Shomer Yisra'el. Beskermer van Israel. Marzanne Leroux-Van der Boon

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Shomer Yisra'el. Beskermer van Israel - Marzanne Leroux-Van der Boon страница 5

Shomer Yisra'el. Beskermer van Israel - Marzanne Leroux-Van der Boon

Скачать книгу

se geval,” sê Rivkah. “Kyk, onse Olmert en sy trawante het altyd hul monde vol gehad daaroor dat die IDF se teenwoordigheid in Gasa ’n vermorsing van geld is. Dat hulle net gebruik is om die fanatiese setlaars in die Gush Katif-streek te beskerm. Maar noudat ons die setlaars daar uitgehaal het, skiet die terroriste met raketlanseerders onafgebroke kassams op die westelike Negev-stede af en hou hulle die hele ekonomie van die suide van Israel gyselaar. Dis tog ’n duidelike teken dat die IDF nie daar was net om die setlaars te beskerm nie. Hulle was daar om Israel te beskerm. Maar as Olmert nou ’n groot offensief in Gasa onderneem om hierdie terroriste uit te roei, sal hy moet erken verlede jaar se onttrekking daar was ’n fout.”

      Dit raak stil in die vertrek.

      “Mense,” sê Chaim ná ’n paar oomblikke, “laat ons hier op Shabbat vir ons regering bid en nie wanhopig raak nie. Laat ons ook onthou dat elke volk die regering het wat hy verdien. Ons is steeds besig om ons hoop op die regering en die IDF te vestig. Ons vergeet Wié dit is wat Israel bewaar.”

      Toe hulle eindelik terug is by die huis en die baba weer aan die slaap geraak het, maak Marc liefde met sy vrou. Hy voel egter sy is nie met soveel oorgawe by hom soos altyd nie. In die sagte lig van die maan wat deur die venster val, buk hy oor haar. Haar donker hare waaier oor die kussing. Hy sien haar hande is alkant van haar gesig ligweg gevuis.

      Hy raak skrams aan haar wang. “Wat is dit?”

      Sy sug. “Ek … weet nie.”

      Hy buig af en soen haar lank, totdat hy voel haar klein liggaam raak heeltemal sag teen syne. “Wat is dit?” vra hy weer.

      “Dis vir my … Ek … voel so half of ek niks meer vir die land beteken nie … ”

      Marc voel sy keel saamspan, maar hy maan homself tot rustigheid en gaan lê langs haar. Hy trek haar styf teen hom aan, sy gesig in die soetheid van haar hare. “Hoe kan jy so sê? Jy maak ’n kind vir die land groot.”

      Sy reageer nie dadelik nie. Hy vryf sy wang teen hare. “Is dit nie so nie?”

      “Ek weet nie of dit genoeg is nie.”

      “Wat sou jy meer wou doen?”

      Sy sug weer. “Yhoshi is my lewe, dit weet jy tog. Maar gister by die begrafnis en vanaand weer toe ons so gepraat het oor wat hier aangaan … toe het dit gevoel … asof ek meer kan doen.”

      “Soos wat?”

      Sy huiwer, maar toe draai sy vinnig in sy arms om sodat haar mond teen sy keel is. “Ek het gewonder … of ek nie weer by MADA moet gaan werk nie … Natuurlik net deeltyds.”

      Die blote gedagte aan Israel se Rooikruis laat Marc se maagspiere saamtrek. Rivkah het vier jaar lank as paramediese assistent in hul ambulanse gewerk. Hy dink daaraan hoe sy gedurende die Pesach-oorlog van 2002, toe hy haar net leer ken het, daar gewerk het. En later, toe sy permanent aangesluit het, die ontsettende selfmoordbomaanvalle waarmee sy gedurig te doen gekry het.

      Die laaste, in 2004, was so skokkend dat dit regstreeks daartoe aanleiding gegee het dat sy hul eerste baba op twee en ’n half maande as gevolg van ’n miskraam verloor het. Hy sien nie weer daarvoor kans nie.

      Maar hy maan homself weer tot kalmte. “Hoe wou jy dit doen, lief?”

      “Ek weet Imma sal met groot liefde ’n paar oggende in die week na Yhoshi omsien.”

      Hy stoot sy vingers deur haar hare. “Nee, Rivkah, asseblief, moenie dat ons hieroor stry nie. Dit was nie ons ooreenkoms voor Yhoshi se geboorte nie.”

      “Ek het nie geweet daar was ’n ooreenkoms nie.”

      “Nie?” Hy hou sy stem opsetlik lig. “My Tora-gehoorsame vrou weet nie wat HaShem van ’n ma verwag om te wees nie?”

      Sy sê niks, maar hy voel haar teen hom verstyf. “En ek onthou ook hoe duidelik ons albei daaroor was in Zvi Bacher se spreekkamer toe ons gehoor het dis ’n seuntjie wat jy verwag. As ek dit nie mis het nie, was jy die een wat gesê het jy sal nie weer gaan werk nie.”

      “Die toestand in die land was nie toe wat dit nou is nie.”

      “Net voor die Gasa-onttrekking?” Hy lig haar gesig na hom toe op, maar sy stoot sy hand ergerlik weg.

      “Hier kom oorlog.”

      “Rivkah, hier kom altyd oorlog. Moet asseblief nie dat ons nou ’n probleem hiervan maak nie. Dis Shabbat. Kom, dis nou-nou sesuur en dan word Yhoshi wakker.” Hy trek haar kop weer teen sy bors en vryf haar kopvel saggies totdat hy voel sy verslap.

      Gou hoor hy aan haar asemhaling dat sy insluimer. Eers toe hy seker is sy slaap vas, trek hy behoedsaam sy arm onder haar uit en staan op. Slaap het van hom af weggevlug.

      Hy gaan in die woonkamer voor die venster staan. Die maan hang soos ’n groot kaas tussen die bome waar die nagwind deur die blare stoot. Hy ruik die naglug wat uit die stene opslaan. Shmu’el kom staan teen sy bene. Hy tel die wolbolletjie op en druk hom styf vas. Die hondjie lek sy wang ekstaties.

      “Abba,” sê hy in die stil nag, “daar is so verskriklik baie spanning in die land, laat dit asseblief nie na my eie huis toe ook kom nie. Gee my asseblief wysheid om te weet wat om te doen as Rivkah daarop aandring om weer te gaan werk. Ek verstaan haar soldate-hart, haar Israeli-hart … Maar ek wil asseblief nie dat Yhoshi êrens anders as in sy eie huis grootword nie. Ek wil nie dat die gejaagde angs daar buite nou al deel van hom word nie. Help my om my huis se priester te wees.”

      Hy gaan sit die hond weer in sy mandjie. Toe stap hy na sy seuntjie se kamer toe. Bokant die traliebed hang ’n pragtige bewertjie van kleurryke vlinders wat sy ma uit Suid-Afrika gestuur het. Dit dobber ligweg in die soel naglug wat deur die venster bo die bedjie kom. Ver weg blaf ’n hond halfhartig en nog verder weg antwoord ’n ander. Die oop venster herinner Marc aan die anderste soort veiligheid van Israel. Hy dink aan die diefwering voor die venster waarmee hy in Suid-Afrika grootgeword het, aan die ysterdeure, die ingewikkelde alarmstelsels wat nou sy ma en sy stiefpa in hul huis moet beskerm. Hy kan hom nie voorstel dat iemand daar in ’n stad eens sal droom om ’n venster in ’n babakamer oop te laat nie. Veral nie op die eerste verdieping soos hier nie.

      Hy dink aan die plein onder hom, waar die kleintjie baie ure bedags onder sy ma se waaksame oog speel. Tussen kinders wat op dieselfde manier as hy grootgemaak word. Hy dink aan die afgelope aand se Shabbat-viering waaraan hy elke week blootgestel word. Aan sy vroom Ortodokse grootouers. Aan ouma Ruwth se invloed op die kind. Hoe hy byna elke aand teen sononder saam met sy ouers in sy stootwaentjie met die trap af hobbel vir die aandgebed by die Kotel. En hy weet dat hierdie land op baie gebiede die veiligste plek op aarde is.

      Hy gaan by die bedjie staan, hande op die traliewerk. Maanlig spoel oor die kind. Marc sluk toe hy sien dat die lang donker hare nes Rivkah s’n oor die kussing sprei. Die beer lê langs hom, staar met sy bruin glasogies onsiende in die verskiet. Marc kan homself nie daarvan weerhou om aan sy seuntjie te raak nie. Warm, sagte wangetjie onder sy vingers. Die donker ogies gaan net vir ’n oomblik oop en ’n effense glimlag verskyn om die mondjie. Maar dan gooi hy sy lyfie om, boor met sy koppie in die kussing en slaap verder.

      Marc dink aan die bedreiging uit Gasa en op die grens met Sirië en Libanon. Aan die oënskynlike onbevoegdheid van die regering. Hy dink aan die ouers van Gilad Shalit en Eliyahu Asheri en hy wonder wat die ergste is: om nie te weet waar jou kind is nie, of om te weet dat hy vermoor is. Om te wroeg oor wat met hom gebeur. Of om te wil sterf

Скачать книгу