Susanna M Lingua Gunstelinge 3. Susanna M Lingua

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Susanna M Lingua Gunstelinge 3 - Susanna M Lingua страница 11

Susanna M Lingua Gunstelinge 3 - Susanna M Lingua

Скачать книгу

      Nadat die meubelwinkel se afleweringswa vertrek het, kyk Tina haar wederhelf met ’n stralende glimlag aan en sê opgewonde: “O, Renier, ek voel soos ’n koningin in haar eie koninkryk. Ek het nooit geweet ’n mens kan so vreeslik gelukkig voel nie.”

      Sy gooi haar arms om sy nek, soen hom hartlik en vervolg met ’n vreemde warmte in haar stem: “Dankie vir die groot geluk wat jy my besorg het, vir jou wonderlike liefde en omdat jy my eie, dierbare man is . . .”

      Hy snoer haar mond met ’n lang, innige soen en sê dan met ’n warm glimlaggie: “As jy gelukkig is, is ek ook gelukkig, my vroutjie, want jy is die spil waarom my hele lewe kring, die enigste ster in my hemel.”

      Sy staan ontspanne in die kring van sy arms met haar wang teen sy bors. Na ’n rukkie kyk sy op en sê met ’n ondeunde uitdrukking in haar oë: “As ek nie nou daardie nuwe bed gaan opmaak nie, het hierdie koningin en haar koning nie vanaand slaapplek nie.”

      “Dit sal krimineel wees, my skat,” glimlag hy en soen haar vlugtig op die voorkop. “Kom, ek sal jou help om die bed op te maak, want my bene is gans te lank om op die rusbank te slaap.”

      3

      Na ’n paar dae het hulle die woonstel eindelik in orde, en nou voel dit vir hulle werklik soos hul tuiste. Tina eksperimenteer in die kombuis met ’n eenvoudige resepteboek wat sy in die plaaslike boekwinkel gekoop het, terwyl Renier haar bedrywigheid van ’n veilige afstand dophou en haar af en toe prys vir die voortreflike kok wat sy is.

      Saans woon hulle óf ’n bioskoopvertoning by, óf hulle stap in die stad rond en kyk na die winkelvensters, en dis tydens so ’n wandeling dat sy besluit om vir Renier ’n motor met haar spaargeld te koop.

      Terwyl hulle dus een aand voor die groot vertoonvenster van ’n handelaar met gebruikte motors staan, pols sy Renier op diplomatiese wyse oor sy keuse van ’n motor.

      “Daardie swart Volvo is nogal nie sleg vir sy prys nie . . .”

      Hy vertel haar van die soort motor se goeie hoedanighede, en dan stap hulle tydsaam na die volgende vertoonvenster toe.

      Dit is vir Tina ’n gelukkige oomblik toe sy drie dae later die motor se koopbrief en sleutels aan Renier oorhandig en met ’n glimlaggie sê: “Dis my geskenk aan die dierbaarste man wat leef, die man wat ek die liefste op aarde het. En onthou, ’n man raas nie met sy vrou wanneer sy vir hom ’n geskenk gee nie.”

      Dit is nie wat Tina sê nie, maar die manier waarop sy dit sê, byna asof sy verskoning vra vir haar impulsiewe optrede, wat Renier dwing om sy trots in sy sak te steek en haar geskenk in ’n goeie gees te aanvaar.

      Die dae snel vir Tina gans te gou verby. Sy en Renier leef in ’n roes van geluk, maar sy weet ook dat daar ’n einde aan hul wittebroodsdae moet kom, dat ook Renier soggens werk toe sal moet gaan en eers smiddags tuis sal kom. Maar sy wil nie nou al daaraan dink nie. Sy wil liewer aan die drie genotvolle dae dink wat hulle nog bedags bymekaar sal wees voordat Renier moet begin werk.

      “Slaap jy nog nie, my skat?” hoor sy Renier met ’n slaperige stem vra. “Jy vroetel rond soos ’n katjie wat nie sy lê kan kry nie.” Hy trek haar stywer teen hom aan, sy lippe soek en vind hare, en so in die beskutting van sy arms raak sy eindelik aan die slaap.

      Terwyl Renier die volgende oggend nog vas slaap, staan Tina saggies op en gaan maak vir hulle koffie. Dit kos haar vier soene om Renier wakker te kry.

      “Jou klein skelm,” sê hy en druk haar liefderik teen sy bors vas. “Waarom staan jy hier in jou kamerjas rond? Jy behoort nog in die bed te wees!”

      “Ek het vir jou koffie en roosterbrood gebring, my heer en meester,” terg sy met blink, ondeunde oë.

      “Jy bederf my tot in die afgrond, vroutjie,” kla hy, maar beloon haar nogtans met ’n warm soen.

      “Dit is vir my ’n plesier om jou te bederf, my dierbare man. Trouens, ek voel sommer so hol op my maag as ek daaraan dink dat jy oor drie dae moet begin werk. Ek sal my bedags siek verlang na jou.”

      “As jy net ’n bietjie kleiner was, het ek jou in my sak gesteek en jou saam met my werk toe geneem,” terg hy.

      “Jy spot, maar ek is ernstig, Renier,” sê sy en gee sy koffie vir hom aan. “Ek gaan bedags vreeslik baie na jou verlang.”

      “Ek sal net so baie na jou verlang, my poppie. Maar ek sal darem die salige wete koester dat my vroutjie tuis op my wag. In elk geval, ek móét gaan werk om vir my vroutjie, en later ook vir ons kinders, te kan sorg.”

      “Ag, ek weet ek gedra my nou soos ’n baba, Renier, maar dit gaan bedags vreeslik eensaam wees sonder jou. Ek weet nie wat ek sal doen om die dae om te kry nie.” Haar oë is sag en vol liefde vir haar groot, blonde man.

      “O, jy sal jou hande vol hê met jou eksperimente in die kombuis en om te sorg dat my klere skoon en in orde is, my poppie,” troos hy en soen haar vlugtig in die nek.

      Die volgende drie dae probeer Tina om elke oomblik by Renier te wees. Hy is so teer, so liefdevol, sy kan haar nie meer ’n lewe sonder hom voorstel nie. Hulle het nog nie een keer ’n meningsverskil of ’n argument gehad nie, want sy besef dat Renier agt jaar ouer as sy is en heeltemal bekwaam om die leiding te neem.

      Maar selfs die roes van huweliksgeluk laat die tyd nie stilstaan nie, en hier waar Tina en Renier aan die ontbyttafel sit, dink sy daaraan dat, wanneer Renier aanstons vir haar tot siens sê, sy hom nie weer sal sien voor vanmiddag wanneer hy van die werk af kom nie. Sy werkure lyk vir haar meteens vreeslik lank.

      “Waarom so stil, skattie?” vra hy.

      Sy kyk hom aan en glimlag skuldig.

      “Ek dink aan jou lang werkure, Renier, en . . . ek verlang al klaar na jou as ek net daaraan dink. Is dit selfsugtig van my?”

      “Nee, glad nie, skattebol, dit is doodnormaal vir ’n jonggetroude vroutjie om die eerste paar dae na haar man te verlang. Trouens, dit doen my hart goed om te weet dat jy darem na my sal verlang . . .”

      Al geselsend verwyl hulle die maaltyd. Later kyk Renier na sy polshorlosie.

      “Ek sal moet loop,” sê hy.

      Hulle staan van die tafel af op en Tina vergesel hom tot in die portaaltjie. Hier neem hy haar in sy arms en soen haar herhaalde kere.

      “Mooi bly, my poppie,” sê hy en soen haar weer vlugtig op die mond. Hierna laat hy haar vry uit sy arms en verlaat die woonstel.

      Tina wil hom eers tot op die balkon vergesel, maar dan tref dit haar dat sy nog steeds haar kamerjas aanhet, dus stap sy net saam tot by die deur.

      Na Renier se vertrek gaan bad en trek sy haar aan. Sy voel meteens vreeslik alleen, maar skud die gevoel van haar af en begin die woonstel opruim.

      Dit is byna elfuur toe al haar takies afgehandel is. Sy besluit om eers vir haarself ’n koppie tee te gaan maak, daarna sal sy die kookboek deurblaai en kyk wat sy vir aandete kan voorberei. Aandete moet vanaand iets spesiaals wees, iets feesteliks om Renier se eerste werkdag mee te vier.

      Tina het nog nie eens die elektriese ketel aangeskakel nie, toe daar aan die woonstel se voordeur geklop word.

      Natuurlik

Скачать книгу