Susanna M Lingua Gunstelinge 3. Susanna M Lingua

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Susanna M Lingua Gunstelinge 3 - Susanna M Lingua страница 14

Susanna M Lingua Gunstelinge 3 - Susanna M Lingua

Скачать книгу

sekere mense bedoel?

      My lewe voel vanaand so leeg en doelloos, maar in die gees is ek by jou en my gedagtes sal altyd by jou wees. Moet my asseblief nie te hard oordeel nie. Wat ek vandag gedoen het, het ek gedoen om jou en jou toekoms te beskerm . . .

      Dit is al ver oor elf toe Tina eindelik haar bedlamp afskakel. Sy het reeds besluit dat sy die tuinier sal vra om die brief vir haar te gaan pos.

      In die donker lê sy aan Renier en dink, wonder sy of hy al slaap, of lê hy ook in die donker aan haar en dink? Vanoggend nog het sy in sy arms wakker geword, en nou lê sy alleen in haar bed, baie kilometers van hom af weg. Haar oë skiet vol trane, en met sagte snikke huil sy haar later aan die slaap.

      Tina se oë voel dik en koorsig toe sy die volgende oggend aan die ontbyttafel verskyn. Sy sê vir haar pa en mevrou Alberts, die huishoudster, afgetrokke môre en begin lusteloos aan haar ontbyt peusel.

      Die stilte wat om die tafel heers, is byna tasbaar. Tina wip byna soos sy skrik toe haar pa skielik vra: “Is jy nie eens nuuskierig om te weet wat die prokureur gisteraand met jou man uitgerig het nie, Tina?”

      “Nee, ek is nie. Ek hoop Renier het hom uit die woonstel gesmyt,” antwoord sy met hartseer in haar stem.

      “Inteendeel, jou man het goedgunstig ingestem tot ’n eg­skeiding –”

      “Ek glo dit nie,” val sy haar pa bleek en geskok in die rede. “Renier sal nie met jul onderduimse planne inval voordat hy eers van my gehoor het nie.”

      “Nou goed,” sê hy met ’n ligte skouerophaling, “as jy my nie wil glo nie, moet jy dan maar wag totdat jy vandag die dagvaarding kry. Terloops, jy word vir kwaadwillige verlating gedagvaar, en ek het ingestem om die koste te betaal. Dit kos jou man dus nie ’n sent om van jou te skei nie.”

      “Ek glo dit nie,” hou sy vol. “Pa sê al hierdie dinge maar net om my uit te tart. Renier weet dat ek hom liefhet . . .”

      “En tog het jy vir hom in jou briefie gesê dat jy jul liefde en jul huwelik moet opoffer. Met ander woorde, jy gee jul liefde en jul huwelik prys,” help hy haar reg. “Ek het ook nog nooit bedoel om jou uit te tart nie, my kind. Ek wou nog altyd net die beste vir jou hê, daarom wil ek hê jy moet met Thys trou. As Thys Joubert se vrou sal jy nooit gebrek ly nie. Jy en jou kinders se toekoms sal verseker wees . . .”

      “Ek sterf eerder van honger as om Thys Joubert se vrou te wees,” val sy haar pa bitter in die rede. “Renier sal altyd die enigste man vir my wees, al . . . al skei hy ook van my.”

      Tina voel op die oomblik so kwesbaar dat haar oë weer dadelik vol trane skiet. Sy weet nie wat sy verwag het nie, maar dit was beslis nie so ’n haastige egskeiding nie. Sy stoot haar bord stadig terug, maak met ’n onvaste stem verskoning en verlaat die eetkamer.

      Die nuus dat Renier van haar wil skei, is te veel vir Tina se vol gemoed, en die snikke skeur uit haar bors nog voordat sy haar kamer bereik. Die woord “egskeiding” klink vir haar so finaal, en sy het nie bedoel dat daar so ’n finale einde aan hul huwelik moes kom nie . . . Ag, sy weet ook nie wat haar makeer het dat sy daardie briefie so verkeerd bewoord het nie, sy het tog nie bedoel dat sy haar liefde en haar huwelik vir goed wil prysgee nie. Haar weggaan moes net ’n tydelike reëling gewees het, net totdat sy mondig is.

      Toe haar snikke later bedaar, voel dit vir Tina of sy nie meer ’n enkele traan oorhet om te stort nie. Sy was haar gesig, neem die brief wat sy gisteraand vir Renier geskryf het en gaan gee dit vir die tuinier om vir haar te pos. Hierna voel sy beter, want sy weet dat Renier nie met die egskeiding sal voortgaan nadat hy haar brief gelees het nie.

      Die volgende week leef Tina net vir die briewebesteller se rondes, maar elke dag gaan verby sonder ’n antwoord van Renier af. Sy troos haar egter met die gedagte dat Renier straks te besig is om dadelik te skryf. Maar ook die tweede week lewer geen brief op nie. Tog sterf die hoop in haar hart nie heeltemal nie. Elke dag gaan kyk sy op die tafeltjie in die voorportaal waar die huishulp gewoonlik die pos neersit, maar die een dag na die ander gaan verby sonder ’n brief van Renier.

      So verstryk ses weke, en nou begin Tina besef dat sy tevergeefs gewag het op ’n antwoord van Renier.

      Hy kon my bepaald nie vergewe omdat ek hom so skielik in die steek gelaat het nie, dink sy hartseer waar sy op die rand van die bad ineengekrimp sit met ’n glas water in die hand. Sy voel naar en siek van teleurstelling.

      Ek het bepaald te veel van hom verwag toe ek gedink het dat hy sal verstaan, dink sy ongelukkig. Net een woordjie van hom sou my moed en hoop vir ’n leeftyd gegee het, maar selfs een woordjie was te veel om te gee. Hy moet ontsettend teleurgestel gewees het, daarom dat my brief hom heeltemal koud gelaat het . . . Ja, hy het die inhoud van my brief nie eens die moeite werd gevind om op te antwoord nie.

      “Maar ek sal jou altyd liefhê, Renier, al word ek ook ’n honderd jaar oud. Niemand kan ooit jou plek in my hart vul nie,” sê sy hardop.

      Die naarheid laat haar meteens so duiselig voel dat sy op die rand van die wasbak moet leun sodat sy haar kop op haar arm kan laat rus. ’n Lang ruk sit sy so met haar kop op haar arm, dan voel sy hoe die naarheid stadig begin sak.

      Noudat die naarheid begin sak, kan Tina weer rasioneel dink. Dit is nou al ’n week dat sy dikwels deur hierdie naarheid geteister word, en sy wonder of haar senuwees die oorsaak is. Maar dan tref ’n ander gedagte haar, en sy maak ’n haastige sommetjie. Sy tel die weke op haar vingers af en besef dan dat sy reeds byna twee maande swanger moet wees.

      Die gedagte dat sy Renier se baba gaan hê, laat haar hart meteens vinniger klop van blydskap. Nou sal haar pa haar terug moet neem na haar man toe, en Renier sal die egskeidingsaak moet terugtrek.

      Dit is die eerste keer in ses weke dat Tina weer gelukkig voel. Vir haar is dit die wonderlikste ding wat met haar kon gebeur het . . . haar eie kindjie . . . haar en Renier se kindjie. Ja, net vanaand sal sy haar pa van haar toestand vertel.

      Na die middagete gaan sit sy buite in die tuin, waar sy die res van die dag oor Renier en hul kindjie sit en droom. Aangesien die woonstel net een slaapkamer het, sal sy die balkonvertrek tot ’n kinderkamer omskep. Alles moet blou en wit wees, want haar baba gaan ’n seun wees, ’n mooi blonde seun soos sy pappa . . .

      Tina weef die pragtigste drome om Renier en hul ongebore kindjie, en in haar hart is daar eindelik weer geluk en vrede.

      Daardie aand aan tafel kan sy byna nie wag dat die maaltyd moet verstryk nie. Haar pa lyk so koud en afgetrokke, maar sy gaan nie toelaat dat dit haar afskrik nie. Al die ellende wat hy haar besorg het, moet vanaand reggestel word, want dit is deur hom dat Renier aansoek gedoen het om ’n egskeiding. As hy haar nie van haar man af weggeneem het nie, sou sy en Renier nou nog gelukkig saam gewees het.

      Tina wag egter net totdat haar pa gereed is om van die tafel af op te staan, toe sê sy met ’n erns wat hom vinnig na haar laat kyk: “Ek wil asseblief privaat met Pa gesels. Ons kan studeerkamer toe gaan.”

      “Waaroor wil jy met my praat, Tina?” Hy kyk haar vraend aan.

      “Ek het gesê dit is privaat.”

      “Nou goed,” sê hy en staan van die tafel af op. “Jy moet net gou praat, want ek is haastig. Ek moet vanaand nog ’n vergadering toespreek.”

      “Toemaar, ek sal nie Pa se waardevolle tyd verkwis nie,” antwoord sy en stap saam met hom na sy studeerkamer toe.

      Hy

Скачать книгу