.

      “Dis soos ’n wittebrood,” het Mana ons ingelig. “Ons het ’n wittebrood nodig, almal van ons, om mekaar beter te leer ken.”

      Toe begin almal weer gelyk gil en skreeu.

      Ek sal eendag my eie wittebrood reël, dankie! Ha-ha, saam met wie nogal? Beslis nie saam met jóú nie! ’n Wittebrood sonder TV? Dis die simpelste idee wat ek nóg gehoor het! Gaan ons almal in dieselfde bed slaap? Ek wil niemand aan hierdie tafel beter leer ken nie! Kom ons hou ’n eetstaking! Ek wil nie ’n eetstaking hou nie!

      Mana en Beyers het verslae na mekaar gekyk.

      “My hele lewe lank wou ek deel wees van ’n groot, gelukkige gesin,” het Beyers geprewel.

      En toe begin hulle lag.

      Dis hoe hulle verhouding begin het. En dis hoe hulle waarskynlik vir altyd en altyd bymekaar gaan bly. Lag-lag.

      Mana het pas by my kamer ingestrompel. Haar roesblonde bos­kasie selfs woester as gewoonlik, paniek oor haar hele gesig.

      “Hanna, ek het jou hulp nodig, anders gaan ons nooit vandag wegkom nie.”

      “Ek het gewéét dit gaan gebeur. Ek is die enigste een in hierdie gesin wat ooit …”

      “Ek weet,” knip sy my kort. “Jy’s die enigste een wat ooit betyds klaar is vir enigiets, dis dié dat ek jou vra om te help. Die res skarrel soos afkophoenders rond. Amos soek sy boeke en Tibo kry nie ’n enkele sokkie wat by enige ander sokkie pas nie en Yann …”

      “Ons is op pad na die gramadoelas,” mompel ek. “Wie dink Tibo gaan omgee as hy ’n onpaar sokkies dra?”

      Maar ek ken klaar die antwoord.

      “Jy ken vir Tibo.”

      Ek ken vir Tibo. Sy kamer lyk miskien soos ’n hoenderhok, maar hy’s nogal ’n netjiese kuiken as dit by klere kom. Die vere maak die voël, glo hy. Hy sal nie eens vir een van sy Action Men ’n onpaar sokkies aantrek nie.

      “En Yann is briesend oor sy Marilyn Manson-CD verdwyn het,” gaan Mana aan. “Hy dink dis sy pa wat dit weggesteek het. Nie dat ek sy pa sou kwalik neem nie. As ons drie weke lank na Marilyn Manson moet luister …” Die manier waarop sy dit sê, haar grys oë net ’n bietjie té groot gerek, laat my vermoed dat sý die CD weggesteek het. “En nou het Pampoen en Patat ook nog verdwyn. Moet die geskarrel in die huis wees wat hulle laat vlug het.”

      Slim honde, dink ek. Dis wat ék ook moes gedoen het.

      “Seker bang hulle word in die agterplaas toegesluit,” sug Mana. “Niemand het vir hulle verduidelik hulle gaan saam nie.”

      “Miskien is dít juis waarvoor hulle bang is. Miskien is hulle ook nie lus vir hierdie wittebrood nie.”

      Mana kyk smekend na my. Sy dra groen stewels met skerp punte. Dit lyk soos iets wat sy by ’n kabouter gesteel het. Dis om die oog ondertoe te lei, het sy nou die dag verduidelik, om die aandag van haar swellende maag af te trek. Ongelukkig werk dit nie, want haar rok is selfs meer opvallend as haar skoene. Groot pers en rooi blomme wat onmiddellik die oog terug boontoe lei. Die grootste, rooiste blom pryk presies in die middel van haar massiewe maag.

      “Wil jy nie asseblief tog na hulle gaan soek nie, Hanna?”

      “In die reën?”

      “Dit reën glad nie meer so hard nie. Hulle moet iewers in die buurt wees. Kruip seker in iemand se tuin weg.”

      En voor ek verder kan teëstribbel, swaai sy om en vlug by die kamer uit.

      “Ek gaan nóóit alles in die kar gelaai kry nie!” kla Beyers halfpad teen die trap op.

      “Dis mos hoekom ons die sleepwaentjie saamvat,” troos Mana.

      “Ons het nie ’n sleepwaentjie nodig nie, ons het ’n treintrok nodig. Al daardie beddegoed! En ses bokse vol kos!”

      “Jy weet hoe die kinders kan eet!” roep Mana halfpad teen die trap af. “Die kos gaan binne drie dae op wees!”

      “Kan ons nie ’n paar bokse op die dak vasmaak nie?” roep Yann uit die kombuis.

      Dadelik benoud dat hy nie genoeg gaan hê om te eet nie.

      “Ek

Скачать книгу